EK SLAAN MY Oë OP EN VRA: ….
2020/12/20
Sommer so op ‘n bultjie staan sy. Of liewer nie ‘n bultjie nie, ‘n koppie of heuweltjie klink dalk beter.
Sy bekyk die wêreld sommer so al vier rigtings op dieselfde tyd in. Die kant toe, daai kant toe
en selfs om draaie waar ons nie kyk nie. Sy sien alles raak.
So aan haar sy staan ‘n paar manne wie se name ek nou nie so lekker kan onthou nie. Ek sal haar moet vra.
“Wie is die mense so langs jou?” vra ek.
“Die is belangrike mense, My Kind.
“Die kant is Piet, daai kant is Andries, dan moet jy tog net vir Oom Hendrik vergeet nie. Diè kan knorrig raak as jy sy naam vergeet”.
“Baie dankie”
Ek groet die Ooms met die hand en glimlag vir die Antie wat die twee kinders vashou. Soos verdedig.
Ek stap ‘n hele paar trappies op en daar kry ek vir Oom Moerdijk.
“Hallo Oom” sê ek en steek hy hand uit vir groet.
“Hallo Kind, kom in. Kom laat ons sit”
Ek gaan sit by die oom en hy maak die ou Statebybel oop en lees ‘n stukkie. Dis Oom Jan se dagboek, Kind, jy moet mooi luister.
Ek lustier.
Dis mooi
Dan haal hy ‘n baie ou boek uit en lees ‘n stukkie.
Dis ook mooi
En toe haal hy ‘n baie ou stuk papier uit, geel gevlek van jare, maar hy lees nie, hy sê die woorde sommer so uit sy kop uit op.
Ek dog eers hy maak die goete op soos hy voortgaan, maar ek volg die woorde op die papier en dis presies…dis baie presies. Soveel presies het ek nog nooit in my lewe gesien nie.
Toe hy klaar is, sê ek: “Dankie Oom, sal Oom dit asseblief weer vir my lees?”
En hy begin weer, maar hierdie keer hou ek die papier vas om seker te maak hy vergeet nie een woord nie.
“Uit die blou van onse Hemel, uit die diepte van ons see” begin hy…weer presier.
Oom Moerdijk sê toe vir my:
“Kom, dis tyd. Ek moet iets vir jou gaan wys, maar jy moet belowe dat jy dit vir jou kinders en hulle se kinders en hulle kinders en nog sommer baie ander kinders ook kom wys.”
“Ek belowe, Oom.”
Ons staan op en hy stap stadig deur nog ‘n gang tot in die hart van die groot gebou.
Ek kyk die groot rooigraniet-graf aan en eers wou ek skrik, maar toe sê Oom Moerdijk daar is niks om voor te skrik nie. Die graf is ‘n belofte. ‘n Baie groot belofte.
“Wie lê daar binne?” vra ek
“Hy is leeg, maar wag. Jy moet nou stil word kind”
En daar gebeur dit.
Dis 12 uur. (in die middag) Ek wou nog sê gelukkig nie in die nag nie, want om langs ‘n graf in die nag te staan kan moeilikheid wees.
Die dag is die 16 de.
Die Maand Desember
En toe ek opkyk, is daar ‘n gat in die dak en deur die gat loer die son.
Hy val toe op ‘n skryfbokkie wat lees: “Ons vir jou Suid Afrika”
“Daar is dit Kind” sê oom Moerdijk.
“Hierdie leë graf is ‘n simbool vir Oom Piet Retief en al die Voortrekkers wat gesterf het.
Sien, die son seën almal wat op 16 Desember 1838 gesterf het by Bloedrivier”
Ek maak my oë toe en bid.
“Oom, mag ek ‘n paar mense bylas in die graf?”
“Natuurlik mag jy. Wie?”
“Al die boere wat gesterf het in plaasmoorde” sê ek versigtig.
“Jy mag” sê die Oom
Ek las toe vir almal by. Ek sit vir Brendin in, Toe vir Eddie en Pieter, Oom Andries, Tannie Breggie en Oom Dan, vir Mark ook. Dan ook die Tannie van Upington en die gesin van Stilbaai. En nog baie baie meer.
“Kan die son hulle ook nou seën?” vra ek
“Hy seën vir hulle”
En deur die gaatjie in die dak seën die son vir almal. Sommer vir al die families ook. Ek vra ‘n spesiale gebed vir Ina en Petro wat my hart sag maak.
En toe sê ek “Amen”
En God antwoord: “Ons vir jou Suid Afrika. Ek sal na julle kyk”
“Dankie God”sê ek
Toe ek om my kyk is Oom Moerdijk weg en ek hoor sy stem iewers in ‘n gang wat nogsteeds sê:
“Uit die blou van onse hemel, Uit die diepte van onse see”
Dankie oom, sê ek. Toe skuif die sonkol aan en ek weet dat my volk geseënd sal bly, vir altyd.
©Stanley Cierenberg.
Leave a Reply