MARK REGAL
11/11/2020
ODENDAALSRUS
Ek kyk na die naam Odendaalsrus. Ek kyk hom aan met ernstigheid.
“Rus” wat op die einde staan…
Die boer-broer wat op sy wye plaasstoep sit, stop sy pyp styf, rus
met ‘n glasie brannewyn en wag vir sonsak.
Hy trek die pyp diep in, vat ‘n slukkie van sy brannewyn en sien hoe
die son koebaai sê, so agter die popelierbos in.
“Liefie, ek maak sommer vir ons ‘n stukkie wors en pap” sê sy vrou.
“Haal sommer ‘n tjoppie ook uit” sê hy en blaas rookwolke van pyptabak.
“Ek haal uit” sê sy.
Langs Mark op die stoep speel kinders Slangetjies-en-leertjies. Hy smaail vir sy kinders.
By Mark se voete lê die hond en wag vir ‘n stukkie vleis uit die boer se hand.
“Dalk kry ons reën” sê hy.
En toe kom die reën, en hy val met ‘n anderste soort val.
Dis nie ‘n water-reën nie, dis ‘n koeël-reën. Dis ‘n vyand-vuur wat val.
Mark, ek sien jou staan langs die wit perd wat troos in sy oog het.
Die wit perd draai sy lyf jou rigting in…en fluister ‘n boodskap, dan
runnik hy en die wêreld kom tot rus.
Mark, vir jou gaan haal ons gesondmaak-salf.
Vir jou gaan soek ons lanterns in die vuurvliegies.
Vir jou gaan haal ons medisyne-bossies diep in die karoo.
Vir jou gaan haal ons klomp wit perde om na jou familie te kyk.
Die manier hoe jy aan die wit perd vat, maak van jou ‘n ridder…ons ridder.
Vir die werf-sug wat dit aan jou gedoen het, wens ek die dal van doodskaduwee.
Rus nou maar sag, Mark…Rus sag, die wit perd en ons staan wag vir jou mense.
Ons sien jou later.
©Stanley Cierenberg.
Leave a Reply