KOOR

Elke keer as ek my klerekas oopmaak gaan daar ‘n koor aan die sing.

Mnr Levi is die dirigent. Hy is so in sy middel 30’s en dra sulke stywe broekies. Geen mens weet hoe hy dit aan kry in die oggende nie. Sommige beweer hy spring daarin, ander sê weer hy gly daarin. Dan is daar klomp wat sê hy trek dit maar soos sykouse aan en rol dit van onder af op. Min het ons geweet…

As ek my klerekas-deur oopmaak is daar ‘n ligte gekraak, soos ‘n tienerseun wat se stem wil breek. Dit kan net ou Mej Pringle wees wat die klavier se deksel oopmaak.

“Ons gaan opwarm vandag. Dis winter en julle stemmetjies is yskoud” het Mnr Levi gesê en Mev Pringle vat ‘n toonleer en begin met DO RAY ME.

Die Finch seun wat op die tweede bankie agter gestaan het, het altyd RAY DO ME gesing.

“moenie laf wees nie” het Juffrou Pringel dan gesê.

Daardie Dinsdag aand toe ek weer my klerekas se deur oopmaak, begin hulle spontaan sing. Die broeke wat agter hang begin met die mooiste basstemme, terwyl die kortmou, kraaghemde ‘n tenoor stem insit.

Dit is die aandlied van die voeëls. Vir lank staan ek voor die kas en luister. Dis ongelooflik mooi. Mnr Levi het sy stywe broekie aan, Mev Pringel met haar dunraambrilletjie wieg op ‘n klavierstoel en die res van die koor sing.

Heel voor staan die kortbroekies. Hulle sing gewoonlik sopraan. Dis nou die seuns wat stemme nog nie gebreek het nie. Maar die groen-kortbroek-mannetjie gaan haal ‘n hoë noot uit sodat dit voel die kas se pote buig om.

Die skarniere aan die kasdeure klink soos die driehoekies en pennetjie vir ekstra effek.

Die seun met die krom skouers moes dit speel. Hy kon nie juis sing nie, maar was ongelooflik goed met die driehoekie. Hy het ritme gehad en sy ‘timing’ was uitstekend, want hy moet die driehoekie vinnig kielie en dan direk daarna net 4 stadige tikkies gee. Dit is mooi. Dit raak my diep.

Mnr Levi is die beste koor-dirigent in die distrik. Sommige ouers het hulle kinders van buurdorpe gebring om musiek by hom te neem.

Almal het gedink dat hy en Mev Pringle ‘n verhouding aangehad nie. Niks fout daarmee nie, altwee is ongetroud. Min het ons geweet…

Daardie Dinsdag van paastyd sing die klomp klere in die kas EDELWEIS. Die mooiste lied wat ‘n kas vol klere nog gesing het.

Mnr Levi is in vervoering, Mej Pringle wieg rond op die klavier en die driehoekie val net op die regte tyd in.

“Julle is fantasties!” roep mnr Levi uit.

Die koorgangers buig en begin met die volgende lied.

“Vanaand gaan die voeeëltjies korting sny” en die soprane sit hom in.

Die basstemme volg en daar in my slaapkamer staan ‘n kas vol koorlede en sing.

Ek gaan sit op die kant van my bed. Mnr Levi wieg heen en weer soos hy dirigeer.

Op die vloer lê ‘n knie-broek wat ek nog nie in die kas gehang het nie.

“Ek wil ook in die kas wees. Ek wil ook sing” het hy gesê.

Versigtig tel ek die kniebroek op, skud hom so bietjie. Dan trek ek die bokant so effens styf (daar waar die belt ingeryg word) en ek hang hom in die kas. So tussen die mooi Khaki broek en sweetpak broek wat die mooiste, diepste stemme het.

“So ja” sê ek

Nou wieg Mnr Levi eers. “nog ‘n lid vir my koor. En nog ‘n lied ook!”

Mnr Levi vryf oor die agterkant van sy stywe broek om die sweet van sy handpals droog te kry en vat weer sy gewieg aan.

“Ek is bly julle is almal hier in die kas” sê hy, “Maar hierdie kas se deure moet seker eendag heeltemal oopval sodat ons almal kan uitklim en in ‘n regte koor gaan sing. Sodat die wêreld ons kan hoor en sien. Sodat die mense in die parlement ons kan instem, sodat daar vrede in die wêreld kan kom. Ons almal moet seker hier uitklim om die arme ellendige mense sonder smaak te help. Dis nie hulle skuld nie.”

En daar stap die koorlede uit my klerekas uit, by die kamerdeur uit, by die voordeur trappie af. Sommige gaan in die parlement sing, ander gaan in ‘n kerkkoor sing en die een met die driehoekie trek toe vrouklere aan en maak asof hy sing terwyl ‘n tape speel.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: