DIE TANDMUIS
Die dat mense so oploop gaan met onnodige goed laat my sommer onnodig duiwel vat.
Maar kyk, ek praat nie altyd so lelik nie, maar waaragtag, daar is mense om ons, tussen ons, agter ons, voor ons en sommer in ons wat op loop gaan met ‘n ding wat nie eens op loop gegaan moet word nie.
Ek dink so aan my broer.
Ou Kloor het altyd Saterdae gras gesny. Nou kyk, ek het nog nooit oor my broer Kloor gepraat nie. So lang senerige man met ‘n bleskop. Groot hande en skurwe hake.
Ou Kloor het mos tot sy dag van die dood aan die Tandmuis geglo. Siestog, ook maar eenvoudig.
Geen mens sou weet hoekom nie, maar hy het geglo daar is ‘n muis wat tande kom haal en weer daardie tande na ander mense se huise toe vat. Dan het daardie mense weer geld in ‘n skoen gesit en die muis het dit weer na ‘n tandarts toe gevat.
“Hessie,” het hy altyd gesê. “Waar dink jy kom valstande dan vandaan?. Dis daardie muis wat dit aandra. Jy weet net nie, dalk is daardie tande wat jy inhet nog die van Ou Taings by die slaghuis s’n”
Met hierdie gedagte moes ek toe die hele week loop. Ek kan mos nie ‘n ander mens se tande in my mond hê nie. Antie Taings het darm maar lelik gepraat en daar kom bitter min ‘n vloekwoord oor my lippe.
Al wanneer ek vloek is as minister en hooggeplaastes op teevee so aanhou oor “Wait for the report….Wait for the report….Wait for the report”. Dis dan wanneer ek sommer die woord ‘DONNER WETTER’ SÊ.
Hulle het mos nou ‘n corner cefie op Zuma se dorp gekry. Glo word daar boomwortels, kat ore, snorbaarde van klein hondjies, en dan nie eens te praat van al die biesmelk wat hulle in ‘keep south africa clean’ bottles aanhou nie.
“Nee wat, ou Kloor, jy moet ophou glo aan daardie tandmuis” het ek vir hom op sy sterfbed gesê.
“Wag vir die report….Wag vir die report.’ het ou Kloor gesê.
“Daardie tande lê almal in ‘n Kraal waar vreemde mense bly met ‘n vreemde winkel wat vreemde dinge verkoop. Ek sê vir jou, die tande word daar weggesteek.
Ons sal al wat leef moet waarsku.
Bel die polisie voor ek doodgaan. Laat weet vir AVBOB dat daar tande is, hulle moet die lyke se monde toewerk. Die muis gaan steel daai tande en vat dit na daai Winkel toe in die Kraal…Wag maar vir die Report” het ou Kloor aangehou kerm so in sy swakte op sterfbed.
“Wie is die muis? Wie steel dan die Tande” wou ek weet.
“Hessie, kan jy nie sien nie. Kan julle nie sien nie. Kan die mense in groot kantore nie sien nie, mense in biblioteke, mense in apteke, mense in hotelle, mense in die strate, mense wat strate vee, mense wat sing en huil, dirrigente van orkeste, kan julle nie sien nie. Daardie muis gaan ons almal ROT-en-kaal steel…..hoor wat ek sê….Maar wag vir die report…..” en daar sterf ou Kloor toe ‘n baie stille dood.
Net so voordat die report uit is.
Leave a Reply