STEEKS-HARDNEKKIG-KOPPIG
Stanley cierenberg
Die spekbos staan spierwit in blom
Langsaan rus die lammertjies
Mofskapies, spierwit-pikswart koppies
anderkant staan die plaasdam blink
in die son en droom van die windpomp
se blêr-skarnier wanneer die wind opsteek.
Wit-dikmelkwolkies in die lug voorspel reën
en die mof-lammertjies bler hardop:
“Here, seën die dorre grond met U reën”
Die kaalgat-perske-boom blom ligpienk
Ons twee rustig-lui onder hom
Piekniek vir twee, koffie fles en kaas.
Die ligpienk blomme fladder neer,
Soos konfettie tydens ons bruilof,
en die Grys Ringnekkies koer die troumars
deur die takke en blare van kaalgat-perskes
toe val die reën om die aarde te seën.
Die moflammertjies kom loer by ons ‘pienk-niek’ in
en die windpomp se blêr-skarnier sing (of is dit fluit?)
ek rus my kop op jou skoot en jy lees uit
Elliot en Leipold.
Jy neurie dat die voëltjies gaan koring sny
Elliot en Leipold
Langenhoven en Breytenbach.
Reine de Beer en die aandlied.
Maak my wakker wanneer dit alles verby is
Ek is moeg om die lewe as ‘n droom te leef
Asseblief, maak my wakker
Ek is moeg om tussen-in te leef.
Sy weier, hardnekkig, koppig en steeks.
Leave a Reply