DIE NOU PAD

DIE NOU PAD

2020/12/18

Ek het vanoggend die nou-pad gevat.

‘n Voetpad onder deur bome wie se name ek nie eens ken nie, en so in die loop maak ek maar my eie name op.  Dan gesels ek so in die verbygaan met hulle.

“Waarheen vat hierdie pad my” vra ek vir die groot Boom.

“Hou net aan loop” sê die groot boom

Toe ek onder by die kronkel kom vra ek vir die plat boom met baie blare en die mooiste blomme

“Waarheen vat hierdie nou-pad my”

“Stap net nog ‘n entjie, jy sal die plekkie kry. Kyk net mooi vir raak-trap” sê die plat boom met die mooi blomme.

Ek stap.

By die effense afdraende waar ek so briek-briek moet loop, vra ek vir die grootste boom wat ek nog gesien het, (so groot dat sy wortels eintlik al by die grond uitklim) waarheen nou?”

“Jy is hier, trap net oor die bosvarings, sodat jy hulle nie seer-trap nie dan is jy hier” sê grootboom met die wortels wat al by die aarde uitklim.

Toe ek oor die bosvarings trap, en verby die Reënvoëltjie stap wat sing, sien ek die groot, blou, oop see. 

Toe is ek hier.

Ek trek my klere uit en maak dit so ‘n hopie op die sand.  Ek druk ‘n uitspoel-stokkie sommer so langs die hopie klere in die sand, net om te sê “Hou asseblief ‘n ogie oor my goed”.

Toe stap ek met my oë toe, soos bid, die water in. Ek stap, en stap, en stap totdat daar nie meer stap oor is nie, maar net dryf waar my kop net-net uitsteek vir genoeg asem.

Die een brander praat saggies in my oor. Hulle sê dat die branders saggies praat, want hulle is bang dat hulle die stilte van die see wegjaag.

Die brander fluister: “Ons doop jou ge-inkte lyf vandag.”

“Hoe bedoel jy?” vra ek vir die brander.

“Ons doop jou soos kerk-doop” fluister Brander terug.

“Gaan nou terug na jou hopie klere toe en bou ‘n sandkasteel”

Ek doen dit.

Ek bou die kasteel totdat die son gaan sak, ek kerf kamma-kamma vensters en deurtjies uit met die waghoustokkie. Ek sit ‘n dak op met fyn uitspoel blaartjies.

Toe praat die see sy praat met my:

“Daai venstertjie daar bo is Brendin se venster, hierdie een hier is Eddie se venster.  Daardie een waar jy ‘n stukkie see-gras gehang het is die Volkspele antie van Upington se venster.  Die grondvloer venster langs die deur is Oom Andries se venster om ‘n ogie oor sy varkies te hou.  Die venster heel bo is Pieter s’n, die hoof van hierdie kasteel.  Die venstertjie net langs oom Andries s’n is Ntate Khumalo se venster.” En so praat die see my aan oor wie se venster wie s’n is. Ek kerf vir elke slagoffer en sy mense ‘n venster uit.

Ek vra toe vir die see:

“Maar waar is my venster dan?”

Die see antwoord, so amper parmantig soos ‘n streng ma…” Jou lyf is elke een van hierdie mense se vensters. Jou oge is die venster vir elke vrou en kind wat agter gebly het. Die ink op jy lyf is die vensters waarmee jy na ons volk kyk, oom, anties en kinders”

Toe stap ek weer af see toe, en gaan doop my ge-inkte lyf vir elke een van die mense wat my stories lees, wat saam met my stap, wat saam met my huil, want my vang as ek val en wat daar is vir my.

Dankie vir almal van julle.

Ek kerf special ventsters vir elke een van julle uit.

Liefde – Altyd

©Stanley Cierenberg.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: