VALMAY
2021/08/12 Ficksburg
DEEL EEN
Jou engel het aan my deur kom klop
met ‘n canfruit vol boodskappe, woorde
en beloftes van troos en omgee.
Die engel het gesê dat ek die bottel moet oopskroef
en die woorde druppel vir druppel moet drink.
Die profeet staan voor my met ‘n rugsak vol van
onthou – fabels en verhale van berge en dale.
‘n Stukkie uit Bloemfontein, ‘n handjievol van Clocolan
en sommer ‘n boom vol kwetter-vinke met sonsak uit
Senekal en die hele kontrei.
Jou Boodskapper kyk my in die oë met die doel om te kyk,
“vat my woorde en hoor ons hartklop” sê hy soos ‘n
perd wat oor die Oos Vrystaat vlakte gallop.
My Mens, jou ore kon hoor wat geen ander oor kan hoor.
Jou oë kon sien wat geen ander oog kan sien.
Jou hart was oop vir elke vernielde siel
wat deur die wêreld gefnuik, beroof en bedrieg is.
Ek het jou boodskap per hooftelefoonlyn gekry – DANKIE
Weet dat jou woorde sag in my hart kom lê.
Maar nou het jy jou gehoorstuk opgehang en afgelui
en geen telefoonlyn sal ooit weer beset wees nie.
Koebaai for now,
ek gaan nou maar eers aflui.
Koebaai
©STANLEY CIERENBERG
Leave a Reply