DIE BEWAAR VAN ’N NAAM
2022-01-15
Die wind het maar ’n baie snaakse manier om vir jou op jou naam te roep in elke straat, dorp en om elke hoek.
Hierdie storie het begin toe ek onder die Kameeldoringboom gesit het.
Die boom het vir my gevra om ’n doring van die grond af op te tel, en in die sand te skryf.
“Wat moet ek skryf?” het ek vir die boom gevra.
“Skryf die naam neer” het die boom gesê.
Ek het nie gevra wie se naam nie, ek het geweet.
Ek tel toe die langste doring op, hou hom tussen duim en wysvinger vas en beginne skryf.
Ek skryf toe ’n baie brawe oom se naam in die sand neer. Ek het dit netjies geskryf net omdat die oom ’n netjiese oom was.
“Piet” skryf ek en onderstreep dit. Ek skryf vir die tweede keer Oom Piet se naam met die doring in die sand en glimlag.
“Dis reg” sê die boom
Op ’n keer het ek langs ’n rivier gesit.
“Skryf die naam neer” het die rivier vir my gesê.
Ek het nie vir die rivier gevra wie se naam ek moet skryf nie, ek het net geweet.
Ek skryf toe ’n Heilige naam neer, sommer so in die los sand langs die walle van die rivier met my wysvinger.
Die volgende dag vra die wind vir my om verder te stap.
Ek maak my goedjies bymekaar, sit dit in my rugsak en stap.
‘’n Week later klop ek aan die deur van die vriendelikste Antie wat ek nog ooit in my lewe gesien het.
Dis ’n baie grênd antie. Sy het ’n mooi hoed op die kop, ’n netjiese rok en bypassende sandale. Sy het selfs die mooiste ringe aan wat ek nog ooit in my lewe gesien het.
“Kom sit, Kind, ek het geweet jy gaan kom. Ek het gewag” sê die antie.
Ek stap in en gaan sit. Sy gee vir my ’n glas melk en die lekkerste soet koekies. Ons praat so bietjie oor dinge, maar toe sê sy vir my:
“Kind, skryf die naam neer” en sy glimlag.
Ek skrik myself sodat ek die rittels kry, maar ek sê toe vir myself om later te skrik. Om nou te skrik gaan die hele storie bederf en die Antie gaan my wegjaag.
Ons stap toe deur haar tuin en daar op ’n netjiese bedding wys sy vir my om te skryf. Ek tel ’n stokkie op en skryf.
“Elizabeth” skryf ek.
Dit lyk so mooi. Ek pluk ’n paar blommetjies en pak dit om die naam.
Ek het daardie aand heelnag langs die see gesit en luister hoe hy spoel. In en uit. Dis ritme. Die wind het ook sy ritme.
“Jy moet nou gaan” sê die see vir my.
Om middernag stap ek verder en 5 weke later kom ek by ’n baie kwaai man aan.
Hier het die Antie se rittel-skrik en hierdie Oom se rittelskrik in my kom klim. Ek het eers om ’n hoek gestaan om klaar te skrik, toe stap ek nader.
“Kom Boeta, skryf daai naam hier neer. Hier, ek wys vir jou hier en nêrens anders nie. As jy dit op ’n ander plek skryf, gaan daar moeilikheid wees, verstaan jy?”
Die ritteltit kom terug en hy gee vir my ’n baie ou potlood om te skryf.
“Mag ek net eers aan die potlood ruik, asseblief Meneer?” vra ek
Hy glimlag en sê, Ja.
Ek ruik ou skryf. Ek ruik ou woorde. Ek ruik baie sinne. Dit is ’n lekker reuk.
Ek sak op my knieg en skryf die naam in die Vrystaat sand.
“Wilhelm” skryf ek. Dit klink so mooi.
Hy sê toe vir my:
“Boeta, jy kan maar daai potlood hou, maar voordat jy gaan, skryf die naam vir ’n tweede keer neer.
Ek skryf
“Nee, nie langs mekaar nie, skryf die naam bo-oor die klaar geskryfde naam”
Ek doen dit.
Die naam is diep in die grond gekrap.
Ek staan op, skud sy hand en loop weg.
Daardie aand laat gaan staan ek op die hoogste berg en bekyk die wêreld in stilte.
“Nou kan ons maar begin” sê die wind vir my
“Begin met wat?” vra ek
“Met die seremonie” sê die wind.
Ek haal toe die Oom se Potlood uit my hempsak en skryf baie name in die sand op die bergpiek neer.
Toe ek klaar is, kom die wind op en hy waai. Hy begin waai by die Kameeldoringboom regoor die hele land tot hier waar ek op die berg staan.\
Die wind het al die name weggewaai, maar nie weg soos in heeltemal weg nie. Kom ons sê nou maar liewer, die wind het die name opgetel en dit in my hart in kom waai.
Vandag staan ek hier om al hierdie name met my mense te deel en sommer ook te gee.
Ek gee Port Elizabeth se naam, Potgietersrus, Nysltroom, HF Verwoerd, Piet Retief en so kan ek hulle opnoem.
“Ons sal julle nooit vergeet nie!” skreeu ek van die bergtop af en die hele wêreld staan op aandag.
Hierdie dag moet julle in julle se dagboeke aanteken, met die mooiste pen of potlood wat julle het en. As julle nie pen en papier het nie, skryf dit sommer in die sand. Dit wind sal die optel en bewaar, moenie worry nie.
-stanley cierenberg-
Leave a Reply