WAARHEIDS-KRINGE VAN DIE VOLMAAN

WAARHEIDS-KRINGE VAN DIE VOLMAAN
2022-01-30
01:47 AM

As dit volmaan is gebeur alles soos die moet.

Dis asof die volmaan ’n wysheid in my boshuis kom blaas.

Ek slaap maar min in hierdie tyd. Ek wil nie die volmaan wegslaap nie. Ek wil hom bekyk en met hom praat totdat die praat op is. Dit hou gewoonlik die hele nag aan.

Wanneer die maan sy eerste stukkie lyf begin wys, dan pak ek die vuurmaakhout soos ’n kerk se toring. Heel bo aan die toring hang ek ’n stukkie van die Waarheid Boom se hout. Net ’n klein stukkie, want ek sal gestraf word as ek te veel van die hierdie boom brand. Ek gee ’n stukkie van daai boom vir die maan en sy wysheid.
Wanneer die maan volrond oor my huis hang, praat die vuur met my. ’n Diep praat.
Dit gaan so:
Jy sal alles in die vlamme sien, sê die vuur vir my.
Ek kyk diep deur die vlamme, totdat ek myself in die vlamme sien staan. Dis dan wanneer die maan sy praat beginne praat.

Agter my hoor ek ’n sagte voeteval en die reuk van Perd en vuur meng met mekaar. Dis tyd.
Perd groet my met ’n sagte snuif deur sy groot neusgate.
“Die waarheid is nou hier” sê perd.

Toe die vuur byna uitgebrand is en die Waarheid-boom se stukkie stomp se rook trek in kringe tot binne in die maan, hurk perd langs my en ek klim op sy groot, breë rug.
Toe ek my sit kry, gaan staan hy op sy agterbene, gooi sy kop die hemelruim in (asof hy die sterre wil blink lek) en hy spoeg sy runnik oor die bos uit.
“Dis die roep van die rooi indiaan” sê hy.

Perd stap al om die vuur, ek skat so 11 keer of wat. Ritmies. Tik-Tak….Tik-Tak….Tik-Tak….totdat die ritme in my hartklop kom sit.
Ons hartkloppe word een saam met die vuur se laaste rook wat in kringe tot op die maan gaan sit.

Ek sak my voorlyf tot op die perd se nek, druk my oor teen sy maanhare en lê so totd in die laatoggend ure wanneer die maan weer aan die ander kant van die aarde wegsink.

Deur Perd se maanhare klim die waarheid by my siel in…baie diep in om daar te bly lê.

Toe ek wakker word, vryf ek Perd se Voorkop-maanhare weg en toe kom die son deur sy voorkop op. Alles word lig en die lieg van die wêreld het saam met die vuur uitgebrand.
Ek weet wanneer mense vir my lieg…die maan vertel alles vir my, want die perd het ’n Arendsveer in my hare kom druk.

-stanley cierenberg-

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: