DIE SIEL VAN DIE BOS

DIE SIEL VAN DIE BOS
2022-02-02

765 WOORDE.

Gewoonlik praat mense van hulle huisie in die hart van die bos of die woud.

Ek praat vandag van die huisie in die siel van die bos. Die siel lê net so bietjie dieper as die hart.
Jy stap verby die hart van die bos deur sy gees tot by sy siel. Dis ’n stukkie waar die gewete van die bos ook lê.

Ek het tot daar gestap en tussen die fynblaar varings, growwe blaar varings en dan die skaam varings wat mens net sien wanneer jy baie mooi kyk, het ek bly staan.

Mens sal nou amper dink dat jy moet fyn kyk vir die fyn varings, maar dis nie so nie. Hulle groei net onder die grofblaar varings.

Dis die skaam-varing wat ’n mens nie sommer sien nie. Hy groei nie te groot nie, net so enkel-hoogte. Maar wanneer jy hom sien, moet jy respek hê, en langs hom kniel, vir hom sê dankie dat hy homself vir jou gewys het.

Ek doen dit elke keer.

En dit is hier waar my huis staan.

Nou die ander ding wat my kwel, is die woord ‘huis’.
Ek het nie juis ’n ‘huis’ hier gebou nie, maar eerder ’n stillasie.
Dis eenvoudig. Die mure, dak en vloer is van hout en die vensters is van die fynste kristalletjies wat ek in stringe aanmekaar gebind het.

Wanneer die son deur die venster skyn, maak hierdie kristalle die mooiste kleure in my huis. Dis so mooi, dat geen woord dit kan beskryf nie. Maar ek het een woord gekry wat dit beskryf.
Daai woord se naam is DEERNIS.

Laat een oggend kom Arend verby gevlieg en gaan sit in die groot dikstam-boom wat voor my stillasie staan.
Hy het vir lank gesit sonder om iets te sê en ek het vir lank gekyk sonder om iets te sê.

Toe die son van die vensters af wegtrek en die Deernis het stil geword, vra ek die vraag wat ek al vir so lank vir Arend wil vra.

“Kan ek eendag saam met jou vlieg?’ het ek gevra.

“Jy kan” het Arend sonder om te aarsel gesê.

“Wanneer?” vra ek

“Ons kan more oggend met die eerste lig vlieg” het Arend gesê.

“Waar gaan ek vlerke kry?” vra ek

“Ek sal vir jou bring.” en toe vlieg Arend weg.

Net toe Arend agter die kranse verdwyn, kom Perd om die groot boom gestap, ruik aan ’n pers blommetjie, gooi sy dik nek agteroor en skreeu my naam. Die bos gee antwoord.

Perd is die stem van die bos.

Perd kom staan voor my en druk sy neus langs my nek in. Ek ruik die perd in hom. Ek ruik die liefde in hom. Ek ruik tot die vegter en gevaar in hom. Dis ’n ander soort reuk wat mens nie sommer geruik kry nie. Soos die siel van die bos,….verstaan.

Perd sê dat hy voor my deur wil bly vir die aand.

‘Hoekom?’ vra ek

“Jy moet met die reuk aan die slaap raak” sê Perd

“Watse reuk?” vra ek

“Die reuk van vegter en gevaar”

“Hoekom dan so?”

“Sodat jy gevaar en veg kan uitryk as dit na jou kant toe kom” sê Perd.

Vroeg die volgende oggend is Arend voor my deur.

Hy druk ’n paar Penvere in my arms, al langs my bo-arm verby, klomp kleiner veertjies by my elmboë en dan 9 groot vere in my voorarms. In my hande druk hy ’n klos Penvere wat so sterk soos ’n uitgegroeide man se krag is….dalk nog sterker.

Ons vlieg.

Toe ons by die Bloukrans kom, gaan sit ons op die krans wat oor die hele bos uitkyk.
“Nou moet jy een van jou penvere afgooi sodat dit op die regte plek gaan val” sê hy.
“Maar ek kan nie van my vere weggooi nie. Hoe gaan ek verder vlieg”
“Gooi die veer af” sê hy.

Ek gooi ’n veer af en die veer val op ’n jong seun wat kop onderstebo in ’n skoolbankie sit. Die veer val reg voor hom neer en die kind kyk op.

Toe die kind by die venster uitkyk, vlieg daar honderde Arende in sirkels om hom en sê:
“Jy sal nooi weer geboelie word nie. Jy sal nooit weer seergemaak word nie. Jy sal nooit weer pyn kry nie. Vat daai veer en vlieg hoog”
Die kind tel die veer op en hy vlieg tot by ons waar ons op die krans sit wat oor die bos kyk.

Toe ek in die kind se oë kyk, sien ek myself.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: