ANDERSTER MOEDER
Daardie mistige oggende het sy met haar ou lyf,
ekstra krom, teen die deurkosyn gesteun.
“Die weer is koud, ja” sê sy.
“Is alles orraait, Ma?” vra ek
Sy sak haar kop effens en kyk grond-af, dan see toe.
Sy trek haar bont kopdoek met wysvinger en duim stywer.
Peuter so bietjie aan haar slap-voorskoot en lê dieper in die kosyn.
“My Kind…Die Here het ons aan mekaar vasgemaak”
“Ja, Ma, ek weet”
“AS Die Here mense aan mekaar vasmaak, wie kan jou losmaak?”
“Ons sal nie losgemaak raak nie, Ma”
Sy het met haar hand oor haar oë gevee, toe sy opkyk.
“Wat nou, My Kind?”
“Ek sal eers moet gaan. Ek kan nie langer bly nie. Hulle het my
in die hakskeen gebyt, nou stap ek kruppel” sê ek en hou haar vas.
“MY Kind, Die Here alleen sal met hulle werk op Sy tyd.”
Ek het my ma vasgehou en toe weggestap. My voetspore
‘n tyd gelede al deur die Suidoos toegewaai, maar my onthou
is dieper as ‘n olifant se trap in los sand. Hy lê diep. Hy trap diep.
Sy het diep lief. Ek ook.
Leave a Reply