AGT (VIII)

Ek het soos water in mense se hande geword.

Vir ‘n oomblik is daar iets, dan net die volgende oomblik het daar niks van oorgebly nie.

Die niks word al meer niks.

Die water het ‘n vloed geword waarin ek geval. Daardie vloed het my deur die riviere en strome getrek, totdat hy my in die see gaan uitspoeg het.

 

Ek het tog die stuk brood gaan koop en hom dik besmeer met peanut botter.  Ek het my eerste hap na die groot gat geval, en in daardie gat beland. Nie juis beland nie, ek het behoorlik daarin geval.  Soos wat mens appels van ‘n boom afpluk en in ‘n mandjie gooi. Of druiwe in ‘n emmertjie.  Of soos rosyntjies in ‘n kastrol vir ‘n krismispoeding.

Ek het nog ‘n hap gevat.

Weer het ek geval soos ‘n appel

Nog ‘n hap.

Nog ‘n tros druiwe

Nog ‘n hap.

Nog ‘n dieper gat.

Ek het die hele sny brood geeët.  Ek het nog een gesny, nog een geeët en toe voel ek beter.

Die draak het meteens stil geword.

Die monster het sy bek gehou.

Die bang het sy bek oopgemaak soos ‘n grot waarin ek stap.  En ek het die groot fout gemaak en in Bang se bek ingestap.

Nog ‘n stuk brood sal die bang ook wegjaag, het ek gedink.

En dit het.

Ek het goed gevoel.  So asof ek nie kan traak oordat ek soos water deur mense se vingers val tot in die gat van niks nie.  Ek traak nie wie in die winkel oor my praat nie. Ek traag nog minder omdat ek nie vriende het nie, want vandag het ek ‘n regte egte vriend gekry.  Ek is twaalf jaar oud en vir die eerste keer besef ek wat dit is om ‘n regte egte vriend te he.

Ek het by die kombuisdeur uitgestap, buite toe.  Die son het my van agter af gevang.  Dis ‘n lekker gevoel.

Ek het verby die sitkamer vensters gestap, straat se kant toe en myself per ongeluk in die ruit gesien…net vinnig…soos ‘n droom.  My hart ruk soos ‘n trop wilde perde.

Ek draai om.

Stap weer terug.

Kyk myself weer in die weerkaatsing aan.

Draai om.

Kyk weg.

En die swart hond van ‘n monster praat met my.

“Jy moet nog ‘n stuk brood gaan eet.  Jy het mos gesien dit laat jou beter voel.”

Ek het nog brood gaan eet.

Peanut botter.

Brood.

Konfyt.

Soetkoekies en koeldrank.

Totdat die siek in my maag kom lê het.  Maar hierdie siek is net ‘n fisiese siek, die siek in my kop is beter, want nou het ek nie net ‘n maat gekry nie, maar ‘n boesemvriend, ‘n broer, ‘n pa, ‘n seun en ‘n mens.  Dis al wat saakmaak.

Die siek in my maag het uitgekom en geskreeu:  “Ons moet uit”

Ek het langs die lukwart boom vooroor gebuig, soos ‘n vraagteken.  Ek het my mond wawyd oopgemaak en uit my keel het die monster se stem gekom.  Nie woorde nie, maar klanke.  Skreeu klanke, kerm klanke, kreet, brul, uitroep, angsgil…en daar sak op neer o my knieë soos in ‘n gebed.  Toe voel ek goed. Soos amper aanvaarbaar, prysenwaardig en geloofwaardig.

Dit was die groot begin. Die eerste koevert word oopgemaak en die seël word geplak.

SEWE (VII)

Bang het ‘n manier om so in jou te kom bly dat jy nie eens meer weet dat hy daar bly nie. Dis net so nou en dan wanneer hy uitkom, wat jy bewus word.

Die bang en die monster het die meeste van die tyd kragte gemeet.  Al wanneer daardie stemme stil geword het, was as ek slaap.  Soete slaap.

Nie omdat slaap soet is nie, nee. Ander redes.

Ek weet dat die mense oor my geslapery skinner.  Ek traak nie.  Dis al wanneer die stemme stil word.

Soms as ek my groot flennie hemp aantrek en oorgroot denim, raak hulle ook stil.  Dis moet moeite wat ek hulle stil kry, maar darm so bietjie.

Monster en Bang het ‘n manier gehad om deur ander mense se monde in my ore en hart te kom klim.  Ek weet nie hoe hulle dit regkry nie, maar hulle doen dit, en hulle doen dit so goed.

Net die ander dag stap ek by ‘n winkel in.

My kop, mond en hart sê vir my om ‘n vars brood te koop met baie kaas en peanut botter.  Ek wil dan ‘n dik sny brood vat en hom insmelt met die peanut botter en ‘n stuk kaas daarop sit.  Dan sommer nog ‘n sny brood bo op sit, net vir ingeval.

Ek wil dan ‘n milkshake koop, double thick vir die agterna lekker kry.  Mens rol daai milkshake mos eers so van die een kies na die ander, bult jou wange so uit, dan speel jy hom met jou tong, dan eers sluk jy.  Dis mos so lekker.  Al sê mense dat dit swak maniere, is, traak ek nog minder.

Dis snaaks hoe sekere dinge my traak en met ander dinge traak ek nie eens nie.

“Daai kind trek darm maar vreeslik trens-agtig aan” hoor ek ‘n vrou sê.

Ek traak nie

“Kan hy nie net klere aantrek wat pas nie. Kyk hoe hang dit soos lappe aan hom” sê die ander vrou.

“Dis seker maar die tiener tyd wat so maak.  Hulle raak so” sê die een vrou weer.

“Nee, man, my seuns is ook tieners en kyk hoe lyk hulle teen hierdie enetjie.”

“Jy moet seker maak dat hierdie enetjie nie maats maak met jou seuns nie. Slegte invloed”

“Ek hoor so ja.  Die kind is mos so half kunstig en sulke mense is reeds nie lekker nie”

“Man, ek sê net die ander dag vir my seuns dat ek so trots is op hulle voorkoms. Altyd deur ‘n ring trek”

“Ja, jou seuns is regtig netjies”

“My seun en dogter hou ook van mooi aantrek.  Het jy haar mooi rokkie gesien met die aanneming by die kerk?”

“Sy het pragtig gelyk”

“Maar hierdie enetjie het sommer so ou pak aangehad wat lyk of dit tweedehands is”

En net daar, met die woorde TWEEDEHANDS kom gryp die monster my vas.  Die res van die twee vroue se gesprek het my nie getraak nie. Ek weet van hulle kinders wat so mooi gelyk het by die aanneming van die kerk, en ek worry min.

Die een vrou se seun was regtig mooi.  Ek weet dat ek aangeneem is, maar ek weet nie so lekker wie my aangeneem het nie, want my aandag was by die vrou se seun.

“Hy kan my maar aanneem” het ek gedink.

Maar TWEEDEHANDS het my verwurg.

Die lus vir brood en peanut butter is DANG GOD weg en ek loop by die winkel uit.

“Hoe kan ‘n mens tweedehands wees?” het ek myself gevra.

“’n Mens is tweedehands as jy vet is, soos jy” sê die monster.

“Ja, net om aan daai brood en peanut botter te dink het jou klaar vet gemaak?” sê bang

Ek het huistoe gestap om myself te weeg.  Ek sal vandag op die skaal klim.

“Jy is te Bang” het bang gesê.

Ek is wragtag te bang, jy is reg.  Ek gaan ‘n ander plan maak.

SES (VI)

Die bome lag vir my. Die gras lag vir my. Die straat lag vir my. Die berge lag, die wilgerboom en die roomys kombi lag en die bang lag saam.

Hardloop, hy gaan jou vang, sê ‘n stem toe ons laatmiddag straat-af stap.

 

Die middag stappery was vir my lekker, behalwe dat daar ‘n monster saam met ons gestap het.  Of eerder, die monster het saam met my gestap. As ek stadig loop, is hy agter my, as ek hardloop is hy agter my, as ek omdraai en weghardloop is hy voor my, seker om my te keer.

Die bang sit in my.

Dis ‘n baie lelike ding as die bang eers in jou sit.  Hy klim nooit weer uit nie.  Al jaag jy hom weg, klou hy.  Hy klou aan jou maag, jou hart, jou are, jou niere en jou gal.  Hy bly.

‘N PAAR JAAR LATER

Bang het ‘n suster wat saam met hom bly.  Haar naam is monster.  Hulle stap so hand aan hand.  Die een kan nie sonder die ander. Ek dink daar is iets in die Bybel van Jonatan en Dawid.  Ek dink dis hulle twee. Ek ken nie die bybel so goed nie.

Dalk moet ek die Bybel leer ken.  Hulle sê dat die Bybel tog die monsters kan wegjaag.  Die Bybel en mosters loop nie saam soos Dawid en Jonatan nie. Hoekom klink Jonatan amper soos ‘satan’?  Ek jaag daai dink eers weg.

Ek het toe uitgevind dat die monster wat my gejaag het nie ‘n monster was nie, maar net my skaduwee.  Dis maar al…of is dit?

“Ek het die lelikste skaduwee wat enige mens kan he” het ek eendag vir iemand gesê. Ek kan nie onthou vir wie dit was nie.

“Almal se skadus lyk dieselfde” het Iemand gesê.

Ons het langs mekaar gaan staan en na ons skaduwees gekyk.

Ons skadus het soos lang lywe voor ons op die gras gelê.

Sien jy? Het hy gevra.

“Ek sien”

Maar tog het daar iets anders saam met die monster in my kom bly.  Ek weet nie wat dit is nie, maar monster het ‘n paar vriende gebring om saam te bly.

Toe ek klein was, was dit seker maklik vir die monster om in my te bly, reeds omdat ek nie baie mooi verstaan het nie, maar nou verstaan ek. Dis hoekom hy iemand gebring het om hom geselskap te hou.

Ek is moeg dat die monster saam met my moet gaan slaap, maar daar is niks wat ek daaraan kan doen nie. Dit is so.

Omdat daar ‘n paar monsters, gedrogte en wangedrogte in my is, wou niemand met my maats wees nie, daarom het ek alleen groot geword.

Ek het lankal al die akkerboom my vriend gemaak en selfs die manna boom wat ek wou uitkap het my vriend geword.  Bome het nie monsters nie en hulle gee ook nie om dat daar monsters in my bly nie.

Ek het die spieël wat in my kamer gestaan het met ‘n lap toegegooi.

Ek het die spieël in die badkamer met ‘n handdoek toegemaak.

“Vir wat doen jy dit?” het Ma gevra.

“Ek hou nie van die spieël nie”

“Dis jou verbeelding. Jy doen dit nie weer nie. Hoor jy vir my?”

“Ja Ma”

Ek het mos daardie dag toe ek in die klaskamer moes agter bly geleer om maar net stil te bly of om net JA te sê. Dis beter so.

“Jy gaan een van ons word. Jy gaan ook ‘n monster word” het die wangedrog gesê.

Gaan weg.

Hulle het nooit weggegaan nie.  Ek het geleer om die lig af te sit as ek gaan bad.  Net die effense lig wat van die straat se kant af kom het deur die venster geval sodat ek net ‘n bietjie kan sien.  Soms het ek my onderbroek aangehou as ek moes bad. Soms het ek die onderbroek uitgetrek, maar bo op my privaat gesit.  Die monster het gesê dis beter om dit so te doen.  Hy het nie ‘n rede gegee nie.  Dis net beter.

Die dink in my het al groter geword.  Die bang ook.

 

VYF (V)

Ek vergewe nie maklik nie, maar ek het die boom vergewe omdat hy my arm laat breek het. Die enigste rede hoekom ek die boom vergewe het, is omdat ek nie seker was of dit die monster of die boom se skuld was nie.

“Juffrou, waar is die boom van goed en kwaad?” het ek die volgende week vir my juffrou gevra.

“In jou hart” het sy gesê.

Ek het dit nie verstaan nie. Hoe kan my hart dan groot genoeg wees dat ‘n boom daarin kan groei?

‘n Boom kan in elk geval nie in ‘n mens groei nie, ‘n mens groei in ‘n boom, het ek gedink

“Juffrou, kan ‘n mens in ‘n boom in groei?” het ek die vraag anderkantoe gegooi.

“Nee, ‘n mens word volwasse en ‘n boom groei” het Juffrou kamma-slim gesê.

“Julle groei uit julle klere uit en elke seisoen met ons nuwe klere koop” het my ma eendag gesê.

Ek wou nie verder met die juffrou oor bome, groei en grootword praat nie. Ek dink nie sy weet wat ek bedoeling is nie. Ek wou nog vra hoekom is sommige mense wit en ander swart, maar ek het dit ook gelos.

“Juffrou, het elke mens ‘n monster wat in hom bly?” het ek die vraag sommer so uit die lug gaan vang.

“Net as jy wil hê die monster moet daar bly, maar ek stel voor dat jy nie ‘n monster in jou het nie”

“Ek het ‘n monster in my” het ek gesê.

“Dis nou genoeg hiervan. Jy moet na klas agter bly” en sy gesê.

Die res van die tyd het ek nie opgelet nie. Ek het prentjies op ‘n stuk papier geteken wat ek later vir haar wil gee.

Die klok het gelui en ek bly sit.

“Waar kom jy aan al die vrae?” het sy gevra.

“By die monster wat in my bly”

“Maar jy het nie ‘n monster wat in jou bly nie” het sy aangehou.

“Hy bly in my van kleintyd al af. Ek kan hom sien.”

“Wanneer kan jy hom sien” vra Juffrou

“Ek sien hom net party keer. Ander kere is hy weg. Dis dan wanneer hy dalk ‘n ander iemand gaan soek om in te bly, want ek probeer hom jaag. As ek gaan slaap, dan slaap hy agter my rug.”

“Kind, ons sal jy by die pastoor moet kry.”

“Die pastoor het ook ‘n monster” wou ek sê, maar ek was bang sy gee my pak.

“Kyk, daar is nie ‘n monster in jou nie. Jy is ‘n mooi kind” het sy gesê.

Sy het ‘n handspieëltjie so groot soos ons lees boek uit haar sak gehaal.

Ek het omgedraai en probeer weghardloop, want sy gaan die monster roep met daai spieël.

“Waar gaan jy? Kom terug. Ek wil vir jou iets wys” het sy gesê.

Ek kon sien dat haar geduld min word.

“Ek wil nie” het ek vasgeskop

“Luister nou vir my, kyk in die spieël en doen wat ek sê,” het sy haar stem harder gemaak. Net soos my ma as ek nie my kos wil eet nie.

Sy het die spieël in haar linkerhand gehou en vir my nader getrek met haar regterhand. Sy het my aan die kraag gevat en nader getrek.

“Kom net hier” het sy van ongeduld gesê

“Ek sal nie”

“Mannetjie, moenie met my teë praat nie. Kom hier en ek praat nie weer nie” en sy trek my aan my kraag tot voor die spieël.

Ek skrik en die bang het vlak in my oë gelê.

Sy het my gesig tot voor die spieël gedruk en my aan die ken gevat om my kom spieël se kant toe te draai. Ek wou skreeu. Ek was moer bang.

Toe ek in die spieël kyk, sien ek daai monster staan. Juffrou se hand wat aan my ken trek en die monster wat bang-grootoog staar.

Ek het net gekyk. Dis beter om stil te bly.

Daardie dag het ek geleer om stil te bly. Ek sal nooit weer oor die monster praat of vra nie.

Maar nou weet ek dat daar tog ‘n monster in my is, en in die juffrou.

Maar my monster is wreed, kwaai en slu.

VIER (IV)

Die volgende oggend moes ek skool toe gaan. Ons het naby aan die skool gebly en ek kon sommer stap.  Pa het vir my toebroodjies vir die kosblik gemaak.  Met sandwich spread op. Die lekkerste toebroodjies.  Dit was somer en die son het vroeg-vroeg al sy gesig oor die berge kom gooi.

Ek het die dertig meter tot bo by die stopstraat gestap, dan links gedraai en 50 meter tot by die skool.  Ek het onder ‘n akkerboom deur gestap, verby die Manna Boom, wat ek geglo het kos vir die Bybel se mense gegee het. Dis waar die Manna storie in die Bybel vandaan kom. Dis van hierdie boom af.

Hoe kan die Bybel se dinge hier gebeur het en dan is hier nog monsters ook.  Ek kon dit nie verstaan nie.

Ek het langs die Manna Boom gaan staan, ‘n wit klossie opgetel, dit geeët en dit was die lekkerste soet wat ek nog geproe het.

Weer het ek gevra: Hoe kan die Bybel se mense onder hierdie boom kom eet het en dan is hier nog monsters ook?

Ek het nie ‘n antwoord gekry nie. Dit was finish en klaar.

Dalk as ek die boom klim sal ek die monsters en vir Bleek op die horison sien.  Wat as hulle saam met my klas toe kom?  Juffrou sal nie daarvan hou nie.

Ek het my tas neergesit en gesorg dat my toebroodjies onder al die boeke weggesteek is, sodat, vir ingeval, die monster en Bleek dit nie kan steel nie.  Toe stap ek nader aan die boom, vat aan sy growwe bas en gee my eerste tree die boom in.  Ek trek myself eers met my arms op, trap op ‘n dwars tak. Die tak is stewig.

Ek trek myself weer op en voel dat die tak waaraan ek trek effens swak is.  Ek vat aan ‘n ander tak. Dis beter. Ek trek myself op, trap dan op ‘n ander tak en so trap en trek ek myself tot hoog in die boom.

Daar sit ek soos ‘n kat wat iewers opgeklim het en nie weer kon af nie. Dis te hoog om af te kyk. Die hoog maak my bang.  Ek klou aan ‘n dwars tak vas, pluk ‘n klossie wit en eet dit.  Toe gaan sit ek op ‘n ander dwars tak en kyk terug. Die son vang my nou lekker op my rug en vir een of ander rede is dit mos lekker om in hierdie boom te bly sit. Dalk kan ek vir lank hier sit, al is ek bang.  Dis beter om vir die HOOG bang te wees as om vir die monster en Bleek bang te wees.

My bene hang slap en ek swaai hulle heen en weer.  Maar ek kyk nie af nie. Afkyk is bang-kyk.  Kyk ver.

Maar tog waag ek dit om af te kyk. Dalk sal ek net een keer bang wees en dan sal die bang later weg wees.  Maar toe ek van die ver kyk af wegkyk na die afkyk toe, sien ek die monster.  Hemelsgroot. Groter as wat ek hom nog ooit gesien het.  Hy sit saam met my in die boom.

Hoe het hy tot hier geklim sonder dat ek hom sien.  Nou is die hoogte bang nie meer daar nie maar die monster bang is hier.  Om my aandag van die bang te probeer wegvat, probeer ek uitwerk hoe oud ek is.  Ek werk uit dat ek agt jaar oud is.

Die bang is nie weg nie, die monster ook nie

Ek lig myself stadig van die dwarstak af, trek dan aan ‘n ander dwars tak om aan die ander kant van die groot bas te sit.  Ek het nog altyd dwars getrek, dink ek.

Die monster beweeg saam met my. Al om die boombas.  Ek klou aan ‘n ander tak vas en die monster gryp aan dieselfde tak.

Die tak gaan breek, dink ek.

Ek kyk weer die ver kyk wat die bang wegjaag.  Die monster is meteens weg.

Ek kyk weer die bang kyk, en hier is die monster.  My kop is deurmekaar. Ek is agt jaar oud, werk ek dit weer uit om die bang weg te dink.

Ek sal vir die juffrou in die klas vra hoekom daar ‘n monster agte rmy aanloop. Sy sal weet. Sy sal alles weet.

Sê nou die monster vat my toebroodjies met die Sandwich spread op?

Meteens word die bang weggejaag deur kwaad.

Ek het gehoor in die Sondagskool dat hulle van die boom van goed en kwaad gepraat het.  Is dit dalk hierdie boom?  Goed vir die manna, kwaad vir die monster.  Net die Here sal dit weet.

“Here, watter boom is hierdie?” bid ek

Stilte, net die blare wat om my sing.

Ek besluit om die bang weg te jaag, die kwaad anderkant die berg te gaan neergooi en so dapper as wat ek kan uit die boom moet klim.  Ek kry dit nie heeltemal reg nie.

Toe ek die laaste trap op ‘n tak wil vat, breek die tak en ek val.  My arm breek. En ek huil.

Dis die boom van Kwaad, het ek besluit.

Dis die bleddie boom van kwaad, en ek gaan hom nog kom uitkap.

Die monster het my uit die boom gestamp, die kwaad het my arm gebreek en nou is ek stukkend.

DRIE (III)

Ek het weer voor die spieël gaan staan en niks gesien nie. Ek het die stoeltjie suutjies nader getrek om beter te kan sien. Ek het op die stoeltjie gestaan en in die spieël gekyk. En daar sien ek die monster. Dis omtrent 1 uur in die oggend, almal slaap, die huis is stil en die maan is vol. Hy skyn deur my kamervenster en knipoog in die spieël vir my.

Ek knipoog terug.

Ek fluister vir die maan.

“Is jy die monster?”

“Nee” sê die maan.

“Sommer net so NEE. So sonder om iets by die NEE  te las?” het ek gevra.

“Ja” sê die maan.

“Ja, jy is die monster? Of Ja….Nee….sonder om iets by te las?” vra ek.

“Ja, sonder om iets by te las”

Die klomp JA EN NEE het my deurmekaar gemaak. Ek het van die bankie afgeklim, na die gordyn gestap en dit dig toegetrek sodat die maan nie weer vir my moet knipoog nie.

Weer het ek op die bankie gaan staan…die keer is ek dowwer en ek lyk so bietjie meer na die monster wat my jaag as ons straat af stap.

Ek trek my oë op klein skrefies om beter te kan sien.  Hulle sê dat di twerk.

Ek sien myself in die spieël, maar by my staan ‘n bleek monster. Ek skrik.

Ek word bang vir die monster, spieël en die ergste van alles was dat ek vir myself bang word.

Ek klim van die bankie af, gaan sit hom terug waar hy hoort en gaan klim in die bed.

Die monster het saam met my in die bed geklim.  Die Bleek het saam met my onder die lakens gerus.  En dis die begin van die gedrog in my wat 45 jaar later nogsteeds saam met my stap.

Maar in elk geval, ek gaan nie nou 45 jaar vorentoe spring nie.  Ek wil vir julle vertel hoe ek saam met die monster en Bleek geslaap het.

Monster het agter my rug gaan inkruip en Bleek het in die waai van my bene gaan lê.  Ek het gewonder hoe ek dit gaan regkry om hierdie twee gedrogte uit my bed te kry.

Ek het opgestaan, die gordyn weer oopgetrek en vir die maan gevra:

“Sal jy asseblief hierdie gedrogte uit my bed kom haal en anderkant die berg gaan neersit?”

“Nee”

“Sommer net so NEE. Sonder iets wat nog moet by kom?” fluister ek

“Ja”

Weer het die klomp JA en NEE my so deurmekaar.  Ek maak die deur suutjies oop en stap op my tone die gang af. Ek moet weet of hierdie monster en Bleek my gaan volg.  Hulle het nie.  Hulle het in die bed gebly.

“Luigatte” het ek gefluister.

Min het ek geweet dat hierdie LUIGATTE later in my lewe SLAPGATTE gaan word.

 

TWEE (II)

Die skaduwee word lewend en ek verander na ‘n nuwe rigting.

Ek onthou ewe skielik toe ek klein was, so laatmiddag as ons gaan stap het, het ek van my eie skaduwee af probeer weghardloop.  Die donker ding het my bly jaag totdat die moeg in my bors gebrand het.

 

Ek het geskreeu vir hulp, maar die akkerbome het vir my gelag. Ek het gehuil, maar die arend het vir my geblaf.

Net voor donker het ek na my kamer toe gegaan, die deur teogemeek en dan voor die spieël gaan staan om te sien of die donker ding wat my gejaag het nogsteeds naby my is.  Ek het na links gekyk, dan na regs.  Dan het ek omgedraai en agter my rug gekyk.  Ek het op ‘n stoeltjie gaan staan om nog beter te kan sien, maar die spieël was net net te hoog vir my.

Ek het dan weer uitgegaan om buite op die gras te staan, en daar hang die swart ding weer aan my.  Die akkerboom lag, die arend blaf en ek hardloop weer by die huis in, na my kamer toe, maak die deur toe, trek die stoeltjie tot voor die spieël en kyk na myself.  Die donker ding is weg.

Waarheen sou die ding gaan? het ek gevra.

Jy sal moet soek, het die spieël antwoord gegee.

Waar soek ek?

Jy sal net moet soek, totdat jy daai ding kry. As hy jou vang en jou insluk gaan jy ook ‘n monster word, net soos hy, het die spieël gesê.

Daardie nag kon ek nie slaap nie. Ek het middernag opgestaan en in die gang af gestap, kort kort agter my gekyk of die monster my nie dalk gevang en ingesluk het nie.

Dan het ek weer omgedraai en ‘n ander rigting gestap, maar die monster was weg. Dalk, net dalk het hy my ingesluk. Toe begin die ding, en die monster wys homself vir die eerste keer.

 

EEN (I)

“Spieëltjie spieëltjie aan my hand, wie is die mooiste in die land?” vra ek.

“Jy vra my vrae wat nie antwoorde het nie” antwoord die spieël.

“Spieëltjie, wie is die mooiste?”

“Hou op vra. Ek het nie die antwoord nie” sê die spieël.

Ek draai om, stap weg en trek my hemp aan, dan my broek en ‘n jas.  Dit is te warm vir ‘n jas, maar die jas sal my lyf toehou.

Ek stap om in die gang af, trek die een slaapkamer se deur toe, stap verder af en trek die ander kamer se deur toe.  Die gang moet donker bly. Dis beter so. Dis beter vir ons almal.

Ek stap uit en gaan sit in die tuin. Onder die ou akker boom.  Ek bekyk die wêreld om my. Alles lyk so perfek.  ‘n Akkerboom is vir my soos ‘n groot arend wat in die lug sweef.  Perfek, mooi en vloeiend. Ek is jaloers op die akkerboom, ek is jaloers op die blou lug en ek is jaloers op die spieël.

Ek buk langs die akkerboom en vat aan sy growwe stam.

“Help my” soebat ek.

“Praat mooi met my, nie soos die spieël nie,” vra ek

Ek asem diep in, diep uit, diep in diep uit en kyk na my eie skaduwee.  Dis donker en lyk soos ‘n gewone vlek op die sand.

Die spieël is reg, ek vra vrae wat nie antwoorde het nie.

 

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: