KOPREIS (21). Die einde van my kopreis, afsondering en eensaamheid.

“Boerkind, word wakker. Hier is brou vir jou”

(brou is koffie in my en Ousus se taal)

“Boerkind, hoe lank slaap jy al?”

Ousus, ek is moeg.

“Moeg van wat?”

Moeg van dink. Moeg van tel. Moeg van klippies optel. Moeg van skulpies optel. Moeg van engele bymekaar maak. Moeg vir die motorfietsman wat my pla. Moeg van Dingetjie wat in my oor fluister. Moeg, Ousus.

“Kom, Boerkind. Drink van die Balsem Kopiva”

Ek kan nie.

“Jy moet rus, Boerkind.  Wie is die Motorfietsman?”

Hy was hier met ‘n motorfiets. Hy het my gevang toe ek van die dak afgesrping het. Hy het my hand vashgehou. Hy het my op die strand vasgehou.”

“Boerkind, sien jy spooksels?”

Nee

“Hier was nooit so iemand nie”

Hier was, jy het hom gesien.

“Nee, Boerkind, hier was niemand nie.”

Hy het saam met my vlakte toe gestap en toe deur ‘n skulp gekyk en gesệ dat hy ‘n engle sien.

“Nee. Jy verbeel dit. Daai ding is in jou kop”

Ek is mal, OUsus.

“Nee, man. Dis net ek wat hier was en altyd sal wees.”

Dankie Ousus.

“Ek het geknie.  Hier is lekker brood. Ek het brou. Kom drink. Ek het liefde, kom vat. Ek het ‘n hart, kom lệ in my hart.”

Dankie Ousus.

“Kom, Boerkind. Rus nou sag.  Maak toe jou oe. Rus nou saggies. “

Ek huil. Vir die eerste keer vandat sy daardie dag voor my dood is. Ek huil.

“Ja, Boerkind. Kom huil. Laat die traantjies maar rol.”

Ek huil.

Ousus wag totdat ek opgedroog is.

“Is jy droog gehuil, Boerkind?”

Ja.

“Nou goed, kom sit by my. “

Ousus sit haar hand op my bors, vryf my kop met die vlennie lap af, hou my hand vas en kyk vir my totdat my voete op die aarde vassit.

“Kind, ons is aan mekaar vas.  Wat Die Here aanmekaar gesit het, kan niemand uitmekaar haal nie.  Jy is nou my kind”

Dankie vir Ousus.

Dankie vir die see.

Dankie vir die onstuimige drome.

Dankie vir die gesigte.

Dankie vir die hallusinasies.

Maar dankie vir die lewe.

 

DIE EINDE VAN MY REIS, AFSONDERING EN EENSAAMHEID

 

___________________________________________________________________________

 

 

KOPREIS (19) Die dae raak langer, die skryf raak minder.

Die nog oggend-donker en ek hoor iewers ‘n haan kraai.

Ek tel hoeveel keer hy kraai.

Die tel raak op.

Ek probeer weer tel, weer raak die tel op.

Ek gaan nie vir jou ‘n fles met klippies kry nie, dink ek.

Die flesse is leeg.

Ek het toe nie die klipipies een vir een weer uitgehaal nie. Ek het dit met een gooi terug in die see gaan gooi.  Net so.

Ek het nooit weer van die Motorfietsman gehoor nie.  Ousus kom gereeld.

Ek het die vadoek laas nag op die bossie buite vergeet. Ousus gaan met my raas.

Die son breek bloed op die horison. Die haan kraai nog al die tyd.

Raak die ding se keel nie seer nie?

Die son kom op.

Ek bly in die bed.

Die son trek tot bokant my huis se dak.

Ek bly in die bed.

Die son trek verby die huis, soda thy die stoep skuins vang van die see se kant af.

Ek bly in die bed.

Die son wieg oor die see.

Ek bly in die bed.

Die son donner in die see in.

Ek bly in die bed.

Die maan kom op aan die vlakte se kant.

Ek bly in die bed.

Die maan trek oor my huis, see se kant toe.

Ek bly in die bed.

Tok….toktok….tok…toktok…tok…toktok.

Dis piknagdonker. Hoekom sal ieamnd aan die deur klop?

Ek luister mooi. Dis nie die voordeur nie, ook nie die agterdeur nie. Ook nie die tuin se houtdeur nie.
Dit is ook nie die venster wat vlakte toe kyk nie.

Ook nie die see venster nie.

Tok….toktok….tok…toktok…tok…toktok.

Dis my hart wat klop.

 

KOPREIS (19) Die dag toe die see rooi geword het.

Dit is seker lank na middernag.  Ek gee nie juis om nie.

Dis stil en donker in die dorp. Ek gee ook nie om nie.

My lyf het drie dae laas uit die bed geklim. Ek gee nie om nie.

Ek is lam.

Ek kan nie slaap nie.

Ek wens date k ‘n slaappil het.

Ek wens vir die motorfietsman.

Ek wens vir nog ‘n engel.

Ek wens vir gesond word.

GESOND?

Ek het dik wolkomberse voor die vensters gehang sodat niemand kan inkyk nie en ek nie die vlakte of die see kan sien nie. Ek wil nie meer sien nie.

Meteens verskyn daar ‘n baie skerp lig deur die dik komberse wat as gordyn dien. Ek vat die los mat en hang hom ook voor die venster om die lig uit te hou.  Dis lank na middernag maar dis onmoontlik dat die son nou kan opkom.

Die lig kom nogsteeds deur die mat.

Ek hoor die mooiste stem buite kant praat.

“Bring vir die harlekyn nog wyn rooi wyn vir sy lag en trane en pyn want hy wys ons die nuwe wind wat waai van die vaal tot onder in saldanhabaai bring vir die harlekyn nog wyn rooi wyn vir sy lag en trane en pyn want hy wys ons die nuwe wind wat waai van die vaal tot onder in saldanhabaai sirkus mense is in die dorp groot tent verrys en die narre staan daar rond helder kleur vragmotors kom en gaan manne op die stokke en waens wat eenkant staan bring vir die harlekyn nog wyn rooi wyn vir sy lag en trane en pyn want hy wys ons die nuwe wind wat waai van die vaal tot onder in saldanhabaai sirkus meester knik sy kop betree dan die arena en sit sy swart hoed op blaas eers op sy fluitjie afrigter lig sy stok seilgordyne gly oop en die leeus kom uit hul hok hoogtou akrobate die mense slaak n sug dwarsoor met eenwiel fietse dan keer hul weer terug en eenkant in die donker weggesteek voel ek klein want niks is ooit so hartseer soos die traan van die harlekyn bring vir die harlekyn nog wyn rooi wyn vir sy lag en trane en pyn want hy wys ons die nuwe wind wat waai van die vaal tot onder in saldanhabaai bring vir die harlekyn nog wyn rooi wyn vir sy lag en trane en pyn want hy wys ons die nuwe wind wat waai van die vaal tot onder in saldanhabaai.

Dis so mooi

Ek trek die mat en die kombers op ‘n klein skrefie oop en daar, voor my venster, is duisende vuurvliegies.  Hulle bring lig vir MY. Langs die groot, ronde, vuurvliegielig staan die motorfietsman en praat die Harlekyn gedig, nie sing nie, maar praat.

Om ‘n liedjie te praat klink heeltemal anders as om dit te sing.  Dis hartseer.

Ek stap buite toe, op die skulppaadjie wat nie meer kris kris kras kras nie, want die skulpe is teen hierdie tyd almal al fyn getrap.

Ek stap verby die wasgoedlyn waar die voeltjie altyd sign.

Verby die spekbos en die skilpad.

Klim op my dak, vryf die engelskulp blink.

Dan kyk ek af na die vuurvliegies en die motorfiets man se Harlekyn.  Ek gaan sit op die kant van die huis se dak sodat my bene slap afhang.  Ek speel met die string skulpies deur my tone.

Die motorfiets man sệ ek moet afspring, tot in sy arms.

Ek spring.

Ek tuimel, val, af en af.

Kan die dak so hoog wees?

“Nee, jy val net ‘n lang ruk in my arms.  Ek sal jou vashou, val nog totdat jy klaar geval het. En as jy klaar geval het, sal ek jou nogsteeds vashou en toe vou.  Val maar, my geliefde mens, val maar rustig”

Ek val nog vir ‘n lang ruk. Hou net nog ‘n bietjie uit sodat ek nog vir ‘n rukkie kan val, deur jou arms, deur jou oe, deur jou hande, deur jou bors, deur jou rug, deur jou bene en voete, tot binne in jou skoene.

Toe ek die laaste val val tot in die Motorfiets man se skoene, buk hy af, tel my op en hou my vas. Die vuurvliegies maak ‘n groot sirkel om ons en klap hande. Hoe meer hulle hande klap, hoe helderder word hulle liggies.

Toe die son goud maak op die horison, verdwyn die vliegies en Motorfietsman vat my  hande in syne vas en sệ dis tyd om die flesse leeg te maak. Dis tyd om die rooi boksie onder die bed uit te haal. Dis tyd om op te staan.

Ek wil nie.

“Gaan haal daardie flesse, ons moet die klippies in die see gaan gooi.  Hulle kan nie vir altyd in die fles lệ nie” sệ hy.

Ek wil nie.

“jy moet”

Kan ek nie die klippies een vir een, elke dag vir dag, uithaal en dit dan see toe vat nie?

“Ja”

Dankie.

“Hoeveel dae gaan dit vat as elke klippie ‘n dag is?’ vra hy

Dit gaan eenduisend-en-tagtig-dae vat. Dis drie jaar se stap.

“en eenkant in die donker weggesteek voel ek klein want niks is ooit so hartseer soos die traan van die harlekyn.”

 

Die woorde dwaal in my kop. Oor en oor en oor.

Ek sal more met die 3 jaar terugstap begin.

“Jy is braaf” sệ Motorfietsman.

Ek is alleen, sệ ek.

Dag in en dag uit. Klippie see toe, klippie uit die fles, klippie see toe, klippe uit die fles.

Ek wil nie hệ dat die dae moet verby gaan nie.

Ek wil vir altyd op een dag bly sit.

Dis nag. Dis dag. Dis Saterdag, Dis Sondag.

Ek het die rooi boksie onder my bed gaan uithaal en dit oopgemaak. Ek is nie heeltemal seker hoe die telefoon werk nie. Ek probeer hom aanmekaar sit.  Ek druk die battery in sy plek. Ek skakel hom aan. En daar knipoog die groot monster vir my. Die monster van tyd, die monster van tegnologie , die monster van haat, die monster van liefde, die monster van knoppies en die monster van NIKS wees nie.

Die oog van die telefoon lyk amper soos die klomp vuurvliegies, maar net aakliger. Dis vieslik.

Ek het die telefoon af gesit, die battery uitgehaal, hom weer in sy plastieksakkie gedruk en in die boksie gesit. Ek het die boksie met ‘n sterk toe vasgemaak.  Later deur die dag, maak ek die boksie weer oop en sit hom in die vensterbank, langs die flesse.

Die dae gaan verby en soos ek die klippies uit die flesse haal, sit ek elke klippie in die telefoon boksie totdat die boksie vol en swaar is.

Daardie een oggend word ek wakker en ek hoor ‘n man se stem oor ‘n luidspreker.  Dis nie motorfiets man nie. Ek het in elk geval gewoond geraak aan die feit dat Motorfietsman verdwyn en dan weer verskyn. Dit pla my nie. Ek hoor mense ‘n loflied sing. Weer die luidspreker, dan ‘n kitaar, dan weer loflied. Dis kerk. Dit moet Sondag wees.

Ek staan op, gaan haal nog ‘n klippie uit die fles en druk hom in die telefoon boksie. Die boksie is nou al baie swaar en vol. Ek dink nie daar kan nog ‘n klippie ingaan nie.

Ek hoor die luidspreker-man sệ: “Alle homoseksuele mans moet met klippe doodgegooi word asook enige iemand wat saam met so’n mens by ‘n tafel sit en eet”

God weet.

Die Here weet?

Jesus, help my.

Motorfietsman, hou my vas.

Ousus bid vir my.

Ek vat die telefoonboksie, sit dit in die visnet, klim op my dak en haal een van my engelskulpe af, vryf hom blink en sit hom in my broeksak.

Ek klim van die dak af, stap agter die klank van die luidspreker aan.

Toe ek by die stem kom, staan hy daar op ‘n podium en klomp mense sit hande teen mekaar in gebed.

Ek sệ, verskoon my, ek het vir jou ‘n engel gebring.

Ek sit toe ‘n engel by sy voete neer.

Nog ‘n engel op die klavier.

Nog ‘n engel op die luidspreker.

Nog ‘n engel by ‘n gemeentelid se voete.

Nog ‘n engel by die kerkdeur.

Nog ‘n engel by die sydeur en nog ‘n engel in die prediker se hart.

Ek stap uit, reguit see toe. Ek haal die telefoonboksie uit die visnet, gooi hom in die diep see en daar sink die boks, dieper en dieper en dieper omdat hy swaar is van die klippies.

Hy val en val en val…net soos daai een dag toe ek van die dak afgespring het en in die motorfiets man se arms….Val…val…val..

Val, valler, valste…en toe gaan die see in rooi gety.

(lees die stuk versigtig.  Bring die val, valler, valste na die prediker toe, sit dit bymekaar en kyk wat gebeur)

KOPREISE (18) Ek bou ‘n hek vir my hart…

skulphuis

(Die kluisenaar-lewe is besig om sy tol te eis. Moet ek hulp kry? Moet ek nog alleen bly?)

Ek het klomp skulpies gaan optel en dit in ‘n ou visnet gegooi.

Alleen.

Ek het dit in lang stringe geruig.

Alleen.

Ek het nog ‘n engel-skulp op my huis se dak gaan sit.

Ek het gebid vir ‘n skulp by my hek.

Alleen.

Ek moet ‘n klein, wit, hekkie opsit.  Ek weet dit gaan snaaks lyk.  ‘n Groot oop erf met net ‘n wit hekkie.  Dan kan ek deur die hekkie stap, in en uit.

Hoekom sal ek dit wil doen?

Want ‘n mens moet ‘n hek he.

Vir wat?

Vir in en uit.

Ek sal die hekkie vandag bou.  Dalk moet ek na Ousus se huis toe loop om te hoor waar sy is. Ek het haar lank laas gesien.  Ek het growwe klippies in die bottel gegooi wat sệ dat dit die dae is wanneer Ousus nie by my was nie.

As die son bokant my huis se dak hang en die son raak-raak aan die sitkamer bank se rugleuning, dan weet ek dis omtrent drie uur.  Dis ‘n goeie tyd om met die hekkie te begin.

Ek stap om die huis om te sien of die Motorfiets al terug is.  Hy het gister verdwyn.  Niks gesệ nie. Net weg.

Ek is bekommerd.

Maar vandag gaan ek nie skryf oor ‘n motorfiets of die engel op hom nie. Ek gaan dit vergeet en die dink in ‘n hekkie inkap.

Ek stap die boonste stofpad af, verby die winkel.  Daar staan ‘n motorfiets voor die deure.  Ek stop en maak my oe skrefies.  Ek onthou weer die ding van “kyk verby die figuur in die donker, dan sal jy sien wie dit is” maar daai storie werk nie in die dag nie.

Ek draai om, stap terug huistoe.  Ek gryp die visnet en stap weer stofpad af.  Die motorfiets is nou weg. Dank God.

My alleen het my maat geword.

My kopreise het my geselskap geword.

My dinkreise het my pad geword.

My eensaamheid het my regterhand geword.

Ek is nou een-alleen.

“Middag, kan ek jou help” vra die vrou agter die toonbank by die kafee.

Melk, gis en broodmeel, asseblief.

Ek wil nie meer ‘asseblief” sệ nie.

Sy gee dit, ek betaal.

Dankie.”

Ek wil nie meer Dankie sệ nie.

Ek stap met die pakkie inkopies by die kafee uit, stofpad af na Ousus se huis toe.  Die mense by die groot opmekaar-huis kyk my aan.  ‘n Vrou wys na my kant toe. ‘n Man lag.  Die vrou kyk weer oor haar skouer, druk haar hande in haar sye, sệ iets en die man lag.

Fokof.

Ek stap aan.

Ek sit die pakkie inkopies in die visnet.

Ek stap verby die kerkie, verby ‘n erf waar ‘n groot hond blaf. Ek stop, kyk vir die hond en glimlag.

Hallo Hond

Hallo Engel, sệ die hond.

Ek het ‘n engel geword, en ek kyk die hond stip in die oe.

“Ek weet” sệ die hond

Engele het vlerke.

“Jy moet vlieg, Engel. Ek weet alles. Ek weet van die engel op jou dak. Ek weet ook wie vir jou vlerke gegee het. ‘n Vreemdeling op ‘n motorfiets” sệ die hond.

Ek skrik en stap verder.

By die kerk hoor ek iemand sing. Dit moet ‘n begrafnislied wees.  Is dit Sondag?  Is iemand dood.

Ek loer by die sydeur in.  Daar staan ‘n bruin vrou en sing.  Vinger alleen in die kerk.  Dis so mooi.

Is iemand dood? Vra ek.

“Ja” sệ die vrou

Ek is jammer. Wie?

“Ek is dood” sệ die vrou.

Ek is jammer.

“Hou aan loop voordat jy ook doodgaan” sệ sy en sing weer.

Ek maak die sydeur vinnig toe en stap uit.

Toe ek verby die groot saal wat se mure aan die grond gedeeltes al beginner afdop, stap, hoor ek klomp vroue praat. Dit klink mooi.

Ek stap verby die alwyne, om ‘n klossie wit magtrietjies en trap skuins verby ‘n paar vetplantjies.  Ek loer by die deur in.

Een vrou skil pampoen.

Sy het die groot mes in ‘n greep beet en met die ander hand hou sy die pampoen vas. Sy skil, rol, trek af, skil, rol trek af…skil weer, gooi ‘n skil in die asblik, snuif en vryf oor haar neus en toe sien sy my.

“Jy moet more kom kos kry. Ons skil vir die sopkombuis. Almal is welkom” sệ sy.

Dankie, ek sal.

“Bring net jou eie bakkie. En jy mag net een keer vat”

Dankie.

“Kom vat hierdie pampoenpitte vir jou. Jy kan dit plant”

Dankie.

Ek druk die pitte in my sak en stap verder na Ousus se huis toe.

Ek klop aan haar deur.

Sy sit en lees Bybel.

“Boerkind, kom in. Ek het tee gemaak.  Kom sit by my”

Ek het jou verlang.

“Ja, Boerkind, ek vir jou ook.”

Hoekom het jy weggebly?

“Ek het my eie dink gedink”

Dis goed. Ek dink altyd my eie dink.

“Te veel dink kan jou in ‘n sloot gooi”

Ek is al deur daai sloot, uitgeklim, weer ingeval en weer uitgeklim.

“Jy moet nou glo, Boerkind.”

Waaraan?

“Glo aan iets. “

Ek glo aan engele.

“Ek kan sien dat jy ‘n paar vlerke gekry het”

My vlerke is papierdun.

“Maak hulle sterk. Drink jou tee, dit word koud.”

Ek drink rooibostee.

Ek kyk vir Ousus.

Ek is lief vir haar.

Is daar iets soos liefde, Ousus.

“Ja, daar is. Net jy alleen is liefde.”

Ek verstaan nie.

“Wat maak jy met die visnet”

Ek gaan engele vang.

“Bring vir my ook een”

Ek sal.

Ek stap af see toe.  Die son hang weer slapgat oor die see.  Dis dae soos hierdie wat die son slapgat hang, dat ek nie eens begeerte het om see toe toe stap nie.

Ek stap om die duin, af in die lossand tot onder waar die sand koud, nat en hard is.

“Waar is jou vriend?” vra Dingetjie.

Ek weet nie.

“Jy moet hom gaan soek”

Nee. Ek kom tel ‘n engel op om vir Ousus te vat.

“Ek sal die mooiste engel vir jou gee om vir haar te vat.”

Dankie, Dingetjie.

Dis klein brandertjies wat in en uit rol.  Laagwater branders. Lui branders. Slapgat branders, net soos die son.

Ek voel iets hard teen my voete.

‘n Skulp.

Die mooiste skulp wat ek nog gesien het.

Ek tel hom op en gooi hom in die visnet.

Ek voel nog ‘n ding teen my voete.

Nog ‘n skulp. En nog een en nog een, totdat die visnet vol is met die mooiste skulpe in die wệreld.

Ek kyk om toe iemand ager my lag.

“Hallo Engel”

Waar was jy?

“Op die maan” sệ die motorfiets man.

Dis koud hier.

“Kom staan hier by my. Kom kruip hier in my jas. Dis ‘n woljas.  Jy sal warm word”

Ek kruip tot teen sy lyf en hy vou my toe in sy jas.

Dis nou warm.

Ek sit die sak vol skulpe langs my neer.

Hy haal ‘n paar skulpe uit, ryg dit in ‘n toutjie, knoop dit vas, ryg weer, knoop vas, skud die sand af, ryg weer.  Hy sệ ek moet my oe toemaak.

Ek maak my oe toe.

Toe ek my oe oopmaak, het hy die mooiste hangertjie vir my gemaak wat om my nek hang.

“Nou het jy klomp engele om jou nek”

Dankie. Baie dankie.

“Jy moet ‘n paar engele vir daai vrou wat in die kerk gesing het ook gaan gee.” Sệ hy.

Ons staan op, tel die net met die skulpe op, druk my sakkie inkopies onder my arm vas en stap kerk toe.

Daar haal ek ‘n paar skulpies uit, sit dit voor die sydeur neer, nog een vir die voordeur en nog een vir die dak.

“Gooi hom sommer op die dak.” Sệ die motorfietsman

Ek gooi die skulpe tot bo op die dak.

Kaplaks.

En daar gaan die kerk se ligte aan, ‘n groot engel kniel by die deur, nog ‘n engel by die sydeur en die motorfietsman fluister…”Ek het jou lief”

Bestaan liefde? Vra ek vir die tweede keer vandag.

“Ja, liefde is net jy”.

Daardie dag het ek ‘n wit tuinhekkie gebou wat ek voor my hart staan gemaak het.  ‘n Hekkie wat my hart moet beskerm.

(soms moet ons maar vir ander mense engele gaan optel en voor hulle deure gaan neersit.  Vir sommige mense moet mens ‘n engel gooi.  Vir ander moet jy net ‘n warm woljas aantrek waarin hulle kan rus. Dis al”

KOPREIS (17) Die dag toe ek ‘n engel geword het…

Screw-Shells-1Ons vat die vlakte-pad.  Hy begin gesels.  Ek hou nie daarvan nie. Ek hou van stil-stap.

“Jy praat nie”

Ek stap stil

“Hoekom”

Om na die stemme in my kop te luister.

“Het jy stemme in jou kop?”

Baie. Het jy nie stemme in jou kop nie?

“Nie waarvan ek weet nie”

Jy moet luister. Dalk hoor jy hulle

 

“Hoe ver stap jy?”

Totdat die stap ophou.

“Wanneer is dit?”

Dis amper op.

“Hoekom stap jy nie by die see nie?  Hoekom dan in die vlakte?”

Middae is die see se beurt.

“Ek sien”

Ons gaan sit op ‘n groot plat klip.  Ek tel ‘n paar ronde klippies op. Druk hulle in my sak.  Hy tel ook ‘n paar op. Ek wonder wat sy naam is? Ek wil nie vra nie.  My engel het nie ‘n naam nie, die skilpad het nie ‘n naam nie ook  nie die voeltjie op die wasgoedlyn nie. Niemand het name nie. Name is te veel bagasie om saam te dra. ‘n Siel is genoeg.  ‘n Engel is ook genoeg. Net dit.

“Wat maak jy met die klippies?”

Ek tel die dae.

“Hoe bedoel jy?”

Ek gooi hulle in ‘n bottel. Elke dag is ‘n klippie, dan weet ek hoe lank ek al hier is.

“Dis snaaks”

Dis wat ek doen.

“Ons moet terugstap”

Hy staan op, hou  sy hand uit en tel my op.  Nog water vloei uit die dam uit oor my lyf.

Ek staan op.

Dankie, Engel, dink ek.

Nog bietjie water vloei.

Ek besluit om ‘n draai om die huis te stap.  Ons sal die onderste stofpad vat wat langstrand se kant toe loop.  Dan loop ons die huis mis en ook die winkel.  Ons loop  net verby die Mombakkies man se huis, maar ek is nie bang vir hom nie.

Voeteval…voeteval…klik…klak…klik…klak…een…twee…drie…vier…vyf…tot by die see.

“Die see is mooi”

Ja. Sy gee my vrede in my siel.

“Is die see ‘n ‘sy’”

Ja.

Haar naam is Dingetjie.

Hy glimlag vir my. Ek glimlag terug.

Ons praat nie baie nie. Ek het gesệ dat ek nie baie van praat hou nie omdat ek lank laas baie gepraat het.

Ons stap op die strand totdat die dorp se huisies weg is. Totdat die kerk se toring agter ‘n duin wegkruip. Totdat die dorp-geluide stil word en net die val en breek van die branders hoorbaar is.

Dis mooi.

“Dis mooi” sệ hy.

Ek het nou net dit gedink.  Jy lees my gedagtes.

Hy lag.

Ek kan heeldag op die strand bly sit

“Mens kan heeldag hier sit”

Ek het dit nou net gedink…

Ons lag.

Dis nie ‘n Ousus-storie lag nie. Dis net ‘n lag. Ousus se lag kom uit die maag.  Hierdie lag kom uit mens se wangholtes. Vlak.

Ons gaan sit op die strand

Hy trek sy klere uit.

Ek kyk

Dis vreeslik mooi.

“Jy kyk vir my” sệ hy

Ja, jy is mooi.

Dankie, jy ook.

“Hoekom is jy alleen?’ vra hy.

Alleen is beter. As mens aan die alleen gewoond raak, dan is mense onnodig.

“Gaan jy ooit weer hier weggaan?”

Nie sommer nie.

“Kom saam met my”

Waarheen?

“Waar ook al”

Hy lệ op sy maag.  ‘n Paar korreltjies sand klou aan sy boude vas.  Sy skouers is breed. Sy bene stewig.  Sy hare pikswart. Sy beenhare mooi en welig.

Hy draai om.

Sy borshare is soos ‘n kombersie waarin ek wil lệ.  Die sandkorrel rol oor sy lyf, teen sy bene af.

Nog ‘n damwal breek.

“Kom lệ by my”

Ek lệ met my kop op sy maag.

“Trek uit”

Ek trek uit.

Die son gooi goud oor ons. Die brander-spatsels gooi sterretjies oor ons.  Die sand gooi ‘n kombers oor ons en ons asem gooi ‘n wolkombers oor ons lywe wat effens koud kry.

Stilte.

STilte.

Dis laat. Ons sal moet huistoe stap.  Ek wonder of Ousus vir my wag? Ek wonder of sy die motorfiets gesien het. Ek wonder of sy vir my kwaad is.

“Kom, ons moet loop.”

Ek het aan die slaap geraak.

“Ek ook.”

Nog ‘n damwal breek.

Ons stap terug. Hy vra of hy my hand kan vashou.

Ja.

Die son wil al oor die see hang.  Dit moet seker so 4 uur of 5 uur wees.

Ek tel ‘n skulp op, hou my arm reguit en kyk met korrel-oog na die son sondat die son deur die gaatjie skyn.

Dis seker 5 uur.

“Hoe weet jy?”

Die skulp sệ dit.

In elke skulp is ‘n engel.

Hy buk af,  tel ‘n skulp op, maak sy arm reguit en kyk deur die gaatjie na my.  Ek pas deur die holte van die skulp.

“Ek sien die engel” sệ hy.

Ek het vandag ‘n engel geword. Ek wou nog altyd.

KOPREIS (16) Die damwal breek oop

 

“Bly jy alleen hier?”

Ja.

“Hoekom? Hier is dan niks en niemand. Dis verlate. Dis ver”

Die hele wệreld is verlate en kaal.

“Hoekom sệ jy so?”

As jy hier kom bly sal jy sien.

“Hoe lank is jy al hier?”

Ek is nie seker nie.  Twee jaar dalk.

“Hoe kan jy nie weet nie?  Het jy nie ‘n computer of telefoon nie?”

Nee. Ek het ‘n telefoon persent gekry, maar hy lệ nog onder my bed in ‘n boksie.

“Kom ons haal hom uit”

Nee.

“Hoekom nie?”

Ek is bang

“Ek is hier. Niks om voor bang te wees nie”

Dankie

“Is hier nie blyplek nie?”

Alles is toe. Of vol. Dis blommetyd.  Dan is alles vol.

“Moet ek dan al die pad terugry, op hierdie 80 km grondpad, met ‘n motorfiets”

Dis kaksoek.

“Dit is, ek is moeg.”

Bly by my.

En daar breek die eerste stene uit my damwal. Die eerste water begin deur die gleuf te drup-drup.  Die engel op my dak vang ‘n ster uit die hemel en kom sit dit op die stoep neer waar ek en die vreemdeling staan en gesels.

“Dis net na middernag”

Jy kan op die bank slaap.  Ek het net een bed.  Die bank is nogal gemaklik. Niemand het al op hom geslaap nie, maar ek het in die middae daarop gelệ en kyk vir die see.  Ek kan nie lank op hom lệ nie, want dan raak my rug seer.  Maar as jy wil kan jy die kussings op die vloer gooi. Dis makliker.  Ek sal dan ‘n groot wolkombers onder die matras gooi om die koue te keer.  Hoor jy die see?  Ek sukkel om hom vanaand te hoor?

Die man staan op my stoep.  Hy gooi sy gewig eers op sy linkerbeen, dan regter been.  Dan staan hy met sy hand teen die muur, dan kyk hy na die motorfiets wat buite staan.

“Sal my motorfiets safe wees daar buite?”

Ek sal die engel vra om na hom te kyk.

“Watter engel?”

Die engel op my dak.

Die man lag.

Ek kyk hom aan.

“Goed, as jy so sệ”

Ek sệ so, ja.

Kom sit hier.

Hy gaan sit op my stoel. Ek trek ‘n  kampstoel nader.

“Jammer, is dit jou plek die”

Niemand het ‘n plek in die lewe nie. Almal is maar oppad.

“Ek bedoel, die stoel”

Ja.

“Kom sit hier, ek kan op die kampstoel sit”

Jy kan gaan stort. Ek het warm water.  Nie baie nie, maar darm.  Die gasbottel is amper leeg en as hy leegloop is die warm water op.  Ek sal iemand moet kry om vir my ‘n bottel op die dorp te kry.

“Hoe ver is die dorp?”

110 Km. 80 Km grondpad.

“Ek kan more oggend saam met jou ry, dan gaan koop ons een”

Ek het nie ‘n kar nie.

“Het jy nie ‘n kar nie? Hoe bly jy hier?”

Die engel op my dak sorg.

Die man is stil.

Ek gaan maak koffie.

Toe ek die ketel se bek onder die kraan druk om sy maag vol water te tap, staan die man agter my.

“Hoekom sit jy nie ligte aan nie”

Ek is bang vir lig.

“Maar hoe sien jy waar alles is”

Ek het min goed. Ek weet waar alles is.

“Ek is so lus vir daai koffie”

Ek maak vir jou, maar die water is brak.  As jy klein bietjie sout bygooi is die brak weg, maar my mond is gewoond aan die brak.

“Ek gee nie om nie.  Koffie is koffie.”

Ons gaan sit weer op die stoep.  Die koue kruip vinnig nader van die see se kant af.  Ek trek die lappieskombers oor my.  Ek gee vir hom ook ‘n kombers.  ‘n Blou kombers.

Die son breek goud op die vlakte kant.

Kyk hoe mooi is dit.

“Dis baie mooi. Jy besef dat ons niks geslaap het nie?”

Ons kan later slaap.

Ek moet vlakte toe gaan.

“Kan ek saamkom?”

Ja.

“Nou kom”

Het jy nie gemakliker klere nie.  Daai motorfiets klere gaan nie werk in die vlakte nie.”

“Ek het ‘n jean en t shirt”

Ek sal vir jou wag.

Hy staan in die sitkamer, kyk see se kant toe.

Gooi sy rugsakke op die grond neer, buk en trek die zips oop.  Een vir een.  Hy haal ‘n compter uit, ‘n cellfoon, ‘n charger, los klere wat gekreukel is en ‘n kamera.

Hy trek sy motorfiets-klere uit.  Staan in ‘n rooi onderbroek en kyk vir die see.

Nog ‘n paar stene val uit my damwal uit.  Nog water spuit by die krake uit.

Ek staar hom aan.

Hy sien ek kyk

Ek skrik.

Ek stap om die huis, see kant om.  Verby die wasgoedlyn waar die voeltjie gewoonlik sing.  Tot my verbasing is hy terug. Ek het om vir ‘n paar dae nie gesien nie.  Hallo voeltjie. Ek stap om die spekbos, die skilpad slaap nog. Ek trap op my skulpiepad en die grrr grr onder my voete.  Hallo engel. Ek klim op die dak, kyk vlakte toe, groet die goue son, kyk see toe, sệ hallo vir die blink spatsels op die water. Ek sệ hallo vir die engel op my dak en dankie dat hy na die motorfiets gekyk het.

Die man kom uit en staan langs sy motorfiets.

Ek sit tjoepstil en hou hom dop. Hy loop om die huis, kyk na die skulpe, tel ‘n klippie of twee op, kyk na die son, grou in sy motorfiets se kassies, kyk see kant toe, steek ‘n sigaret aan, rook, kyk vlakte toe en toe sien hy my op die dak.

“Wat maak jy op die dak”

Ek groet die rooidag.

Hy glimlag.

Ek sệ dankie vir die engel wat jou motorfiets opgepas het.

“Kan ek die engel kom sien?”

Ja.

Hy klim op die dak, kniel langs my, kyk my in die oe en sệ:

“Hallo engel”

Toe breek die hele damwal af…in stukke en dis net strome en strome water.

Die strome loop oor my wange, teen my nek af, in my hemp, teen my maag af, agter teen my ruggraat af, op my maag, my bene, my kniee totdat ‘n plas water in my skoensole gaan val.

Varswater, nie brakwater nie.

KOPREISE (15) Die middernag lig breek die damwal af…

Ek gooi nie meer klippies in die flesse nie.

Ek ryg nog skulpies.

Dis na 12 in die nag.  Die dorp is stil en donker. Ek sit in die donker en probeer na die branders wat breek en val luister.  Hulle is stil vanaand.  Ek staan saggies op, loop op my tone tot aan die buitekant van my huis, kyk see se kant toe, dan weer om terug vlakte toe.

Gaan dit die pad van my lewe word?

See toe? Vlakte toe? See toe? Vlakte toe?

Dalk moet dit so wees.  Dalk nie.

Ek gaan sit weer op die stoep, vou my toe in ‘n ou  lappies kombers en luister weer na die nag.  Die nag klink anders as die dag. Sondae klink anders as Saterdae.  Maandae tot Donderdae klink dieselfde, maar Vrydag klink weer anders.

Die duifies sing anders op ‘n Maandag oggend as op ‘n Sondag oggend.  Dalk is die ander duifies wat sing.

Ek hoor ‘n dreun geluid.  Dis nie see se kant toe nie.  Dis vlakte toe.  Dit moet dalk van die stofpad af kom wat ‘n mens dorp in vat.  Ek stap weer om die huis, kyk na die stofpad op die vlakte.  Daar is lig.

Ek gaan sit weer op die stoep, vou my toe in ‘n kombers.  AS ek stil sit, sal niemand weet dat ek nog wakker is nie.  Die lig sal dan verby ry.

Die dreun word harder.

Ek bid dat hy nie moet indraai nie.

Ek hoop hy draai in.

Ek bid dat hy my huis mis kyk.

Ek hoop hy sien my op die stoep sit.

Ek bid vir vrede.

Ek hoop vir geselskap.

En toe breek die damwal in duisende honderde stukke.  En die dink in my kop van “Bid en Hoop” maak my mal.

Die lig trek by my hek in en maak ‘n straal lig tot teen die deur.

Ek het my kamer lig aan vergeet. Die enigste lig in die dorp, behalwe die Telkom telefoon hokkie se flou lig onder by die see.

Klop-klop-klop

Net drie

Ek maak die deur oop.

Toe ruk die dink deur my.  My kopreise briewe sal een of ander tyd moet stop.  Ek is jaloers op my kopreise. Ek is jaloers op my briewe.  Ek sal stil word.

“Hallo” groet hy

Hallo, en daar hoor ek die see nou. Die branders val en breek. Dis hoogwater…

 

KOPREIS (14) Die groot lag…

 

Vandag is koud.

Baie koud.

Koud, kouer, koudste.

Ek wil nie vlakte toe gaan nie. Ek wil nie see toe gaan nie. Ek wil nie stap nie.  Ek wil sit.

Mense het altyd vir my gesệ dat ek nie so stil moet sit nie. Dit maak mens sleg.  Hoekom sal mens sleg word as jy sit? Mens is mos nie net sleg vir geen rede nie.  Bestaan daar iets soos slegte mense?  Wat is ‘n slegte mens? Wat is ‘n goeie mens? Wie maak die reels.

Ek weet nie.

Ek wil nie weet nie.

Ek stel nie belang nie.

Ek wil sit.

Die son het agter ‘n paar slegte-lui wolke uitgekruip.  Hy skyn op my skouers en rug. Dis lekker.  Die warmte kruip in my lyf in. net soos ‘n klein hondjie onder sy kombersies in sal kruip. Ja, die son is ‘n klein hondjie wat inkruip.  Hy kruip teen jou rug in, maar sodra daai koue, nat snoet jou raak, klim die koue weer uit.  Maar ‘n klam snoet is liefde. Dis baie liefde. Dis lek-liefde.

Die klein hondjie bak my warm…lekker warm…lekker.

Ek skrik toe Ousus agter my lag.

“Jy slaap so teen die son. Dis lekker.”

Hoekom lag jy daaroor?

“Laat my dink aan ‘n storie van jare gelede”

Watse storie?

“’n Storie”

Maar watse storie?

“Soebat jy dat ek moet vertel?”

Ja. Asseblief. Vandag is storie weer.

“Jy sien, jare gelede toe ek nog ‘n jong vrou was, het my pa die orrel in die ou kerk hier onder in die pad gespeel.  En kon hy ‘n orrel speel.  Hy het nooit opleiding gehad nie, sommer so uit die hart uit gespeel.  Maar soms was hy maar lui vir kerk toe gaan, want die Saterdagaand was daar mos ‘n ge-tiepery van die soetwyn.  Omdat daar nie nog iemand was wat kon orrel speel nie, moes hy elke Sondag kerk toe gaan.  As daar siekte of dood was, het Antie Files maar ingesit, maar die meeste van die tyd het my pa maar gespeel.

Hier was so jong meisietjie wat gesệ het dat sy kan speel, maar toe sy die dag Die Onse Vader moes begelei, stap die helfte van die mense uit. Hulle het gesệ die kind trek darm die lied so uit, so asof dit ‘n begrafnis lied is.  Bring vir Ou Apie terug.  So beland my pa weer op die bank voor die orrel.

Man, dit was so oor die groot dae toe daar een Saterdag aand goed gevat is.  My pa was nie skaam vir vat nie en soetwyn maak jou mos moeg die volgende dag. So was dit gewees. Sondag se kerk begin en my pa beginne goed te speel.  Die mense sing lekker. Tot die dominee vat die note vas.

Maar so begin die preek en my pa loop sit op die stoel langs die orrel.  Dis ‘n pure gemak stoel.  Die preek hou aan en aan en my pa so oge word al swaarder totdat hy nie meer kon nie, en daar sit hy visvangend agter in die kerk op die gemakstoel langs die ou orrel.

Dominee steur hom toe maar min aan my pa.  Hy het geweet die ou vat maar bietjie te veel. Veral nou oor die groot dae.

Met die slotsang, sệ dominee dat hulle die sangboekies op Lied 43 moet oopmaak. Daar staan die gemeente met oop boekies in die hande en geen geluid nie.  Hulle wag vir my pa om die inleiding te speel, maar dis tjoepstil.

Iemand kyk rond of ou Files daar is om maar in te sit, maar Files is nie daar nie.

So kyk Ou Wilkie wat in die diaken stoel sit om en sien my pa op sy stoel weg voor en slaap.  Daar is nie ‘n teken van wakker word nie.

Dominee sệ toe vir Diaken Wilkie om assblief tog maar vir Oom Apie wakker te maak. Die mense wil sing.

Daar staan die diaken op, stap agtertoe en vat my pa liggies aan die arm.  My pa skrik toe van die wakker word, gee ‘n growwe woord, maar toe hy daar wegval met Lied 34 is die mense stom.  Dis verkeerde wysie by verkeerde woorde en die gemeente probeer sing, maar elke een sing met ‘n ander wysie en ‘n ander woord.

Dominee stop die maar die gedoente met arms in die lug, sệ toe maar net ‘Liefde, vrede en barmhartigheid” en toe “amen” en daar verdaag die kerk.  Jinne, tot vandag praat die mense van my oorlede pa wat in die kerk aan die slaap geraak het.  Vandag lag ons oor die saak, maar daai jare was dit groot skande”

Ek lag.

Ek lag lekker.

Lag, lagger, lagste…nee dit is nie reg nie, maar ek maak sommer die woorde op…dis baie lag.

Dankie, my liewe Ousus.

“Vir wat”

Vir die lag.

Ousus lag saam.

Ek lag.

Ons kyk vir mekaar en lag…

“Ja, Boerkind, lag bring mense bymekaar”

Daai dag, op die stoep, met die warm sonnetjie en die kerkstorie het ek Ousus se ‘Boerkind’ geword.  Nie net ‘n ‘kind’ nie , maar ‘n ekstra kind.

Wanneer laas het ek gelag?

Wanneer laas ?….

KOPREIS (13) Die eerste keer…mense, monsters en more-oggend.

Donkeroggend:

Die son het nog nie eens ‘n poging aangewend om op te kom nie, nie eens net ‘n teken van opkom nie.  Hy lệ nog diep in sy gat iewers.  Ek wonder waar is die son?  Waar gaan lệ hy voordat hy kopuitsteek in die oggend?  Dalk het hy ook ‘n canfruit bottel waarin hy lệ, net soos my klippies.

Ek sal moet klippies tel.  Ek het lank laas getel.  Daar is al 4 boottels vol klippies wat in my vensterbank staan wat see se kant toe kyk.  In die somer sit ek die flesse met klippies in die vensterbank wat vlakte toe kyk, wintertye na die venster wat see toe kyk. Die klippies kan nie heeltyd vir die vlakte kyk nie, ook nie vir die see nie.

Ek wonder hoe laat dit is.

Onder my bed lệ ‘n rooi vierkantige boksie.  Die ding lệ nou al daar vir ‘n paar dae, dalk weke, dalk ‘n maand of twee. Ek het ophou tel.  Die boksie maak my bang.  Dis asof daar ‘n rooi-oog monster in is.  ‘n Man en sy gesin van Pretoria wat hier kom vakansie hou het, het dit vir my gegee.  Hulle het kom blomme kyk. Die blomme was mooi daai seisoen. Ek onthou nog.  Die veld hier agter, Kralekraal se kant toe, was spierewit geblom.  Asof dit gesneeu het.  Dan weer ‘n lappie noorde se kant toe pure bont plesier van pers, oranje en geel.  Die man kon nie uitgepraat raak oor die blomme nie.

“Jy neem seker baie fotos” het hy vir my gevra.

Nee.

“Jy moet fotos neem. Dis pragtig” het die vrou gesệ

Ek bệre die pragtig in my hart.

Stilte

Die vrou het daardie oggend ‘n groot,bont kopband aangehad. Sy het amper soos en van die vetplante gelyk. Ek het my verkyk aan haar.

Hulle het vir Ousus gekry met ‘n vars snoek in die hand toe sy oppad was na my toe.  Ons sou snoek rook daardie dag.

Hulle stop toe, vra waar sy heen gaan en sy het gesệ “Ek gaan na die plek toe waarheen ek elke dag heen gaan.  Waarheen gaan Meneer en Mevrou heen?”

“Ons wil gaan blommetjies kyk, maar is eintlik opsoek na ‘n koppie koffie en ‘n broodjie. Alles is nog toe daar onder by die see.  Die nota op die deur sệ dat hulle eers 10 uur oopmaak” het die vrou gesệ.

“Is waar Mevrou.  Hier is dinge stadig. Moenie haastig wees met stadige goete nie.  Meneer en Mevrou kan sommer daar by ons kom koffie drink. Ek sal ‘n broodjie maak. Ons het reeds gister gebak”

Ek onthou nog so goed toe die wit Land Rover daardie oggend by my huis ingetrek het.

“Kom, Kind, maak jouself reg. Hierdie mense soek koffie en ‘n stukkie brood. Dis tyd dat jy mense in die oe beginner kyk. Jy kan nie so alleen sit nie. Jy gaan vereensaam.  Die vrou sit daar in die sitkamer.  Gaan praat met hulle. Ek maak koffie” het Ousus vir my aangepraat.

Ek was so bang.

Asem in…uit…in…uit…twee…drie…vier…uit…

God help my.

Engel op my dak, maak my deurskynend.

Vlakte, kom vat my.

Dingetjie, see, kom vou my toe.

Venster na vlakte, stap, venster na see, stap, sit, venster na vlakte, venster na see, stap, sit.

“Kind kry jou reg. Die Mevrou daar in die sitkamer wil praat.” Het Ousus geskreeu.

Ek onthou dit soos gister. Ek het stadig gestap.  Tot in die sitkamer.

“More Mevrou. More Meneer” het ek gesệ”

Toe ek in daai vrou se oe gekyk het, kon ek die vraag lees.

“Jy is dan ‘n wit mens.”

Ja ek is. Wat daarvan? Ek het dit nie gesệ nie, maar gedink.

“Hoekom het jy so baie bottels vol klippies?” het die man gevra.

“Ek tellie dae met die klippe”

“Wat bedoel jy” die vrou

“Ek gooi elke dag ‘n klippie in die fles om die dae te tel.  Daar is nog baie klippies wat op die dak lệ.  Hulle lệ by die skulp-engel”

“Kom sit hier” die man

“Ek kom. Ek wil net gou vir my ma iets gaan vra”

“Waar is jou ma” vrou

“In die kombuis.”

Ek was so bang.  Ek ken nie meer mense nie. Ek wil nie die geeste om my he nie.

“Ousus, het jy daai vrou aangekyk. Sy lyk soos ‘n dobbelsteen sonder kolletjies. Kaal, dom, alleen maar baie geld”

“Los die ding Kind, vandag gaan jy gesels.”

“Stap saam met my, asseblief Ousus”

“Kom”

Sy het my hand gevat, en ons het skuif-skuif gestap.  Ek is bang vir die mense.

Sệ nou hulle kom vat my hier weg, Ousus.

“Hulle sallie.  Ek sal keer.  Kom”

Ek onthou nog so goed toe ek en Ousus by die sitkamer ingestap het en die Dobbelsteen vrou wat met die flesse in haar hand gestaan het. Hoe sy skuldig gelyk het toe sy sien ons sien haar. Hoe die man met sy oe beduie om dit neer te sit. Hoe die skrik in haar oe gesit het. Hoe die vraag in die man se mondholtes gelệ het.

“Is dit jou ma” het die vrou gevra.

Ja.

“Ja, ek is sy ma’ het Ousus ook gesệ.

Toe het ek die bang weggejaag.

Ek het op die houtstoeltjie met die riempies  gaan sit.  Ousus het gesệ sy bring die koffie.  Die man het my aangekyk en die vrou het die klippies aangegluur.

“Ek kan my engel-skulp vir julle wys” het ek die eerste ding in my kop gegryp om te sệ

Die man knik sy kop.

Die vrou sệ “OK”

Ek het toe uitgeloop, verby die wasgoedlyn waar die voeltjie altyd sit en sing, agter die

Spekbos verby waaronder die skilpad nou al vir lank bly en toe klim ek op die dak.

Ek trap versigtig.  Vat die skulp in my hande vas. Klim af. Terug. Spekbos, skilpad, wasgoedlyn, skulpiepad en toe sitkamer.

“Kyk, het ek gesệ.  As jy die skulp so hou en jy korrel met jou oog deur die gaatjie sodat die son mooi in die gaatjie pas, kan jy die engel sien” het ek gesệ.

Die vrou doen dit.

Die man ook.

“Sệ my, het jy nie ‘n horlosie, of ‘n telefoon nie.  Het jy nie ‘n tv nie?”

Nee.

Die man se oe het gesệ “Dis vreeslik”

Dobbelsteen vrou sonder kolletjies het gaan sit.

“Hoe weet jy dan waste dag is dit”

Ek tel die klippies in die vlesse.

“Is daardie klippies in die fles die dae wat jy al hier is?”

Ja.

“Dis baie.  Moet naby 2 jaar wees”

Ek dink so

“Weet jy watse Maand dit is”

Ja.

“Watse maand?” Dobbeslteen sonder kolletjies.

Dis Blommemaand.

Simpel vrou

Ousus het, Dank God, met die broodjies en koffie ingekom.

Stilte.

Eet,

Klingel-Klingel van koppies en teelepel.

Slurp

Stil.

Asem in…uit…in…uit.

Ek het die engelskulp langs die flesse neergesit en gekyk hoe die man en vrou koffie drink.

Die man het iets vir die vrou gesệ. Ek kon nie hoor nie.

Sy het opgestaan, na die kar toe geloop en teruggekom met die rooi boksie.

“Dis vir jou.  Om dankie te sệ vir die brood en koffie”

Wat is dit?

“’n Selfoon”

Ek skrik.

Selfone maak my bang.

“Vat dit, toe” die man soebat.

Ek het dit gevat en onder my bed gaan bệre.

Dis waar hy nou lệ, totdat ek hom eendag in die oe gaan kyk.

 

Klop-Klop-Klop

Ek skrik.

Ek was nou so verdiep in die onthou dink van die man en vrou daardie dag dat ek nie eens agterkom het die son is besig om uit sy fles te klim nie.  Die voeltjie het teen my venster kom klop klop. Hy kom klop my altyd wakker.

More voeltjie.

More son.

More dag.

More Dingetjie.

More vlakte

More ek.

Ek het geleer om myself ook in die oggend ‘more’ te sệ en saans ‘goodnight”. Wie anders is daar om dit voor te sệ.?

Toe gaan stap ek. Vlakte toe. Ek wil die dobbeslteen vrou uit my kop uit stap, die selfoon uit my kop uit stap, die onthou uitstap, die dink uitstap en vrede instap. Dis wat ek gaan doen. Dis vandag.

Blog at WordPress.com.

Up ↑