DEEL VAN DIE WYSHEID

DEEL VAN DIE WYSHEID
2022-02-14
396 WOORDE

Ek het vir die boom gevra hoe oud hy is.

Ek is baie baie jare oud, het die boom gesê.

Hoeveel is baie baie jare? het ek gevra.

Baie, het die Boom gesê.

Hierdie boom staan in die woud vandat ek my verstand gekry het. My pa en sy pa en sy pa weet van die boom. Hy moet dan baie oud wees.

Soggens as ek wakker word, is dit die eerste vir wie ek groet. Die eerste vir wie ek kyk. Die eerste van my eerste asem.

Maar ek wil nooit aan die boom raak nie. Daar is iets heiligs in die boom wat my waarsku. Maar die nuuskierigheid het aan my geknaag totdat ek een dag vir die boom vra of ek aan hom kan vat.

Boom, mag ek aan jou vat asseblief? het ek versigtig gevra.

Natuurlik mag jy. Jy moet net versigtig vat, sê boom

Ek vat versigtig aan sy growwe stam wat al diep, gebarste bas aan die stam het. Baie baie jare se bas.

Mag ek maar op jou wortels staan wat by die grond uitkarbonkel? vra ek

Jy weet, as jy op my wortels staan, gaan daar wortels by jou voete uitgroei tot diep binne in die aarde in, het die boom gesê.

Dan word ek ’n boom, het ek gesê.
Ja, dan word jy ’n boom.

Ek het op die wortels gaan staan en versigtig met my wysvinger tussen die gleuwe van die gebarse bas aan sy stap begin vat.

Dit is die padkaart na my hart toe, het die boom gesê.

Volg net die pad, praat hy verder.

Ek het met my vinger aan die spoortjies tussen die gebarste bas gevryf en hoe hoër die spoortjies ophardloop, hoe verder moes ek rek totdat ek nie meer kon rek nie. Ek het later begin sweef om nog verder op te beweeg.
Dis die gees in die boom wat my laat sweef.
Ek sweef tot heel bo by die boonste top van die boom.
Tot daar waar mens nie meer kan sweef nie.
In ’n mikkie is die mooiste, klein nessie met ligblou eiertjies in.
Dis die nes van die groot voël, sê die boom.

Toe kom Arend verby gevlieg, kom sit op my skouer en sê;
“Nou is jy deel van die wysheid. Jy het jouself gekry”…
Dankie boom
Dankie Arend
-stanley cierenberg-

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: