SNOTSTREPE
Ek bekyk die man op die sypaadjie se uitgetrapte skoene
En die sole is blink gedrentel van
straat tot straat, dorp na dorp, plek na plek,
En alles tussenin en verby tussenin.
Ek staar na die blink snotstrepe op sy
vuil trui se linkermou (die buitekant)
en na die snotstrepe wat aan die regtermou blink
(die binnekant van die mou).
Hy staan op, maak sy bondeltjie bymekaar, sit dit op sy kop
en sê: “Meneer ka ma kyk, ja, onse mense loop almal anders
en onse mense huil ook anders. Party mense huil binnetoe,
ander huil weer buitetoe, mooi loop meneer”
Ek steek my hand uit om te groet en hy vat my hand.
Mooi loop
Leave a Reply