DIE HUISHULP

Toe ek vanmiddag van die skool af kom, gaan sit ek onder die groot pruimboom in ons tuin. Ek sê altyd dat dit my “dink plek” is.

“Dingetjie, as jy so onder die ou boom sit en staar? Waaraan dink jy dan?” en agter my staan Ou Lena, met ‘n bordjie vol van my gunstelling toebroodjies. Appelkooskonfynt broodjies in sulke driehoekies gesny en ‘n glas melk.

“Lena, vandag in die skool toe vra my juffrou wat ons wil word. Sanet wil ‘n dokter word, Willie wil ‘n Wildbewaarder word en Elmarie wil ‘n model word. Ek sê toe dat ek ‘n Huishulp wil word, net soos jy” verduidelik ek vir Lena my Groot Dink.

“Haai, Dingetjie. Hoe meen jy dan nou?”

“Lena, ek wil ‘n werk soos joune he. Jy het altyd die mooiste, witste voorskoot aan met die valletjies langs die kante. Jou toebroodjies is altyd die lekkerste wat ek nog ooit geeet het. Jy weet waar ek my potlood verloor het. As ek my skooltas soek, weet jy dat ek dit onder die bed weggesteek het vir my ma. AS ek my kosblik by die huis vergeet hardloop jy altyd agter my aan, sommer tot in die straat. Almal is lief vir jou en jy lag altyd.”

“Dingetjie, dis alles waar wat jy daar sê, maar kom ek verduidelik vir jou iets.” en sy kom sit langs my op die gras, haar bene lank voor haar uitgestrek en sy begin vertel terwyl ek die driehoekbroodjies eet.

“Soggens moet ek baie vroeg opstaan, want sien, ek het mos twee huise wat ek aan die gang moet hou. Myne en julle s’n.

Terwyl jy nog in die kooi is, het ek al lankal pap op die vuur gesit en die strykyster warm gemaak sodat ek my kinders se klere moet stryk.

By die tyd wat hulle op die bus is skool toe, dan kan moet ek vinnig klaar maak, want my taxi ry presies oor 30 minute van die straathoek af.

Soms reën dit, dat moet ek kaalvoet so deur die modder hardloop, tot by die taxi, net om betyds hier by julle te wees, want ek moet sien dat julle ook by die skool kom en jou mamma help om haar skoene blink te vryf.”

“Lena, maar is dit nie gevaarlik om in die Taxi te ry nie?”

“Dingetjie, dis baie gevaarlik. Jy moet maar die heeltyd om jou kyk, agter jou, langs jou en dan sommer voor jou in die pad ook, want soos daardie skollies bestuur, weet ek nie of ek lewend ander kan gaan uitkom nie.”

EK kry vir Lena jammer

“Maar laat ek nie afdwaal nie.” sê Lena en sy vertel verder.

“Hier by julle huis moet ek begin met hierdie groot hoop skottelgoed wat elke oggend soos ‘n berg staan. Ek kan nooit verstaan dat julle so baie koppies het nie. Kan julle nie net een gebruik en hom elke keer uitspoel nie?’ vra sy

“Nee, want ons weet mos jy kom vandag in om te kom opwas.” hou ek my slim

“Ja, Dingetjie, ek kom elke dag in om daardie koppies te kom was, en dis my werk, maar dis nie al werk nie. Dan moet ek daardie wit kombuisvloer heeltyd skoon hou, jy weet hoe smaak jou ma oor daardie wit teelvloer. Dan as julle hondjie met sy modderpote daaroor hardloop, moet ek dit dadelik skoonmaak, voordat jou ma kwaai raak.

Dingetjie, terwyl ek so deur die skottelgoed woed om klaar te kry, roep jou ma van die kamer af vir koffie en roosterbrood en dan sommer in dieselfde asem om haar rok gou uit die tuimel droeër te haal. En o ja, voordat sy vergeet, kry sommer die vuil borde in die tv kamer, voordat die miere daarop klim en die hele plek vol miere is.

By die tyd wat ek by die koffie maak kom, is my kop so deurmekaar. Ek moet nog my woorde reg kies, want een van my kinders kry ‘n toekenning by die skool en ek wil baie graag gaan, maar soos hierdie huis vandag lyk, dink ek nie dat ek gou gaan wegkom nie.”

Ek sit aandagtig en luister na Lena en vir ‘n oomblik sien ek dat haar mooi, wit voorskoot, nie altyd so mooi wit is nie. Dat die driehoektoebroodjies nie altyd perfek is nie.

“Lena, maar hou jy van jou werk?”

“Dingetjie, hierdie is my werk. Ek het dit gekies en ek hou baie daarvan. Ek het vir jou Ouma gewerk, toe na jou ma toe en as die Here my spaar, by jou as jy groot is. Ek kan nie ‘n ander werk doen nie.”

“Maar hoekom word jy nie ‘n sekretaresse nie?” wil ek weet.

“Maar hoe dink jy dan nou Dingetjie. Ek kan nie eens behoorlik lees en skryf nie, en sukkel nog om Engels te praat. As die foon lui en dis ‘n Engelse mens, moet ek maar Yes en No so op my eie manier en hoop die stomme mens verstaan my”

“Lena, wanner kry jy dan tyd om te kyk dat jou kinders hulle huiserk doen, want jy kyk mos altyd dat ons s’n klaar is.”

“Ja, Dingetjie, dis ‘n ander storie. Ek hoop en bid maar en vra die Here om daardie kinders van my te help en Sy hand oor hulle te hou. En die Here doen dit, want Hy weet dat ek hier moet werk om geld te kry om my mense aan die lewe te hou.”

Meteens voel ek jammer vir Ou Lena.

“Lena, kan ek jou nog ‘n vraag vra asseblief?”

“Ja, Dingetjie, vra maar.”

“Raak jy party keer hartseer as my ma met jou raas as jy te lank op jou foon praat?”

“Ja, Dingejtie, want soms moet ek by my kind se juffrou pleit om hom nie te straf omdat hy vergeet het om ‘n taak te doen nie. Ek weet mos dat ek hom moes help om dit te doen, maar ek was by die werk, hier by julle om te sien dat julle regkom. Dit kos dan lank soebat en pleit by die juffrou om hom nie te straf nie.”

Ek staan op, gee vir Lena ‘n drukkie, uit my hart uit, en ek sê:

“Dankie vir ‘n dag in die lewe saam met jou Lena. Maar weet jy wat, ek gaan nog eendag ‘n huishulp word, nes jy”

En met die wegstap, sien ek ‘n glimlag om haar mond en daardie bekende klap van die tong.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: