ANTIE HESSIE VERTEL VAN DIE VERF-WERK.

ANTIE HESSIE VERTEL VAN DIE VERF-WERK.

2020\12\31

Om vir Antie Hessie in die teekamer vir die dorp raak te loop is ‘n skaars gesig.

“Ek hou my uit sulke plekke uit” sal sy altyd sê.

Dan moet ek ook nou maar bylas, sy het tog maar ‘n wil iewers in haar gehad om tog so nou en dan daar te gaan sit.  Net om te kyk.

En dis hoe die ding toe begin het.  Ou miesies Holtzhauzen, wat die teekamer besit, het sommer so met haar oë vir my gesê dat ek en Antie Hessie maar liewer moet loop, ons ontstel glo die ander gaste.  Gmf….ek het net te hard gelag, daai is maar al.

Maar ek gaan haal nie die storie op ‘n plek waar hy nie gehaal moet word nie. Ek gaan voor begin.

Woensdag is Pension-dag by die teekamer en dan kry die mense verniet ‘n pannekoek met elke pot tee. Ook maar suinig.

Maar dis hierdie einste dag wat ek vir Antie Hessie daar raakloop.

“Kom sit, Kindjie, kom, vinnig, hier moet gepraat word”

Nou ek weet ook al teen hierdie tyd as sy met “Daar moet gepraat word” beginne, daar groot praat oppad is.

My nuuskierige aard is maar so dat ek sommer gaan sit en vooroor leun.

“Kind, moenie jou lyf so oor die tafel gooi nie, dit is ‘n teken van skinner”

Ek sit regop

Antie Hessie kyk om haar rond, druk haar bril met haar middelvinger op en beginne met die storie.

“Kind, sien jy daai vrou wat daar sit met die Sproetebont gesig?”

“Ek sien, Antie”

“Sy vertel toe vir my so week of wat gelede…nee…was dit ‘n week.  Nee, dit was die week voor hulle die biduur by haar huis sou hou, so dit moes twee weke gelede wees, want bidure is eerste Woensdag van die maand. Ja, twee weke gelede.

Sy vertel toe vir my dat sy vir die Polliewitvoet man van die onderdorp moet kry om haar sitkamer te kom uitverf.  Dis al verwer in die dorp wat op kort kennisgewing sal kom help.

En sy werk is nie te sleg nie, vertel die Sproetebont-gesig vrou vir my.”

En Antie Hessie loer weer na die Sproetebont-gesig vrou se kant toe en vee met haar plathand so oor die tafelblad, so asof sy stof of iets wil afvee.

“Maar vir wat wil sy haar sitkamer uitverf vir ‘n biduur?” vra ek toe.

“Kind, net Die Here Alleen sal daai vraag ken, maar ieder geval, sy vertel toe vir my dat die Polliewitvoet-man toe sommer daar by Ou Mister Hodes se winkel gaan verf koop het en so kom hy toe met sy kwaste, verf en lang leer by die vrou aan.

Of nee, hy het nie sy eie leer gebring nie, hy het die vrou se leer gebruik, as ek nou die storie reg kan verstaan.

Kind, maar Ou Polliewitvoet is mos maar gedurig dronk, maak nie saak watter tyd van die dag dit is nie.

So begin die verwery, vertel die Sproetbont-gesig vir my, en hy verf dat dit goed gaan. Dan die kant toe, dan daai kant toe.

Toe dit nou by die strepie op die muur moet kom waar die prente gehang moet word, wat nou ‘n ander kleur geverf moet word, korrel ou Polliewitvoet sommer so met die oog en verf die strepie sommer so met die vryhand in, vertel die vrou toe vir my.”

Soos Antie Hessie die storie aanmekaar las met stukkies hier vat en stukkie daar vat, sien ek nou al vir Polliewitvoet op die leer.

“Antie, maar vir wat moet daar ‘n ekstra lyn teen die muur geverf word?” vra ek

“Die Sproetebont-gesig vrou wil mos al haar handwerk teen die muur hang vir die biduur, vir komplimente soek.

Sy doen mos so tappeserie werk, nou wil sy dit hang.

Maar ieder geval nou, so sit sy in die stoel waar sy ‘n ogie oor Polliewitvoet kan hou waar hy verf en sy die orders kan gee.

Sy sit so en bekyk die spul en sê toe vir ou Polliewitvoet: ‘Nee man, verf reg. Jy verf daai streep nou krom.’

Antie Hessie leun effens vooroor toe sy  die stukkie  vertel:

“Kind, maar Polliewitvoet draai toe maar so stadig om waar hy op die leer staan, seker bang vir afval, en sê vir die vrou:

‘Nee, Antie, as hy droog word, sal hy reguit trek, Antie sal sien’

En dis toe met hierdie deel wat ek toe uitbars van die lag, sommer so oor die hele teekamer.

“Kom kind, laat ons liewer loop, voordat ons droog word en reguit trek” sê Antie Hessie.

Toe loop ons maar.

©Stanley Cierenberg.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: