TA’ MALIE
2021/01/09
“Kom, haal daai brood uit die oond, hy is al goud-bruin-mooi” sê die Antie
“Ek haal uit, Mêrrim, maar hy is baie warm”
“Vat die doeke en keer hom uit” order die Antie
“Mêrrim, die mense by daai tafel soek hom nog so warm. Ek gaan hom net ‘n
rukkie in ‘n plastiek sakkie sit sodat die kors lekker saf bly” sê Truida.
“Truida, smeer hom sommer aan die onderkant met lekker botter sodat hy goed kan
deursny en nie stukke afbreek nie” praat die Antie voort.
“Ons maak hom mooi, Mêrrim, moenie worrie nie”
Dis ‘n lekker spul wat hier onder die bome aan die gang is.
“Mêrrim, kan Mêrrim nie net vir ons sommer daai Vye-jêm ook uithaal. Daai kastomer wil
die hele pot jêm koop. Hulle gaan sommer hier sit en eet”
“Hey, Katools, jy moet klaarmaak met daai worse op die kole, en moenie lat die wors bars en spuit nie. Daai kastomers wag” skreeu Truida daar na die vuur se kant toe.
Katools ken van vleisbraai. Doen dit al vir jare lank. Sy pa het gebraai en sy pa se pa…en so gaan die streep pa’s aan wat gebraai het.
“Truida, wat is kastomer in engels?” vra Katools
“Kastomer is die engels. Klieënt is die Afrikaans” skreeu Truida
“Sal julle ophou praatjies maak, en kry klaar met die kos. Die kastomer onder die boom wag al lank. Vat nog koffie vir hulle” skreeu die Antie van die kombuis se kant af.
Tafel twee se mense het sommer met tafel 3 se mense begin gesels en toe kom daar vreemdes wat sitplek soek. Al die tafels is reeds toe onder die mense, maar tafel 3 sê dat hulle maar hier moet kom sit.
Dis net aangename kennis en sit gerus en hand skud en waarheen is julle oppad en waarheen gaan julle?
Truida vat solank die brood en die mense sny sommer dik snye af.
Tafel twee se antie sny sommer so skaapwagter sny vir die mense op tafel drie en die vreemdes kry die agterkantste korsie met botter en jêm.
“Heitou, hoor dan daai lekker konsertina nommertjie. Nico Carstens, sê ek jou. Dis hy daai. Dit smaak ons kan sommer hier onder die bome dans” sê die een oom
“Nee man,” praat sy vrou hom aan, ‘eet eers’
En so gaan dit.
Dit ruik na kos, mense en gesels.
Die tyd stap maar aan, dag vir dag, week vir week, jaar vir jaar….amper eeu vir eeu….en hier staan die Antie met haar hande in haar sye, Truide vee ‘n traan uit die oog en Katools gooi water op die laaste kole. Dis nou klaar.
“Koebaai, Ta Malie, dankie vir die kos” sê ek
“God seën vir jou” sê Truida en druk my teen haar vas, haal dan haar voorskoot af en vou hom op. Sommer net so.
“Koebaai vir now….Ta Malie, Koebaai vir now”
Toe stap ek weg en huil oor alles.
©Stanley Cierenberg.
Leave a Reply