Timothy kom huistoe

TIMOTHY KOM HUISTOE
2022-04-04
“Jy moet nou dadelik oorkom na my toe. Hier is ’n ding aan die kom en niks kan hom keer nie” praat Antie Hessie Benson my ore rooi-warm deur die telefoon.
Antie Hessie is my buurvrou oor die pad. Dierbare Antie.
“Antie, dis vroeg in die oggend, nog nie eens 8 uur nie en ek het nou net die jêm op die stoof gesit. As ek nou los dan brand hierdie hele spul aan”
“Niks is te vroeg vir hierdie groot probleem van ’n besigheid nie en bring die pot sommer saam. Jy kan verder op my stoof kook. Hierdie is sake wat NOU aandag moet vat,” gaan die Antie aan asof sy nou net doodstyding gekry het.
“Nou goed, ek kom Antie. Sit solank Antie se stoof se plaat aan. Hy moet goed warm wees anders gaan die suiker nie behoorlik smelt nie en die hele spul trek sandsuiker”
Ek hardloop oor die pad met ’n groot pot ongekookte jêm in my hande.
Ek druk die tuinhek met my heup oop en trippel die sementpaadjie op tot by die voordeur.
Toe ek by Antie Hessie se huis instap, weet ek nou nie of ek blygeid of moerigheid in haar gesig sien nie.
“Kêrelkind, Timothy is oppad terug. Sy het daai man van haar net daar in Ierland gelos en vir my laat weet sy het nou genoeg gehad van daai vreemde oorsee besigheid. Kyk, hier is die brief wat sy gepos het. Haar hart verlang huistoe.”
“Antie, maar dis goeie nuus. Dan is Antie se dogter weer hier by Antie en sy is mos my beste vriendin.”
“Juis. Dis van blygeid dat ek so te kere gaan” en Antie Hessie beduie met hande, nek en oë. Alles gelyk.
Ek staan voor die stoof en roer die konfyt. Antie Hessie gryp hier en vat daar. Praat die kant toe en daai kant toe. Vat hier ’n woord en dan weer op ’n ander plek ’n ander woord. Geen mens verstaan waarvan sy praat nie. Ek “ja Antie” maar net.
Timothy se kamer moet skoon kom. Die laaikas moet gepolish word. En ’n lys van goeters wat gedoen moet word moet klaar voordat Timothy kom.
“Wanner kom Timothy, Antie” vra ek
“More. Sal jy sommer die kantgordyne wat in haar kamer hang in jou wasjien gaan gooi?” vra sy.
“My masjien is vol van haar beddegoed sodat ek die motbol reuk kan uitkry. Daai meisiekind van my gaan op lekker-ruik-beddegoed slaap.”
“Ek sal”
“Moenie dit te veel deurwas nie. Sorg net dat die ergste geel uit is. Hulle is maar dun gebrand van die middagson. Moenie dat die goed verder skeur nie”
“Ja, Antie” en ek roer die pot
“Jy kan nie die jêm te veel roer nie. Draai nou die plaat af dat hy stroop kan maak. Jy gaan nog so roer dan is dit net water” praat sy my aan.
’n Mens stry nie met Antie Hessie nie en praat ook nie terug nie.
Die heeldag word afgestaan om huis reg te trek en skoon te kry vir die tuiskoms van Timmothy.
“Aai, Here Wees genadig….my Timmy kom huistoe” praat sy.
“Kom Kêrelkind, dat ek jou help om die jêm in die pottjies te gooi terwyl die besigheid nog warm is.
Kan ek sommer een potjie vir my en Timothy hou?”
“Antie kan twee vat” sê ek.
Laat daai middag stap ek terug huistoe met pot onder die arm en klein glaspotjies vol konfyt.
Ek gooi die lace gordyne in die masjien en hang hulle in die laatmiddag son vir droog word.
Toe hulle nou mooi goed droog is, vat ek dit oor na Antie Hessie toe en sy sê dat ek sommer moet sit vir ’n koppie tee. Sy gaan vroeg bed toe sodat sy vroeg kan opstaan en die laaste goedjies doen voordat Timothy tuiskom.
Die volgende oggend vroeg lui my foon weer.
Dis Antie Hessie.
“Kom kind, jy sal hier moet wees as Timothy tuis kom. Jy sal my regop moet hou sodat ek nie knak van die groot skok nie. Ek kan nie glo dat my meisiekind huistoe kom nie”
“Ek kom Antie”
Toe daardie tuinhekkie oopgaan en Timothy kom by die sementpaadjie opgestap met net een tas in die hand, is dit asof Antie Hessie ’n Toeval kry.
“My Kind….My Kind….My Kind” snik sy
“Waar is al jou goeters? Het jy net hierdie een suitcase?”
Ma en dogter staan in mekaar se arms van blywees om mekaar weer te sien. Dis ’n prentjie wat die hartseer in my hart kom sit. Maar saam met die hartseer sit daar ’n blywees vir die Antie en dogter ook.
“Hallo Ma, ja, net hierdie een suitcase. Dis maar al. Die ander goed het ek in Ierland gelos.”
“Kind, nevermind die ander goed. Kom in, jy moet seker honger wees. Jou kamer is mooi skoon. Kom laat ek jou help. Kêrelkind, vat jy Timothy se suitcase” praat Antie Hessie sonder om asem te skep.
“Welkom tuis Timmy” sê ek.
“Ek het so na jou verlang” sê sy.
“Jy lyk goed, my darling” sê ek vir haar.
“Kom ek help jou” sê ek.
Maar ek sien mos in die meisiekind se oë lê verdriet, maar anderkant die verdriet is daar iets anders. Daar lê ’n blygeid saam met die verdriet. Ek kan sulke dinge in mense raaksien.
Ant Hessie praat nou maar so bolangs en hierdie kant toe en daai kant toe, maar in my hart weet ek dat ek my kans gaan kry om die waarheid uit Timmy te kry.
“Kom Timmy, ek maak vir ons Jêm-toebroodjies. Kêrelkind het die jêm net gister gemaak.”
En dit is hier waar die groot moeilikheid begin.
Toe ons om die kombuistafel sit, elke een met sy bordjie brood en beker tee, gebeur daar ’n ding wat vir Antie Hessie amper laat knak van skok, en ek gryp net suikerwater om haar regop te hou.
Timothy haal sowaar haal vals-tanne uit om die brood te byt.
“Kind, van wanner af het jy vals-tanne?”
“Dis ’n lang storie, Ma, maar ek moes maar plan maak”
Ant Hessie weet wanneer om ’n ding te los.
Timothy gee een byt aan die broodjie en ’n slukkie tee. Die tande lê in ’n tissue op haar skoot.
Antie Hessie kan sien dat die kind moeilik kou. Die groot vra bly in haar oë sit van waar is Timothy se tande en wat het dan verkeerd geloop. Mens se tande val mos nie sommer so na 5 jaar wat jy oorsee is, uit nie.
“Kind, nee Koot man, so kan ek nie sit en wonder nie. Vir wat moet jy dan nou die tande uithaal om ’n sagte stuk brood te eet. Wat is hier aan die gang, kind?” vra Antie Hessie.
“Daar in Ierland het dinge maar skeef geloop, toe moes ek my tande laat trek. Die tandarts wat my vals tande moes maak het dit op die goedkoopste manier gedoen , nou is die goed skeef gemaak en te klein. Hy het my mond verkeerd gemeet. Ek kan nie eens ’n stuk brood eet nie” verduidelik Timothy en in haar oë sit sy ’n “end of story” kyk.
“Maar waar is daai ryk Ier van ’n man van jou dan?” vra Antie Hessie.
“Dis ’n lang storie, ma, los dit maar eers daar. Dis ’n ander dag se praat daai”
Terwyl ons drie so om die tafel sit en brood eet en tee drink, bekyk ek vir Antie Hessie en Haar dogter Timothy en ek dink so by myself:
“Ja, wat maak tande tog nou saak. Ma en Dogter is bymekaar, ons almal sit om een tafel, Timothy natuurlik nou sonder tande, maar dis oraait. Darm het Timothy ’n ma en Antie Hessie ’n dogter.
Ek het nog al my tande, netjies reguit in ’n ry, maar my mense is weg. Ek is ’n alleen mens met tande.”
Dis asof Antie Hessie my gedagtes lees en sê:
“Kêrelkind, my meisiekind is by die huis. Maar in my hart sal jy my Kêrelkind wees. Gaan haal nog jêm by jou huis”
En op daardie dag toe weet ek net….wees tevrede met alles, al het jy nie tande nie.

DIE WAARHEID AGTER DIE LIEG

DIE WAARHEID AGTER DIE LIEG

2022/03/14

Annatjie, haar man, Russouw en twee dogters, Hanna en Henna woon op ‘n plaas net buitekant  die dorp.

Russouw is ‘n appelboer, Hanna en Henna help op die plaas met die boeke en administrasie van die appel-besigheid.

Henna antwoord telefoon oproepe, want haar engels is die beste van almal s’n.

Annatjie is tevrede om net huisvrou te wees en vir Russouw gelukkig te hou.

Annatjie wou nooit dorp toe gaan nie. 

Sy is vreeslik inkennig en sê altyd dat sy nie sommer mense kan vertrou nie.

“Mense het los tonge en vinnige lippe om te praat.  Mense is net kwaadstekers” sê sy altyd vir Russouw.

Annatjie weet dat die mense op die dorp oor haar praat.  Anite Naude, haar enigste vriendin in die ouetehuis het al op ‘n keer vir haar vertel.

“Wat sien die Russouw tog in Annatjie.  Hy is so knap man en Annatjie is vaal, skaam en te sedig.  So gelykmoedig” skinder die mense.

Hanna en Henna trek na Russouw se kant van die familie. Hulle is baie sosiaal en gesellig.  Die mense op die dorp sê dat hulle, soos Russouw, so  knussies is.

Elke Saterdag aand gaan Hanne en Henna dorp toe.

In die dorp is daar ‘n dans by die Tuinbousaal en al wat kêrel is vry na die twee dogters.

Nie net omdat hulle mooi is nie, maar omdat Russouw bedeeld en welgesteld is met sy appelboerdery.

Russouw het dan die bakkie vir Hanna en Henna geleen en so is hulle na die Tuinbousaal toe vir Saterdae se dans.

Uitgevat is die twee dogters.  Ingekleur, mooi rokkies en pragtige skoene.

Annatjie het dan maar altyd ‘n mandjie appels saam met Hanna en Henna gestuur om vir  die vertraagte Viljoentjies te gee.

Die Viljoentjies het op die dorp gebly en het maar finansiee baie gesukkel.

Dan het Annatjie ook ‘n bottel ingelegde appels met baie naeltjies daarin saamgestuur vir Tannie Naude wat in die ouetehuis net oorkant die Tuinbousaal woon.

Hanna en Henna het nie omgegee om die appels te gaan afgee nie.  Dit was deel van hulle goeie plig teenoor die Vader, het Annatjie altyd gesê.

Soms het Annatjie so laatmiddag tussen die appelbome gaan stap. 

Sy hou daarvan om alleen te gaan wandel.

Dan pluk sy die twee mooiste rooi appels van ‘n boom af, vryf hulle blink en sit hulle in haar voorskoot se sak.

Annatjie het ‘n perd en ‘n donkie wat sy versorg asof hulle deel van die huisgesin is.

“Dit is genoeg geselskap” het sy altyd gesê.

“Mens kan baie by ‘n perd en ‘n donkie leer.  ‘n Perd is ‘n eerlike dier en hy kan ruik as jy onvertroubaar is. 

Wanneer ‘n vals mens naby ‘n perd kom, dan draai hy sy rug op daai mens en hy sal die perd nie in die oog kan kyk nie,” verduidelik Annatjie

“Donkie is anders.  Donkie is baie slim, maar hy hom homself onnosel.  Dit vir goeie rede, want ‘n donkie sien verby iemand se eerlikheid tot by die lieg, dan sal hy skop” vertel Annatjie.

Sy het hierdie waardes vir haar twee dogter geleer.  Moenie dat mense met julle mors nie, het sy altyd vir Hanna en Henna gesê.

Annatjie het dan die twee rooi appels wat sy gepluk het, vir die perd en die donkie gaan gee. 

Die perd en donkie het vir Annatjie verstaan.

Op ‘n dag gebeur ‘n ding wat vir Annatjie so gespanne gemaak het dat sy vir drie dae nie kon slaap of eet nie.

Russouw het die prys vir die beste uitvoer appel boer gewen en die dorp het ‘n funksie in die tuinbousaal vir die huisgesin gereël.

Hanna en Henna is toegepak van vreugde, want nou kan hulle weer mooi aantrek, gesiggies inkleur en hare indraai. 

Russouw het sy aandpak laat droogskoonmaak en sommer sy baard en hare getrim.

Annatjie se senuwees sit soos ‘n rou wond in haar gemoed.

“Ag Ma, dis nie so erg nie” se Hanna toe Annatjie begin wal gooi.

“Ek het niks om aan te trek nie, gaan julle maar”

“Nee, ma moet saam” se Henna

“Aai my kind, jy weet hoe praat die mense van my.  Ek sal maar liewer los”

“Nee, ma gaan saam. Ons kan vir ma ‘n rok by Antie Naude gaan leen.  Sy is min of meer ma se nommer.”

Hanna bel toe vir Antie Naude by die blommewinkel en vra vir ‘n rok en Antie Naude stem toe in.

“Ma, Antie Naude het vir ma ‘n rok.  Daai rooi een wat sy spesiaal laat maak het vir ‘n funksie. Sy sê as die rok so effens wyd is om die middel, kan sy dit inwerk en ‘n paar darts by die rugkant insit.  Niemand sal dit eers sien nie.” Sê Hanna.

So ry Hanne en Henna dorp toe om die rok te gaan haal en ‘n paar ekstra goedtjies te koop.

Toe Hanna en Henna by die plaas aankom, is die twee suster so opgewonde oor die rok, sykouse en pragtige paar skoene vir Annatjie.

“Kom, pas aan” sê Henna vir haar ma.

Toe Annatjie in daardie rooi rok klim en die rok sit aan haar asof dit vir haar gemaak is, begin die eerste opgewondenheid in Annatjie wakker word.

“Dis nie te sleg nie” glimlag sy vir haar dogters.

“Dis pragtig, Ma.  Kom, trek die rok uit, dan hang ons hom buite vir die reuk om uit te trek.  Die rok ruik na vismotbolle” se Henna.

Die groot aand breek aan en almal  maak gereed. 

Russouw lyk besonders mooi.

“Jy lyk so hêndsom, my Man” se Annatjie en glimlag.

“Dankie my ou vrou. Jy lyk ook pragtig, kompleet soos die mooiste geskenk wat ek nog ooit gekry het”

Annatjie glimal en Russouw hou haar vas, net soos mens ‘n geskenk sal vashou.

In die kamer langsaan is die twee dogters besig met krullers en goeters vir mooi maak.

Henna kom help vir Annatjie met so klein bietjie poeier op die gesig, rooi wangetjies en net ‘n effense pienk vir die lippies.  Dis al.

Toe Annetjie die swart skoene wat Tannie Naude ook vir haar geleen het, aantrek is dit ‘n baie groot teleurstelling.  Hulle is hopeloos te groot vir haar voete.

Annatjie is verpletterd en sê dat sy nou nie meer wil saamgaan nie.

“Nonsens Ma, ons druk net watte voor by die tone in, dan pas die skoene” sê Hanna.

Henna en Hanna gryp elkeen ‘n skoen en prop die toon gedeeltjie vol watte.

“Kom, pas aan” sê Henna vir Annatjie.

Annatjie pas aan.  Nogsteeds te groot.

“Die skoene gaan my hakke nerf af skaaf” huil Annatjie

“Nonsens, Ma, ons maak ‘n plan” se Hanna

So gaan haal Hanna die mooiste rooi strikke wat sy laas jaar by die matriek dans gedra het en draai dit om Annatjie se swart skoene, so by die skoensool deur, kruis bo by die voet en dan word die strik om die engkel gedraai sodat die skoene nie uitval of onnodig rondskuif en Annatjie se voete stukkend skaaf nie.

Dit werk.  Dit lyk ook baie mooi.

Die gesin kom toe by die tuinbousaal aan en al wat mens is is daar.  Almal wens vir Russouw geluk met sy suksesvolle appels het en sê hoe mooi die dogters is.

“Annatjie, maar jy lyk deftig” sê een vrou.

“Dankie” is al wat Annatjie sê en die senuwees is rou van die groot skoene.

Al die toesprake is nou klaar en Russouw nooi die mense om maar tafels toe te gaan om op te skep.

So staan Annatjie by die gestolde slaai tafel en skep van die wortel en komkommer slaai in.  Dit lyk heerlik.

Annatjie hoor ‘n gefluister agter haar.

“Siestog, kyk dan nou die stomme Annatjie.  Dit is mos ou Antie Naude se rok wat sy daar aan het.  Antie Naude het dit nog by ons winkel kom koop vir die ouetehuis se bal.  Kyk die skoene.  Hulle is sommer twee nommers te groot vir haar.  Die stomme vrou het die goed met linte vasgebind.” Fluister die vrou verder.

Die bloed stoot in Annatjie op.  Sy wil die bord met die gestolde slaai neergooi en weghardloop, maar toe onthou se van die perd en die donkie.

Annatjie draai stadig om, kyk die vrou in die oë en met ‘n sagte, bedaarde stem sê sy:

“Julle kan maar praat.  Ek gee nie om nie.  Die skoene is ietwat groot vir my, ek weet, maar dit maak nie saak nie, want ek het die mooiste twee rooi strikke by my dogter gekry om hulle aan my voete vas te maak sodat dit nie my hakke stukkend skaaf nie. 

Russouw het gesê ek lyk vir hom soos die mooiste geskenk wat hy nog ooit gekry het, my twee dogters het my gesig mooi ingekleur en toe ek in die spieël kyk, lyk ek vir myself so mooi soos Russouw se kampioen appels.”

Annatjie draai haar rug op die kwaadstekers en met haar kyk gee sy vir hulle daardie figuurlike donkie-skop

“Dis reg Annatjie jy het daai vrou mooi in die oog gekyk sonder skaam, want jy het anderkant die waarheid tot by die lieg gekyk” hoor sy die perd in haar hart praat.

“Dis reg Annatjie, jy het daai vrou geskop dat sy vir die res van haar lewe met ‘n mankgeit in haar gemoed gaan sit” hoor sy die donkie in haar hart praat.

Soms, net soms, het ons ‘n perd en ‘n donkie nodig vir die waarheid, en ‘n Russouw met die mooiste appels in die hele wêreld.

En toe dans Annatjie en Russouw op die mooiste lied:  Safe the last dans for me.

MY BOSHUIS EN DIE LIEWEHNHEERSBESIE2022-02-18

MY BOSHUIS EN DIE LIEWEHNHEERSBESIE
2022-02-18

Wanner Liewenheersbesie by ’n mens se huis ingevlieg kom, sonder dat jy hom sien en hy kom sit op jou, dan moet jy weet dat daar ’n groot storie oppad is.

Dit is presies wat in my Boshuis met my gebeur het.

Goeie more, groet Liewenheersbesie my

Goeie more, sê ek en steek my wysvinger uit sodat sy moet opklim.

Sy klim op.

Dankie dat jy vir my kom kuier het, sê ek en kyk haar stip aan.

Ek het nie kom kuier nie, ek is hier om ’n boodskap vir jou te bring, sê sy en vlieg om my kom en kom sit weer op my vinger.

Wat bedoel jy? vra ek

Kom, dan wys ek jou, sê Liewenheersbesie en sy vlieg stadig by my voordeur uit.

Ek stap al agter haar aan. Dit was maklik 3 ure se stap.

Die drie ure het vir my soos ’n paar minute gevoel, want langs die pad kry Liewenheersbesie haar niggies en nefies en baie ander maats en ons stap speel-speel deur die bos.

Ek voel weer kind.

Na 3 ure se stap, kom daar nog honderde, duisende Liewenheersbesies by en hulle maak die mooiste rooi en swart sirkel om my. Hulle sing en dans.

Party van hulle kom sit op my hande en speel tussen my vingers.
Dis die mooiste mooi.
Ek lag uit my maag uit.

Die een Liewenheersbesie kom sit op my skouer en sê:

Hierdie is die kind van die bos. Die kind-se-hart.

Wat bedoel jy? vra ek

Hier word almal weer kind. Dis ons geheime plekkie in die bos. As jy ooit al die dinge van die wêreld wil afgooi, kom hierheen. Die kind in jou word hier wakker gemaak.

Ek verstaan.

Later toe speel ek saam met die Liewenheersbesies. Duisende kom sit op my, tel my op en vlieg met my in sirkels al om die bome tot tussen die fynste blare van boomtoppe.

Meteens word alles stil.

Vanuit die hemel, tussen die bome deur, kom daar die grootste, blinkste kristal wat ek nog in my lewe gesien het. Hy kom land voor my.
Daar is ’n deur in die kristal.

Die deur gaan oop en ek stap in.

Toe ek in die kristal staan, gaan die deur toe en die kristal styg weer op, tot ver bokant die bos. Tot ver bokant die horison.

Die son skyn deur die kristal en die hele wêreld word vol van die mooiste, helderste lig.

Dis so mooi.

Later daardie aand toe ek in my bed lê, vra ek vir Grootboom wat voor my huis staan:

Vandag was so mooi. Wat is die boodskap?

Boom skud sy blare, ’n uil vlieg uit die boom en kom sit op my vensterbank.

“Word weer kind, suiwer onskuldige kind, en skud die dinge van die wêreld af. Dan sal jy hoog vlieg” antwoord uil, knipoog en vlieg weg.

-stanley cierenberg-

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: