GESPREK IN ‘N TRONK
‘vir Sonia Jordaan”
“Ek is nog so bloedjonk, Antie, bloedjonk en ek sit in die tronk. Ek sit tussen tralies.”
“Hoe oud is jy, seun?”
“24, Antie, bloedjonk en net 24 in ‘n tronk”
“Vir wie het antie kom kuier?”
“Tannie het vir jou kom kuier”
“Niemand het nog vir my kom kuier nie, Antie”
Ek het aan die seun se arm gevat, toe huil hy soos in ‘n kind
Ek het vir hom gebid en die Here God gevra om vir hom ‘n lied te bring.
Die tronk se kuier-kamer is koud,
en ek trek my oopknoop trui stywer om my bors.
Die kind se oë kyk deur my siel, tot anderkant die plek waar ‘n mens voel,
regtig voel met ‘n gevoel.
Die kind klou aan my hand vas, soos ‘n boom homself in die grond vasklou.
“Moenie my vergeet nie, Antie”
“Ek sal nie”
Ek gaan my vuil-oranje-tronk baadjie vir Antie gee, om seker te maak Antie vergeet nie, maar ek moet dit eers was, dis vuil.
Gee hom net so, Kind.
Hy is vuil, Antie
Niks is vuil, Kind.
Antie, moenie my vergeet nie, seblief, Antie.
Ek sal nie, my Kind….
En toe huil die kind al die ou huil uit sy lyf uit.
In die tronk se wagkamer trek ek my woltrui uit en gee dit vir die kind
Ek trek sy vuil-oranje baadjie aan wat na mens en sweet ruik (ek gee nie om nie)
Daardie nag, in ‘n koue tronksel lê ‘n bloedjong kind met ‘n Antie se truitjie onder sy kop,
om haar reuk vir altyd te onthou.
“Jesus, ek gee vandag myself” bid die kind.
Soms, net soms het ons net ‘n reuk of ‘n truitjie nodig om weer hoop te kry.
Leave a Reply