DIE MUNTLEGGING

Dit het alles begin die dag met die muntlegging in Tweeling. Almal was daar.

Al die Kennedys wat langs die treinspoor gebly het het gekom, die Vernon vrou van die Tuisnywerheid ook. Sy het bakke vol Koue Dadelpoeding gebring, Sneeupoeding, Sponsvingers en Gestoofde Appels met Lemoensap.

“Tydens ’n muntlegging byeenkoms moet daar gestoofde appels wees.” het die Vernon vrou gesê.

Só kom die hele dorp bymekaar om munte te lê ten bate van die ouetehuis se opknapping. Met daardie geld gaan die gebarste pype reggemaak word, lekkende dakke gaan toegemaak word (ek hoop die lekkende tannies ook) sê Tannie Hessie vir my.

Tannie Hessie is nou nie juis aan vir sulke byeenkomste nie, maar sy het gehoor van die Vernon vrou se lekker gestoofde appels en besluit maar om van die verbode vrug te gaan proe.

“VREDE” moet nou op die parkeerarea se vloer uitgeskryf word met bordkryt en dan kan mense nou al hulle kleingeld bring om die VREDE met geld te bedek.

“Ja, die Centpenlilly-vrou en haar niggie is ook hier,” fluister Tannie Hessie Benson vir my
“Los maar eers Tannie” sê ek.
“Dis van los dat ons sit waar ons sit vandag.” sê Tannie Hessie.

“More, Hessie” groet die Cenpentlilly vrou in die verbystap om VREDE te begin uitskryf op die grond.
“More” sê Tannie Hessie.
“Kindjie, daardie vrou gaan weer alles bedonner. Sy verbeel haar te veel. Kyk hoe lyk sy. Sy lyk so platgeval soos souskluitjies wat se deksel jy te vroeg opgelig het. So kan mens nie loop nie. Kyk haar voete, lyk soos ‘n kersfeesgans s’n”
“Tannie moet nou maar terughou vandag, dit gaan vir ‘n goeie doel” sê ek.

“Ek hoor stemme” sê die Hitchroth vrou

“Die vrou hoor glo stemme van haar man die dag dood is. Toe hy die emmer geskop het, het sy haar selftrots verloor en begin lyk soos vla-snysels. Nee man, so kan mens nie tussen klomp mense bly nie. Ons moet iets doen” sê Tannie Hessie.

Ek probeer keer, maar niks help nie. As Tannie Hessie op loop is met ‘n ding, dan loop sy nie net nie, maar sy hol sommer ook.

Die Centpentlilly vrou staan so terug, bekyk haar skryfwerk op die grond en kondig aan:
“Julle kan nou maar begin pak. VREDE is gereed. Bring die kleingeld” sê sy.
Die Vernon vrou maak haar bakke oop en die reuk van gestoofde appels en dadelpoeding trek deur die lug.

Mense pak munte uit, ‘n koor sing ‘n Halleluja lied, Hitchroth vrou bly stemme hoor, DONKER STEMME, soos sy dit sê.

Toe een van die weeskinders die laaste blink sent lê om die woord te voltooi, kom daar ‘n donkerte oor die ouetehuis se parkeerarea.

“Ek hoor die stemme duidelik. Ons moet oppak en gaan” sê Hitchroth in ’n diep stem, baie stadig en dramaties.

“Ek het julle mos gesê julle vang ‘n ding aan wat julle nie behoorlik kan klaarmaak nie” gil Tannie Hessie vir Cenpentlilly.

‘n hele swerm pikswart kraaie kom oor die parkeerarea gevlieg, tel elke blink geldstukkie op en vlieg weg. Al wat oorbly is die bordkrytlyne op die vloer.

“Sien julle, vir wat sukkel julle met dinge waarvan julle niks weet nie. Cenpentlilly het VREDE verkeerd gespel, sy het VERE geskryf en dit het die kraaie gelok” skreeu Tannie Hessie nou verwoed.

Nou het ons niks nie, behalwe ‘n halwe Vlasnysel en ‘n platgevalde souskluitjie….Niks nie…..Ek gaan huistoe. Koebaai….en daar stap ek en Tannie Hessie straat af en ek verbeel myself ek sien ‘n smile op haar gesig.

Advertisements

HUIS PALEIS

HUIS PALEIS PONDOK

Toe ek vanmiddag van die skool af kom, stuur my ma my gou oor na Tannie Hessie se huis toe.
Tannie Hessie Benson is ons buurvrou.
Sy woon alleen in haar baksteen huis, wat sy haar “paleis” noem.

“Gaan gee gou vir Tannie Hessie die hemp en vra sy moet die knope aanwerk” stuur my ma my met ‘n hemp, knope en garing oor.

Tannie Hessie is al oud en het nie baie geld nie. Dit is hoekom my ma dan altyd vir haar vra om klein werkies te doen, dan betaal ons haar.

Ek en Tannie Hessie het al groot maats geword. Sy gee altyd vir my koeldrank en koekies as ek daar kom, dan vertel sy vir my stories van ou dae. Dis altyd baie lekker.

Net soos vandag. Ek kon nie wag om die hemp en knope te vat, want ek weet sy gaan my daar hou vir ‘n storie.

Ek klop aan haar huis se deur (wat sy Haar Paleis) noem.
“Ja, Kindjie kom in” nooi sy.

“Hallo Tannie. My Mamma het gevra of Tannie asseblief hierdie hemp se knope sal aanwerk en hier is sommer die koeverttjie met geld in.” en ek gee dit vir haar.

“Ja my kindjie. Kom in. Ek is reeds besig in die kombuis om knope uit te sorteer. Jy moet maar verby alles kyk. My huis is deurmekaar. Hierdie paleis van my is sommer nou ‘n pondok” sê sy.

“Tannie, wat is ‘n pondok?” vra ek, want ek het nog nooit so ‘n woord in my hele lewe gehoor nie.

Sy loer oor haar brilletjie na my toe, glimlag, gooi vir my ‘n glas koeldrank en sê: “Sit hier by my”. Toe weet ek hier kom ‘n lekker storie.

Uit haar koekblik met die twee wit kaatjies op wat so loer, haal sy Apie Koekies uit en gee vir my drie.

“Mag ek vier kry asseblief Tannie?”
“Ja, jy mag….maar dis dan HUIS, PALEIS, PONDOK, VARKHOK” sê sy en glimlag sklempies vir my.

“Nee, dis nie vir die varke nie tannie. Twee koekies vir my en Twee vir my sussie” sê ek.

“Ja, ja, Kindjie ek weet. Kom ek vertel jou van Huis, Paleis, Pondok.

Ek weet nogsteeds nie wat ‘n Pondok is nie.

“Kind, ‘n Pondok is sommer so opslaan huisie. Dis so huisie wat iemand sommer met planke en sink aanmekkar getimmer het. Nie eers ‘n netjiese dak nie. Ek dink as die reën dan stroom die water soos ‘n rivier daarin.”
Ek kyk met groot oë na die PONDOK STORIE
‘Ja, ‘n pondok is ‘n snaakse ding. As dit die dag warm is, is die pondok Vuurwarm binne, as dit koud is buite, is die Pondok Yskoud binne. Dis ‘n lelike ding daardie Pondok” sê sy.

Ek dink ek verstaan nou wat ‘n Pondok is.

“hoekom het Tannie so baie knope op die tafel?” vra ek weer.

“Kindjie, hierdie knope het ‘n speletjie geword. Jy sien, toe ek ‘n klein dogtertjie was, net soos jy nou, het ons altyd die knope aan ons skoolhemde getel.
Maar ons het dit nie met een, twee, drie getel nie. Nee, ons het dit met ander woorde getel. Dan het dit ‘n speletjie geword. Kom hier, ek wys jou.”

So trek sy my nader en bekyk my skoolhemp

“Nee, Tannie. Tannie moet die knope aan die ander hemp aanwerk, nie aan hierdie een nie” keer ek want ek dink sy wil my hemp se knope aanwerk.

“Ja, ja ek weet. Kom ek wys jou.”

Sy wys met haar krom vinger na my boonste knoop, en baie stadig en versigtig begin sy praat.

‘HUIS’ begin sy……

ek skrik eers

‘PALEIS’ gaan sy voort

ek is nou eers bekommerd

PONDOK,
VARKHOK
HUIS
PALEIS…..
en dis die laaste knopie waarna sy wys.

“Sien, jy bly in ‘n paleis.” sê sy.

Ek lag en voel sommer Kielie-plesierig.

“O, ek sien. mens tel die knopies aan jou klere dan waar jou knope ophou, daarin woon jy. gelukkig bly ek nie in ‘n Pondok nie.” sê ek.

“Ja, my Kind. ek het maar altyd gesorg dat my knope mooi uitwerk dat ek in ‘n paleis woon. As daar nou ‘n ekstra knoop was wat my na ‘n pondok toe vat, het ek die stilletjies afgesny en in my skooltas gesit” vertel sy die storie.

Ek hou van die storie. Ek hou sommemr baie daarvan

“Dis hoekom, my kind, ek vandag nogsteeds in ‘n `Paleis woon, want my knope het my na ‘n Paleis toe gevat.

DIE OU HUIS

“Vandag sal jy moet sterk staan. Jy sal moet baklei teen die trane. Trane van woede maar dalk van heimwee ook.” prewel Tannie Hessie Benson.

“Ek belowe niks nie” hoor sy ’n stem vanaf die groot stoep.

“Kyk hoe lyk jy. Kyk na hierdie ou, rooi stoep. Jy het altyd geblink en is met trots opgevryf, maar wat ek hier voor my sien laat my in ’n hartseer en ’n gruwe bui val. Ja, ek val in ’n bui en ’n hartseer want mens stap nie sommer in een in nie. Nee, jy val in hom.

Tannie Hessie druk haar vuiste in haar heupe, trek haar mond op ’n hoek, so asof sy ’n suur ding beetgekry het, of ’n suur ding het haar beet gekry.

Hierdie huis reg voor my was ’n herehuis. Dit was ’n plek waar Afrikaanse families bymekaar gekom het. Mense het fees gevier. Van Kersfees, doop tot troues is hier gehou.
Vername mense het hier bymekaar gekom.

Die Koegelenberg gesin het vir klein Koot hier gedoop. Daai kind het so geskreeu dat die ma skoon flou geval het. Niemand kon haar by kry nie en die dag toe sy weer bykom was sy nooit weer dieselelfde gewees nie. Sy is tot vandag toe nog simpel.

Mans met swart baadjies en swart hoedens het hier kom vergader.
Vroue met handskoentjies en hoedjies het vrouedae hier gehou. Trotse spul gewees.

Die gras het reg om die opstal gegroei en die bome was ’n Goddelike koelte vir anties met gloede, kinders wat plaas-plaas speel en jong mense wat agter die stamme staan en liefdeswoorde vir mekaar belowe.

“Ek sal iets moet doen.” sê Tannie Hessie weer.

“Jy sal my moet help” praat die deur.

“Moenie bekommerd wees nie. Ek gaan vir jou olie en daai handvatsel gaan gevryf en geblink word.”

“Ek is verniel. My siel is seer” kom daar weer ’n stem.

Tannie Hessie maak haar oë saggies toe en begin bid. Iets wat sy min doen, maar vandag gaan daar gebid word.
Vandag gaan die bose uit hierdie kosbare huis gedryf word. Al doen sy dit vrou-alleen.

So begin Tannie Hessie die deur olie.

“Dankie” sê die deur.

Sy vryf die handvatsel en die skarniere blink. Daai koper is weer rooi-blink
“Dankie” sê die handvatsel.

Die hele dag is sy besig en laatmiddag gaan sy by die tafel in die kombuis sit.

Sy ruik weer die koffie. Sy proe daai vars brode. Sy hoor weer vrouens in die eetkamer lag terwyl mans in die sitkamer sit en praat oor die weer, vanjaar se oes en jong seuns wat hulle boeredry gaan oorvat.

Alles sukses stories.
Mooi stories

“As Tannie so alleen in hierdie verlate ou huis sit” vra ek

“Kind, hierdie was ’n wonderlike plek. Hier het kinders tot laat in die aand wegkruipertjie gespeel. Die groter kinders het blik-a-spaai gespeel.

Die ander kinders wat dalk bietjie groter was het onder die bome gestaan en vry. Dit is a familie plek hierdie.
Ons het tot laat in die aand op die stoep gesit en stories vertel, selfs drome gedroom. Nou is daar niks oor van die drome nie. Niks, sê ek vir jou”

“Het Tannie koors?’ vra ek

“Kind, sien jy daardie spens? Daai rakke het gebuk onder konfyt, ingelegde perskes en tuisgebakte brode. Kerfees was dit net gemmerbier en klein koekies. Families het saam om hierdie hout tafel gestaan en deeg rol, koekies uitdruk en roesyne in die gemmerbier gegooi. Dis dinge wat was. Wat gaan nou van ons word?”

“Kan ek vir Tannie soet tee maak?” vra ek.

“Sien jy daai vuurherd? Sien jy dit? In die winter het daar ’n vuur gebrand wat hierdie hele plek warm gemaak het. In die winter het die mans koud van buite af ingekom, hulle hande daar warm gemaak en dan het almal geweet hierdie plek is veilig en dis ons plek die.”

Tannie Hessie staan op en vat my aan die arm.

“Kom kyk. Ek wil vir jou nog iets gaan wys.”

Ons stap in die lang gang af en gaan staan onder waar die badkamer links indraai.

“Sien jy hierdie gang? Sien jy dit? Hier het dosyne bruide afgestap, reg in die arms van hulle geliefdes. Hierdie gang praat van liefde. Hierdie mure getuig van vrede. Sien jy dit?”

“Ek sien, Tannie” sê ek.

“Kan ons gaan tee drink?’ vra ek weer.

“Hierdie hout vloere het geblink. As die familie hier bymekaar gekom het, het ons as kinders saggies opgestaan en op ons tone hier afgestap, reguit spens toe. Hierdie vloer het ’n taal gepraat wat net ons verstaan. Die groot mense het nie daai taal geken nie. Dit was ons geheime taal.” en daar trek Tannie Hessie haar skoene uit en stap op haar tone die gang af.

Ek doen dit ook.

“Ek verlang na alles wat was. Ek wens ek kan weer sing. Ek wil weer om middernag in jou oor fluister” hoor ek ’n stem.

“Tannie, het Tannie dit gehoor?” vra ek verskrik.

“Ja, Kind, dis die taal van die gang. Hy het jou gekies” sê sy

“Tannie, ek dink ek wil bietjie gaan lê”

“Daar is nie tyd vir lê nie. Ons moet werk. Jy sal moet help. Hierdie gang het met jou gepraat en jy is gekies. Kom” Ons trek weer ons skoene aan en stap na die hoofslaapkamer toe, of wat eens die hoofslaapkamer was.
“Na jou sal ek kyk. Vee net bietjie die vloer uit” hoor ek ’n stem.
“Die winter gaan koud wees. Sorg dat die ganse goed gepluk word sodat ons die kussings en komberse kan opstop. Winter in die Vrystaat is bytend koud”
“Het Tannie gehoor?” vra ek grootoog.
“Jy is gekies” sê Tannie Hessie.

“Sien jy daardie vensters?” vra Tannie Hessie en wys na die sitkamer se groot oopskuif vensters.

“Kan ons nie maar loop nie?” vra ek

“Ons is nou wel gekraak en party is gebreek, maar ons sal nogsteeds vensters bly. Help ons net om ’n nuwe ruit in te sit en dit styf te plak met daai goeters wat kliphard word.”

“Jy is gekies” sê Tannie Hessie toe ek grootoog na haar kyk.

Toe weet ek.

Tannie Hessie het saggies by die deur uitgestap en op die stoep gaan sit. Ek het bly staan. Ek wil meer weet. Ek wil deel wees van die oplossing. Ek wil hierdie huis lewe gee.

“Wie is julle?” vra ek saggies.

“Ons is verminkte boere. Hulle het ons gebreek en ons mag stukkend wees, maar ons gaan weer opstaan en blink.” praat die stukkende vensters en ek besef dis al die gruwel plaas-aanvalle en moorde.

“Ons is Rhodes, Totius en Kruger” hoor ek die gang praat. “Hullle het ons verniel, maar ons gaan bly staan. Vryf ons net klein bietjie blink.” en ek pollitoer die vloer blink en glad en Kruger glimlag.

“Ek is ’n universiteit. Ek gaan weer vol word en die ingeleg gaan weer op my rakke staan. Al wat dit kos is om my af te stof” praat die spens. Ek stof al die rakke af was die ou canfruit bottels uit.
“Dankie, nou kan ek vir al die jong mense weer gee” praat die spens.

“Jy red my” hoor ek ’n rowwe stem.

“Wie is jy?” vra ek hees en saggies.

Die huis se deur gaan effens oop, ’n geskeurde gordyn loer by ’n gebreekte venster uit en ’n dakplaat klap toe die windtjie begin waai.

“My naam is Suid-Afrika. My mure is dik en stewig. Ek kry seer, maar dankie dat julle my probeer red” hoor ek die huis praat.

“Daar het jy dit, Kind, jy kyk na Ons eie Suid-Afrika” sê Tannie Hessie en skink ’n koppie koffie in die mooiste koppies wat ek nog ooit gesien het.

Dit vat net een ou Tannie, ’n mannetjie met stywe broeke en die mooise skinkbord met beeldskone koppies en pierings om te red wat daar nog te redde is.

RY SAAN NET MY

Dis nou nie juis ‘n ‘saamry” brief nie, maar sommer net ‘n dood eenvoudige ‘saamstap’ brief.
Laatmiddae, as die groot reëbui en storm verby is en die son maak alles om my blink, gaan stap ek my gewone paadjie deur my tuiste, die Aftree-oord in Kempton Park.
Terwyl mens so stap, dan breek die groot dink in jou uit. Soos die moderne mense nou sal sê “jy mediteer”.
Omdat ek nie meer vandag se kind is nie en lank in die tand is, stap ek maar stadig, maar dis vir my ‘n plesier.
So in die stap eet ek aan die nartjie wat Stanley vir my bring. Stanley kon my kleinseun gewees het en hy kom kuier gereeld by my of stap soms saam.

Die eerste huisie waar ek verby stap, behoort aan Miems. Daar lê ‘n baie diep jammerte in my vir Tannie Miems.
“Middag Hessie. Hoe gaan dit met jou? Waarheen is jy oppad? En hoe gaan dit met Timothy (Dis nou my dogter)? Het sy goed gevaar in die eksamens?”.
Tannie Miems kan nie meer onthou nie. ‘n Gevaarlike siekte wat se naam ek nie ydel gebruik nie. Timothy is wel my dogter, maar sy is ryk getroud en woon al 8 jaar in Ierland. Tannie Miems het nog vasgesteek by die gedagte dat Timothy nog in Matriek is.
Dan stap ek verby die bedding met die Krismisrose in. Daardie blou wat soos ‘n koningskleed pronk. Die bedding perfek gemaak deur Markus wat in die tuin werk.
“Middag Mêrrim. Hoe gaan dit met Mêrrim?” altyd vriendelik en soos hulle sê: VRIENDELIKHEID KOS NIKS.

Verder in die paadjie af, stap ek verby Toos van Tonder se plekkie. Hy spog met die mooiste groentetuin, sommer so op die sypaadjie. Dan groei daar nog kruie voor sy kamervenster, glo om die vlieë en muskiete weg te hou. Ek weet darm nie so lekker van daardie bygeloof nie, maar elkeen maar vir homself.
Oom Toos van Tonder het g’n kind of kraai nie. En dit laat ‘n baie diep jammerte in my siel vir hom kom lê.
“Middag Hessie. Kom in vir ‘n koffie. Kom kyk hoe vorder my beetplantjies. Kan jy nie help met die aanwerk van ‘n knoop vir my baadjie nie?” Altyd net vrae wat hy vra. En dis eensaamheid wat ‘n mens sulke vrae laat vra. Niemand kom kuier ooit by hom nie. Ek kyk na die plantjies, drink ‘n koffie en werk sy knoop aan. Net om volgende week weer dieslefde plantjies te kyk en dieselfde knoop weer aan te werk.

So in die wegstap van Oom Toos Van Tonder af, bid ek vir hom en vra onse Here om sy eensaamheid ligter te maak en iemand vir hom te stuur om te kom kuier. Al is dit net iemand wat ook ‘n nartjie vir hom kan bring.

By die laaste draai, waar die perskebome sommer so trots staan, stap ek verby ‘n baie dierbare vriendin se huisie verby.
Sy het altyd ook op die stoepie gesit en groet en ge-hoe gaan dit, wat maak jy, waarheen is jy oppad, hoekom stap jy alleen, wie is die outjie wat saam met jou stap?…..maar vandag is sy nie op haar stoep nie. Haar gehekelde kombersie lê alleen op die rystoel. Die tuinhekkie halfpad oop. Die kantgordyn lyk of hy tong uitsteek deur ‘n halfoop venster.
Tannie Leonie is nie meer met ons nie. Sy het laasnag gegaan. Soos ons nou maar hier in die aftree oord sê “DIE ENGELE HET HAAR KOM HAAL”
Ek voel hartseer.

Terug by my huisie gaan sit ek op my stoepie, kyk na die Gesiggies wat mooi blom, bewonder die Malva wat sterk bly staan, glimlag vir die Pitunias wat so gewillig blom en ek sê dankie vir die liewe Here dat ek oud is, maar dat ek nog wel gesond is. Dankie dat ek kan stap, dankie dat ek met my medemens kan praat en dankie dat ek my Byble snags kan lees.

GOEP EN SY TAS

Tannie Hessie Benson vertel:
“Toe my niggie se seun die dag trou, was dit ‘n vreemde gedoente. Daardie einste troue was op die nuus, die tv, in koerante selfs tot in die Wagtoring van die Jehovas. Dit was diè troue in Pretoria
Mense het van ver ingekom vir die troue, selfs ingevlieg van ander lande af.
Ou Goep was so ingenome met homself gewees. (dis nou my niggie se seun, die bruidegom)
Die naam Goep is maar ‘n aangeneemde naam, want hy het mos altyd so op die werk geloop en roep.
Hy het na honde geroep, katte, ander mense, die voeēls in die neste. Maar hy kon nie lekker R sê nie, toe word hy maar Goep.
Goep het ‘n skelm streek gehad, maar kom ons maak dit nou mooi duidelik, dis nou baie ver langs family.

Die dag met die troue, sien ek die bruid vir die eerste keer.

‘My koot, sy lyk soos ‘n Knysna Pappagaai!’ skreeu ek toe nou.
“Stil!’ sê my oorlede Charles.

Die mense wat ingevlieg het van Suidwes, Lorenzo Marques en India is met die mooiste karre gehaal op die lughawe en so is hulle in ‘n stoet die dorp ingelei.

Amper soos om ‘n nuwe dominee te kry. Dan het ons ook so in ‘n stoet gery.

Goue, silwer en rooi konfetti is voor in die pad gegooi.

Toe daai bruid uitklim, skrik ek myself lam.

EK staar die vrou skaamteloos aan. Sy kom dan uit Indie uit. Sy is geSarie, geKolletjie en alles. Die reuk van haar wierook hang oor die hele Pretoria en daai hare van haar is so plat en blink geAmla dat mens vir dae aaneen sal moet was om die olie uit te kry.

“Gup, kry dit tas” sê sy toe sy uit die kar klim.
Darm kon so bietjie afrikaans praat….dink ek

Een van die stoet se karre het die vreemdste nommerplaat. R 007 GP

Waarvoor staan die R? vra ek toe vir ou Goep.

Tannie Hessie, moenie se hard praat nie. Stadig nou. Hierdie nommerplate is vervals. Ons kon nie die regtes opsit nie, want anders betaal die mense nie vir die troue nie. Dis skelm mense. Maar Tannie sien, die saak staan so. Pretoria se straatname is mos verander. Geen mens weet waar ons nou is nie, maar toe reken ek, siende dat die res van die ou PROES straat gevind is, was die R nog al die tyd weg. Ek kon nie daai woord oor my lippe kry nie en omdat ek sukkel om R te seê maak ons nou maar die nommer net met ‘n R….Tannie Sien,?

Ek verstaan niks nie.

“Proes straat is weg, maar gelukkig toe kry hulle die P, O E en die S, maar die R was weg….toe maak ons dit sommer maar so. As tannie Verstaan.?

ek dink ek verstaan.

Meteens kom daar ‘n stem oor die gedruis van mense en karre en toe ek sien, staan die bruidegom en skreeu.

GUP, KRY DIE TAS….ONS MOET GAAN AANTREK….skreeu sy op suiwer afrikaans.
AMANDLA skreeu Goep.

Ek wil huil.

Daar stap Gup en die tas die Lost City binne en van die res van die troue kan ek nie onthou nie, want al wat ek kon sien is die R, vir GUP en sy TAS.

DIE PRINS

DIE PRINS

 

Gedurende ‘n warm, somersdag stap Die Prins deur die Tankwakaroo, oppad Paradys toe.

 

Op sy pad loop hy ‘n kameelperd raak.

“Wat doen jy hier?” vra Die Prins

“Ek kom soek my strepe” antwoord die kameel.

“In die Tankwa?” vra die Prins.

“Ja”

 

Die Prins stap verder aan, deur ‘n pan en langs drie bome verby wat in ‘n ry staan. Daar loop hy vir Tier raak.

“Wat doen jy hier?” vra die Prins vir Die Tier

“Ek kom soek my kolle” antwoord Die Tier.

“In die Tankwa?” vra Die Prins

“Ja”

 

Die Prins stap verder, verby ‘n stroompie water en drie groot klippe

Daar loop hy vir Muishond raak.

“Wat doen jy hier?” vra Die Prins

“Ek kom soek my stink” antwoord die Muishond

“Hier in die Tankwa” vra Die Prins.

“Ja”

 

En daar voor die Prins so oë spring Die Muishond in die water en skrop sy lyfie met ‘n stukkie Lavender takkie.

Die Tier kom aangehardloop.

Die Kameel kom aangestap.

En daar in die suiwerste stroompie water kry Muisond sy stink, Tier sy kolle en Kameel sy strepe.

 

KARELTJIE

So twee huise van ons af het Kareltjie en sy ma-hulle gewoon.

Na skool het Kareltjie altyd na my toe gekom, dan maak ek vir ons visvingers en kaasbroodjies en aanmaak koeldrank.

Kareltjie was een van daardie kinders wat goed was met alles. Van rugby tot atletiek.

Op ‘n dag, na skool, kom Kareltjie weer by my vivingers en kaasbroodjies eet. Hy vra toe of ek nie saam met hom wil swem nie.

Ek sê toe “Nee dankie, dis net my sussies wat die swembad gebruik, maar jy is welkom”

Kareltjie trek sy hemp uit en spring in daai swembad. Dis nie net die randjie om die swembad wat nat geword het nie.

Ek het op ‘n seilstoel gesit en my verkyk aan Kareltjie in die swembad. Hy was so gemaklik in die water. Hy was mooi.

Toe Kareltjie uit die swembad klim en met sy nat lyf langs my op ‘n seilstoel kom sit vra hy:

“Wat wil jy word as jy groot is?”

“Ek weet nog nie. Ek het nog nie so ver gedink nie.” Het ek skaam gesê

“Ek wil ‘n brandweerman word.” Het hy trots gesê.

Ek wou nog iets oor die brandweerman en die brandblusser sê toe ek na sy nat broek kyk, maar besluit om stil te bly. Ek het vroeg in my lewe geleer om stil te wees.

“Jy moet in die kunste gaan” sê Kareltjie vir my.

“Ek sal daaraan dink”

“Nee, jy moet dit doen. Moenie dat hulle vir jou iets anders vertel nie. Word ‘n aktuer. Moenie jou steur aan die ewige hel se vlamme wat jou gaan brand nie. Ek het gehoor toe die dominee dit vir my ma gesê het. Hy was by ons vir huisbesoek en kollekte ,toe ek dit hoor. Die dominee het jou glo eendag in jou ma se rok sien stap, al om die swembad.” het Kareltjie aangehou.

My mond het oopgehang.

Weereens het ek geleer om niks te sê nie.

 

 

 

Daardie woorde het deur my hele hoëskoolloopbaan in my kop vasgesteek. Veral die ewige helse vuur wat my gaan bykom.

 

Jare later tydens my universiteits dae toe ek vreeslik gewaagd was met my kleredrag en met make up ge-eksperimenteer het, loop ek vir Kareltjie die dag by die kantien raak.

“Jy het sowaar kom kuns swot” het hy gesê, my omhels en gelag.

“Drama” sê ek

“Dis goed, ek het jou mos gesê” sê Kareltjie

“Wat doen jy”? vra ek

“Ek is ‘n brandweerman. Ek het mos op skool gesê dis wat ek gaan word, en ek het. Vertel my alles van jou. Waar bly jy nou? Nee, ek sal vir jou toebroodjie en koffie betaal. Ek skuld jou in elk geval vir al daai lekker visvingers en kaasbroodjies wat jy gemaak het toe ons op skool was”

Ek het vir ‘n oomblik gedink dis ‘n engel wat op my kom lê het.

 

Ek en Kareltjie het mekaar weer so paar keer gesien en hy het al mooier geword in sy Brandweerman klere. Ek het al vreemder geword.

 

Tot op ‘n dag.

 

Ek en Kareltjie was weer by die kantien.

“Mense soos jy moet in die ewige vuur brand” het iemand agter my gesê. Dit was ‘n teologie student.

“Dis ‘n sonde in die oë van die Here. Die helse vuur gaan jy beetkry en vir jou brand tot in alle ewigheid.” Het die teologie student aanghou.

Ek het stil gebly. Kareltjie het na my gekyk, geglimlag en gesê : “Kom ons eet gou ons broodjies dan gaan wys ek jou iets”

“Nee, ek kan nie” het ek gesê

“Jy gaan saam met hom brand as jy met mense soos hy meng” sê die teologie student

Ek bly stil

Kareltjie bly stil.

Die teologie student het nog ‘n paar woorde oor die hel en die vuur gesê, toe Kareltjie opstaan en wegstap. Ek bly alleen by die tafeltjie sit met ‘n prekende teologie student. Dis die eensaamste en bangste wat ek nog ooit in my lewe gevoel het.

Maar toe gebeur ‘n wonderwerk.

Kareltjie kom om die hoek gestap, bloedrooi uniform, harde hoed op sy kop, handskoene, groot bootse en ‘n groot, rooi brandblusser in sy arms.

Hy hou daai brandblusser so in sy arms vas soos wat ‘n bruidegom sy bruid oor die drumpel sal dra.

Teen hierdie tyd is ek so deurkemaar ek sluk my toebroodjie heel in, gooi die laaste koffie in my keel af en net voordat ek wou opsring en weghardloop, spuit Kareltjie vir my met daai Brandblusser. Dis net wit skuim waar jy kyk. Oor die tafel, oor my gesig, oor my pikswart klere, my mooi skoene, my hare, my gesig tot my hande. Alles toegespuit in die witste wit skuim. Amper soos die wit skuim van branders wat op die strand breek.

Net voordat ek kon kwaad word, sê Kareltjie:

“Moenie worry nie. Daardie helse, ewige vuur-vlamme sal jou nooit bykom nie. Ek het hulle geblus” en hy vee met sy hand die meeste skuim van my gesig af.

Hy kyk my diep in my oë wat soos pierings deur die skuim loer en sê:

“Ek sal uitkyk. AS daar ‘n vlammetjie is sal ek hom blus. Jy hoef nooit vir die vuur bang te wees nie, want nou is jy ‘n engel. Kyk hoe mooi wit is jy”.

Kareltjie het my hand gevat en ons het deur die tuin gestap. Ek, spierwit geskuim, en Kareltjie met ‘n bloedrooi uniform en ‘n brandblusser in sy arms.

DIE DINER

Hulle sê dat die koffie by hierdie Diner die lekkerste koffie in die dorp is, maar vir my proe koffie soos koffie.

 

Die rede hoekom ek na hierdie spesifieke Diner toe kom, is nie die smaak van die koffie nie. Dis die tafel in die hoek met die sypaadjie uitsig, die kelner se denim en die ginmasium wat op die oorkantste hoek is waar duisende engle in tights in en uit gaan.

 

 

Elke middag om vier uur stop daar ‘n pikswart motor voor die Diner. Soms is daar nie parkering nie, dan, soos hulle sê “Double Park” hy tot duisende engele in tights se ontsteltenis. Dan vir daardie paar minute wanneer die swart kar stop en sy klim uit, vergeet ek vir ‘n oomblik van die kelner se jeans en die engele wat in en uit en ek staar die vrou wat uitklim skaamteloos aan.

 

Dis die stylvolste, mooiste, elegantste vrou wat ek nog ooit in my lewe gesien het. Soos baie mense sal sê: “Sy het daai iets”.

 

Wanneer sy by die kar uitklim, maak sy die karkdeur toe en stap reguit na die Diner toe. Sy kyk nooit terug of waai vir die ander persoon in die kar nie. Die kar trek weg en verdwyn.

 

Sy gaan staan gewoonlik voor die venster van die Diner, kyk stip na die venster, trek haar romp reg en soms trek sy aan haar sykouse net om seker te maak sy lyk perfek.

Ek het al begin wonder of die vrou nie ‘n spieël by die huis het nie.

 

Sy maak dan ‘n groot, wit sambreel oop, kyk vir die laaste keer deur die venster en stap weg. As dit die dag reën , het sy ‘n sambreel, as die son skyn het sy ‘n sambreel en as dit net bewolk is ook die sambreel. Die vrou fassineer my vreeslik. Sy het daardie kyk in haar wat mens nie weet of sy jou raaksien of nie.

 

Sy verdwyn om die hoek, soms by die vrugte winkel in, koop ‘n paar appels, perskes en ‘n trossie druiwe. Dan stap sy na die telefoon hokkie toe, bel iemand en praat gewoonlik so 10 minute lank. Vir daardie tien minute is my aandag weer by die jeans en die engele in tights.

 

Ek weet dis 10 minute, want by die tyd wat die kelner my tweede koppie koffie kom skink, praat sy nogsteeds. Twee koppies koffie se drink is ‘n tien minute drink.

 

Dan gebeur die snaakste ding. Sy kom staan weer voor die venster met haar sambreel, kyk deur die venster, trek aan haar romp en sykous en waai vir die kelnder. Hy waai terug.

 

Dan stap sy by die Diner in. AS hy besig is om my derde koppie te skink, los hy gewoonlik die spul net so en ek kry ‘n halwe koppie koffie, maar dit pla my nie. Hy stap met die koffie-kannetjie in sy regterhand vinnig na haar toe, soengroet haar op die wang en glimlag. Dis mooi. (Die glimlag, ek bedoel)

 

Sy gaan sit op die die regop stoel by die toonbank naby die koffie masjien en kruis haar bene oormekaar.

 

Die kelner bring vir haar koffie in die mooiste, witste, fynste koppie, sonder dat sy eers vra. So asof hy presies weet wat sy drink.

“Hulle ken mekaar seker goed” dink ek.

 

Sy hou dan die koppie met haar duim en wysvinger vas, vat klein slukkies koffie en as sy klaar is, sit sy die koppie mooi terug in die piering en stoot dit net so sentimeter of so weg, met die punte van haar vingers. Sy het altyd klein en stadige bewegings. Dis wat haar so elegant maak.

 

Sy staan op, vat die mandjie groente en hou die sambreel so in die middel vas, so asof sy wil keer dat die ding nie moet oopspring in die Diner nie.

 

Sy kyk nooit rond nie.

Stap reguit deur toe, maak die deur stadig oop, wag op die trappie wat ‘n seildakkie oor het, maak die sambreel oop en draai dan weer venster toe. Sy kyk vir die laaste keer deur die venster en doen alles van voor af. Romp, sykous en ‘n staar asof sy niemand sien nie.

 

Hoe die groot swart kar weet dat dit tyd is om haar weer te kom oplaai, sal g’n mens ooit weet nie, maar daardie kaar is nooit laat of nooit vroeg nie. Net op tyd.

Dan is sy weg.

 

Hierdie storie gebeur elke dag, behalwe Sondae wannneer die Diner toe is.

 

Tot op ‘n dag wat die wonderlikste ding met my gebeur.

 

Die swart kar stop weer, sy klim uit, sambreel oop, romp, sykous, telefoon hokkie vrugte en dan kom sy in vir koffie. Die kelner soengroet op elke wang, my koppie dan soos gewoonlik halfpad vol.

 

Sy gaan sit by die regop stoel, kruis haar bene, maak die sambreel staan op sy dun puntjie. Vandag let ek vir die eerste keer op dat die sambreel puntjie net so dun is soos haar stillettos. Dis ongelooflik mooi.

 

Maar op hierdie dag draai sy haar kop stadig om, kyk na my en in haar oë sien ek ‘n glimlag. Dis die mooiste glimlag.

Ek wou nog wonder hoe die vrou die regkry om met haar oë te glimlag sonder om haar mond te trek, toe gebeur die mooiste ding wat ek nog ooit in my lewe gesien het.

 

Sy staan op, vat die sambreel in die middel vas en stap uit. En voordat die kelner die koppie kon wegvat, vlieg daar ‘n spierwit skoenlapper by die koppie uit. Hy klap sy vlerkies vinnig, draai om die man met die denim aan, vlieg oor die koffie masjien, maak ‘n draai tot teen die dak en toe vlieg hy na my toe.

 

Hy kom sit op my hand en fladder sy vlerkies stadig op en af en staan op sy fyn pootjies wat amper soos die vrou se stillettos lyk.

Dis die mooiste skoonste wit. Ek verkyk my aan hom. Dis beeldskoon. Hy vlieg van my hand af en gaan sit op die stukkie papier waarop ek my telefoon nommer vir die kelner met die denim aan wou skryf.

 

 

Ek tel die potlood op en skryf ‘n sin op ‘n stukkie papier. Die skoenlapper vlieg op, draai om my kop en mik om op my skouer te kom sit, maar net voordat hy sit, vlieg hy by die deur uit na die vrugte winkel toe en gaan sit op ‘n druiwekorrel.

 

Ek lees die sin wat ek geskryf het.

 

“Jy is soveel meer as wat jy DINK jy is” staan op die papier.

 

Ek lees dit weer, hierdie keer met ‘n fluisterstem sodat ek my eie woorde kan hoor, en kyk by die venster uit en in die motreën staan die vrou, kyk na my, lig haar hand en waai vir my.

 

Ek waai terug, die man in die denim glimlag vir my en ek stap by die diner uit, reguit vrugte winkel toe om vir my ‘n trossie druiwe te koop.

 

Toe ek die eerste korreltjie in my mond sit en ek byt hom oop sodat ek die soet van die druif kan proe, weet ek dat ek eintlik bedoel is vir baie groter dinge as net sommer dit…

 

BLOMME VAN NAMAKWALAND

BLOMME VAN NAMAKWALAND

 

 

Dis September en ek ry deur Namakwaland opppad see toe. Die lang, reguit, pad lê voor my uitgestrek soos ‘n ding wat geen einde het nie.

 

Aan die kante van die teerpad staan die oranje gousblommetjies al geil. Dis helder. Dis vrolik. Dis mooi.

 

Ek ry verby ‘n naambord wat sê: “Soebatsfontein”. Aan die ander kant van die pad is ‘n naambord wat lees “Soekmekaar.” Dis mooi name. Dis asof die name van die plekke uitgesoek is om by die blomme te pas.

 

Ek ry stadiger en kyk so bietjie dieper die vlaktes in. Ek moet seker my oog van die eindelose teerpad afhaal. Daai lang pad maak my gespanne.

 

Hierdie vlakte, wat ‘n maand terug dalk nog vaal was, is nou helder-bont. Dit lyk asof ‘n kunstenaar se verfkwas die vlakte beetgekry het en hom met koorsagtige passie ingekleur het.

 

Ek weet nie of ek my dit verbeel nie, maar hoe langer ek na die blomme en kleure kyk, hoe helderder word hulle. Dis mooi.

 

Ek dink toe so by myself dat as Andy Warhol ‘n vaal skilderdoek kon kleur gee, sou hy hierdie vaal vlakte ook so kon inkleur. Maar hoe meer ek na die vlakte kyk en al stadiger ry, sien ek ‘n tipiese Andy prentjie. Die helder oranje gousblomme so langs die pad is die lippe van die vrou . Mooi, helder, met ‘n sjarmante glimlag. Die blouer blommetjies dieper die vlakte in moet haar eyeshadows wees, met hier en daar ‘n wit strepe om die kontoer van die gesig reg te kry. My mens, maar ek verkyk my aan die hele Namakwaland se veld en hoe meer ek kyk hoe meer sien ek die vrou met die make up…en dit word al mooier.

Ek trap briek en stop net daar by ‘n grondpad wat afdraai na regs.

 

Ek klim uit my kar, trek my asem in en blaas dit weer stadig uit. Ek vat aan haar lippe, ek stap vlakte in en vryf oor haar oë. Ek streel oor haar ligpienk wange. Ek pluk selfs ‘n stukkie van haar lip af en druk ‘n stukkie van haar blou eyeshadow in my hare.

 

Ek gaan sit tussen die kleurgedoente, plat op die grond, toe gaan lê ek en kyk na die hemel.

 

Daar in die stilte van Namakwaland lê ek langs die ingekleurde vrou en toe ek my oë weer toemaak hoor ek haar sê:

 

“My kind, moenie vir iets Soebat nie. Moenie goeters en dinge soek nie want alles is hier om jou. Moenie worry nie. Alles sal fine wees. Èk is hier, hier by jou.”

 

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: