DIE WOUDMAN

DIE WOUDMAN
2022-06-15

So entjie buite die dorp is die mooiste woud wat jy in jou lewe nog gesien het.
In die woud groei al die koning-bome. Geelhout, Stinkhout, Swarthout en nog baie ander wiese name ek nou al vergeet het. Maar dit maak nie saak nie.

Niemand het ooit in die woud gaan stap of piekniek hou nie. Hulle was vreesbevange-bang vir die woud. Jy noem net die woud iewers in die dorp en die mense lyk of hulle horries kry.

Op ‘n dag toe vra ek vir Babsie, wat by die Tuisnywerheid werk, hoekom die mense so bang is vir die woud. Ek vra maar toe net uit nuuskierigheid uit, want Babsie by die Tuisnywerheid ken almal en elkeen se storie op die dorp.
Sy vertel toe vir my dat Bakster nr A23, die vrou wat die lemoenkoeke bak, vir haar vertel het dat daar ‘n demon van ‘n man in die woud woon. Hy toor ‘n mens. Babsie sê Bakster A23 van die lemoenkoeke sê dat daar ‘n man in die woud woon wat hou ophou met toordery en heksery.
“Maar dit kan nie wees nie Antie Babsie” sê ek en om net die ding bietjie dikker te maak lieg ek by en sê vir Babsie van die Tuisnywerheid dat ek al in die woud gestap het en niks gewaar het nie.
“Kind, moet asseblief nooit weer dit doen nie. Daai man het so gek geword dat die malligheid in sy harsings gaan sit het en as die malligheid eers in jou harsings sit, is dit verby. Jy kom nooit weer reg nie, sê Lydia by die sentrale vir my” praat Antie Babsie sonder om asem te haal.
Om die vrede te bewaar sê ek toe nou maar dat ek nooit weer in die woud sal gaan stap nie.
Ek koop toe sommer Bakster A23 se lemoenkoek en stap uit.
Ek kan mos nou voel hoe Antie Babsie my agterna bekyk, net om vir Lydia by die sentrale te bel sodat Lydia vir Bakster A23 kan bel om die storie te vertel.

Ek wag tot so agtermiddag toe ek Bakster A23 se lemoenkoek in ‘n paar snye sny, dit in ‘n bakkie sit en woud te te stap.

Al kruipend en sluipend stap ek van boom tot boom, bos tot bos, ook maar aan die bang kant, maar braaf genoeg om te sien of ek die man kan sien wie se malgeid in die harsings loop sit het.
So stap ek tot skemer deur die woud, sien niks nie en gaan huistoe.
Ek besluit om vir niemand te vertel nie.
My ma sê altyd dat Miems wat op die plotte bly sê, mens vertel nie alles vir die mense nie. Sommige dinge hou jy vir jouself.

So gaan dit toe aan vir maande, later ‘n jaar, later ‘n jaar en ‘n half, twee jaar, drie jaar, vier en ‘n half jaar tot amper 10 jaar wat ek deur die woud sluip opsoek na die man wie se gekgeit in sy harsings gaan sit het en ek vertel vir niemand nie.

Op ‘n dag, dit was ‘n Vrydag, toe ek weer deur die woud stap, so namiddag se kant, staan ek agter die mooiste geelhoutboom wat ek nog gesien het. Ek vergeet om bang te wees en vryf oor die stam van die boom. Dis asof die boom se hartklop in my hartklop kom lê het. Doef….Doef….Doef…

“Hierdie boom het jou klaar gekies. Sy hartklop val by jou hartklop in” praat iemand agter my.
Ek skrik nie. Weet jy, dis asof ek geweet het dat iemand gaan praat.
Ek kyk om.
Daar staan ‘n baie ou man met lang grys hare, soos toutjies, ‘n lang baard, potblou oë wat glimlag en stukke lappe vir klere, en hy kyk my aan soos ek nog nooit aangekyk is nie. Diep kyk.

Met ‘n baie stadige, kraakstem sê die Woudman dat hy my al vir jare dophou. Ek moet saam met hom stap. Ek verwonder my aan die man en sien toe die mooiste Wolf-pels om sy skouers hang. Spierwit wolf. Baie mooi.

Na ‘n uur se stille stap, stop ons by sy houthuis. Dis mooi.
Die huis staan onder ‘n geelhoutboom en iewers agter die huis hoor ek ‘n waterval, maar ek sien niks nie.
“As die wind reg waai, hoor jy hom tot hier” praat die Woudman met my.
“Dis mooi” sê ek.
“Moenie bang wees nie. Ek wil vir jou ‘n storie vertel” praat die Woudman verder.

Hy begin:
“As jongmens, baie jare gelede, het ek hier kom woon. Hier tussen diere en bome. So na ‘n jaar kom ek toe agter dat ‘n wolf my agtervolg, oral waar ek gaan. Maar snaaks, ek was nooit bang vir die wolf nie.
Snags het hy langs my by die vuur kom sit en as ek kooi toe gaan het hy so langs, byna op my voete, kom lê.
Ek het maar gewoond geraak aan die wolf en dit so aanvaar en nooit enige vrae gevra nie.
Soms het Wolf vir ‘n dag of so weggebly, dan weer opgedaag met ‘n ding in die bek. Of ‘n veer van ‘n arend of ‘n geraamte van iets. Hy het dit dan hier langs my kom neersit.
Die Arend se vere het ek dan maar in hierdie houtpotjie gesit. Kyk hier” en hy wys vir my, “hier is al die vere”
My mond hang oop.
En toe Oom? Vra ek

“Op ‘n dag, toe Wolf nou al goed lank in die tand is en nie meer so baie wil rondloop nie, het hy my in die oë gekyk en met sy siel vir my gesê dat wanneer hy die dag doodgaan, ek sy pels moet afsny en die mooiste karos vir my maak. Dis die pels van wysheid” het Wolf my aangesê met sy oë.
“Kon Oom dan Wolftaal verstaan” vra ek
“As jy lank saam met ‘n dier bly en jou siel is reg, hoor jy as hy met jou praat. Diere praat net met mense wie se siele reg is” sê die Woudman
Hy gee die Wolf-Karos vir my aan om te voel. Dis so sag.
“Nou ja, toe Wolf doodgaan het ek die vel afgesny en die res van Wolf begrawe. My hart was seer.
Maar in die Wolf-Karos het ek wysheid gevoel en snags wanneer ek die karos oor my trek, het die wonderlikste goed in my kop kom lê. Soms het ek my verwonder aan my eie gedagtes, maar ek het geweet dat dit van Wolf af kom.”
“Dis ‘n mooi storie” sê ek
“Hierdie is nie ‘n storie nie, dis die waarheid.” en die
Woudman gooi nog ‘n stuk hout op die vuur.
Ek sien die houtpotjie vol vere.
“Daai vere dra groot stories en wyshede. Wanneer Wolf so weggeraak het vir dae, het hy na die waterval, wat jy hier agter hoor, gegaan, tussen die rotse en kranse geklim, tot heel bo, daar waar geen mens kan klim nie. Daar het Arend gebly. Arend het dan ‘n veer of twee laat val en Wolf het dit vir my gebring. As ek nou mooi dink, dit was met volmaan wat Wolf dit gedoen het.
Ek het die vere mooi gebere, soos jy kan sien.”
Ek kyk die Woudman aan met verwonderring.
“Gaan haal daai houtpotjie met die vere vir my. My ou bene is styf van die koue en die vuur maak my voetsole warm” sê die ou man.
Ek doen dit.
Stadig haal hy ‘n veer uit die potjie, hou dit so teen die vuur, prewe iets en vryf met hande vol liefde oor die veer. Hy gee die veer vir my.
Hy haal nog ‘n veer uit en doen dieselfde.
“Nou ja, Kind, hier is jou eerste vere. Kom, dan druk ek hulle in jou vlerke, want ek kan sien dat jy gebore is om te vlieg en nie te kruip nie. Hier is jou vlerke, vlieg nou” sê die Woudman
Ek staan op, vryf oor Wolf-Karos, kyk die Ou Man in die oë en toe glimlag hy vir my.
Daardie dag het ek gevlieg, ver van die wrede wêreld met sy wrede mense, tot bo by die waterval en daar het ek gebly vir die res van my lewe.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: