DIE KALAHARI
2021/12/18
Kalahari praat nie baie nie,
Hy luister fyn
En kyk ook fyn
Kalahari is nie grênd nie
Maar uitgevat van wysheid
Jy vra nie sommer ‘n vraag
vir Kalahari nie, sy antwoord
mag jou dalk in die bek ruk.
Wanneer jy Kalahari se rooi
sand vat vir stap, trap mooi.
Jy trap nie op Gemsbok se spoor nie
Jy trap nie die fyn blaartjies van ‘n
bossie plat nie, jy sal berou.
Gemsbok is die Koning van Kalahari
-heilige bok met wie jy nie mors-
By die watergat sal Gemsbok se
horings oor die horison gesien word
Gemsbok sal jou na die soetfontein toe
vat, daar waar jy gevoed sal word…
Gemsbok praat met die Kalahari
Kalahari praat met Gemsbok
As jy mooi luister, sal jy die Gemsbok
in JOU stem hoor
As jy mooi kyk, sal jy Kalahari
in JOU hande sien,
As jy mooi soek, sal jy ‘n
voetpad in JOU handpalms kry….
die voetpad na omgee.
Jy is die Gemsbok
Jy is die Kalahari.
(Inspirasie: Hennie Calitz)
Uitstekend.
LikeLike