FAY

My niggie, Fay, het ‘n probleem met handsakke, katte en kerke gehad.
Haar opsessie kon nooit verklaar word nie, maar iemand moes dit stop sit.
Mense was bang vir haar.
Gelukkig het sy nie in Tweeling gebly nie, maar ons het altyd paastyd na hulle plaas toe gegaan.
Sy was ‘n kaalvoetkind. Heeldag in die veld agter bokke, skape en alles wat ‘n pols het, aangehol, selfs van die gediertes huistoe gedra.
Sy het nooit hare gekam nie. Die hare het al in die nek begin koek. Sondae het sy net bolangs gekam as daar mooi gemaak moet word vir kerk toe gaan. Maar onder daardie mooi gekam, lê ‘n woud van koeke.

Sy wou nie rokke dra nie. (Wel, ek ook nie)…maar dit het nie van ons Tomboys gemaak nie. Ek was maar altyd bang die wind waai my rok op dan sien mense my pentie, sy wou nie ‘n rok aantrek nie, want sy was bang die miere, springkane en allerhande gediertes loer onder haar rok in.
“Hulle kan nie sien nie. Hulle weet nie eens wat ‘n pentie is nie” sê ek
“Hulle weet.”

Dit was Augustus maand en daar tref ‘n springkaanplaag die distrik. Almal moes bymekaar kom.
Manne het vergaderings in kerke, sale, skole, onder bome, langs ‘n stoor, in ‘n rondawel en selfs in Fay-hulle se huis bymekaar gekom om die plaag te veg.

Ek was so bang en het gesê dis die einde van die wêreld. Mense, kom vat maar alles.
Fay het gesê julle kan alles vat, maar los my kat, handsak uit en almal wat in die kerk vergader moet uit. Kry ander vergader plek….uit.
Toe begin die groot veg.
‘n Apparaat wat soos ‘n jong seun wat se hormone begin pla lyk, is op ‘n bakkie vasgemaak. Lyk soos twee stewige bene wat in ‘n buig posisie oop lê, en dan spuit daardie ding by ‘n klein bekkie die wreedste wit poeier uit. Die bakkies het so voor die plaag uitgery en begin spuit. By die tyd wat die springkane by die wit poeier uitkom, is hulle so deurmekaar hulle weet nie watter kant toe nie.
Fay het daardie Augustus aangehou huil.
Ek het net gesit en kyk.
Wonder bo wonder is die plaag uitgeroei, die boere kom bymekaar in kerke, sale, skole, rondawels, agterjaart van die pannelbeaters en in Fay se huis om te braai en fees te fier.
Ek sit en kyk net.
Fay huil al die tyd.
Een springkaan het dit reggekry om te ontsnap en die huppel na Fay se kamer toe. Hy moes geweet het sy sal hom red.
“Help my” het die springkaan gesê.
Fay se kat het regop gaan sit, sy ruggie krom getrek en ‘n blaas geluid gemaak.
“Spaar my my lewe” smeek die springkaan.
“Ek sal jou help” sê Fay en kyk na haar kat.
“Simson het die fillistyne met ‘n donkie se kaak doodgeslaan. Die boere het my niggies en nefies met ‘n wit poeier gespuit en dit nogal uit ‘n hormoonbelaaide seun wat wydsbeen op ‘n bakkie lê.

Fay het die springkaan opgetel en in haar handsak gesit, vir Kat onder haar arm gesit en weggeloop.

Baie jare later, ek is al getroud en Fay ongetroud, hoor ek ‘n koor voor my venster sing.
Oom Charles wou weet wat aangaan.
Toe ek by die venster uitloer, staan daar ‘n springkaan en ‘n kat en hulle sing “Ballet of the green baret.”
Dis toe dat die kerkklok 12 uur slaan en ek weet dat Fay weer nie kan slaap nie.
Like · · Share

Advertisements

TEGNOLOGIE

TEGNOLOGIE

“Dis van afkyk na julle goeters in julle hande en knoppies wat julle aanhoudend druk, dat julle niks meer om julle raaksien nie.

Dis van ‘n gevroetel met ‘n ding so groot soos ‘n sakboekie in jou hand dat jy nie meer vir die vreemdeling glimlag nie, ook nie meer die Jasmyn in die vroegaand ruik nie, praat nie eens van die koffie en die scones op die tafel nie. Nee, so kan ons nie aangaan nie” praat Tannie Hessie Benson met iemand op die telefoon.

“Jy moet maar sorg dat jy kom kuier. Hierdie ding moet uitgeroei word.  Hierdie siekte wat die mense nou het moet genees word. Ek kan dit nie alleen doen nie. Is dit net ek wat nog die Jasmyn ruik of die bloeisels sien.  Daardie wonderlike soet reuk van die klokkies-blomme wat tot in die boonste boomtoppe kan rank is nou daar vir niks.  Wat gaan van ons word?  “  kletter Tannie Bessie die telefoon rooi-warm.

Ek wonder of sy werklik met iemand aan die ander kant praat, of praat sy maar net omdat praat praat is en dit uit haar siel moet kom?

Dit maak nie juis vreeslik saak nie, want 2 dae later kom daardie Alfonso mannetjie van oorsee hier aan met klomp skoenbokse onder die arm.
“En dit?” vra ek
“Kindjie, ons gaan die wêreld verander. Ons gaan ‘n nuwe asem in die mensdom se longe inblaas totdat daardie bors van trots opswel.  Hierdie afval-gesprekke op gedoentetjies moet tot ‘n einde kom. Hierdie tweedehandse vriendskappe van mense wat sit en lag vir die elektroniese snert in hulle hande gaan stop. “
“Maar Tannie, dis die 21 ste eeu.  Ons moet dit doen”
“Jy gaan net soos hierdie klomp om ons word.  Kan jy nie sien die wêreld gaan vergaan nie?  Kom Alfonso, haal daardie wolle uit. Ons moet begin”
“Waarmee begin, Tannie” wou ek weet.
Ek wou eers loop, maar dinge lyk vir my heel interessant en Alfonso lyk die meeste interessant.
“Kan ek jou nr kry?’ vra ek vir Alfonso
Hy frons
“Is jy op Whats app?” vra ek weer
Dit lyk of hy wil huil.
“Wat is jou profile naam?”
Dit lyk asof hy sweet.
“Kom kindjie, ons moet begin vleg.  Dis diep winter en die Lente is om die draai.  Vat vir jou ‘n rooi en wit wolletjie en maak ‘n armbandjie. Kyk, jy moet dit so om vleg en dan bind jy dit so vas.”
“Peep Peep” skreeu my foon
“Sit daardie antichrist af.  Geen mens kan armbanjies met so ding op die agtergrond vleg nie.  Alfonso, vat nog ‘n stuk wol en draai dit so om.”
Toe ek ‘n stukkie wol vat en begin vleg, kry my telefoon vlerke en vlieg tot bo in ‘n boom.  My iPad kry eendvoete en swem weg.  Al wat oorbly is die wol in my hande..
“Kind, rol daai wol so om. Jy mors.  Hierdie is spesiaal.  Knoop dit behoorlik vas.”
“Ja Tannie, maar wat gaan hier aan.  My foon is weg.  My iPad ook.”
Toe ek weer sien, sluk die boom my telefoon in en die iPad word ‘n waterval. Dis vreeslik mooi.
Daardie middag sit Alfonso, Tannie Hessie en ek met bokse vol rooi en wit wol armbandjies
“Kom kind, ons moet hierdie goeters gaan aflewer.”
So stap ons straat af en elke mens by wie ons verby loop kry ‘n armbandjie.  Die hele dorp gons al en almal het rooi en wit wol om die arms.

So gaan staan Tannie Hessie onder ‘n appel boom.
“Hierso, Alfonso, dis joune.  Kindjie, hierdie een is joune.  Sit dit aan”
Alfonso sit sy wol bandjie aan sy regterarm en hy gee vir Tannie Hessie ook een.

Die hele winter stap al wat mens is in Tweeling met rooi en wit wolletjies.

Toe die lente kom, en die eerste bloeisels kom sit aan die bome, hardloop Alfonso en hang sy armbandjie aan die boom.  Tannie Hessie sien haar peerboom begin knop en hang hare daaraan.
Ek hang myne toe aan die perskeboom.

Daardie somer gebeur ‘n wonderlike ding in Tweeling.  Die bome dra swaar aan al die vrugte, die boere se landerye is groen en ryp (ek en Alfonso ook)
Terwyl Tannie Hessie Benson vir ons tee maak toe ons op die stoep sit, skryf Alfonso iets op ‘n papiertjie.  Dis sy adres.

“Ek het nie ‘n telefoon nie, maar kom kuier by my as die somer verby is.  Ons kan lekker gesels en lag. Ons kan sommer gaan blomme pluk ook” En hy smile vir my.

UITSOEK

Met haar ou geplooide hande gooi sy die ryskorrels op die hout kombuistafel uit.

Sy hou die kleipot versigtig vas waarin die duisende korreltjies rys gebêre word.

“Soek al die korreltjies uit wat swart is of dalk net effens bruin. “My rys moet spierwit wees” het Ouma gesê.

Ek doen dit.

“Liesbet, as jy klaar geeët het, spoel jou blikbord en beker by die buitekraan af en sit dit onder in by die zienk” beveel Ouma.

Ek het stadig opgestaan en voor die groot spieeël in die sonstoep gaan staan. Daar sien ek dat ek met ‘n ekstra, baie baie dun ekstra vel oor my gesig gebore is. Amper soos ‘n vlies. Die dokter het eers my naelstring geknip en toe die ekstra vel/vlies afgetrek….en toe weet ek…..toe weet ek alles…..

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: