TWEE BOERE, ‘N TROK EN ‘N FLASK KOFFIE
“David, is jy nog orraait? Die son gaan amper opkom?”
“Ja, Willem, ek is nog orraait. Hoe lank skat jy is ons al op die pad?”
“Maklik al 6 ure”
“Dis lank”
Die trok se engine grom deur die Vrystaat. So asof hy wil sê: “ons is oppad,
hou moed”
“Jy moet sê as ek die stuurwiel by jou moet oorvat, dan kan jy bietjie slaap”
“Dankie, ons sal hier voor stop, dan kyk ons hoe kom die son op”
“Is daar nog koffie in die flask?”
“Jou flask of jou vrou se flask?” vra Willem met ‘n stoutgat-boere-smile.
“Nee man, vat maar eers die vrou se flask. Myne het mos so ietsie in. Ons kan later”
Willem draai die flask se prop oop en die trok ruik na koffie. Dis ‘n gesellige reuk.
“My vrou maak mos die flask-padkos-koffie so met die kondens melk dan hoef sy
nie suiker te gooi nie” sê David
“Hy’s lekker so met die kondens melk”
David trek die trok van die pad af.
“Is alles orraait, Broer?” vra Willem
“Ja, gooi die koffie. Ons gaan net so om die trok stap om te kyk dat die vrag nog vas is. Ons kan nie bekostig om nou vrag te wil verloor nie. Die mense wag.”
“Hier’s jou koffie,”
“Aitsa…brand so blikbeker nou” lag David toe hy die blikbeker vol koffie by Willem vat.
“So lank jy ‘blikbeker’ sê en nie ‘Bliksem’ nie.” lag Willem.
David loop links om die trok
Willem regs om.
Hulle trek hier aan ‘n tou en ruk daar aan ‘n knoop. Die seil is ook nog mooi vas.
Hulle kry mekaar by die trok se gatkant.
“Nee wat, alles lyk nog goed. Ons vrag is veilig” sê Willem.
“Ek sal sommer nou stuurwiel oorvat, dat kan jy van die meatballs eet en bietjie rus voor ons
Boshoff kry” sê Willem
“Dankie, my Broer”
Die son kom gloeiend-rooi op die horison uitgekruip. Dis mooi.
Willem maak sy oë toe toe hy die sluk koffie uit die blikbeker vat. So asof hy sommer ‘n nagmaal by homself hou.
‘n Duif word wakker en beginne sing.
“David, hoor jy wat daai duif sê
“Wat se hy?”
“Luister mooi. Hy sing, ‘God sorre, God sorre”
“Ek hoor hom ja. Dis darm mooi”
Hulle klim in die trok, Willem op die stuurwiel en David wat ‘n meatball eet en dan bietjie slaap.
Toe hulle by Boshoff inry, klos mense oral saam met plakkate en borde en goeters. “Welkom. Dankie. God seën julle”
“Hierdie is goeie mense” sê David.
Elke grashalm op die trok se vrag is ‘n mens se siel.
Elke voerbaal is ‘n ander mens se hart.
Elke tou wat die bale bymekaar hou is iemand se hoop.
‘n Antie kom nader gestap.
“Dankie, seuns, kom, hier is ‘n madjie vol padkos. Brood, jêm wat ek gemaak het en meatballs.
“Willem, gooi daar ‘n koffie van JOU flask asseblief man….maak die beker sommer lekker vol”
Hulle smile saam met mekaar.
“DAnkie Antie”
“God sorre vir ons almal” sê sy
“Ja, God sorg.”
©Stanley Cierenberg 2020
Vir die boere wat help.
Leave a Reply