BAZIL EN DIE BAZAAR

UIT MY BOEK: ‘DIE TUINHEKKIE’ BESKIKBAAR BY WWW.BREINSUIKER.CO.ZA

 

 

Bazil en die Bazaar

 

Dit was ’n Winter agtermiddag toe Ouma en Oupa in die Sonkamer sit om die laaste stukkie son te kry wat skaamgesig by die vertrek inkom.

 

Die Sonkamer het groot vensters wat op die tuin uikyk en dan die laaste middagson vang. In die Somer dalk bietjie te warm, maar in die Winter is dit heerlik warm.

 

Die huis ruik na warm brood en sop.

 

Ouma is besig om ’n lappie uit te werk met die fynste garing en die mooiste gekleurde blom-motief.  Daar is nou al heelwat van die lappies klaar.  Mooi lappies.  Elke keer as sy so ’n lappie klaar het en verkoop, of vir ’n dogter of skoondogter gee, is dit of sy ’n kind afstaan.

 

“Die lap groei aan ’n mens.” het Ouma vir Oupa gesê toe hulle in die Sonkamer sit.

 

“Hoe nou Ou Vrou? Wat groei aan jou?” het Oupa verbaas gevra.

 

Jy weet, Ouma kon ’n ding sommer so uit die lug vat en dan praat. Geen mens weet dan waarvan sy praat nie.

 

“Die lappies wat ek uitwerk. Dis soos kinders, jy weet?”

 

Aai, mens, ek het al so by Ouma geskimp vir ’n lappie, maar niks nie.

 

Anyway.

 

 

As Ouma sulke lappies uitwerk, dra sy gewoonlik “Die Arm Jood se bril”. Dis daai bril wat net ’n halwe lens in het, sodat as jy afkyk jy beter kan sien en dan opkyk is sonder lens.  Die mense daar in die Karoo waar ek grootgeword het, praat tot vandag toe nog van “Die Arm Jood se bril”.

 

Sy verkies hierdie bril, omdat die onderste lens bietjie meer vergroot as haar gewone bril, want die steek-werkies is maar baie fyntjies.

 

So teen vier uur staan sy op om koffie vir haar en Oupa te maak, met ’n dadelballetjie daarby, wat sy gewoonlik by die tuisnywerheid koop, dis nou te sê as daar is, en nie een of ander ding waar alles uitverkoop word nie. Soos daardie dag met die inwag vir die Dominee.

 

Die ketel begin so sing op die stoof en Ouma skink baie stadig. Dis toe dat sy die tuinhekkie hoor bek en sy loer uit. Sy sit die ketel vinnig terug op die warm stoof en haal nog ’n koppie uit die rak.

 

“Nou vir wat sal Dominee NOU hier aankom?”

 

My mens, ek kan met eerlikheid sê dat Dominee sowaar nie by Ouma kon wegbly nie.  Dis oor die storiemakery.

 

Ouma sê vir my, dat Oupa sê, dis al haar stories wat vir Dominee lok.

“Sien, ek het mos gesê dis oor die storie.” wou ek vir Ouma sê toe sy die storie vertel, maar ek het geleer om ’n wag voor my mond te hou as dit by Ouma en haar stories kom. Ek los toe maar dat sy verder vertel.

 

Oupa het blykbaar op ’n keer vir Ouma gesê om end te kry met die storiemaak.  Dit gaan haar net in die moeilikheid laat beland.

 

 

Sien, Ouma kon klomp halwe sinne in een asem praat, veral as sy opgewonde raak. Soos hierdie dag toe Dominee kom inloer het.

 

“………kom in Dominee, dis oop…..” sê Ouma toe sommer alles so in een asem.

 

 

 

Ouma praat sommer uit die kombuis uit en nooi vir Dominee om solank te sit, sy kom…wil hy ook koffie he…..en ’n Dadelbolletjie….dis heerlik….sit in die Sonkamer…….die Oom is daar voor…….Alles  in een sin sonder asemhaal.

 

Ouma vertel toe vir my dat sy so vaagweg kan hoor hoe Oupa en Dominee in die Sonkamer gesels, wel…as mens dit gesels kan noem.

 

“Middag.” het Oupa gegroet. Effens bot.

 

“Middag Oom, hoe gaan dit hier?”  vra Dominee.

 

“Goed, ja. Goed. Sit. Die Tannie kom.” en dit lyk nie of Oupa verder gaan gesels maak nie.

 

“Dit ruik darm maar lekker hier, so warm en huislik.” sê Dominee.

 

Oupa gee net so lastige hoes-hoes klankie.

 

Dominee staan ongemaklik rond, eers met sy gewig op die regter been, dan verskuif hy na die linkerbeen, dan draai hy effens na die vensters en staan wydsbeen geplant, gewig op altwee bene en kyk by die venster uit.

 

 

“Die tannie kom met koffie, sit maar op daardie stoel in die son.” sê Oupa en wys na ’n riempie stoel waarop ’n kussing lê wat Ouma gebrei het.

 

Ouma kom by die Sonkamer in, houtskinkbord, koppies met pierings en Dadelbolletjies.

 

Dominee staan vinnig op en vat die skinkbord by haar.

 

Dominee hou eerste vir Ouma en sy gooi in en gaan sit.

 

Dan vir Oupa.

 

Oupa vat so bietjie langer met die ingooi, ook maar ’n moedswillige ding.

 

“Ag nee man Danie, jy is nou moedswillig man.” en sy maak haar keel skoon. Dis meer ’n ‘brul’ as ’n keelskoonmaak.

 

“……En die kuiertjie Dominee, of is dit ook maar net ’n heen-en-weertjie?” vra Ouma en sit weer mooi regop.

 

“Nee, Tannie, ek het net kom hoor, of liewer raad vra.  Julle is nou al lank hier op die dorp en binnekort is daar weer ’n Bazaar.  Ek is nie heeltemal seker hoe die reëlings werk en wat ek moet doen nie.”

 

Ouma sê mens kon die kommer in Dominee se oë sien.

 

Ek sien al hoe Ouma daar sit, ewe belangrik.

Sy het mos daardie gewoonte om haar ‘Jersetjie’ so mooi styf om haar lyf te trek, dat die twee voorpante so oorkruis en dan kruis sy haar bene.

 

Dan, as sy daardie regterskouer so bietjie gelig het, dan moet jy weet sy is reg vir ’n ding.

 

 

“Ja, Dominee, dis maar ’n nare ding. Elkeen op die dorp begin mos weer bak, inlê, uitdroog en naaldwerk doen, slag, Soutvleis maak, tuisgemaakte lekkers en speelgoed vir die kinders.  Dit is ’n gedoente.  Ons woon dit altyd by,” vertel Ouma.

Toe Ouma vir my vertel van die Soutvleis deel, onthou ek tog te goed hoe ons as kinders daar in die Karoo daai Soutvleis geeët het saam met kool en baie aartappels.  Skoon honger word ek nou.

 

“Ek vat maar altyd my lappies en hekelwerk daarheen.  Dominee sien, ek wil dit nou nie self sê nie, maar ek kry baie komplimente oor hoe netjies my handwerk is en my tafel is altyd eerste uitkerverkoop.” praat Ouma haarself groot.

 

 

Weet jy, ek kan daarvan getuig. Ouma se naaldwerk, veral die lappies uitwerk, is baie netjies.

 

 

 

“Dan weet ons natuurlik Ella Verwey bak en haar Niggie lê in. Van Perskes tot Guavas.

Dan was daar die outjie hier buite die dorp op ’n plaas wat konfyt kook.” en Ouma kry nie eens hierdie sin klaar gepraat of Oupa proes van die lag.

 

Ek wou nog vir Ouma vra nou wat is dan so snaaks aan konfyt kook dat Oupa lag, maar Ouma praat bo oor my en vertel verder.

 

Dis net rookbolle om Oupa en ’n lag wat so uit sy maag uit kom. Dis min dat ek vir Oupa sien lag, so ek kon my net indink hoe hy gelag het. As ek dit tog maar net kon aanskou. In elk geval.

 

 

“A nee a Danie, moenie nou kom staan en lag nie, hou jou in, ons het belowe om nooit die storie te herhaal nie en ek is nie ’n vrou wat praat nie.” beginne Ouma.

 

 

Ouma vertel my dat Oupa so gelag het, dat dit smaak hy kry ’n aanval.  Ouma probeer hom tot bedaring bring en Dominee sit gereed om van hierdie storie te hoor.

 

 

Siestog, Ouma vertel my dat daardie Bazil vent hom lelik styf geloop het met sy konfyt.

 

Seker gedink omdat sy Pa ’n ryk boer hier buite die dorp is, hy met sy streke kon wegkom.

 

Ouma vertel dat Oupa net so roggel geluidjie maak en elke keer bolle rook uitblaas van lekker kry.

 

 

Oupa was ’n man van min woorde en het hom nie veel aan stories gesteur nie, maar hierdie storie kon hy nie los nie.  En almal weet dat dit sy gunstelling storie van alle stories is.

 

 

 

“Sien Dominee, Bazil was ’n snaakse outjie.  Dra broeke wat dalk bietjie te styf sit, rangskik blomme en hy kook soos ’n droom.  Die lekkerste kos. Nie Boerekos nie, nee, al hierdie nuwerwetse goeters wat uit die stad uit kom.

Sy Pa het vir hom ’n aflsaan-dak kar gekoop en so ry hy die dorp vol met die kar. Ek het op ’n tyd gehoop hy sou vir my vra of ek nie bietjie wou saamry nie. Dominee weet, Bazil was maar bietjie anders en het gesukkel om vriende te maak, maar vir een of ander rede het hy nogal van my gehou, en ek van hom.” en Ouma vou haar arms voor haar bors, en dan vat sy met haar hand aan haar wang.

 

 

Ouma vertel toe dat Oupa intjirp en sê dis omdat sy so stories maak en hy van die stories hou. Dit lok hom blykbaar aan net soos ’n magneet.

 

Maar Ouma sê toe vir my dis nie waar nie.  Sy het altyd vir Bazil, toe hy nog ’n kind was, pop klere gemaak. Sy ma wou nie en het vir hom karretjies, ’n kettie en kakie klere gekoop.

 

Ek kan al sien hoe Ouma haar vir Oupa vererg.

 

Ouma ruk haar kop na Oupa se kant toe, sak haar ken effens en gluur vir hom bo oor haar brilraam. Haar lippe pers saam.

 

Ek sê altyd dat sy soos ’n tuisgemaakte ‘Jaffle’ lyk as sy haar lippe so saampers van vererg. Maar as Ouma dit moet hoor, jaag sy vir my.

 

“Dominee, so vra die Pastoriemoeder van daardie tyd dat Bazil kan kies of hy pannekoek wil bak of konfyt wil kook vir die kerk Bazaar.

Hy kies toe nou die konfyt.

Mevrou dominee wou toe weet watse konfyt gaan hy maak en hy sê toe Appelkoos konfyt.

Hulle stem toe in daarop en die reëlings vir die Bazaar begin.

Mense kom saans bymekaar om alles te bespreek. Dominee gaan van huis tot huis om net deel te wees van die reëlings en die dorp is behoorlik aan die woel.

 

Die bazaar-dag breek toe uiteindelik aan.

 

Hulle hou Bazaar gewoonlik net hier buite die dorp in ’n ou gebou wat die heel eerste klaskamer in die distrik was.

 

Mooi gebou.

Dik mure, hout vloere, hoē plafon en opskuif vensters.

 

Die dames het dan begin tafels indra en al teen die mure gepak.  Dan het hulle begin uitpak. Van brood tot koek en tertjies.

Die boere het vleis gebring en in sakkies gepak. Skaaptjops, wors, vetdermpies en skaapboude, voorkwarte, agterkwarte, beesstert, afval, skaapstertjies. Dis ’n gedoente, Dominee.

Bazil het ook sy tafel gebring met die mooiste bottels met appelkooskonfyt in.

Strikkies en lappies om die bottels. Krale en linte met blinkers. Sy tafel was kleurvol en versier met alle kleure onder die son se linte, blinker, Diamantjies, Satyn en Organza.  Te mooi.”

 

Soos Ouma hierdie storie vir my vertel, raak ek skoon lus vir Bazaar hou, moenie eers praat van daai Skaapstertjies en tuisgebakte brood nie. Maar anyway, Ouma vertel toe verder.

 

 

“Buite langs die gebou het al die mans bymekaar gekom en ’n groot vuur  gemaak. Die jonger boere het die braairoosters met ’n oopgesnyde rou ui begin afvee en die teiken gaan opsit vir die skyfskiet.

 

Die ouer boere het oopbeen op stompe gesit en ietsie gevat so uit die fles.  Hulle het gesê dis koffie, maar hoe later dit word, hoe lekkerder het daardie koffie kop toe gegaan en dit sonder dat enige iemand ’n gal aanval gekry het. Dis net jagstories en wie die grootste vis gevang het.

 

Dis net sulke groot bakke vol vleis wat gebraai gaan word vir middagete.

 

Mens kon ’n lootjie koop vir die skyfskiet, R2 en dan het mens so paar skote gekry om te skiet na ’n bok wat op ’n stuk karton geverf is en op die bultjie staan gemaak is.”

 

Haai siestog, Ouma vertel dat Dominee teen hierdie tyd die ene ore is en sy kon sien dat hy hierdie storie geniet.  Ek het, met alles respek, mos vir Ouma gesê dat dit klink of hierdie Dominee ’n regte storie lorrie is.

 

Maar anyway…

 

“Soos dit toe moes wees, koop Bazil ’n skyfskiet kaartjie.

 

Hy gaan staan toe op die streep wat in die sand getrek is en ’n welgeskape mooi jong Boer staan so agter hom om nou te wys hoe hy  daai geweer moet vashou, aanlê en skiet.

 

Bazil, die ene konsentrasie, met die een oog toe en ’n mooi Boer agter hom.

 

Bazil tree so met die een been, net ’n voet terug en verskuif sy gewig na die agterbeen toe, sodat hy effens agteroor staan. Die hand wat die sneller moet trek se elmboog stoot hy effens terug, sodat dit net net teen die Boer se bors raak.  Ouma vertel toe dat Bazil vir haar gesê het, dat hy die Boer kon hoor asem haal, so naby aan hom het hy gestaan.”

 

 

Aai, my mens, hoekom Ouma nou so in die fynste besonderhede oor die ou Bazil moes ingaan voor Dominee, weet ek ook nie.

 

Ouma is goed op dreef met die storie, en niks kan haar nou stop nie.

 

Haal nou stadig asem, sê die Boer saggies, eers inasem, dan stadig uit en as jy uitasem, trek die sneller liggies, gee die Boer instruksies, het Bazil, dis nou volgens Ouma, vir haar vertel en beduie.

 

Ouma vertel my dat Oupa ook ’n straaltjie wil by-piepie en Oupa sê:

 

“Ja, ek het die Boer so bekyk, sy skiet-tegnieke is goed. ’n Man wat kan skiet.” was Oupa se woorde, dis nou volgens Ouma se storie.

 

Ouma sê dat sy en Dominee maar net so vir mekaar geloer het.

 

Ek vat maar moeilik aan dié dat Oupa intjirp. Ek ken hom, dis nie sy aard nie.

 

“Danie, nee man, hou terug.  Wat gaan Dominee dink?” het Ouma gesê en kruis haar bene oormekaar.

 

“Ag nee wat Tannie, vertel verder. Dis mos pure onskuldige pret. Ek verstaan mos heeltemal.”

 

Aai, weer wens ek tog ek was ’n vlieg in daardie sonkamer, net om die drietjies te bekyk.

 

 

Soos Bazil nou een oog toe daar staan met die mooi Boer agter hom, praat ’n ander Boer bietjie hard hier langs hulle oor hoe hulle die dag ’n Koedoe bul gekwes het en die bosse ingestorm het.

 

Bazil draai toe daar om, met die geweer nog so teen sy skouer en een oog toe. Jy sien net hoe klomp Boere met Velhoedens soos een man grond toe sak en die mooi Boer agter Bazil skreeu dat hierdie ’n gelaaide geweer is. Hy kan mos nie die ding sommer so swaai en draai nie.

 

Bazil laat sak toe maar die geweer en los die spul.  Kom ons sê maar, dit was die behoorlike afskop van die Bazaar, want al wat mens is, het die stomme Bazil gespot.

 

Nee man Bazil, sê die Boer geduldig. Kom probeer weer. Moenie opgee nie.

Bazil tel die geweer weer op, wydsbeen, gewig op agter been, lê terug tot teen die Boer en mik.

Dis reg, sê die Boer…..inasem,…..uitasem…..korrel…..en daar trek hy die snelller.

Mens sal nou nie weet of hy raak geskiet het nie, maar hy het geskiet.

 

Die Bazaar word toe ge-open met gebed deur die Dominee en tydens daardie gebed staan mense soos honger Wildehonde wat net wil gryp, want as dominee “AMEN” sê, gryp jy van ’n tafel af wat jy nou al vir ’n geruime tyd in die oog het, want as jy nie gryp nie, gryp iemand anders dit.  Binne tellings is die tafels leeg.

 

Bazil se konfyt is uitverkoop en almal is gaande oor die botteltjies en hoe mooi dit versier is en hoe pragtig die kleur van sy Appelkooskonfyt gekom het.

 

Mooi, donker en blink. Sommige mense het sommer die botteltjies oopgemaak en van die roosterbrode daarmee begin smeer.

 

Hy het soveel moeite gedoen; hy het kerswas bo op gedrup sodat dit nie sandsuiker nie.

 

Die manne het van daardie konfyt gevat en sommer so op die wors gesit.  Ook ’n nare gewoonte wat ek nie verstaan nie, vertel Ouma.

 

Teen laatmiddag is die Bazaar afgesluit met ’n opveiling van allerlei goeters. Van tuisgebakte brood tot ’n Skaap, ’n Bok en selfs Boerseep is verkoop.

 

Klomp geld is ingesamel en die Dominee lyk tevrede. En so kom die Bazaar ook tot ‘n einde, maar Bazil se STORIE bly voortleef.

 

Dis net wattepluisies in die ore en skietlessie voor en agter en al waaroor Bazil kan praat, is die jong Boer wat hom so mooi tydens die Skyfskiet gehelp het.

 

Dominee, sy konfyt het so gewild geword, dat die vrou by die tuisnywerheid begin aankoop het en die buurdorpe het ook bestel.

 

Ek weet van bestellings wat tot Alliwal Noord toe moes gaan.

 

Hy het so baie moeite gedoen en klein botteltjies konfyt gekook, net genoeg vir so twee snye boerbrood. Hy het dan ’n kaartjie opgesit, met ’n naam op wat dan na Restaurante toe gaan.  Tot die vakansie-oord buite Bethulie het bestel met die naam van die oord daarop.

 

Bazil het omtrent gewoeker en goed geld gemaak.

 

So vra Ella Verwey die dag tydens ’n Bybelstudie, hoe kook Bazil dan nou nog Appelkooskonfyt al is dit Winter.

 

Hier is nie ’n Appelkoos van ’n dag oud nie. Die bome is leeg en dit was ’n yskoue winter daardie jaar. Sneeu het geval.

 

So kry almal snuf in die neus en Ella besluit toe dat sy vrou alleen die storie gaan oopkrap en op die lappe gaan bring.

 

Sy vind toe uit wanneer die Tuisnywerheid weer ’n bestelling plaas en gaan  die vorige dag na Bazil se huis toe.  Sy parkeer haar kar ver en stap so koes-koes onder die bome deur om seker te maak niemand sien haar nie. Ek kan my indink; sy moes soos daardie vaal Voëltjies in die Karoo gelyk het wat altyd so koes-koes onder die bossies deur getrippel het. Ons het hulle sommer die Koes-Koes vinke genoem.

 

Deur die onderste kombuis venstertjie sien sy ’n ding wat haar warm onder die kraag het.

 

Bazil staan toe mooitjies daar en maak al wat winkel-applekooskonfyt-blik is, mooi oop, skep dit uit in ’n bak en druk dit fyn met ’n vurk. Hy skep eers vier eetlepels vol uit, gooi dit in die bak, draai die bak dan skuins en met die agterkant van ’n vurk kap-kap hy die konfyt totdat dit fyn is. Dan weer vier lepels vol en dan kap kap…..Net vier lepels op ’n slag sodat hy seker maak hy mis nie ’n deel nie.

 

Dan moet Hessie, wat in die huis werk, dit in die versierde botteltjies skep.  Bazil gooi dan in elke botteltjie ’n naeltjie en so klein bietjie fyn naeltjie poeier, net vir daardie ‘tuisgemaakte’ smaak en reuk, die botteltjie word dan met ’n klam lappie afgevee .

 

Ouma vertel my toe dat ou Ella soos ’n versrikte Haan die kombuis instorm toe haar oë hierdie skelmspul aanskou.

 

Hessie, die bediende, gaan staan voor die stoof en maak of sy die groot pot roer, maar daar is nie ’n druppel konfyt in die pot nie en nie ’n vlam op die gasstoof nie. Sy roer daardie pot asof sy in ’n roeiboot sit.

 

Dis net elmboog in die lug en ’n lyf wat wieg.  Bazil gooi ’n lap wat oor sy skouer hang, oor die bak met fyngekapte konfyt, sit die bak vinnig op ’n stoel en so met die kant van sy voet skop hy die stoel onder die tafel in.

 

My mens, as ou Hessie nie aangetroude familie van my was nie, sou ek wragtag nie hierdie storie van Ouma geglo het nie, maar Hessie het dit presies oorvertel soos Ouma dit vertel.  Ek wens tog so dat ek dit kon sien.

 

 

Die volgende dag weet almal van Bazil en sy Appelkooskonfyt.

Die mense in die dorp was woedend.

 

Die man wat die groothandelaar besit was woedend, soveel so dat sy vrou hom moes vashou, anders was daar ’n moord op hierdie dorp.

 

“Daai mannetjie het sowaar my konfyt gekoop, dit gewerk en toe koop ek my eie konfyt by hom terug teen twee keer die prys en al my kliënte koop eerder Bazil se konfyt.  Ek gaan moor!” het die man geskreeu.

 

 

Ouma vertel dat Dominee so gelag het dat hy blykbaar sy koppie koffie langs hom op die koffietafeltjie moes neersit. Tot Oupa het vreeslik gelag.

Ouma het toe opgestaan om ’n botteltjie konfyt in die kombuis gaan haal.

 

Ouma kom terug met die mooiste botteltjie Appelkooskonfyt in ’n botteltjie, versier met strikke, linte en blinkers. Op die botteljie is ’n kaartjie geplak wat sê, “SPESIAAL VIR TANNIE JOEY’.

 

Dominee se lagbui het nie bedaar nie, maar eerder vlam gevat, soveel so dat Ouma gedink het dat hy gaan verstik.

 

Hierso Dominee, vat maar die konfyt. Gaan proe dit, dis nogal nie so sleg nie, het Ouma laggend gesê.

 

Jawragtie, sê Oupa, so het slim ook sy baas gevang.

 

Ja, ek sal ook moet gaan, sê Dominee en staan op.

 

Kom, ek stap sommer saam met Dominee uit.

 

Hulle stap by die voordeur uit, nadat hy vir Oupa gegroet het.

 

Dan by die rooi-stoep uit, trappies af, sementpaadjie tot by die hekkie.

 

Dominee trek die gekrulde handvatsel van die hekkie en maak dit oop.  Die hekkie skreeu. Hy stap deur en druk die hekkie weer stadig toe. Die hekkie skreeu weer.  Hy kyk na die groot klip met die 63 daarop geverf  en pluk ’n pronk-ertjie.  Hy stap voor by die neus van die veertien-honderd bakkie verby, klim in sy ‘Beeteltjie’ en ruik aan die blommetjie….stroopsoet.

 

My mens, ek moet sê dat niemand hierdie storie soos Ouma kon oorvertel nie. Ek wou nogal daai dag vir Ouma sê dat mens ’n fliek van die storie kan maak.

FAY SE BEKERING

UIT MY BOEK: ‘DIE TUINHEKKIE’ BESKIKBAAR BY WWW.BREINSUIKER.CO.ZA

 

 

Fay se bekering

 

 

Dit was op ’n Maandag toe een van die Joons kindertjies, die een met die oopbekkie, by my huis aankom en sê Ouma het hom gestuur.

Sy wil weet of ek nie net haar hare wil kom ‘rinse’ nie.

 

Ek het dit maar gedoen vir ekstra geld, maar ek het vermoed daar is ’n storie of ’n ding wat op haar hart rus.

 

Ek het vinnig klaar gemaak en die ‘Jensen Violet’ gevat, want Ouma se ‘rinse’ was altyd op die laaste.

 

Die tuinhekkie het nog eers nie behoorlik die toegaan-skreeu gelos nie, of sy skreeu dat ek maar kan inkom, dis oop.

 

Sy het sommer so by die bad gebuk en ek het met ’n ennamel emmertjie begin spoel.

 

Toe ons amper klaar is, sê ek sy moet party keer so bietjie heuning aan haar hare sit, sodat dit nie so uitdroog nie en net daar sê ek ’n ding wat haar laat lag.

 

Sien, Ouma het so manier dat haar skouers eers begin wip dan kom die lag later uit.

 

“En as Ouma nou so aan die wip gaan?” vra ek ewe onskuldig terwyl ek haar hare spoel.

 

En so begin sy vir my die storie vertel van Fay wat so oorkant haar bly met die droeë en gekoekte hare.

 

Dit was weer een van Domine se kuiers wat nie ’n huisbesoek was nie, maar net ’n heen-en-weertjie.

 

Ouma vertel dat hulle nog so oor die tuinhekkie staan en kuier, toe Fay Botes by haar huis uitgestap kom, ’n paar blaartjies van ’n bossie of ’n ding afpluk en vinnig weer by die huis instap.

 

Fay Botes bly so skuins oorkant Ouma-hulle in die eenvoudige rooi daksteen huisie.

 

Ouma vertel dat dominee eers so stadig en versigtig beginne praat as hy iets op die hart het en dis hoe hy toe die ding begin vat van Fay toe hy sê:

 

“Tannie Joey, daardie dame wat hier so skuins oor die pad bly is darm ’n vreemde mens. Ek wil so graag daar gaan besoek aflê.  Ek voel dit so in my gees”. Ouma vertel vir my dat dit gevoel het asof al die bloed uit haar are loop, toe Dominee oor Fay beginne praat.

 

“Ja Dominee, ek verstaan dis soos daai wat hulle sê, die gees wil maar die vlees wil nie.”

 

“’n Mens kan mos nie so eensaam en alleen deur die lewe gaan soos daardie stomme vrou nie,” begin Dominee torring aan die ding en Ouma wil die ding wegpraat.

 

“Ag, Dominee, los maar.  Die vorige Dominee het ook prober, maar sy het hom gejaag.  Glo vreeslike goed toegesnou.  Los maar.”

 

“Tannie Joey, vandag staan ek as vriend voor Tannie. Hoe sal ek nou die hele ding benader as ek wil gaan huisbesoek doen?”

 

“Dominee, daardie vrou ken net elende. Kyk hoe trek sy aan.

Dis nie rokke of klere nie, dis lappe.  Sy draai die goed om haar middel, gooi ’n lap oor haar skouers, bind ’n lap om haar kop en dan nog kaalvoet ook nog. Winter en Somer.  Daardie hakke is al so gebars soos ’n ou houtvloer wat nooit olie of ‘pollish’ kry nie.” was Ouma se woorde.

 

Ek wou nog sê dat sy moet Vasiline en Grandpa meng en dit aan die hakskene sit, maar ek los vir Ouma dat sy die storie vertel, want ek weet hierdie is ’n lekker storie.

 

“Sy borsel nooit hare nie en as sy die dag dit moet doen, borsel sy net bo langs, maar onderlangs sit die koeke soos ’n Vinknes. Daar moet nog net ’n klein voëltjie by haar kop uitloer, dan is dit sowaar ’n Vinkes. En dan wil ek sommer in dieselfde asem sê, dat sy nie te skoon is nie, wel, ek sal nie daar tee drink nie, as ek dit dan nou so moet stel.

Maar die ding wat almal aan die praat het is die dat sy so vroeg, nog voor sonop, uit haar huis kom, al is dit spierwit gekapok, om met haar plante te praat.

En as jy nou in haar voortuin, so van naderby kyk, sal jy sien daar groei nie blomme nie, maar net groente, kruie, uintjies, bossies en al wat ding is waarmee sy toor. Dis ’n aardigheid, Dominee, dis ’n aardigheid.”

en Ouma en Dominee loer straat af na Fay se kant toe. So skelm loer soos wanneer ’n skoolkind afskryf.

 

“Niemand wil naby haar kom nie, te bang hulle word getoor. Dis net die diertjies en insekte wat oral in haar huis en tuin rondloop wat gelukkig lyk. Daar is sprake dat sy ekstra krag kry as dit Volmaan is en as ek die dinge so bekyk is dit reeds nou Volmaan.

Maar laat ek nie my ewemens so beswadder en beskinder nie.”

het Ouma gesê.

 

“Nee, Tannie, dis nie beskinder nie, ons moet haar help, sy moet in die kerk kom.” het Dominee gesê.

 

Mens sal nooit weet of Dominee nou regtig wou gaan bekeer het, of net uit nuuskierigheid uit nie.  Ek dink tog maar hy was meer nuuskierig.

 

Ouma kruis haar arms voor haar bors, vryf haar neus en trek haar oë op skrefies en beginne vertel.

 

Sy is hier in die Vrystaat gebore.  Hier net voor een Kersfees het sy net verdwyn.

Geen mens het geweet waar sy haar bevind nie. Net ek het agter gekom dat sy nooit meer uit die huis kom nie. Toe gaan kyk ek en dis toe dat almal begin soek het.

Die dorp het ’n soekgeselskap bymekaar geroep en so soek hulle.

Al wat man, hond en perd is, is ingespan en die veld in, maar Fay is weg.

 

Vir wat? het ek my daai dag vererg, vertel Ouma, en dit lyk so asof sy haarself van voor af wil vererg.

 

Niemand traak oor haar nie, maar nou dat sy weg is wil julle soek, het Ouma gesê.

 

Op ’n dag kry ek ’n brief in die pos en dis van Fay af.  Sommer so in ’n vuil koevert op ’n vuil stuk oefening boek se bladsy.

 

Sy skryf toe dat sy daar iewers in die Moordenaars Karoo is en dat die grootste ellende die wêreld gaan tref.  Sy skryf toe verder dat ons onsself moet regmaak, want die einde is in sig, sy sien dit.  Sy het die in die blare gelees, teeblare…Maar dis ’n storie vir ’n ander dag, Dominee.

 

Toe Ouma van die teeblare sê, was my nuuskierigheid hoog.

 

“Tannie, maar hoekom het Fay dan vir Tannie geskryf?  Is julle goeie vriende?” wou Dominee weet.

 

“Nee Dominee, nie goeie vriende nie, maar sy is my Niggie van Ma se kant af.” vertel Ouma.

 

Mens, ek was so geskok toe ek verneem dat Fay en Ouma familie is. Jy weet, daar waar ek bly praat die mense baie oor Fay. Ek weet van sommige mense wat al daar was vir die blare-lees, maar ek sukkel nie met bose goed nie.

 

 

Fay het intussen weer die huis ingehol soos ’n wilde bok, gaan Ouma aan met die storie.

 

En ek is nuuskierig.

 

 

En daar staan Ouma en ’n geskokte Dominee, voor Ouma se tuinhekkie, stom, met geen woorde te spreek en Fay Botes wat hulle beloer deur haar sitkamervenster.

 

Dominee is toe daar weg sonder om by Fay aan te gaan.

 

Die volgende dag sien Ouma, waar sy in die voorhuis besig is en ’n mooi uitsig op die straat het, dat Dominee by Fay Botes se erf instap.

 

Kiertsregop, hoed op die kop, gewapen met ’n dik Bybel onder die blad en klein vinnige treetjies.

 

Ja, Dis van pure senuwees, dink Ouma en trek die ‘Sun filters’ so effens weg voor die venster.

 

Ouma stut met haar heup teen die vertoonkas, vol gepak van ornamentjies vanuit die Wildtuin tydens Winter vakansies.

 

Haar regterarm voor haar bors gevou en die linkerarm rus dan op haar regterarm sodat sy haar mond kan vashou met die linkerhand.  Pure konsentrasie.

 

So stap Dominee met die sementpaadjie op, tot by die eerste trappies van die stoep, kyk om, stap effens terug, lig sy hoed op en skuif dit so effens terug.

 

Dan stap hy weer agteruit, net so twee tree, kyk links, dan regs en dan weer tot by die trappie.

 

Hy haal die Bybel onder sy blad uit en hou dit voor sy bors vas.

 

Hy stap met die drie trappies op tot by die deur, lig sy hand en net voordat hy kon klop, draai hy om en stap weg.

 

Siestog, die stomme Dominee moes seker vol van die bang gewees het, dink ek.

 

Die volgende dag weer selfde ding, totdat hy besluit het om die saak met Ouma te bespreek, aangesien dit haar niggie is.

 

Dis ’n week later toe Ouma haar tuinhekkie se gebek hoor en nogal die tyd van die oggend wanneer dit storie tyd op die Transistor radiotjie is.

 

“Wie is so ontydig? Dis storie-tyd en dan die resep.” praat Ouma met haarself.

 

Sy het daai gewoonte gehad om so met haarself geselskap te maak.

 

Ons almal weet dat as dit storie-tyd, resepte en oggend oordenking is, mens nie vir Ouma moet pla nie.

 

Ouma loer deur die venster en sien dat dit Dominee is, nogal in sy leerraarsgewaad.

 

Hy stap met kort vinnige treetjies met die sementpaadjie op, verby die ‘Pride of India’  boom en die Rankroos.  Klim die vier trappies na die rooistoep vinnig op, amper soos ’n kalkoen wat wil storm.

 

Hy klop aan die deur, soos waneer jy room styf wil klop vir oor poeding gooi. Vinnige, kort kloppies.

 

Ouma beduie nogal so met haar hand hoe Dominee geklop het.

 

Ouma maak die deur oop en sy sien sommer die kwellinge op sy gesig.

 

Dalk as sy vriendelik en lig groet, gaan die kwellinge bietjie sak.

 

“Maar my wêreld, wat ’n verrassing, Dominee, dis nog ver van kollekteer-dag af, maar kom in.”

 

“Nee Tannie, ek kom nie kollekteer nie en ek kom ook nie met die

Woord na Tannie toe nie, maar met ’n ander ding wat baie swaar op my rus.

Ek het nou al vir weke in gebed gevra dat die Groter Hand my moet krag gee, dat die Heiligheid waarheid kom spreek en dat die ewige Satan se Adder moet wyk, maar niks nie.” begin Dominee.

 

Of Dominee daai groot woorde gesê het en of Ouma dit uitgedink het weet ek nie, maar dis Hoog woorde uit Die Woord uit.

 

“Maar my wêreld Dominee, hoe praat dominee dan so anders vandag. Ek ken mos nie vir Dominee as iemand wat so hoog praat nie. Hoe nou?”

 

“Nee Tannie, dis Tannie se Niggie, Fay.

Ek probeer tog om by haar uit te kom, om haar tot bekering te bring, haar in die Kerk te kry, om Die Woord te hoor, maar dis asof daar ’n groot hand my wegdruk en ek onthou toe Tannie se woorde van die toordery.

Ek het laas week probeer, die week probeer en vandag wil ek weer probeer, maar toe meen ek as ek eers met Tannie kom gesels, kan ons die ding dalk saam aanpak.  Dis tog familie van Tannie.”

 

 

“Dominee, dit gaan nie baat om na haar toe te gaan nie.  Ons almal het al probeer om haar in die kerk te kry, maar sy skop vas. Dit is nou al vir jare dat sy so wil van haar eie het.

Ouderlinge, wat nou al lang bome toe is, het al probeer, Diakens wat nou al Ouderlinge is, Dominees wat gekom en gegaan het, hulle het almal al probeer en al wat sy sê :

“Wyk Farriseer en los my uit.” dan slaan sy die deur toe. Die ou Apostoliese Profeet het selfs traktaatjies by die hope in haar posbus gaan sit. Sy het dit dan in die middel van die nag gevat en weer onder die Kerkdeur gaan instoot, sonder skaamte.”

 

 

“Maar Tannie kan mos maar gaan probeer, net om die ys te breek, dan kan ek inkom en dit verder vat.  Kry haar maar net eers sag.”

 

Ouma vertel my dat Dominee so knaend was met die storie, dat sy toe maar ingegee het.

 

 

Oume se oë trek op klein skrefies en sy vou haar hande voor haar bors, dan druk sy haar bril met middel vinger op en sy dink.

 

“En nou Tannie?  Kan ek vir Tannie water kry?” vra Dominee, want dit lyk so asof Ouma in ’n tipe van ’n trans in gaan.

 

Ouma het daardie manier van ’n ver kyk in die oog, so asof sy verder dink as wat dink is.

 

“Nee Dominee, kom sit dan maak ek tee. Sommer hier in die kombuis, as Dominee nie omgee nie.” en Ouma sit die ketel aan.

 

Genade, nou dat ek daaraan dink.

Ouma het my nog nooit ingenooi vir ’n koppie tee by haar tafel nie.  Maar ek verstaan dit tog maar op my manier. Anyway…

 

 

Terwyl die ketel kook begin Dominee aan Ouma verduidelik wat sy plan is.

“Tannie sien, as ons nou saam na haar toe gaan, kan Tannie mos die gesprek begin.

Tannie kan verneem na die familie en hoe dit met die tuin gaan.  As dit moet, kan Tannie selfs sê dat Tannie graag Tannie se blare gelees wil he.  Ek weet dis ’n bose ding om te doen, maar soms moet ’n mens maar alle weë kies om iemand te red.”

 

“Dominee, ek weet darm nie so lekker van die blare lees nie.” sê Ouma en gooi die kookwater in die silwer teepot met die swart handvatseltjie.

 

“Het Ouma toe Ouma se blare laat lees?” vra ek vinnig voordat sy verder kon vertel.

“Nee wag jy nou, moenie vooruit loop nie.” het Ouma my vinnig stil gemaak.

 

Die teepot is al ingeduik en getjip op plekke.

 

“Kom ek skink Dominee se tee.”

Ouma gooi sommer twee lepels suiker in, melk en roer dit ook sommer. In die piering twee Peanutbutter koekies, sommer net so.

 

Hy hou die piering met die koppie so in die palm van sy hand vas, met ’n slap buig in sy pols, om dit te ballanseer.

 

“Dominee, kom ons pak maar die bul by die horings. Ek sal saamgaan, maar as sy ons jaag, draai ek om en loop weg. Ek gaan my nie deur ’n baie verlangse Niggie laat beledig nie.” het Ouma gesê.

 

“Sit net hier, ek kom nou.” en Ouma stap haastig-heupe die kombuis uit en los die verwarde Dominee net daar.

 

Dominee sluit sy oë, so asof in gebed en drink sy tee.

 

Ouma kom terug, hare netjies agtertoe gekam, ruik soos die blommetjies en haar plat-hak skoene aan.

 

“Kom Dominee.”

 

My mens, ek kan al in my geestesoog sien hoe Ouma vir Dominee aanpraat.

 

En daar stap Dominee en Ouma by die deur uit, rooi trappies af, sementpaadjie, verby die ‘Pride of India’ en Rankroos, by die hekkie uit en straat af na Fay toe.

 

Ouma stap voor, nogsteeds haastig, maar toe sy by Fay se sementpaatjie kom, bedaar sy bietjie en stap stadiger.

 

Dominee net so paar duim agter haar.

 

“Die Gees sal met ons wees.” het Dominee saggies gesê.

 

“Stadig nou Dominee.  Los nou maar die Gees en die Woord en die Kerk en bly net stil. Ek sal die praatwerk doen.” praat Ouma vir Dominee aan.

 

Ouma lig haar hand en Dominee kan sien haar kneukels is spierwit van hoe haar vel styf om haar hand span van pure senuwees.

 

Soos ek gesê het, as ek gespot word, loop ek, het Ouma my vertel.

 

“Dis reg Tannie, klop nou maar.”

 

Ouma klop eers sag en stadig. Drie kloppe.

 

Niks nie.

 

Dominee wil iets sê maar Ouma maak hom stil.

 

“Sjuut, Dominee, wees stil.” sê Ouma.

 

Klop klop klop, bietjie harder die keer.

 

Nogsteeds niks nie.

 

“Wat het ek jou gesê, geen maniere.

Sy weet tog te goed dat ons hier is en maak nie oop nie..

Ek gaan my nie so bespotlik maak nie.

Ek kan nie heeldag aan ’n deur staan en klop met die hoop iets gaan gebeur nie.”

Ek ken vir Ouma as sy die dag, soos sy dit noem, Duiwel vat.  Dit kan ’n lelike ding word.

 

“Klop nog net een keer Tannie, ons is mos nou hier.” praat Dominee haar moed in.  Hy hoop tog net nie dat Ouma nou sal omdraai en wegloop nie.

 

Klop, Klop, saggies en net twee keer.

 

Nogsteeds niks nie.

 

Dit voel asof die ongeduld in Ouma opbou en enige oomblik gaan bars soos ’n oorryp granaat wat sy rooi pitte die wêreld vol gaan uitspoeg.

 

“Ag nee my magtag man, jammer vir daai woord Dominee, maar ek kan nie hier soos ’n stout kind staan wat Prinsipaal moet gaan sien nie.” en Ouma klop daai deur so hard dat Dominee sy ore wil toedruk, omdraai en weghol.  Dit smaak my of sy die deur uit sy kosyn gaan klop.

 

“Fay, maak oop die deur, ek kan nie hier staan soos ’n skaap wat wag om geslag te word nie. Ek en Dominee wil jou kom aanpraat.  Maak oop.” skreeu Ouma met haar mond so naby aan die sleutelgat.

 

En daar gaan die deur stadig oop.

 

Fay staan in die deurkosyn. Baie lappe aan, gekoekte kop, bleek soos sneeu.

 

“Hallo Fay.” het Dominee heel skaflik gegroet. Die arme Dominee het seker teen hierdie tyd soos ’n riet gebewe.

 

“Hallo Dominee.” het Fay met ’n sagte stem gegroet. Ouma vertel my dat sy so verbaas was dat Fay nog ‘ge-Dominee’ het.

 

“More Fay, dis Dominee Jonkers.” het Ouma gegroet.

 

“More Suster.” groet Dominee met sy kerk-praat-manier vir die tweede keer.

 

“Kom in, ek is agter in die tuin.” het Fay nogsteeds baie saggies gesê.

 

Ouma vertel my dit het gelyk asof die stomme vrou in ’n dwaal of ’n ding is.

 

Ouma stoot vir Dominee sommer so aan die skouer vorentoe.

 

 

My mens, ek sou graag ’n vlieg teen daai muur wou wees.

 

 

“Ag Vader, hou tog U hand oor ons,” bid Dominee saggies.

 

“Ag stadig nou Dominee, dis nie so erg nie.” en Ouma swaai haar hand woes na Dominee se kant toe.

 

As jy my vra, het Ouma die stukkie van die storie sommer bygelas om die storie so kleine bietjie in te kleur.

 

 

 

Ouma vertel my toe, soos sy nou deur Fay se huis stap, trek sy strepe so dik soos voetpaaie oor die meubels, so is die stof opgegaar. Dit lyk soos ’n hele woestyn wat op haar meubels kom lê het.

 

Ek dink Ouma dik dit ook maar bietjie aan, maar ek sê niks.

 

 

Tjoepstil stap die drie deur Fay se huis, by die agterdeur uit.

 

En daar in die agtertuin, is die mooiste draad-stoeltjies, so onder ’n Wilgerboom, wat sy slap takke al om die stoeltjies laat hang.

 

Die son loer deur die takke.  In ’n bedding langs ’n opvou tafeltjie, is Pitunias geplant, aan die ander kant, die mooiste Renongkels en dan fyn veldblomme; Fynbos, Namakwalandaisies, Pietsnotte, Kamroo en al wat blomsoort is.

 

Dominee sak sy kop effens en loer met opgetrekte wenkbroue na Ouma.

 

Ouma wys toe vir my hoe sy maar net haar skouers opgetrek het.  Ek wou uitbars van die lag van lekkerkry, maar hou dit terug.

 

“Suster, die blomme is besonders.” het Dominee toe maar saggies gesê.

 

Ouma vertel my dat sy haar eers vir Dominee wou erg, omdat hy hier sit en komplimente maak, in plaas van die vrou bekeer. Dalk was Ouma so klein bietjie jaloers omdat Dominee Fay se tuin komplimenteer.  Mens sal nie weet nie.

 

Anyway…

 

“Fay, dit lyk soos ’n paradys hier agter.”  het Ouma ook toe maar bygelas.

 

“Kom sit hier.” sê Fay en beduie na die draad-stoeltjies.

 

Ouma sê vir my dat sy net gewag het dat ’n klein voëltjie sy koppie by daai nes van gekoekte hare uitsteek.

 

Ouma en Dominee gaan sit, so op die punte van hulle stoelle. So asof hulle gereed is vir opspring en weghol.

 

“Dis die tuin van Eden. Dis die plek van vrede. Dis waar die mens se siel stil word.” begin Fay praat asof sy in ’n preek is of dalk bid.

 

Ouma en Dominee kyk na mekaar. Dominee hou sy hoed op sy skoot vas en Ouma vou haar hande op haar skoot, kompleet soos mens in die kerk sal sit.

 

En daar begin Fay teksversies opsê, so uit haar kop uit. Sy ken selfs dele uit die Heidelbergse Katagismes.  Sy sing die Psalmdigters se Psalms met ’n suiwer stem.  Sy bid asof die gebed vir haar geskryf is deur ’n digter uit die Bybel.  Ouma vertel my dat dit vir haar eerlikwaar, baie mooi was.  So sonder aansitterigheid, bid Fay daar in die tuin.

 

Ouma vertel my dat Dominee sy kop laat sak, in eerbied, totdat sy ken sommer so op sy bors loop lê het.

 

Ouma sluit haar oë.

 

“Sien, ons almal het maar ons eie kerk iewers.  Julle kerk is die ou klipgebou, myne is die tuin waar die voëls na my luister, die oggendson my groet, die rooidag my troos en die blomme my vreugde bring. Dis hier waar ek rus kry.” vertel Ouma toe vir my woord vir woord wat Fay gesê het.

 

 

As dit iemand anders was en nie Ouma wat hierdie storie vertel het nie, sou ek reguit gesê het dat dit ’n lieg is.

 

Ouma vertel dat dit tjoepstil was om hulle. ’n Heilige stilte. Net die klank van die voëls. Siestog, ek kan sommer in my gees hoor hoe die groen vlerk duif sing…”My ma is dood, my pa is dood, my kinders is dood, almal is dood…dood…dood, en dan die grysduif wat hom antwoord gee, ‘God Sorre, God sorre”.

 

 

“Ja,” het Ouma gesug, “daar is goeie dinge en dan is daar minder goeie dinge, soos daardie dag met Bazil en die Bazaar.” het Ouma gesê toe ek die laaste emmertjie water oor haar gebukte kop gooi om die ergste Violet uit te kry.

 

 

Nadat ek Ouma se hare goed uit ‘gerinse’ het, en sy dit saggies met ’n handdoek droogdruk, breek die groot dink in my los.

Ek stap aspris by Fay se huisie verby net om te kyk of ek nie dalk iets sien nie, maar dis doodstil.

 

 

 

 

 

DIE DOMINEE

UIT MY BOEK ‘DIE TUINHEKKIE’ BESKIKBAAR BY WWW.BREINSUIER.CO.ZA

 

 

Die Dominee

 

 

 

My mens, dit was so paar jaar gelede. Ek kan nie presies onthou nie, maar dit moes dalk drie of vier jaar terug gewees het.

 

Ek onthou…dit was daardie Woensdag toe al die vrouens in die dorp hare wou kom doen het. Tot die wat nie eens genoeg hare gehad het om te doen nie, het sommer net gekom vir ’n shampoo en rinse.

 

Want sien, ek kom toe te hore dat die dorp ’n nuwe Dominee gaan kry. Dis mos ’n groot gedoente as ’n dorp ’n nuwe Dominee kry.  Ek kon nie wag om daardie middag na uitval-tyd, by Ouma uit te kom om te hoor van die Dominee storie nie.  Oupa is mos dik in die gemeente en hulle behoort te weet wat aangaan.

 

 

Jong, en Ouma vertel…

daar gebeur dit toe dat die Dominee uittree en die dorp sit sonder ’n leeraar. Oupa wat sy ouderling plig moes nakom en Ouma wat hom bystaan. Siestog.

 

Jorsie Verwey, wat toe die Hoofouderling was, neem die diens waar.  Sy vrou, Ella Verwey, sit in die voorste ry, soos gewoonlik.

 

Nou kyk, ek het nie baie vattigheid aan ou Ella Verwey nie, want sy doen haar hare by die buurdorp, oor ons hairdressertjie eenkeer te lank die ‘perming-lotion’ aangehou en haar kopvel gebrand het.  Die Ella was maar ’n snaakse vrou.

 

Ouma vertel toe dat hulle daai Sondag in die kerk sit en sy wat Ouma is, druk haarself so effens regop en rek haar nek om vir Ella mooi in die oog te kry.

 

Mens, ek kan al sien hoe sit Ouma soos ’n nuuskierige Karoo-volstruis in die plek van aanbidding.

 

Ouma draai haar kop klein bietjie links, trek haar skouers af, want dit help om haar so bietjie langer te laat voel.

 

Ella het ’n duur rok aan, sykouse (in die middel van die somer), hoë hak skoene, wat haar soos ’n pasgebore kalf laat loop en handsakkie oorgetrek met dieselfde lap as die skoene. ’n Mens kon sien dat sy daardie Saterdag by die haarkapster was, wat natuurlik in die buurdorp is (ek het mos gesê), want haar hare is styf gespuit en agtertoe geborsels met ’n effense kuifie wat netjies tot by haar wenkbroue kom.  Daai kuif is daar net om ’n paar frons-plooie weg te steek. Sy het ’n groot hoed op, met ’n mooi lint, al om die bol gedeelte geplak. Hoekom jy ’n hoed opsit as jy jou hare laat doen, sal net Ella alleen weet.

 

 

Ella se bene was netjies oormekaar gekruis, met ’n voet wat liggies op en af beweeg en dan weer in sirkels en dan heen en weer, het Ouma vertel.

Ek kon sweer as Ouma daai dag toe sy die storie by die hekkie vir my vertel het, ’n stoel gehad het om op te sit, sy plotselings sou gaan sit en aan die beduie gegaan het.

 

Ouma kan haar so inleef.

 

Kan die vrou nie net stilsit nie? het Ouma my vertel en ek kon sien dat sy haarself sommer van voor af erg, maar ek los haar.

 

Wyk Satan, het Ouma geprewel, met lippe wat beweeg, maar met geen klank, kyk sy toe maar liewer preekstoel se kant toe.

 

En dis toe Jorsie Verwey die aankondiging maak dat die dorp ’n nuwe Dominee gaan kry, dat daar ’n roering in die gemeente is. Sommige van die vrouens oe….en…ah…. hoorbaar.

 

Ella kruis haar bene ander kant toe oor en ‘n afrdraende glimlaggie kom sit op haar gesig.

Noudat Ouma van ou Ella se afdraande glimlag praat, moet ek sê dat dit die waarheid is. Daai vrou het nogals afdraand gesmile.

 

“Suster Ella Verwey bied aan om die verrigtinge te help beplan, in samewerking met die Kerkraad, om ’n verwelkomingskomitte bymekaar te sit, sodat ons die nuwe Dominee kan verwelkom in ons dorp en gemeente.” maak Jorsie die aankondiging en hy en Ella kyk vir mekaar…en glimlag.

Mens, toe Ouma, Ella se afdraand glimlag namaak, het ek my klaar gelag.

 

“Suster Ella het voorgestel dat elke Suster in die gemeente iets moet maak om te eet of drink, of altwee. Ons kan dan komende Vrydag almal net buite die dorp bymekaar kom en in een stoet ry. Net so vier kilometer buite die dorp waar daardie lang bult is met die ry Poppelierbome aan die linkerkant, daar sal ons dan vir Dominee inwag.

Dit sal ’n goeie idee wees as al die Susters in die week ’n vergadering hou en dit dan onder mekaar bespreek.” kondig Jorsie verder aan.

 

Weet jy, dié Jorsie kon darm maar aansitterig praat. Veral as dit by die Kerksake kom. Maar anyway, Ouma vertel toe verder.

 

Ouma, wat kruisbene gesit het, laat sak haar regterbeen en met altwee hakke trap sy in die kerkgebou se vloer vas. Met haar linkerhand vat sy die bank se handvatsels vas en trek haar effens vorentoe sodat sy haar regterboud mooi kan lig en bietjie vorentoe kan neersit.

Haar lippe saamgepers soos ’n ‘Jaffel’.

As sy nie in die Kerk was nie, het sy sowaar haar hande in haar sye gedruk.

Sy kruis haar regterbeen weer oor die linker een en sit.

 

Toe Ouma hierdie storie vir my vertel, het sy die hekkie se kante vas gegryp, asof dit die kerkbank homself is, net om te demonstreer.  Ek het my klaar gelag.

 

 

Anyway,

 

Oupa kyk om en sien die ongeduld en irritasie in Ouma.

 

Ek glo nie hierdie deel so mooi nie, want ek weet Oupa is nie die soort wat in die kerk sal omkyk nie, maar ek vat maar Ouma se woord vir die storie.

 

“Die nuwe dominee sal van Paul Roux af kom.” het Jorsie verder gesê.

 

Jorsie se woorde is nog skaars koud met die laaste gedeelte van die Heidelbergse Katagismes, daar waar dit van die Wederopstanding en Ewige oordeel staan, Amen, toe Ouma opstaan en uitstap. Sy beplan dit haarfyn, sodat wanneer Jorsie AMEN sê, sy haar handsak kan vat en loop.

 

“Dis nie in my aard om by ’n kerkdiens uit te loop nie, ek weet van beter.” het Ouma gesê..

 

Ouma gaan sit in die veertien honderd en wag vir Oupa totdat die diens verby is.

Wat na ’n ewigheid voel, kom Oupa aangestap met groot stadige tree, klim in die veertien honderd en ry.

 

 

Ouma vertel toe dat hulle in doodse stilte tot by die huis gery het.

 

“Ek het nie tyd vir hierdie konsert nie.” sê Ouma en klim uit toe Oupa voor die huis stil hou.

 

Sy gryp woes na die gekrulde handvatsel van die hekkie, druk hom oop en daar skreeu die hek soos die Varkie wat geslag word. Oupa kom agterna en druk die hekkie toe.

 

“Dis uitspattig my man.” gaan Ouma toe nou voort, voordat sy die rooi trappies opklim tot op die rooi stoep.

 

“Vrou, ek is allermins ’n Ouderling, hoe gaan dit dit lyk as ons skeef trek?”

 

“Het jy die huis se sleutel?”

 

Toe wikkel Ouma daardie sleutel met mening in die gaatjie en wikkel links en regs met die sleutel. Eers trek sy die gaasdeur oop en dan so met die heup stoot sy aan die houtdeur.

 

 

Die res van die Sondag verloop lekker rustig, maar so met sononder, toe Ouma by die hekkie gaan staan om die wêreld weer te bekyk, sê sy:

 

“Nou goed Daanjtie, ek sal dit doen, maar ek doen dit nie vir ’n Dominee, Jorsie of Ella nie, ek doen dit vir jou, omdat jy Ouderling is. Klaar.”

 

Volgens Ouma het Oupa sy kop tevrede geknik, maar ek weet darm nie so mooi nie.

 

“Dankie vrou…” is glo al wat Oupa gesê het, maar ek is seker daar het nog baie ander woorde in sy kop gesit.

 

Ella het daardie Maandag oggend reeds al vir almal laat weet dat hulle die Volgende dag bymekaar kan kom en alles bespreek.  Op haar versoek het sy ook sommer gesê sy dink dit is beter dat almal by die Kerk ontmoet en nie, soos afgespreek, buite die dorp nie.

 

Soos Ouma nou vertel, was hierdie Ella se presiese woorde,…

 

“Ek as Hoofouderlingsvrou, het dit tog maar goed gedink, dat ons as geheel en Gemeente tog maar hier by die kerk ontmoet en dan dorp uitry in ’n stoet, om die Dominee te gaan verwelkom.  Dit sal tog so mooi stemmig wees, en lyk.”

Toe Ouma hierdie stukkie van ou Ella vertel, trek sy haar mond so op ’n plooi, lyk amper vir my soos ’n speldekussing.

 

Die Susters van die dorp het glo vreeslik begin bak, vertel Ouma.

 

Daardie Donderdag, so in die laatoggend, skreeu die hekkie en toe Ouma by die venster uitkyk, is dit die vrou van die Tuisnywerheid.

 

Die vrou het nog nie eens drie kloppe aan die deur gegee, of Ouma was al daar om oop te maak.

 

“As jy dan nou hier rondloop, wie kyk na die Winkel?” het Ouma opreg gevra. Ek dink tog dat Ouma en die Tuisnywerheid vrou oor die weg gekom het.

 

Die Tuisnywerheid vrou was blykbaar baie ontsteld oor haar rakke wat leeg is, oor al die dames wat vir haar bak, nou vir die nuwe Dominee se aankoms bak.

 

Nou dat ek so dink, dit moes ’n verskriklike ding gewees het, want ek weet die skool en die vroue sendingbond bestel elke tweede dag iets by die tuisnywerheid.

 

 

Die groot dag breek aan.

 

Die gemeente, soos afgespreek, kom eers by die Klipkerk bymekaar.

 

Dis net mense en karre.  Ouma is nogsteeds goed omgekrap, omdat Ella besluit het dat almal nou by die kerk moet bymekaar kom en nie buite die dorp nie.

 

Jorsie Verwey lei die stoet met sy Fastback, die dorp uit.  Oupa en Ouma net agter hom met die veertien honderd.

 

Ouma maak of sy nie die grêndgeit in die Verweys sien met hulle mooi kar nie. Ouma is in elk geval nie iemand wat haar aan karre en goeters steur  nie.

 

Ouma vertel vir my dat sy so opgewerk was, dat sy sommer gevoel het om in die ry uit die bakkie te klim en terug te stap huistoe.

 

Vir wat moet hier so ophef wees?

 

“Aai my ou Vrou, los nou maar die buierigheid net vir vandag.” het Oupa gesoebat.

 

“Ek is nie lus vir hierdie sirkus nie en ook nie vir ’n Dominee nie. En nog minder vir ’n Dominee wat ‘ja Suster, nee Suster, goedso Suster.” Hierdie gedoente maak my nou eers warm onder die kraag.

 

My mens, ek kan myself net indink hoe Oupa se senuwees hom geknaag het oor Ouma en haar ewige ongeduld.

 

“Wil Ella Verwey nie maar Palmtakke ook bring en dit in die pad gooi soos met Jesus daardie tyd nie?” het Ouma aangehou.

 

Ek ken vir Ouma, as sy eers op dreef is met ’n ding, los sy nie sommer nie.

 

Toe Ouma hierdie woorde vir my sê, is dit asof ek in haar gesig kon uitbars van die lag.

 

Ek ken ook nou al vir Ouma as sy warm onder die kraag raak, dan praat sy al vinniger, so asof sy afdraande praat en dan bewe haar wange so asof hulle ’n lewe van hul eie het.

 

 

 

“Stadig nou vrou. Jy raak nou Godslasterlik.” sê Oupa kalm.

 

“Hierdie hele konsert is Godslasterlik, maar ek gaan nou maar swyg.” sê Ouma en hulle ry in stilte tot so vier kilometer buite die dorp op die bultjie, met Soutkop aan jou regterkant en die Poppelierbome links.

 

Heel voor in die stoet bring Jorsie sy Fastback tot stilstand, gevolg deur Oupa en Ouma en dan die res van die gemeente.

 

Ella Verwey is die eerste wat uitklim en die kattebak oopvlek soos ’n honger dier wat na ’n prooi gryp.

 

Sy haal ’n deftige tafeltjie uit, spesiaal gaan koop vir die Dominee, en sy begin mandjies, bakke, flesse en bokse uitpak.

 

Dis eers die Jode tert wat in ’n geblomde bak is. Toe die klomp vleispastytjies wat in ’n plat blik is met hartseer-katjies daarop.

 

Nog ’n blik klim by die ‘dier se bek’ uit en dis ’n drie-laag-koek beplak met ‘icing sugar’ en bont van die ‘hundreds-and-thousands’ in ’n koekblik met ’n prentjie van ’n Hondtjie en ’n Hasie in ’n mandjie.

 

Daar is geblomde servette, gekleurde vlesse met koffie, warm water en melk.  Regte koppies met pierinkies vir die koffie.

Dan is daar nog ’n Souttert in ’n Pirex bak, wat seker yskoud is teen die tyd wat hierdie Dominee sy verskyning gaan maak.

 

Toe Ouma vir my van al hierdie eetgoed vertel, kom sit daar sommer so honger gevoel op die holte van my maag.

 

Ou Ella het gesien hoe Ouma haar aangaap oor die eetgoed-vir-Afrika, toe sê sy so in die uitpak:

 

“Joey, ek weet Dominee sal nie alles kan opeet nie, maar ek het dit alles ingepak, net om my tafel voller te laat lyk en dan vir na die tyd vir die Pastorie. Dominee kan nie so in ’n leë Pastorie instap nie, jy weet?”

 

Weer het Ouma haar mond soos ’n speldekussing getrek. Ek wou nog lag, maar lag toe maar binnekant toe.

 

Ella het ’n eenstuk rok aan. Sagpienk, met ’n spierwit belt.  Moue wat tot oor haar elmboë kom en versier met ’n wit kantlappie.

Dan het die eenstuk rok nog ’n kraag wat hoog in haar nek sit, met spierwit knopies tot by haar kuiltjie. Sowaar het sy nog ’n Cameo op haar bors vasgespelt en ’n hoed ook nog op.

 

Die rok kom tot net onder die knieg, betaamlik. Sykouse met spierwit hoëhaksoene aan.

 

“Jy weet Danie, Ella het haarself so uitgesmeer met die duurste rok en skoene.  Ek vra nog altyd waar daai geld vandaan kom. Dit laat my nou sommer so dink aan daardie een dag toe ek kerkkantoor toe gegaan het om ’n nuwe kalender te kry. Ella was besig om die kollekte geld te tel en netjies in banksakkies te sit. Toe sy my gewaar, het sy daardie kyk in die oë gehad net soos wanneer ’n klein hondjie in die gang gepiepie het en skuldig voel daaroor. Jy weet dààrdie soort kyk,” en Ouma probeer ’n skuldig-lyk gesig opsit.

 

Jy kon my met ’n Snoek omklap toe Ouma dit vertel.  Ek glo darm nie ou Ella sal so ver gaan nie, maar ek het geleer om nie met Ouma te stry nie.

 

“Dis belaglik,” dink Ouma en Oupa gaan staan met sy voet teen die veertien-honderd se wiel en steek sy pyp op.

 

Sykouse in die warm son. En daardie rok wat toe is tot by die kuiltjie, nee, dis darm uitspattig. Praat nie eens van die hoëhakskoene nie.

 

Ouma haal die karravaan-opvou-tafeltjie wat hulle altyd gebruik as hulle Kroonstad toe gaan om by die rivier te gaan kamp, van die bak af.

 

Sommer ’n plastiek tafeldoekie wat sy iewers gekry het en ’n paar koekies in ’n tupperbak.  Aanmaak koeldrank in ’n leë Oros bottel.

 

Sy het darm hierdie koekies self gebak. Peanut butter koekies, want haar kleinkinders is so lief vir dit.  Hierdie is maar net oorskiet van die baksel.

 

 

Ouma het ’n plein sonrokkie aan met pastel-blommotief en die soom hang tot net onder die knieg, Skaflik.

 

Ek ken daardie rokkie.  Sy dra dit altyd as sy die dag dorp toe gaan.

 

Oop-toon-plathak-sandale wat sy by Foschini se uitverkoping gekry het met ’n ligte leerbandjie wat om die enkel vasmaak.  Niks uitspattigs nie.

 

Ouma se bewegings is stadig. Sy stap stadig, kyk stadig, druk haar hande in haar heupe, bekyk die wêreld, haal haar bril af en wasem die lense in haar mond en dan vee sy dit af met die punt van haar rok. Dis alles Ouma se maniere as sy goed befoeterd is en ongeduldig raak met ’n ding. Sy praat min en loer net met skrefies oë.

 

Sy mik-mik om in die veertien-honderd te gaan sit en die radio aan te sit, want dis haar storie tyd en dit nogal die laaste episode van die storie.

 

Nou moet sy hier in die son op ’n bult vir ’n Dominee wag waarvoor sy glad nie lus het nie.  Oupa sien dat sy al halfpad in die bakkie is en die radio wil aansit toe hy haar stop.

Dit gaan mooipraat kos.  Hy haal sy voet van die veertien-honderd se wiel af en druk die pyp in sy hempsak.

 

“Ag vrou, hou nou maar net terug.”

 

Sy buk effens met haar nek soos sy deur die veertien-honderd se deur loer, sit die radio af en klim stadig, uit.

 

Ek sal ja. Ek gaan my nie belaglik maak soos Ella nie, maar onthou een ding Danie, ek doen hierdie net vir jou. Vir geen Dominee, Gemeente of Ella nie, het Ouma gesê en maak die ou karravaan-seilstoeltjie oop en gaan sit, bene gekruis.  Sy kruis eers links oor regs, dan weer regs oor links.  Dan skuif so haar gewig na die een boud, dan weer na die ander boud. Sy begin alles van voor af, regter been, linkerbeen, regterboud, linkerboud. So gaan dit aan totdat sy voel daar gaan ’n uitbarsting in haar binneste wees.

 

Ouma sê dat sy nuuskierig en ontsteld op dieselfde tyd is, maar  nuuskierigheid kry oorhand en sy loer weer na Ella se kant toe. Dié pak nogsteeds eetgoed uit en Jorsie knyp al sy oë skrefies om te sien of die dominee nie all oor die bult oppad is nie.  Paul Roux is mos ook nie so ver nie.

 

Dit voel asof Ouma ’n toeval kan kry toe sy sien Ella Verwey mik na haar kant toe, maar sy sal inhou.

 

Aai my mens. Ek probeer nou al vir hoe lank om my lippe so op ’n speldekussing-manier te trek, soos Ouma altyd gemaak het as sy vir Ella naboots.  Dis net Ouma wat dit kon doen.

 

 

“Middag Joey, hoe gaan dit?” vra Ella vir Ouma en haar mond is pure speldekussing

 

 

“Ja, goed Ella. Dis darm maar warm vandag.” en Ouma kyk so af na Ella se bene om te sê… “trek uit daai sykouse dis te warm vir die goed…”

 

“Is dit al eetgoed wat jy gebring het?” vra Ella en kyk met ‘n opgetrekte oogbank en stywe lip na Ouma se tafel.

 

“Ja Ella. Dis al.” sê Ouma en sy sê die “DIS AL” so met gevoel dat Ella moet voel dat hierdie gesprek verby  is.

 

Ella Verwey dink sy is die bo-baas bakster in die distrik net omdat sy twee jaar terug kook en bak klasse vir minder bevoorregtes gegee het in Bloemfontein, het Ouma nou bygelas.

 

Oupa staan met sy regtervoet op die 14 honderd se wiel gestut

en wys net vir ouma om stil te bly. GROOTASSEBLIEF staan in sy oë geskryf.

 

“Watse koekies is dit daardie?”

 

“Klein koekies.” het Ouma aspris gesê.

 

“Aai, Ouma, Antie Ella was seker goed opgetrek met Ouma?” het ek versigtig gevra.

 

“Wag jy nou, Evelyn, die storie raak al beter.”

 

Ouma vertel toe verder.

 

Ella draai om en stap verder met die stoet af tot onder en weer terug. Bekyk, beloer en vra uit oor al die eetgoed.

 

“Myne is die mooiste” het Ella sag gesê maar hard genoeg vir Ouma om te hoor

 

Ella gaan sit by haar tafeltjie en Oupa en Jorsie gesels.

 

Die groot wag begin.

 

Ella is die eerste wat luidkeels aankondig en opspring toe sy ’n beweging op die bult sien.

 

“Hier is die Dominee!” het sy geskreeu , maar toe sy mooi na die kar kyk, sien sy dit is ’n klein geel Volkswagen Beetle.

 

“Kan dit wees?” dink sy, of het sy nou ’n fout gemaak.

 

“Laat hy maar kom.” het Ouma gesê.

 

Oupa haal sy voet van die 14 honderd se wiel af.  Jorsie gaan staan met sy hande agter sy rug en kyk stip na die aankomende Beetle.

 

Ella staan kiertsregop met haar voete teen mekaar en wag met ’n breë glimlag, wat nog altyd ondertoe hang , vir die Leeraar.

 

Die Beeteltjie stop en toe daai man uitklim, staan Ouma op en kyk hom stip aan en druk haar bril met haar middelvinger op.

 

Die man lyk dan glad nie soos ’n Dominee nie.  Gewone denim broek en nogal met ’n leerbaadjie daarby, wit hemp, sonder das en ’n gewone pet op die kop.  Ouma skat hom so vroeg veertig se kant.

 

 

My mens, is die Dominee ’n aantreklike man. Hy kom altyd hairdresser toe vir daardie short back and sides sny.  Maar dan kom sit hy by die wasbak en ek kan sien dat hy die shampoo en kop massage geniet. Hy druk altyd so ietsie ekstra in my hand. Goeie man. Maar in elke geval, Ouma vertel toe verder.

 

 

Is jy seker dat dit die Dominee is, het Ouma vir Oupa gevra.

 

Oupa nogsteeds op sy senuwees oor Ouma wat dalk ’n uitbarsting kan he sê toe maar stadig…..”JA VROU.”

 

Die Dominee groet vir Jorsie met die hand en glimlag.

 

“Ek is Dominee Jonkers, Schalk Jonkers.” het Dominee gesê en steek sy hand uit

 

“Broer Verwey en dit is Suster Verwey” het Jorsie gesê.

 

 

 

Ouma is stil.

 

“En dit is broer Danie” stel Jorsie sommer vir Oupa ook voor.

 

“Middag, maar hierdie is darm ’n groot verrassing.” het Dominee met ’n vriendelike stem gesê en volgens Ouma nou, het Dominee reg by Ella se tafel verby gestap, reguit na Ouma se tafel met Peanut botter koekies.

 

My mens, Ouma het altyd soos ’n broeis hen geraak as sy hierdie storie vertel het.

 

“Middag Mevrou, ek is Schalk Jonkers. Hoe gaan dit?”

 

Hy staan kiertsregop en hy kyk met ’n wakker kyk in sy oë.  Hy vat sy pet so aan die voorkant en lig dit op. Mooi breë skouers, lyk of die man rugby speel of iets, lang bene, breë glimlag.  Dit is baie opmerklik dat die Dominee ’n netjiese man kan wees.  Mooi hande en skoon vingernaels. Dit is maar ’n ding waarna Ouma kyk. Vuil naels en hande beteken vuil huis en vuil vadoeke.

 

Ouma bly sit en meteens kom daar ’n kalm-soet gevoel oor haar.

 

Daardie gevoel wat jy kry wanneer jy vir die eerste keer ’n nuwe koek resep probeer en jou senuwees knaag aan jou want jy weet nie of die ding gaan platval of glad nie eers rys nie, maar wanner jy hom uit die oond haal en uit die pan skud  en hy is perfek. Dit is daardie gevoel.  Daai gevoel van vrede. Dis al wat nou in haar is. Vrede.

 

“Middag, Dominee, ek is Joey.” sê sy en steek haar hand uit en in dieselfde beweging probeer sy opstaan.  Sy druk so met haar regterhand op die  armleuning van die stoel en skuif skuif vorentoe.

 

Soos Ouma die dag hierdie storie by daardie tuinhekkie vertel het, gryp sy  die hekkie so aan die kante vas. Sy kan haarself tog so in ’n storie inleef.

 

“Nee, bly gerus sit.”

 

Ouma vertel toe baie smaakvol, en in detail hoe Dominee haar Peanutbotter koekies loof en prys.

 

“Bly te kenne Mevrou en moet asseblief nie vir my Dominee sê nie, noem my maar net Schalk. Magties, kyk hierdie grondboontjie botter koekies. My gunstelling van kleintyd af, met aanmaak koeldrank.  Tannie weet ek het tot vandag toe nog daardie stoute gewoonte om in die nag op te staan en van hierdie koekies te eet saam met melk, ek staan sommer so in die donker net met die yskas-liggie aan.

Mag ek maar een kry?”

 

 

 

Ouma vertel dat Dominee so mooi geglimlag het. ’n Regte egte glimag, nie daardie aansitterige Dominee glimlagte nie. Sy vertel ook dat hy so staan en met die regterhand mik om ’n koekie te vat, met sy linkerhand in sy broeksak.  Ouma het gesê sy kon daardie stout-seun-glimlag in sy oë sien…”ondeunde kyk” was Ouma se woorde.

 

 

Jong, ek kan nou al sien hoe Ouma in daardie opvou-kampstoeltjie sit.

 

Sy het die gewoonte om haar bene so reguit voor haar uit te skop en dan haar bene so by die enkels oormekaar te kruis. Sy skuif dan so met haar boude effentjies vorentoe en dan kruis sy haar arms so voor haar bors.  Sy sit dan haar wysvinger so gebuig op haar lippe…en weet jy dat Ouma lekker sit en gereed is vir lekker praat.

 

“Ek hou van die man, sommer baie.” het sy vertel en toe Dominee vra of hy ’n koekie kan kry sê sy “Ja, vat maar alles met blik en al. Ek kan weer die blik by Dominee kom kry.”

 

 

 

Ouma sê vir my dat ou Ella se oë vuur gespoeg het toe sy sien dat Ouma en Dominee so lekker gesels en dat Dominee nogal al Ouma se koekies vat en niks by haar, wat Ella is, nie.

 

Maar mens, ek moet ook nou bysê, ek glo darm nie dat Dominee niks by Ella gevat het nie. Hy is darm te ordentlik. Ek glo dat hy tog maar ietsie daar gevat het. Ouma kan dinge lelik aandik.

 

 

 

“Mevrou, maar jy ruik darm maar lekker.  Dis daardie soet blomme reuk. Net soos daardie pienk Pronk-ertjies. Ek onthou my ma het sulke Blomme in die voorbedding van die huis geplant, so teen die sitkamer venster. Die hele sitkamer het daarna geruik as die wind reg gewaai het en die reuk dan by die vensters ingekom het. Hoe verlang ek nou na my Ma.”

 

 

Ouma se glimlag is so soet soos daardie blommetjies se reuk toe sy hierdie parfuum storie aanvat.

 

“Ja, dis die einste parfuum.  Ek hou van ’n blom reuk.  Sommige parfuum kleef aan jou soos katpis.” en toe sy dit sê hou sy haar mond vas, glimlag en sê: “Jammer Dominee, katpiepie….”

 

“Dit is so Mevrou.” en dominee knik sy kop op en af met sy regteroog wat klein bietjie skrefie trek.

 

Aai my mens, ek wonder soms of Ouma nie bietjie stertjies bygelas het nie, maar wie is ek om te oordeel? ’n Storie is ’n storie.

 

Mens, maar toe slaan Ouma weer oor na ou Ella toe. Ek wou nog oor die parfuum uitvind, maar Ouma is klaar weer by Ella.

 

Ella het blykbaar vir Ouma soos ’n Leeuwyf aangegluur wat haar prooi jag.

 

Oupa trippel soos ’n kat wat op ’n trok met warm kole staan rond van pure verligting, omdat dinge so mooi afloop met Ouma en die nuwe Dominee, Oupa is  verlig.  Sommer baie verlig.

 

Oupa gaan staan weer by die ou veertien-honderd so met sy regter voet op die wiel en stop sommer sy pyp. Hy druk die tabak so met sy duim vas, dan trek hy die vuurhoutjie en maak die pyp brand. Net rook bolle wat trek.  Hy kyk weer na Ouma en Dominee, haal sy voet van die wiel af en sit die ander voet op.

 

 

Ouma staan op, vat vir Dominee so aan sy baadjie mou en stap na Oupa se rigting.

 

“Daantjie, ons het darm ’n knap nuwe Dominee.”

“Dominee, dis my man, Oom Danie.” en sy vat so aan die Dominee se skouer.

 

“Ons het reeds ontmoet, maar Oom ek kan een ding sê, hierdie Tannie kan ’n Peanutbotter koekie bak.  My gunstelling.” sê Dominee.

 

 

“O ja, Schalk, my huis is nommer 63, die een met die mooi tuinhekkie en Pronk-ertjies teen die draad. Daar is ’n groot klip net voor die hekkie met die nommer op, as jy wil kom vir huisbesoek of sommer vir n heen-en-weertjie.” nooi Ouma.

 

My mens, ek weet nie of ek die hele storie so lekker kan glo nie, of moet ek net die helfte van die storie glo, maar een ding weet ek, Ouma kan stories vertel, en mooi stories en ek weet dat haar Peanutbotter koekies baie lekker is. Sy het al vir my daarvan gegee.

 

“Ditsim.” het Ouma toe gesê, opgepak en huistoe gegaan….

 

Ouma vertel toe vir my die volgende dag toe sy tuisnywerheid toe gaan om mosbolletjies te koop, sy al ou Ella se koeke met hundreds and thousands daar op ’n rak sien staan.  Asook die Jodetert en ’n paar tertjies, en dit nogal met pryse op.

 

Ek lag kliphard en wou nog vir Ouma sê dit klink na tweehedhandse koek, maar toe los ek maar die storie net daar.  Soms is dit beter om ’n storie net te los sodat ’n mens se dink maar verder kan gaan.

 

 

 

 

DIE PLANT VAN DIE HEKKIE

Evelyn vertel die storie van die geboorte van die hekkie.

 

My mens, as hierdie tuinhekkie ‘n bekkie gehad het om te kan praat, sal daar nie genoeg plek in ’n Ena Murray novel vir al die stories wees nie.  Hier is duisende paar voete deur die hekkie, in en uit.

 

 

Die tuinhekkie is ’n groot ding vir Ouma.  Elke keer as sy deur hierdie hekkie stap, is dit ’n oomblik. As iemand anders deur hom stap is dit ook ’n oomblik. Nie net vir daardie persoon nie, maar vir Ouma ook.

 

Hierdie tuinhekkie van staal en draad is bekrul en geverf en versier.

 

Daar was nie groot en grênd winkels om ’n klaargemaakte hekkie te koop nie. Alles was tuisgemaak.

Tuisgemaakte konfyt, tuisgemaakte botter en brood, tuisgemaakte terte en koeke en dan natuurlik die tuisgemaakte Hekkie.

 

Ouma vertel dan hoe Oupa vier blink pype, ‘n rol press-draad en ’n rol bloudraad by die koöperasie gaan koop vir die maak van die hekkie.

 

Die press-draad het hy gebruik om die ‘tussen-in’ spanwerk te doen en die bloudraad was vir die groter spanwerk, soos om die stewige vierkante tussen die pype te span.

 

Die handvatsel is noukeurig en sorgvuldig gekrul met die mooiste krulle en draaie wat jy nog aan ’n hekkie gesien het.

 

Reg bo op die hekkie is die center piece.

‘n Stukkie staal wat so gekrul is en dan met ’n puntjie opstaan. Dit is die kroon van die hekkie. Die hekkie se eie kroon.  Soos ’n Beauty Queen, verstaan jy?

 

Aan die regterkant van die hekkie, teen die draad af, is die soetste Pronkertjies geplant. Pienk, ligpienk en donker pienk.

 

Dis die rok van die hekkie.

“Waar het jy ’n bruid gesien wat sonder ’n mooi rok in die kerkgang afloop preekstoel toe?” het ouma altyd gesê.

 

Aan die linkerkant is vetplantjies geplant.

Pietsnot met sy goudgeel blaartjies en klossie stuifmeel wat plat op die grond groei.

Katstert wat ook goudgeel is, maar regop staan.

‘n Paar ander vetplantjies is dan so al om die paaltjies van die hekkie geplant.

 

 

Ouma het elke nou en dan kom loer, terwyl Oupa besig was om die hekkie aanmekaar te slaan.

 

“Daantjie, is daai pype ewe lank? Die een duskant lyk bietjie langer as die ander een.” het Ouma gesê.

 

 

Ouma vertel dan vir my dat Oupa die pype langs mekaar gesit het, gemeet, gekyk en weer gemeet het.

 

“Ja, lyk reg Daantjie.” Ouma het dan heel tevrede haar gebuigde wysvinger op haar lippe gesit, met haar duim onder haar ken. Daardie tevrede-gebaar.

 

 

Na vier dae was die hekkie klaar gemaak en al wat nou oorbly is om hom te gaan plant.  Ouma het klem op die ‘plant’ gelê.  Tot vandag toe nog weet ek nie hoe plant mens ’n hek nie.

 

“Nee man Daantjie, verf eers die hek klaar voordat jy hom opsit. Dit gaan mos baie gouer gaan.” sê Ouma en dan druk sy haar bril met haar middelvinger op.

 

As Ouma die dag krapperig voel, werk sy daardie dikraambril met die middelvinger, al het die bril nie eens gesak nie. Dis die tyd wanneer jy nie tee praat of eers dink aan tee praat nie. Dis ’n klaar ding.

 

Wanneer sy goed befoeterd is, haal sy daardie dikraambril af, wasem hom so in haar mond op en vryf die lense blink met die soom van haar rok.

 

“Watse kleur?”  het Oupa gevra.

 

“Silwer blink.” sê Ouma toe, met ’n punt (nie ’n kommapunt) in haar  klaarpraat-stem. Dis ’n stem wat Oupa goed ken. Daardie ‘moenie my geduld beproef nie’ stem. Finish en klaar.

 

Oupa het die volgende dag ’n blikkie silwer verf gebring en die hekkie van kroon tot toon blink geverf.

 

Terwyl die hekkie droog word, het hy man alleen, twee gate gaan grou waar die paaltjies ingeplant moet word. Ouma sê altyd dat mens dinge self moet doen. Dis ’n gebod in die Bybel.

Dat Oupa self daai gate gegrou het, is nie ’n liegstorie of ‘stamp-geplakkery’ nie, ek het met my eie oë gesien hoe Oupa soos ’n vraagteken oor daai graaf buk en grou.

 

Maar anyway…

 

Teen die einde van die week was die hekkie gereed om geplant te word.

 

Oupa is opgewonde. Nie eintlik oor die hek nie, maar omdat die nagmerrie van hekbou byna klaar is. Siestog, die stomme Oupa.

 

Ouma stap soos ’n kloeks hen, al om die hek om te kyk dat alles reg, perfek en volgens plan is.

 

Toe Ouma in die huis gaan om die fles koffie te gaan haal, kom Oupa agter dat hy nooit die skarniere gekoop het nie en om nou terug te ry dorp toe, is te laat. Die winkels is seker al toe.

 

Dit is in tye soos hierdie dat hy sy pyp vat, dit stop en vasdruk met sy duim.

Dan steek hy die ding brand en blaas bolle rook die lug in. Dis maar sy manier as die senuwees knaag.

 

’n Blink plan skiet sy gedagtes binne.

 

Hy gaan vinnig na die agterplaas toe, waar die ou hekkie staan, wat die groentetuin en die blomtuin van mekaar skei. Hy haal vinnig daardie twee skarniere af, ballanseer die hekkie teen ’n paal en met kort treetjies stap hy terug. Hy kan maar more die groentetuinhekkie regmaak. Daar is nie tyd vandag nie.

 

Hy sit die twee skarniere aan die nuwe hekkie en hoop en bid Ouma kom dit nie agter nie.

Die een skarnier wou nie lekker vasskroef nie, toe draai  hy  dit sommer met ’n stukkie press-draad vas. Hy verf hulle dieselfde silwer as die res van die hekkie. Netjies. Hy is net betyds klaar, toe Ouma met die flask koffie kom en vir hulle skink in twee plastiek bekertjies. Ouma glimlag en kyk na Oupa met ’n blink in die oog.

 

 

Toe Ouma na die handvatsel van die hekkie mik om hom oop te maak, slaan ‘n koue sweet op Oupa se voorkop uit.  Die kommer en vrees sit vlak in sy blou oë en hy suig aan daardie pyp dat dit lyk soos ’n Stoomlokomotief wat opdraend ry.

 

Ouma stoot toe die hekkie oop en daar skreeu die ding soos ’n Speenvark ter slagting.

 

Oupa blaas rook soos ’n ou Lokomotief wat bult op stoom en loer vir Ouma so van onder af op.

 

Ouma ruk haar kop eenkant toe, trek haar skouers op, druk haar bril met die middelvinger op, al het die bril nie eens gesak nie en kyk vir Oupa.

 

Dis net die ene bril met middelvinger opdruk, bril afhaal, blaas, wasem, skoonmaak met die rok se soom… ’n hele gedoente.

 

Sy het nie woorde nie.

 

Daar staan Ouma met hande in die sye en Oupa wat rookbolle blaas op die sypaadjie en kyk vir die hekkie, asof die hek homself moet antwoord gee.

 

“Nee wat ou Vrou, dis net die eerste paar keer wat hulle so gaan raas.  Dis van nuut-geit en daar het seker bietjie verf ingeloop. More is hulle reg.” het Oupa verskonings gesoek.

 

Ouma vertel vir my dat as Oupa eers vinnig praat en oorlog met sy pyp maak, dan het sy geweet dat Oupa se senuwees klaar is.

 

Sy stoot die hekkie weer toe.  Daar skreeu die varkie weer.

 

Oop, en die vark skreeu

Toe, en die vark skreeu.

 

Oupa sit toe maar sy een voet op ’n klip in die rotstuin skuins agter die hekkie en maak oorlog met sy pyp.

 

“Ek sal more ’n emmertjie ghries gaan koop, dan kan ons hierdie skarniere mooi glad smeer.  Dan is al die geskreeu ook daarmee heen.” het Oupa ’n wit vlaggie probeer hys.

 

Ouma sê toe: “Evelyn, ek wou die ou man tog glo, maar iets het nie vir my opgetel nie.” Ek sê toe maar vir hom, “Ditsem, al wat ons nou nog moet opsit, is die nommer en dan sommer ’n bordjie wat sê ‘Pasop vir die hond’, maar jy kan dit more doen as jy die skarniere ghries.  Kry sommer ’n stukkie plaat by die koöperasie, dan kan jy met die Sweismasjien die nommer so uitbrand. Dit sal tog te mooi lyk.”

 

Die volgende dag toe Ouma groentetuin toe stap en die groentetuin se hekkie oopstoot en dié val soos ’n dooie dier hier reg voor haar neer, is toe sy besef wat Oupa gedoen het. Sy vat die hekkie, tel hom op en gaan sit hom teen die boom waar Oupa altyd die liggeel  14 honderd  Nissan Bakkie parkeer.

 

Die Middag toe Oupa by die huis kom, staan Ouma voor die venster en wag.

 

Mens, ek kan in my geestesoog sien hoe Ouma vir Oupa dophou, soos ’n jagter sy visier op ’n bewegende bok het.

 

 

“Middag Vrou.” het Oupa sy gewone groet gegroet.

 

“Ja, middag Daantjie en het die groentetuin hek sommer so vanself afgeval? Hoekom is die hek af en waar is die skarniere?” en sy wys na die groentetuinhekkie.

 

“Bedaar nou maar eers vrou.”

 

“Bedaar? Jy het heeltyd vir my gelieg. Ek kan mos sien jy het die skarniere afgehaal en op die buite-hekkie gaan sit. Ek is mos nie blind nie. Dis hoekom die hekkie so skreeu. Hoe kon jy vir my ’n splinter nuwe hekkie bou en opsit met ‘second-hand’ skarniere?”

“Ek skaam my dood.” het Ouma gekwetter soos ’n voël wat nie einde het nie.

 

Oupa het glo, maar net stil gebly, die kombuis stoel uitgetrek en die plaaslike koerantjie nader getrek.

 

Oupa se rustigheid het die kwik in Ouma se gemoed afgebring.

 

“Nou ja toe, dit sal nie baat om nou daaroor te baklei nie. Dis gedane sake. Ek het in elk geval gewoond geraak aan die skreeuende skarniere. Hier is jou koffie. Ek watch vir jou Daantjie.

Dit is maar die bek van die hekkie, hy waarsku my ten minste wanneer iemand inkom.” het Ouma gesê.

 

Toe hulle klaar koffie gedrink het, vat Oupa die plaatjie met die huisnommer daarop, nommer 63 wat mooi uitgebrand is met die Sweismasjien en hulle gaan maak dit in die middel van die hekkie vas.

 

Dis mooi.

 

Ouma het die gewoonte gehad om met haar voorarms so op die hekkie te rus, met die kroon so hitte tit naby aan haar borste. Dit het heelwat mense twee keer laat kyk, veral die Griek by die Kafee met sy dwalende oë.

 

Sy het soms sommer net daar gestaan, sonder geselskap en na die wêreld gekyk.  Dis daardie een dag wat sy nog so staan en kyk het na die Maluti berg aan die een kant van die dorp en dan Imperani berg aan die ander kant, wat die groot dink in haar kom sit het.

 

Soos jy by die dorp inry, is Soutkop daar, een groot rots wat die hoogte in skiet. Dis daardie einste Soutkop wat ’n teken of baken is, dat jy nou in die dorp is.  ‘Arrive’ het.

 

En net daar, met haar elmboë op die hekkie en die kroon tussen haar borste, besluit sy dat hier ’n klip reg voor haar huis moet staan. ’n Teken dat jy ‘arrive’ het.

 

Dit was begin Desember en sy het dadelik na Oupa toe geloop en hom gevra om ‘n klip te gaan haal wat buite die dorp is.  Sy het nou al vir ’n hele rukkie daardie spesifieke klip in die oog.

 

“Nou vir wat?” wou Oupa weet.

 

“Vir die nommer.” het Ouma gesê.

 

Dit was daardie een Maandag, my dag af, want sien, hairdressers werk mos nie Maandae nie, toe ek hier verby gestap het na die Jood se winkel toe, toe Ouma my nader roep om die klip-storie vir my te vertel.

 

 

Daardie een Dinsdag-middag in die bloedige son, vertel Ouma,  het Oupa die geel veertien-honderd bakkie gevat en dorp uitgery om die klip op te tel.

 

“Onthou nou,” het Ouma gesê, “as jy by die dorp uitry, by die eerste afdraai lokasie toe, sal jy ’n groot boom sien, waaronder die sement tafeltjies en bankies staan, waar mense kan padkos eet. Net so regs agter die boom staan daardie klip,” het Ouma beduie.

 

Ek wou my nog erg vir die lokasie woord, maar los dit toe maar net so.

 

Oupa bring die veertien honderd langs die tafels tot stop, sit nog ’n rukkie met sy hande op die stuurwiel en bekyk die wêreld.

 

Die son brand, sodat die Kraaie op die telefoondrade gaap. Dis goed warm in die Vrystaat.

 

Oupa klim rustig uit die veertien honderd, maar toe hy daardie klip sien is dit asof die rustigheid in hom deur die gapende Kraai ingesluk word.

 

Hy stop sy pyp…. dis duim, vuurhoutjie en blaas, dan gaan staan hy met sy regtervoet op die 14 honderd se wiel, om die klip mooi te bekyk.

 

 

Dis asof alles om hom stil word.

 

 

Oupa blaas ’n laaste bol rook die lug in, haal sy voet van die wiel af en stap stadig-moedswillig na die klip toe.

 

Sy oë woes soos die van ’n wilde dier wat gejag word, toe hy by die klip buk.

 

Vir eers het hy gedink hy is by verkeerde klip, maar hoe meer hy na die klip kyk en meer ouma se stem in sy kop hoor, besef hy dat dit HIERDIE klip is.

 

Dis ’n enorme sandklip wat seker nog ’n goeie duim of twee in die sand is.

 

Dit beteken daar sal gegrou moet word.

 

Die stuk van die klip wat bo die grond uitsteek is rond, met ’n puntjie wat so regs-bo uitstaan.

 

Hy kyk na die klip, dan na die veertien-honderd se wiel, weer na die klip en meet hom so met die oog af, besef dan, net die deel wat uitsteek, so groot soos die wiel is.

 

Die stukkie van die klip wat so regs bo uitsteek laat hom dink aan die buurvrou se kat, wat altyd so spits-ore na sy duiwe sit en loer en die ergernis woel sommer nou nog erger in hom. Dis so spits-oor Kat klip, het Oupa by Ouma se storie ingetjirp

 

“Nee wat, Koot, hierdie klip gaan ek nie optel nie,” praat hy in die klip se rigting en skop na die klip.

 

Hy klim terug in die veertien honderd en ry terug.  Sonder die klip.

 

Hy het seker die clutch van die veertien honderd te vinnig gelos, want so met die wegtrek skiet daar nog stof op die klip.

 

Terwyl hy terugry huis toe, dink hy aan ’n verskoning oor hoekom die klip nie gelaai is nie.

 

Ouma gaan glad nie gelukkig wees nie.

 

 

Ouma vertel vir my dat sy klaar die grassies weggesny het en nogal ’n holte gemaak het waar die klip mooi moet gaan inlê.

 

Sy het tot die tuinslang gaan haal en die grond so bietjie nat gemaak, glo dat die klip sy lê moet lê as hy neergesit word.

 

Ouma vertel verder dat sy so ongeduldig was, omdat Oupa so lank wegbly, dat sy sommer die tien tree na die hoek van die straat gestap het om te sien of hy nie doer onder in die pad al aankom nie.

 

Haai tog, ek kan myself net indink, dis soos om te weet jy gaan ’n krismis boks kry, maar krismis is nog so ver.

 

Ouma sien toe so honderd tree of wat af in die straat, dat Oupa oppad is met die bakkie en so begin Ouma al waai om vir Oupa te beduie waar hy moet in reverse, om so na as moontlik aan die klip se gat te kan kom.

 

Sy beduie met groot arm bewegings na Oupa in die bakkie, om mooi te stop en dan stadig in te reverse, dan weer vorentoe, dan agertertoe, dan links dan regs.

 

Ouma storm toe na die bakkie se gatkant toe en leun ver oor om die seiltjie aan die een punt beet te kry om onder in te loer waar die klip is.

 

Toe Ouma daardie seil wegtrek, is daar nie ’n teken van ’n klip nie.  Sy ruk die seil weer oop, net om seker te maak dat sy nie verkeerd kyk nie.  Sy druk haar hande in haar sye en gluur na Oupa, sommer deur die agterste venstertjie, waar hy sit en hande vryf in die bakkie.

 

Ouma vertel toe vir my dat Oupa so bang was, dat hy die bakkie se deur maar stadig oopgemaak het. Eers sy regterbeen by die deur uit gesit, dan die linkerbeen. Hy vat met sy regterhand op die dak van die bakkie en trek homself uit. Hy maak die deur toe en haal sy pyp uit. Stop, duim, druk en vuurhoutjie, dan blaas.

 

“Nee wat Vrou, ek het nie daai klip gelaai nie.  Die ding is darem heeltemal te swaar. Hoe moet ek man alleen die ding laai?  En hy lyk boonop soos die buurvrou se kat wat na my duiwe loer.”

 

Ouma sê vir my sy het nie woorde gehad nie.  Sy het vir die tweede keer weer aan die seiltjie geruk, net om seker te maak dat sy daardie groot klip, wat so groot soos die 14 honderd se wiel is, nie miskyk nie.

 

“Daantjie, ek het dan so mooi gevra dat jy die klip moet laai.  Wat kan dan so moeilik wees? Was daar nie iemand langs die pad wat jou kon help nie?”

 

Ouma storm toe blykbaar die huis binnne en los vir arme Oupa net daar op die sypaadjie.  Shame tog, die Oupa darm.

 

In die slaapkamer het Ouma voor haar dressing tafel gaan sit, haar hare agtertoe gekam, parfuum aangespuit, van daai wat soos pronkertjies ruik,  en lipstiffie aangesit. Sy het haar handsakkie gegryp en onder haar arm ingedruk.

 

 

Terug by Oupa op die sypaadjie, wink sy hom bakkie se kant toe – sy klim sommer by die bestuurder se kant in.

 

Dis ’n mooi dag buite, net soos die Vrystaat op sy beste kan lyk, maar o wee tog, binne in die veertien honderd bakkie is daar ’n stilte wat so in mens so bene gaan sit.

 

Toe hulle by die sement tafeltjie en stoeltjies kom wat langs die pad staan, ry Ouma mooi netjies agteruit sodat die 14 honderd so gatkant teen die klip staan.

 

Sy kyk in die truspieëltjie en sê Oupa moet uitklim om te kyk hoe ver sy nog kan gaan.

 

Oupa klim uit die bakkie uit en beduie waar Ouma moet stop. Toe die bakkie tot stilstand kom, is Ouma by die deur uit.

 

Ouma vertel en beduie vir my hoe sy tot langs daai enorme klip stap en die ding aankyk.

 

“Kom Daanjie, vat jy daai kant en ek vat die kant. Vandag tel ons hierdie klip SAAM op.”

 

Ouma  buk toe vooroor en wikkel aan die een kant van die klip.  Dan aan die kant waar die ‘kat-se-oor’ is, die klip sit vas.

Sy vertel hoe sy agter die klip gaan staan, teen hom skop (en sy beduie ook sommer vir my) maar die klip beweeg nie ’n duim nie.  Hy sit om te sit.

 

 

 

Toe buk Ouma en grou halfhartig ’n slootjie om te kyk hoe diep die klip in die grond begrawe lê.

 

“Hy’s diep Vrou,” sê Oupa.

 

“Hy mag diep wees, maar hy het nie ‘n Ma of ‘n Pa nie.” sê Ouma.

 

Kom ons moet trek.

 

Oupa staan voor die klip en trek. Ouma stoot van agter af.

 

Niks,

 

“Wag Daanjie, ek het ’n plan.  Agter die seat is ‘n nylon tou. Ons kan die tou aan die klip vasmaak en die ander punt aan die veertien honderd en dan trek die bakkie hom uit.”

 

Ouma vertel toe hoe Oupa die tou uit die bakkie gaan haal en met die ding so oor die arm aangestap kom.

 

Hy bind eers die een punt aan die klip vas, met so groot boepens knoop en dan die ander punt aan die bakkie, vertel Ouma.

 

Toe hy klaar is sê Ouma: “Nou toe Daantjie, ek gaan nou stadig wegtrek en jy moet kyk dat die klip nie te vinnig uit die grond uitlig nie. Ek wil nie hê hy moet in stukke by die huis aankom nie.”

 

Ouma stap na die veertien honderd, start hom weer op en ‘rev’ hom so bietjie.

 

Oupa beduie weer met die regterhand dat sy maar kan vorentoe ry, vertel Ouma, en ek kan voel hoe die lag in my opbou.

 

“Hoe lyk hy Danie?” skreeu Ouma by die venster uit.  Haar regterelmboog hang teen die buitekant van die deur en sy loer oor haar regterskouer met haar kop wat ook teen die tyd by die venster uithang.

 

“Stadig nou.”

 

“Gee klein bietjie vet.”

 

“Wouw, stadig nou eers, die tou span nou baie styf.”

 

Ouma vertel dat Oupa soos ’n kat op ’n warm plaat staan en rondtrippel.

 

“Wat sê jy Danie?”

 

“Ek sê stadig nou eers!”

 

Nou goed, trap maar die vet. Nog bietjie, nog bietjie, ditsim, vertel Ouma hoe Oupa sy bes doen om hierdie klip tog net uit die grond gelig te kry.

 

En daar, langs die piekniektafeltjies, naby die lokasie, rol die klip uit sy gat.

 

 

“Nou vir die laai,” het Ouma gesê.

 

 

“Kom, Daantjie, haal daardie seiltjie van die bak af.  Ons gaan hierdie klip op die seiltjie rol, dan gaan ons hom so met seil en al lig tot op die bak. Dit sal makliker wees as wat ons die klip self moet optel.”

 

 

Oupa wou nog iets sê, maar Ouma het die seiltjie gevat en dit so reg voor die klip op die grond oopgerol.

 

 

 

 

 

“Nou toe, nou moet ons aan die punte van die seiltjie vat, dan lig ons hom so mooi op tot by die bak.” Ouma gee die orders net soos sy kan as sy eers op dreef is.

 

 

Haai oe tog my mens, ek kan nou al in my gedagtes sien hoe Ouma langs daardie seiltjie gaan staan en haar hakke so effens in die grond inskop, soos ’n Os wat wil storm.  En hoe sy so wydsbeen staan asof haar voete in moeder aarde haarself geplant is. Dan het sy nog ’n rok aan, so haar bene kon ook net sò ver oop.

Ek kan al sien hoe sy vooroor buk en die punte van die seiltjie vasvat en dan met daardie stem van haar sê: “Nou toe Danie, op die telling van drie lig ons hierdie klip saam op.”

Siestog, Oupa het seker geen kans gehad om nog iets terug te sê nie.

 

 

“Een,…het jy hom Danie?”

 

“Twee….” ” Ja ek het hom ou Vrou, maar…”

 

“Drie….” en Ouma vertel sy het daardie ‘drie’ net ekstra hard gesê vir ’n bietjie woema, en daar lig hulle die klip op tot op die bakkie.

 

Ek wonder net hoe die arme bakkie se springs dit gehou het, want Ouma sê dis net genade van bo, wat daardie bakkie se voorwiele plat op die aarde gehou het.

 

 

 

Die aflaai was glo makliker.

 

Ouma het die veertien honderd ‘gereverse’ dat die gatkant van die bakkie mooi bokant die plek is waar die klip moet lê.

 

Sy trek aan die regterkant en Oupa aan die linkerkant en daar val die klip, gat oor kop, netjies op sy plek, net hier waar hy nou lê.

 

Ouma sê toe vir Oupa dat hy die blikke wit verf in die garage moet gaan haal, sodat hulle die nommer op die stukkie van die klip verf wat soos ’n kat-oortjie lyk.

 

 

Toe Oupa terugkom is Ouma reeds gehurk voor die klip, vertel Ouma vir my met ’n diep tevrede glimlag.

 

Hy maak die blikkie verf oop, hurk langs haar en daar verf hulle saam die huisnommer op die klip. Nommer 63.

 

 

Ja wragtag, dit was so mooi.

 

 

 

 

 

Ouma vertel toe vir my my hoe sy en Oupa daar so langs die klip gesit het en die nommer  saam opgeverf het. Soos wat mens seker nou maar die boek sal teken as jy getroud raak, dink ek by my selwers.

 

 

 

Ek vra toe vir Ouma hoekom nou juis daardie klip?

 

Sy sê toe: “Jong, sien jy daardie berg? Dis dieselfde klip as hierdie klip en die Kerk is ook van dieselfde klip gebou. Ek en Oupa is in daardie kerk getroud. Dis hoekom. Dis ’n simbool.”

 

 

DIE TUINHEKKIE (1) Evelyn

Ek wou mos maar altyd hairdresser geword het, maar sien, daar in die Karoo waar ek grootgeword het, was nie sulke geleenthede nie.

Daar werk jy of in iemand se huis of jy werk by die koperasie. Een van die twee.  Maar toe beland ek in hierdie dorpie, hier in die Vrystaat en hierdie hairdressertjie besluit toe sommer om my in te vat om die mense se koppe te Shampoo en Conditioner.

 

Ek bly net hier agter die onderdorp, in die lokasie.  Stokalleen. Geen kind of kraai en ek verkies dit maar so.

 

Omdat ons mense in die karoo  maar met storie vertellery gebore is, kon ek dit nie help om al die stories in die salon te hoor nie. Daardie hairdressertjie praat mos so dat sy dink mens hoor haar nie, en as sy die hairdryer aan het, praat sy nog harder.  Ek maak dan maar asof ek niks hoor en my by my werk hou.  Ek skuur en skrop kliente se koppe, vryf met conditioner, spoel af, vryf weer met conditioner, droog af en vou die handoek om soos ’n kopdoek, maar my ore bly by die hairdresser en haar stories.  Meeste van die tyd is dit skinderstories.

 

Dan, met uitval tyd stap ek verby Oupa  Danie en Ouma Joey se huis.  Nou sien, ek het ouma leer ken hier by die salon so een of twee keer toe sy vir haar rinse gekom het. Ek het later van tyd dit sommer by haar huis gedoen. Oupa het so twee keer gekom vir short back and sides, maar Ouma het vattigheid in my gekry.  Ek wou nog vra wat haar naam is, maar dit het sommer by ouma en oupa gebly.  Dit het eers aardig gevoel om te Oupa en Ouma, reeds omdat hulle nie my oupa en ouma is nie, maar na ’n rukkie het dit beter gegaan.

Elk geval, na uitval tyd stap ek aspris by ouma se huis verby en ek weet sy staan by die hekkie en wag vir ’n storie.   Soos elke dag.

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: