My mens, dit was nou al goed skemer toe hierdie ding my oorkom.
Die aandster het al mooi geblink daar op die horison.
Die tyd is dit mos asof die klanke om mens harder as gewoonlik is. Soos die windpomp hier agter wat sy skuurklanke maak, en die water wat so drup drup vanuit sy pyp in die ou dam, soos ’n sonbesie as die arm-mans-karos so warm is in die somermaande.
Dis net toe ek vir die oom sê dat ons maar na onse stelassie toe moet gaan om in te kruip, toe ek ’n stem net hier buite die tuinhekkie hoor. Ek kyk by die kombuis venster uit en skreef-trek my oë om beter te kan sien.
AS mens in die donker wil sien of jy ’n ding raak kyk, moet jy skuins verby hom kyk, dan sien jy hom raak, maar my storie is nou nie oor donker-kyke nie, maar oor die geluid.
Voor my kombuisdeur staan daar ’n mannetjie wat die deur so klop, klink het soos ’n klop van iemand wat in groot nood is. Hier in onse dorpie klop jy net so twee of drie kloppe, gevolg deur ’n ‘hallo’ of so iets dan kom jy maar in.
Ek maak die deur toe maar versigtig oop, eers op ’n skrefie, mens weet mos nooi wat aan die anderkant vir mens wag nie. Die duiwel kan soms listig wees. Ek maak oop en loer by die skreef uit.
Ek groet toe maar vriendelik, maar versigtig toe ek die deur oopmaak,
Naand, Meneer, hoe klop Meneer my deur asof daar dood of nood is, vra ek.
Naand Antie, is Antie die Bossiesvrou?
Die wat? wou ek weet en erg my so klein bietjie.
Ek het al gehoor die mense praat van my as Bossiesvrou, seker omdat ek die veld en sy plante ken, en die gesondmaakbossies.
Die Bossiesvrou wat mens kan gesond maak.
Die mannetjie praat so vinnig klink of hy afdraende praat,.
Ja, dis ek maar ek maak mense met boererate gesond, sê ek toe maar vir die mannetjie want Bossies vrou klink so effens Boos vir my.
Ek sê toe vir die oom so oor die skouer: “jong, hierdie mannetjie is nie van onse bedding nie” en die oom maak toe maar of hy my nie hoor nie.
Antie sien, ek het ’n talent van bo gekry om hare te doen en ek het besluit om hier in die karoo te kom woon, met baie groot verwagtinge bygesê, maar dit lyk asof ek myself goed kom styf loop het.
Ek kry toe die ander dag ’n dametjie wat haar hare sag en glad wil hê….vertel hy my in sy afdraende manier van praat.
Wag, wag….maak ek die mannetjie toe stil want ek weet nie of ek mooi verstaan waarvan hy praat nie. Die oom erg hom sommer en loop kamer toe.
Kom ons gaan sit daar onder die groot dak, dan vertel jy my stadig, sê ek toe .
Wat vir ’n ding is die groot dak? wou hy weet.
Dis maar net om te sê dat ons buite moet gaan sit, so onder die sterrehemel.
Daar gaan ons toe uit en die die mannetjie vertel van die vrou wat haar hare wou glad en reguit kry.
Haar hare was so droog ek het nie geweet wat om te maak nie.
het dit soos Asgras hare gelyk. Jy weet, as die veld afgebrand het en daai swart, kort stukies bly oor.
Ja, so iets. Sy gaan sit toe in die stoel en ek begin met my haardroeer en borsel, maar daai spul bly kliphard en stokstyf. Ek dink toe maar as mens dalk heuning aansit sal die vrou se hare sagter word en so doen ek dit toe. Ek spoel haar kop af en daar blink daai droeë hare asof dit nuut is. Sy betaal toe so klein bietjie ekstra want daar was nog niemand wat haar hare so mooi kon kry nie.
Nou maar wat is die probleem dan. Heuning is bekend vir dit, sê ek toe en vertsaan nog nie ’n woord nie.
Maar toe die vrou hier onder verby die pepperbome loop, sak klomp bye op haar kop neer en jaag vir haar. Seker agter die soet van die heuning aan. Die vrou hardloop toe na die ou plaasdam wat hier agter die windpomp staan en druk haar kop in die dam. Die hele hairdo daarmee heen.
Maar die ding wat my pla is dat my gewrigte so seer is dat ek nie eens my hande kan buig nie. Van die blowdry, Antie weet?
Ja, ek verstaan wat jy sê, maar waar is die vrou nou? wil ek weet, want my nuuskierigheid oor die vrou is groter as die mannetjie se seer gewrigte. Mens, ek kon mos sien hoe die stomme vrou hardloop met ’n bos bye om haar kop agter die soet aan.
Ek weet nie Antie, ek weet net sy is goed gesteek.
Ek lag toe so binnesmonds vir die storie. Die stomme vrou, maar toe onthou ek dat ons hierdie mannetjie se gewrigte moet dokter.
Daai pyn klink of jy ’n rumatiek gaan kry.
Jy weet, ek het ’n Neef gehad wat daar van Griekwaland WEs af gekom het. Oom Eelt Erdvark. Hulle het hom so genoem want hy het Eelte gehad op sy hande net soos ’n erdvark.
Hy het ’n wonderlike gawe gehad om die plante van die aarde uit te ken. Watter giftig is en watter nie.
Nou sy oorlede vrou het so met die rumatiek en Borspyne gesukkel. Hy het dan gewag tot die Augustus maand is en dan het hy daardie Augustusbossie gaan pluk Die bossie het sulke rooskleurige en pers blomme. Te pragtag. Hy bot net Augustus maande.
Hy het toe daardie blare gevat en ’n tee daarvan gemaak. Sommer bottels vol sodat dit vir lank kan hou en vir verkoop ook.
Ek het nog ’n bottel hier agter, kom ek gee dit vir jou dan maak jy dit net warm, drink dit voor slapenstyd en jy sal sien, more is daai gewrig weer reg vir die Asgras vrou.
Ag, dankie Antie, ek waardeer dit tog so baie. Hoeveel moet ek drink? Antie weet, my hande is my lewe, dis my geld, en die mannetjie praat nog heeltyd afdraende.
Drink net so knertsie, soos wat jy ’n soetwyntjie sal vat, en ek wys sommer met my vingers hoeveel.
Toe ek in die kamer kom en die oom lê al in die kooi, wou hy toe nou weet van die Asgras vrou en wat het oom Eelt Erdvark met alles te doene.
Die oom het mos maar die gewoonte om alles af te luister, nuuskierig sien?……
Maar nou wonder ek hoeveel bye daardie stomme vrou bygekom het, want ’n by is ’n lelike ding. Ek het al gehoor dat bye ’n uitgetroeide man morsdood kan steek.
Toe die oom die lig afsit en ons lê nog so rukkie in die donker begin daai kooi van ons so liggies skud soos die oom aan die lag gaan.
En nou my man? wou ek heel verbaas weet.
More hoor jy ’n storie oor ’n vrou met Asgras hare wat gesteek is, ek kan nie wag nie, sê die oom toe vir my.
Ek gaan lieg as ek sê dat ek nie nuuskierig is oor die storie nie, maar ons sal maar moet wag….
Like this:
Like Loading...