RITME VAN STILTE
WITKRUISMONUMENT
YSTERBERG
2021-09-04
Soos die boer se hartklop val die perdehoewe op die sandpad.
Ek stap net agter Prins, die perd met die wyse kyk in die oog.
Die veld is stil, dis net boer se hartklop en die perdekloue se klik-klak.
O God, bid ek na bo, hou my regop sodat ek nie knak.
Hoog teen die kliprand begin die kruise al knipoog. Elke kruis is ’n boer,
’n slagoffer van plaasmoord. My oë probeer om die kruise te tel, dis te veel.
Hoog teen die kranse kom ’n valk aangesweef. Nie met klappende vlerke nie, maar stil met net die wind wat hom aanhelp om ’n sirkel om die kruise en die perde te maak.
“Hallo Valk” groet ek en vra sy naam.
“Ek is die Vrede Valk,” sê hy.
Die veld is stil. Hier en daar blaas ’n perd en ’n boer praat die perd aan.
Die stilte is Heilig.
Langs die sandpad staan die Tamboekie-gras so heuphoogte. Vol in saad.
“Hallo Tamboekie gras” groet ek.
“Hallo. Julle sal weer opstaan, vol en gesond” sê die grassade vir my.
“Dankie Tamboekie gras”
Klik-klak…klik-klak val die perde se hoewe ritmies op die sand.
Hoog teen die blou hemel klim die gekleurde vlae van vrede uit…tot heel bo, daar waar die hemel opraak. Die blou-hemel is God se woonplek…die groen is die boer se handewerk. Ons sal werk.
In ’n emmertjie met water staan ’n klossie wit rose.
Ek probeer om hulle te tel, maar die huil lê vlak
Die tannie op die perd met die kappie op laat haar kop sak
Ek kyk vir haar, en sy vir my, sy is die mooiste roos.
Wit is mos reinheid.
Wit is mos skoonheid.
’n Boere-Man skuif sy velhoed op sy kop rond. Die son gaan warm word, maar ons sal sit. Ons sal bid en niemand gaan ons sit kom steel nie. Niemand sal ons bid kom vat nie. Vryheid is in elke oog.
Toe my voorlyf wou knak van hartseer vir my volk, druk Prins sy wyse oë tot teen my gesig.
“Wat moet ek maak?” vra ek
“Staan sterk” sê Prins.
Ek staan.
Toe my voete brand soos die vuur in my hart brand, gaan staan ek by Roy. Die Koning perd.
Sy kyk is die van troos en hoop.
“Wat wil jy sê?” vra ek vir Roy
“Ek kom om jy te haal” sê Roy
“Soos die blinkvosperd?” vra ek
“Soos die blinkvosperd” sê Roy.
Toe weet ek:
Vir elke boer is daar nog ’n paar vlerke aangesit om hoër en hoër te vlieg, net soos die Vrede-Valkie in die wind.
Toe breek die vyand se vlerke, en hy val tot onder die perde-hoewe…
ONS oorwinning is soet, net soos die reuk van die reinheid in die spierwit roos.
En dis toe dat die kranse antwoord gee: “Nou is hierdie ons paradys”
-stanley cierenberg-

Leave a Reply