DIE DAG TOE BLY-WEES BEDONNERD GERAAK HET

DIE DAG TOE BLY-WEES BEDONNERD GERAAK  HET.

2020\12\21

Storiemakery sit nou maar in my familie.  Ek praat nou van  Pa se kant van die familie.

Nie so lank gelede , dit was ‘n Desember vakansie, loop ek ‘n neef van my by Margate raak.

Hulle sê mos so toevallig raakloop is mos die lekkerste raakloop wat daar is. Dan loop mens hulle nog in ‘n kroeg of ‘n ding raak.

Man, waar anders dan nou? Vra ek vir myself die vraag.

Maar dan moet ek nou ook bysê dat hulle lekker kan eet. ‘n Plek waar daar ‘n dop is en iets om te eet maak hulle gelukkig.

My neef vertel toe vir my, ek skat so na die vierde kappie – of so – dat my pa in sy jong dae die vreeslikste ding oorgekom het.

“Hoe so?” vra ek

“Hey, wag, gee net my glas aan dan vertel ek.” Sê my neef.

Sy vroutjie gee die glas, maar sy rol haar oë so dat ek sommer kan sien dat sy hierdie storie meer as een keer al moes sit en aanhoor, en hoe sterker die kappie is, hoe meer verander die storie.

“Hou hom daar” skreeu hy en lig die glas op.

“Hou hom daar” skreeu ek maar terug. Dit klink tog reg.

My neef vertel my dat toe hulle jong kinders was, hulle pa, wat nou my pa se broer is, ‘n Shetland Pony gehad het met die naam van Prins.

My neef vertel toe dat dit net so voor Krismis is en dat die kinders die huis moet witkalk. Daai jare het hulle nie juis die huis geverf nie, maar gekalk.

My neef vertel dat dit ‘n gedoente is. 

Hulle moes die kalk met water meng sodat dit ‘n waterige spul is en nie dik soos verf nie. 

“Gooi net daar nog ietsie, seblief” vra my Neef en hou sy glas na sy vrou se kant toe.

Sy gooi.

Teen hierdie tyd weet ek dat hierdie storie lekker ver gaan draai.

“En toe?” vra ek

“Wag….Wag…laat ek net eers ‘n sluk vat”

My neef sê toe dat sy pa baie presies was en sê dat die mure nie geverf moet word nie, maar gewas moet word met die kalkwater.

En my neef beduie, maar sy beduie is deur sy heupe, sy bene en arms tot by sy hande.  Maar wonder bo wonder val daar nie ‘n druppel van die kappie uit sy glas uit nie.

My neef sê toe, so halfpad deur die gekalkery roep hulle ma hulle vir koeldrank en om ‘n hoed op die kop te kry vir die son.  Hulle los toe die blik met kalkwater net daar en gaan huis binne.

Met die wat hulle in die huis is, kom Prins aangestap vanuit die agterjaart.

“Wag, laat ek net eers ‘n sluk vat. Hou hom daar” en die glas is weer in die lug.

“Hou hom daar” skreeu ek.

My neef kyk rond, want soos ek nou die spul bekyk, hou hy daarvan as mense vir hom lag. Storievertellery moet gelag word, reken ek.

My neef sê toe dat Prins sy bek aan die emmer met kalkwater waag en so drink hy ‘n bek vol en nog ‘n bek vol totdat sy dors goed geles is.  Prins stap toe heel tevrede weg en my Neef beduie nog met heupe wat wikkel hoe Prins stap.

Teen die tyd weet ek dat hierdie storie goed aangedik word.

“Is Prins toe dood” vra ek

“Wag…Wag…kom laat ek net eers ‘n sluk vat…hou hom daar” en so gaan dit aan.

My neef vertel toe dat  Ouma die kalkwater drinkery gesien het en jaag toe vir Prins pergasie in want Prins raak toe verstop van kalk.

Die hele familie is bekommerd oor Prins en my Neef se pa gaan hulle gatte goed slaan as hy die storie moet hoor. Prins was sy trots, vertel my neef.

My neef sê toe dat nie lank nie, of my pa kom daar aan om die storie te bekyk en dalk vir Prins moed in te praat om tog maar te laat gaan en alles uit die maag uit te kry.

My pa was lief vir sy wit Safarie pak en kouse opgetrek tot by die knieg. Netjiese man.

My neef vat nog ‘n sluk Brannewyn en beduie toe verder.

Hy vertel my dat my pa toe Prins se stert optel en so half soebat van agter af sodat Prins tog maar net moet laat gaan en alles uitkom anders gaan sy maag vaskalk en dis asof Prins my pa se stem hoor en hom verstaan.  Prins trek se ore se terug en dit lyk asof sy maanhare regop staan en toe gebeur dit…..Hou hom daar….skreeu neef sommer so tussin-in.

My neef sê dat Prins toe laat gaan, alles wat hy geeët het van gister af tot die blik kalkwater, bo-oor my pa se wit safari pak.

Ek lag uit my maag uit en my neef skreeu net “Hou hom daar” en gooi nog ‘n kappie.

Ek dink toe so by myself, “Ja, dis die dag toe bly-wees bodonnerd geraak het.”

Nou sal julle vir my vra nou wat is nou eintlik die tref-krag van hierdie storie. Daar is nie ‘n tref-krag nie, want dis familie stories wat oorvertel moet word van geslag tot geslag. Ek vertel dit maar.

©Stanley Cierenberg

Geinpireer deur Desmond Cierenberg.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: