GEE

ek rasper vir jou ’n klossie gemmer
om in jou koppie tee te gooi

ek kerf vir jou ’n stukkie van die dag
om geluk en liefde in te nooi

Jy gooi dit lag in my dag
en die gemmer in MY tee.

ALLEEN

alleen skyn die son
alleen sweef die maan
alleen blink ’n ster
alleen is tog so ver

alleen blaf die hond
alleen klop my hart
alleen slaap die skrywer
alleen die alleen as dit reën

alleen die bontrokkie
alleen die kantgordyn
alleen die plaashuis
alleen die antie se kombuis

alleen nou alleen
my woord is alleen
my hart is alleen
my een is alleen

alleen soos ’n nagdier
alleen soos ’n bosveldvuur
alleen soos ’n middernaguur
alleen in die skare

LANGSPEEL-PLAAT

sit vir my ‘n krapperige plaat op

dans saam met my, want ons

is altyd jonk, ons is altyd

jolig, ons is altyd vol lag.

Speel vir my nog ‘n plaat

laat die skerp musieknaald

krap-krap tot in my hart.

want ek verlang, net soos ‘n plaat

DIE AARDBEWING

DIE AARDBEWING.

soos ’n dier wat gekwes
is deur ’n skerp pyl,
het jy geruk van
horison tot horison.

Soos ’n troeteldiertjie
wat weggeskop is
en doodverkluim in die
koue lê en ruk-ruk.

Soos ’n slagaar wat afgeskeur
is deur ’n roofdier,
lê jy doodstil in die donker
en luister na jou laaste uur.

Nou is jy stil, stiller, doodstil
my geliefde land
my geliefde afrika
my geliefde suide van afrika

SAXOFOON

die saxofoon speler
se lang lenige lyf
wilger eers vorentoe
dan weer agtertoe

op die maat van
blou blues wat by die
mond van die saxofoon
uithoes

net soos die
suidoos in die kaap
die klanke van
stad en see na-aap.

die saxofoon speler
se wange bol rond
sy oë starend blou
net soos die blou blues

wat rustig by die
bek van die saxofoon
stuk stuk uitlek.
in die saxofoon sit ek

en droom van
haar wat ook eens
’n blou blou liedjie
was, nou is dit stil

shuut, slaap nou sag
shuut luister na my song
want more of oormore
is jy blink soos die aandster

DOOD VAN ‘N GELIEFDE

ek is nou jaloers
want jy sit ander-kant
die melkweg en volmaan
geheel ’n ander koers

jy het vir my op die hoek,
hier by die draai na links,
gelos die dag toe jy
jou stoomtrein laat hoes

en sluk-sluk wegry
met die klik-klak
kletter-klapper van die staalwiele
om die hoek, om die draai.

jy het gekorrel en gemik
vir die melkweg,
my boogskitter my sagitarius
op pad na die maan

ek is nou jaloers
want jou lag dans
by die suiderkruis verby
tot op die oggendster se stert

waar die son vir
die aarde glimlag
en die wind sy lag oor ons
uithoes, uitgorrel, uitblaas

dan, my geliefde boogskutter
weet ek jy lag
in die wind
jy lag in die

vroeg oggend sondag
bries, jy lag in die
ringnek duif
en jy wag vir my

want ek is jaloers
op jou doer tussen
melkweg en maan
met jou mannewales en al

ek is jaloers
ek is jaloers
ek is jaloers
ek is so jaloers

DIE GRANAAT

Maal vir my ‘n stukkie granaatskil

om die vuurbrand in my te stil.

breek vir my n rooi ryp granaat

om die lag in my mond te pit

VOETPAD

trap vir my ‘n voetpad oop

sodat ek sien waar om te loop

maak my jou veld-voetpad

ek is altyd maar oppad.

AKKEDIS

Bruin-bont-blink-akkedis

waar kruip jy weg as die son sak?

Tussen klipgleuf of onder ‘n blaar?

In ‘n boombas of ‘n skeur?

Bruin-bont-blink-akkedis –

klou aan my vas met jou

lang-akkedis pootjies, klou aan my

Create a free website or blog at WordPress.com.

Up ↑