BONT

onder in my verfkwas-glas

lê ‘n lagie vaal-grys-as

van kleure wat eens helder was

en ek sal vir jou wag.

Agter my bly die papagaai-bont

berge rus en jou boedrooi mond

so mooi — so rooi soos kalahari-grond

kom lê langs my op my kombers  bont

 

Ja, kom lê langs my en kleur my in

met geel , blou, groen en pers

krul my toe in jou wolkombers

en sing vir my ‘n liefdesvers.

Advertisements

DIE TRAP

DIE TRAP

Groepies mense stap by die groot houtdeure uit.
Sommige lag saggies en glimlag flou,
ander kruip agter groot donkerbrille weg.
Daar is groepies wat aan mekaar vasklou,
ander huil, sommige is net niks.

Families klim in karre, oupa en ouma sit agter,
’n groot houttafel met gekookte boerekos
wag geduldig by die huis vir die familie.

Die laaste motor verdwyn om die draai,
stop by die kafee, koop ’n brood en koerant.
’n Ligte middagbriese steek op.

Op die trappies voor die groot houtdeure
van die leë kerkgebou lê die begrafnisbriefie.
Hy is klaar gelees, klaar voor die gesig
gewaai vir ’n koeligheid, klaar met die lewe…

Dìt is eensmaam

PLAASMOORD

 

met skemer staan die antie voor die stoof
sy blaas die stoom van ’n pot melkkos
eenkant toe en roer om en om
totdat die melkkos soos ’n groot

wit wolk in die pot lê en borrel.
Sy sprinkel ’n donker wolk
kaneel oor die wolk-wit en gooi
nog ’n stukkie botter in.

Die botter maak ’n goudgeel
spoortjie al om en om in die wolk
net soos die melkweg, soos
die suiderkruis.

“was julle hande, die kos is amper reg!”
roep sy almal nader, tot die kat en hond
staan gereed vir ’n stukkie van die wit wolk
maar meteens is die pot stil.

Deur die vensterruit, wat wit gewasem
is van die kokende pot, sien sy
’n beweging, so vinnig, so rats
soos ’n muis oor ’n vloer.

“Kom julle, die kos gaan koud word”
roep sy weer en daar staan hy in die deur
en nog ’n mens, en nog ’n skadu en nog
’n mombakkies, ’n rot, ’n mens, ’n monster

met twee wit oë wat by die mus
uitsteek waaragter hy sy gesig
vir die wêreld en vir die
antie voor die stoof wegsteek.

Die monster brul, spoeg nog ’n vlam uit,
maak sy rug krom vir die aanval.
Hy bewe soos ’n nagdier wat sy
prooi wil aanval, monster gesig.

Die mes blink soos ’n draak
se tong uit ’n storieboek en
die laaste rook sirkel-sirkel uit
die gloeilamp toe die monster

die lampie met ’n kierie stukkend kap.
Die antie is stil, net die houtlepel
bewe liggies in haar hand, soos ’n
feetjie se toorstaffie in ’n storie

en toe val sy.

die pot met die witwolk bestrooi
met kaneel val op die vloer en loop
soos ’n straal wit-bloed tot onder die tafel
iewers huil ’n kind en
die kombuis deur klap toe.
Die monster is weg.
Die hondjie skop sy laaste skop
Die tannie is dood.

Die monsters nou weg.
Stil

HIER KIEP KIEP

“Hier-kiep-kiep-daar-kiep-kiep” sing Lena met besem in die hand.
Trap mooi, trap versigtig ek maak die groot huis aan die kant.
Agter die koffie tafel se bal-en-klou-poot skuil daar ’n korreltjie sand
“Hier-kiep-kiep-daar-kiep-kiep” maak onse Lena die vullis van kant.
Lena, met die geblomde kopdoek en groot voorskoot aan skuiffel-stap
Uit haar mond sonder tanne hoor mens wyse woorde ontsnap
Lena se wyse woorde laat almal in die huis soms na hulle asems snak
Dan saans as dit donker word, bêre ek die wyse woorde in ’n ou lap-sak.
Op ’n reënerige dag maak Lena vir ons Vetkoek en stroop
Sy maak die soetste rooibos-tee waarin ek my vetkoek doop
Ek wikkel my tong toe in die soettigheid van die goue stroop
Ek vat groot slukke van die rooibos tee, want dis soet soos stroop
Wanneer Lena op die geelhout- vloer die gang af stap, hoor jy ’n gekraak
Lena sê altyd dis maar die vloer se manier om saam met haar te praat
“Ag Lena, ’n vloer kan mos nie praat nie” maar Lena glimal en sê “Hy praat”
Dis dan wanneer Lena weer lewe in ons huis bring, want die vloer kan praat.
“Hier-kiep-kiep-daar-kiep-kiep” sing Lena met besem in die hand.
Trap mooi, trap versigtig ek maak die groot huis aan die kant.
Kom sit hier langs my op die stoeptrap, kom vat my gevlekte hand
Want in my hand skuil wyse woorde, dit maak jou siel aan die kant.
Lena is nie net ons huishulp nie. Lena is nie net skoonmaker nie, nee
Lena is ook moeder, versorger en iemand wat vir ons liefde gee
Om 11 uur in die oggend sit sy die ou ketel aan vir ’n koppie rooibos tee
Dis dan wanneer die son by die venster inloer om warmte vir ons te gee.
Ek dank die Here God elke dag vir iemand soos Lena in ons huis
Al is hierdie huis ’n halwe huis sonder pa, bly dit tog ons eie huis
Lena regeer hierdie halwe huis stewig maar haar yster vuis
want hier, in hierdie halwe huis, weet ons tog is almal ewe tuis.

DIE KALAHARI-DUIN

hy buk in die Rooi Kalahari Sandvoetpad,

tel ‘n hand vol rooi sand op en vou dit

in sy vuis toe.

Versigtig korrel die sand by die onderkant van sy vuis uit,

en die wind gaan sit die korrels op ‘n ander plek neer.

Die Kalahari-duin fluister in die wind:

“Ons is altyd maar oppad”

DIE AARDBEWING IN SUID AFRIKA

DIE AARDBEWING. in SUID-AFRIKA

soos ’n dier wat gekwes
is deur ’n skerp pyl,
het jy geruk van
horison tot horison.

Soos ’n troeteldiertjie
wat weggeskop is
en doodverkluim in die
koue lê en ruk-ruk.

Soos ’n slagaar wat afgeskeur
is deur ’n roofdier,
lê jy doodstil in die donker
en luister na jou laaste uur.

Nou is jy stil, stiller, doodstil
my geliefde land
my geliefde afrika
my geliefde Suid Afrika

SPOKE IN DIE GANG

laatmiddag, ’n Sondag,
kraak die houtvloer van
ons ou plaashuis se gang
en die laaste sonstraal
loer by die sonkamer
se venster in

die reuk van varsgesnyde
gras sweef om die huis
kwepers hang rond en vol
in die boom agter
die heining waar ek
daagliks vir werklikheid wegkruip

en waar die lewe homself
voor my kom oopgooi het
om soos blink korrelkonfyt
in ’n fles in my hart kom
lê om die soet van die
lewe vir ewig in my
te bewaar, tot daardie
eendag op ’n reëndag aanbreek

die wolke kraak en breek in die hemel
so asof die engele in ’n
sirkel om ’n kampvuur staan
en diep klanke
huuuuum
huuuuum
huuuuum
totdat die maan uiteindellik ondergaan

dik, geswelde druppels val eers
stadig uit die hemel neer
dan vinniger, dan
soos wilde perde se hoewe
neerdonner totdat
strome lewende water
in elke sloot uitspoel
en plasse water in die grondpad
wat al voller word en
modder woed in die beddings

die wilde perde maak my bang
en ek gaan sit op die houtvloer
in die donker gang.
ek praat
die gang kraak
ek praat weer
gang kraak weer

daar, in die donker gang
en tussen die
wilde perde se hoewe
klim ou spoke uit die vloerplanke,
ek hoor stemme.

haar stem hang in die gang
en ek word bang want spoke
maak mense bitter-bang

en vir oulaas hou ek haar kop
in my skoot vas terwyl dit bloederig word
in my handpalm, deur my vingers
tot op die vloer

die reën hou op
die spoke kruip terug in die planke

dis stil
rol maar traantjies
rol maar
rol maar traantjies
rol maar.

MENS

my Dingetjie mens
vol liefde.
My Storiemens,
my geliefde
hou my by jou,
al bly die berge so blou
druk my vas
soos ta’Mossie se sakkie dans
kreukel my wang
teen jou’e vas
al gaan die voëltjies
tot laat koring sny
maak my jou bootjie
wieg my in die vlei
onder die treurwilger
ons twee, ek en jy
rus my kop slap
op die deining
van jou kaal maag
saggies nou, laat ek slaap.

DAIZY

KOMBERS VIR DAIZY

Van my jas het ek vir jou ‘n matras gemaak,

Van my hemp ‘n kombersie,

 

Jy het in my reuk gaan lệ,

Ek hoop jy het veilig gevoel.

 

Ek stap op my eie spore, terug in die sand

Om die ritmes van gister te kry, maar dis anders

om agteruit in jou eie spore te stap, want daardie

spore loop weg.

“Vir Daizy”

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: