“Spieëltjie spieëltjie aan my hand, wie is die mooiste in die land?” vra ek.
“Jy vra my vrae wat nie antwoorde het nie” antwoord die spieël.
“Spieëltjie, wie is die mooiste?”
“Hou op vra. Ek het nie die antwoord nie” sê die spieël.
Ek draai om, stap weg en trek my hemp aan, dan my broek en ‘n jas. Dit is te warm vir ‘n jas, maar die jas sal my lyf toehou.
Ek stap om in die gang af, trek die een slaapkamer se deur toe, stap verder af en trek die ander kamer se deur toe. Die gang moet donker bly. Dis beter so. Dis beter vir ons almal.
Ek stap uit en gaan sit in die tuin. Onder die ou akker boom. Ek bekyk die wêreld om my. Alles lyk so perfek. ‘n Akkerboom is vir my soos ‘n groot arend wat in die lug sweef. Perfek, mooi en vloeiend. Ek is jaloers op die akkerboom, ek is jaloers op die blou lug en ek is jaloers op die spieël.
Ek buk langs die akkerboom en vat aan sy growwe stam.
“Help my” soebat ek.
“Praat mooi met my, nie soos die spieël nie,” vra ek
Ek asem diep in, diep uit, diep in diep uit en kyk na my eie skaduwee. Dis donker en lyk soos ‘n gewone vlek op die sand.
Die spieël is reg, ek vra vrae wat nie antwoorde het nie.