Ek wens dat ek ‘n telefoon het. ‘n Sellfoon.
Ek wens vir ‘n horlosie
Ek wens vir ‘n radio.
Ek wens vir ‘n radiostorie.
Ek het gisteraand, toe ek klaar op die strand gaan stap het, die canfruit bottles met die klippies in getel. Ek het die klippies versigtig op my bed uitgegooi. Dis baie klippies. Hulle lê byna die hele bed vol. Sal ek een vir een tel, sal ek twee twee tel..? Sal ek Vier vier tel?
Nee, ek sal liewer een vir een tel. Dis soos om skape te tel. Dit gaan my kop besig hou. Ek kan die dink in die klippies sit, toeskroef en dan met ‘n stil-dink gaan slaap.
Een, twee, drie, vier, vyf…
Toe ek by 86 klippies kom, skryf ek die getal voor in my Bybel neer, gaan maak brakwater koffie en kom tel verder. Ek tel nou al 104 klippies. Dis baie. Ek sal beslis ‘n telefoon moet kry. ek sal ook ‘n horlosie of iets moet kry.
Ek kan nie so deurmekaar deur die lewe gaan nie. Dalk as ek ‘n horlosie het, kan ek my dae beter beplan. Ek kan ook nie vir altyd klippies in ‘n bottel wil gooi nie.
‘n Radio is die beste. Hulle lees mos die datum en tyd deur die dag. Dingetjie ontstel my. Wie is Dingetjie? Waar woon sy? Hoekom hou sy my dop?
“Dis die geheime van die diep diep see” sê ‘n stem.
Wie is dit
“Dis ek, Dingetjie”
Loop asseblief.
“Ek wil vir jou iets vertel.”
Los my uit. En vir Ousus
“Ek weet dat jy nie sonder my kan leef nie. Jy gaan my altyd nodig he. Ek maak jou kop los. ek maak jou dink los as dit moet loskom en maak dit vas en die weer moet vaskom. Ek is jou anker. Ek is jou wolk. Ek is jou stem. Ek is jou dink.”
Ek is moerig vir jou…
“Jy sal nooit te lank moerig bly nie. Ek ken jou. Ek het jou uitgekies.”
Kak, man
“Kyk hoe sit en tel jy klippies. Dis belaglik. Jy is pateties. Vir wat tel jy klippies. Kry ‘n selfoon soos enige normale mens. Kry ‘n radio, kry ‘n horlosie, kry ‘n almanak. Kry ‘n lewe”
Hoe weet jy ek soek ‘n foon, radio en horlosie
“ek weet”
Gaan weg.
“Ek sal nooit kan weggaan nie. Ek sal deur vuur, droog en sneeu bly”
Ek tel nog klippies en gooi hulle in die fles.
Ek tel al 377 klippies. Dis vreeslik baie.
Hoeveel dae is dit? Dis meer as ‘n jaar. Dis 377 dae.
Is ek besig om heeltemal mal te word. Ek droom te veel. Ek dink te veel.
Ek moet sê, die stappie langs die see het my goed gedoen. Ek het ontspan. My dink het stil geword. Die stem in my ore het stil geword. Die stem in my brein is stil. Ek sal weer op die strand gaan stap. Ek hou van die strand. Gewoonlik stap ek vlakte toe, maar die strand se stap is anders. Dalk kan ek in die oggend in die vlak gaan stap en middae see toe. Dis wat ek gaan doen. Dis presies wat ek gaan doen. Oggend Vlakte…Middag see…Oggend Vlakte….middag see…oggend vlakte…middag see…
Ek het iets op die strand vergeet. Ek sal MOET terugstap om dit te gaan haal. Dis piknagdonker. Dis koud. Dis middernag. Ek sal dit moet gaan haal…geen keuse.
Toe ek op die strand kom, gaan sit ek op die nat sand. Dis koud onder my boude.
“Ek het jou gesê jy gaan terugkom en kom vind waarna jy soek” praat Dingetjie agter my.
Dingetjie, is jy die see? Sit jy in ‘n brander.
“Ja”
Ek buk, tel my stem op, sit hom in my sak en stap terug huistoe. By die huis sit ek my stem in die bottel met klippies. Bly daar tot more…Rus saggies, rus diep, rus mooi, rus…rus…rus…
En toe gaan lê die wind en die engel op my dak sê ‘goodnight my geliefde mens”