MY BOSHUIS EN DIE BY

MY BOSHUIS EN DIE BY
2022-02-15

Dit gebeur min dat daar ’n kuiergas by my boshuis kom kuier.

Hierdie is nie sommer net ’n gewone kuiergas nie, dis ’n engel van ’n kuiergas, ’n belangrike gas.

Ek het vir lang na hom gesit en kyk waar hy rustig teen die kristal-vensters van my boshuis gesit het. So asof hy ’n boodskap het. Hy het in die sonkolletjie gaan sit wat met die eerste oggend-son by die venster inskyn.

“Hallo By” het ek versigtig gegroet.

“Hallo Jy” het die by grappig gesê en sy fyn deurskynende vlerkies gewapper om die mooiste musiek vir my te bring.
Hulle sê dat daar musiek in bye se vlerke sit.

Die klank van jou vlerke is mooi, het ek gesê.

Dis die klank van oorvloed en vooruitgang, sê By vir my.

Ek dink aan die goud-geel heuning wat hulle maak en my gedagtes vat my na die soetsmaak van melk en heuning.

Die gevoel om emmers vol heuning in die bos te gaan soek, kom sit in my kop en ek begin dink waar kan ek ’n paar emmers kan kry.

Jy mag nie blomme afpluk en in jou huis sit nie, gryp By sommer woorde so uit die lug uit.

Ek sal dit nooit doen nie, sê ek.

Maar hoekom sê jy dit vir my? vra ek vir By

As hier nie meer blomme is nie, sal ons ’n ander blyplek moet gaan soek en ons koningin het gesê dat sy graag by Grootboom wil bly.

Daardie wit blommetjies langs jou voetpad is die beste vir heuning maak, praat By verder.

Ek sal nie pluk nie, ek belowe. Bly net hier by my, vra ek

Hoekom het julle skerp angels waarmee julle ’n mens so seer steek? vra ek

By klap sy vlerkies, soek ’n ander sonkolletjie en loop in klein sirkels teen die kristal-venster.

Jy sien, baie jare gelede het ons nie angels gehad nie.

Ons is hardwerkend en het baie heuning gemaak. Baie van ons families het sommer so langs mense se huise gaan korwe maak, want by huise is baie blomme vir baie heuning maak.

Die mense het toe emmers vol heuning kom uithaal vir hulle eie gebruik.
Hulle het so baie kom haal, dat ons al harder moes werk om nog heuning te maak.
Tot op ’n dag wat Ons Koningin gesê het dat hierdie vraatsigheid van die mensdom moet stop.

Die mens word nou gierig en selfsugtig. Ons sal ’n plan moet maak om die mens te stop.

Toe sê ons koningin vir die heelal om vir ons baie skerp angels aan te sit, sodat ons die mens moet beheer wat ons harde werk kom vat sonder om te weet wanneer om te stop, vertel By die storie vir my.

Nou moet die mens baie versigtig wees om ons goudgeel heuning uit te haal.

Hulle moet eers toestemming vra.

Ons gee nie om om heuning vir siek mense te gee, want sien, ons heuning is medisyne, praat By verder.

Dit is ’n vinnige praat wat By praat, want hy moet by die werk uitkom.

Ek verstaan, sê ek.

By vlieg van die kristal venster af en kom sit by my houttafel. Op die tafel staan ’n bekertjie melk.
By gaan sit op die kant van die bekertjie.

Maar omdat jy hier woon en nooit ons blomme pluk vir potjies in die huis nie, kan jy vir jou ’n skeppie heuning kom haal.

Nie emmers vol nie, nooi By my uit, net genoeg vir die warm melk.

Ek stap toe saam met by tot by die Korf, groet die Koningin en al die ander bye en skep vir my twee lepels van die soetste heuning uit die nes.

Ek sê dankie.

Daardie aand roer ek die heuning saam met warm melk en drink dit.

Mens moenie vraatsig wees nie. Vat net wat jy nodig het, dink ek en gaan slaap.
Net voordat ek aan die slaap raak, hoor ek die mooiste musiek wat van buite af kom.
Toe ek by die venster uitkyk, is daar duisende bye wat om my huis vlieg en vir my ’n liefdeslied sing….soete liefde.

-stanley cierenberg.-

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: