DIE PLANT VAN DIE HEKKIE

Evelyn vertel die storie van die geboorte van die hekkie.

 

My mens, as hierdie tuinhekkie ‘n bekkie gehad het om te kan praat, sal daar nie genoeg plek in ’n Ena Murray novel vir al die stories wees nie.  Hier is duisende paar voete deur die hekkie, in en uit.

 

 

Die tuinhekkie is ’n groot ding vir Ouma.  Elke keer as sy deur hierdie hekkie stap, is dit ’n oomblik. As iemand anders deur hom stap is dit ook ’n oomblik. Nie net vir daardie persoon nie, maar vir Ouma ook.

 

Hierdie tuinhekkie van staal en draad is bekrul en geverf en versier.

 

Daar was nie groot en grênd winkels om ’n klaargemaakte hekkie te koop nie. Alles was tuisgemaak.

Tuisgemaakte konfyt, tuisgemaakte botter en brood, tuisgemaakte terte en koeke en dan natuurlik die tuisgemaakte Hekkie.

 

Ouma vertel dan hoe Oupa vier blink pype, ‘n rol press-draad en ’n rol bloudraad by die koöperasie gaan koop vir die maak van die hekkie.

 

Die press-draad het hy gebruik om die ‘tussen-in’ spanwerk te doen en die bloudraad was vir die groter spanwerk, soos om die stewige vierkante tussen die pype te span.

 

Die handvatsel is noukeurig en sorgvuldig gekrul met die mooiste krulle en draaie wat jy nog aan ’n hekkie gesien het.

 

Reg bo op die hekkie is die center piece.

‘n Stukkie staal wat so gekrul is en dan met ’n puntjie opstaan. Dit is die kroon van die hekkie. Die hekkie se eie kroon.  Soos ’n Beauty Queen, verstaan jy?

 

Aan die regterkant van die hekkie, teen die draad af, is die soetste Pronkertjies geplant. Pienk, ligpienk en donker pienk.

 

Dis die rok van die hekkie.

“Waar het jy ’n bruid gesien wat sonder ’n mooi rok in die kerkgang afloop preekstoel toe?” het ouma altyd gesê.

 

Aan die linkerkant is vetplantjies geplant.

Pietsnot met sy goudgeel blaartjies en klossie stuifmeel wat plat op die grond groei.

Katstert wat ook goudgeel is, maar regop staan.

‘n Paar ander vetplantjies is dan so al om die paaltjies van die hekkie geplant.

 

 

Ouma het elke nou en dan kom loer, terwyl Oupa besig was om die hekkie aanmekaar te slaan.

 

“Daantjie, is daai pype ewe lank? Die een duskant lyk bietjie langer as die ander een.” het Ouma gesê.

 

 

Ouma vertel dan vir my dat Oupa die pype langs mekaar gesit het, gemeet, gekyk en weer gemeet het.

 

“Ja, lyk reg Daantjie.” Ouma het dan heel tevrede haar gebuigde wysvinger op haar lippe gesit, met haar duim onder haar ken. Daardie tevrede-gebaar.

 

 

Na vier dae was die hekkie klaar gemaak en al wat nou oorbly is om hom te gaan plant.  Ouma het klem op die ‘plant’ gelê.  Tot vandag toe nog weet ek nie hoe plant mens ’n hek nie.

 

“Nee man Daantjie, verf eers die hek klaar voordat jy hom opsit. Dit gaan mos baie gouer gaan.” sê Ouma en dan druk sy haar bril met haar middelvinger op.

 

As Ouma die dag krapperig voel, werk sy daardie dikraambril met die middelvinger, al het die bril nie eens gesak nie. Dis die tyd wanneer jy nie tee praat of eers dink aan tee praat nie. Dis ’n klaar ding.

 

Wanneer sy goed befoeterd is, haal sy daardie dikraambril af, wasem hom so in haar mond op en vryf die lense blink met die soom van haar rok.

 

“Watse kleur?”  het Oupa gevra.

 

“Silwer blink.” sê Ouma toe, met ’n punt (nie ’n kommapunt) in haar  klaarpraat-stem. Dis ’n stem wat Oupa goed ken. Daardie ‘moenie my geduld beproef nie’ stem. Finish en klaar.

 

Oupa het die volgende dag ’n blikkie silwer verf gebring en die hekkie van kroon tot toon blink geverf.

 

Terwyl die hekkie droog word, het hy man alleen, twee gate gaan grou waar die paaltjies ingeplant moet word. Ouma sê altyd dat mens dinge self moet doen. Dis ’n gebod in die Bybel.

Dat Oupa self daai gate gegrou het, is nie ’n liegstorie of ‘stamp-geplakkery’ nie, ek het met my eie oë gesien hoe Oupa soos ’n vraagteken oor daai graaf buk en grou.

 

Maar anyway…

 

Teen die einde van die week was die hekkie gereed om geplant te word.

 

Oupa is opgewonde. Nie eintlik oor die hek nie, maar omdat die nagmerrie van hekbou byna klaar is. Siestog, die stomme Oupa.

 

Ouma stap soos ’n kloeks hen, al om die hek om te kyk dat alles reg, perfek en volgens plan is.

 

Toe Ouma in die huis gaan om die fles koffie te gaan haal, kom Oupa agter dat hy nooit die skarniere gekoop het nie en om nou terug te ry dorp toe, is te laat. Die winkels is seker al toe.

 

Dit is in tye soos hierdie dat hy sy pyp vat, dit stop en vasdruk met sy duim.

Dan steek hy die ding brand en blaas bolle rook die lug in. Dis maar sy manier as die senuwees knaag.

 

’n Blink plan skiet sy gedagtes binne.

 

Hy gaan vinnig na die agterplaas toe, waar die ou hekkie staan, wat die groentetuin en die blomtuin van mekaar skei. Hy haal vinnig daardie twee skarniere af, ballanseer die hekkie teen ’n paal en met kort treetjies stap hy terug. Hy kan maar more die groentetuinhekkie regmaak. Daar is nie tyd vandag nie.

 

Hy sit die twee skarniere aan die nuwe hekkie en hoop en bid Ouma kom dit nie agter nie.

Die een skarnier wou nie lekker vasskroef nie, toe draai  hy  dit sommer met ’n stukkie press-draad vas. Hy verf hulle dieselfde silwer as die res van die hekkie. Netjies. Hy is net betyds klaar, toe Ouma met die flask koffie kom en vir hulle skink in twee plastiek bekertjies. Ouma glimlag en kyk na Oupa met ’n blink in die oog.

 

 

Toe Ouma na die handvatsel van die hekkie mik om hom oop te maak, slaan ‘n koue sweet op Oupa se voorkop uit.  Die kommer en vrees sit vlak in sy blou oë en hy suig aan daardie pyp dat dit lyk soos ’n Stoomlokomotief wat opdraend ry.

 

Ouma stoot toe die hekkie oop en daar skreeu die ding soos ’n Speenvark ter slagting.

 

Oupa blaas rook soos ’n ou Lokomotief wat bult op stoom en loer vir Ouma so van onder af op.

 

Ouma ruk haar kop eenkant toe, trek haar skouers op, druk haar bril met die middelvinger op, al het die bril nie eens gesak nie en kyk vir Oupa.

 

Dis net die ene bril met middelvinger opdruk, bril afhaal, blaas, wasem, skoonmaak met die rok se soom… ’n hele gedoente.

 

Sy het nie woorde nie.

 

Daar staan Ouma met hande in die sye en Oupa wat rookbolle blaas op die sypaadjie en kyk vir die hekkie, asof die hek homself moet antwoord gee.

 

“Nee wat ou Vrou, dis net die eerste paar keer wat hulle so gaan raas.  Dis van nuut-geit en daar het seker bietjie verf ingeloop. More is hulle reg.” het Oupa verskonings gesoek.

 

Ouma vertel vir my dat as Oupa eers vinnig praat en oorlog met sy pyp maak, dan het sy geweet dat Oupa se senuwees klaar is.

 

Sy stoot die hekkie weer toe.  Daar skreeu die varkie weer.

 

Oop, en die vark skreeu

Toe, en die vark skreeu.

 

Oupa sit toe maar sy een voet op ’n klip in die rotstuin skuins agter die hekkie en maak oorlog met sy pyp.

 

“Ek sal more ’n emmertjie ghries gaan koop, dan kan ons hierdie skarniere mooi glad smeer.  Dan is al die geskreeu ook daarmee heen.” het Oupa ’n wit vlaggie probeer hys.

 

Ouma sê toe: “Evelyn, ek wou die ou man tog glo, maar iets het nie vir my opgetel nie.” Ek sê toe maar vir hom, “Ditsem, al wat ons nou nog moet opsit, is die nommer en dan sommer ’n bordjie wat sê ‘Pasop vir die hond’, maar jy kan dit more doen as jy die skarniere ghries.  Kry sommer ’n stukkie plaat by die koöperasie, dan kan jy met die Sweismasjien die nommer so uitbrand. Dit sal tog te mooi lyk.”

 

Die volgende dag toe Ouma groentetuin toe stap en die groentetuin se hekkie oopstoot en dié val soos ’n dooie dier hier reg voor haar neer, is toe sy besef wat Oupa gedoen het. Sy vat die hekkie, tel hom op en gaan sit hom teen die boom waar Oupa altyd die liggeel  14 honderd  Nissan Bakkie parkeer.

 

Die Middag toe Oupa by die huis kom, staan Ouma voor die venster en wag.

 

Mens, ek kan in my geestesoog sien hoe Ouma vir Oupa dophou, soos ’n jagter sy visier op ’n bewegende bok het.

 

 

“Middag Vrou.” het Oupa sy gewone groet gegroet.

 

“Ja, middag Daantjie en het die groentetuin hek sommer so vanself afgeval? Hoekom is die hek af en waar is die skarniere?” en sy wys na die groentetuinhekkie.

 

“Bedaar nou maar eers vrou.”

 

“Bedaar? Jy het heeltyd vir my gelieg. Ek kan mos sien jy het die skarniere afgehaal en op die buite-hekkie gaan sit. Ek is mos nie blind nie. Dis hoekom die hekkie so skreeu. Hoe kon jy vir my ’n splinter nuwe hekkie bou en opsit met ‘second-hand’ skarniere?”

“Ek skaam my dood.” het Ouma gekwetter soos ’n voël wat nie einde het nie.

 

Oupa het glo, maar net stil gebly, die kombuis stoel uitgetrek en die plaaslike koerantjie nader getrek.

 

Oupa se rustigheid het die kwik in Ouma se gemoed afgebring.

 

“Nou ja toe, dit sal nie baat om nou daaroor te baklei nie. Dis gedane sake. Ek het in elk geval gewoond geraak aan die skreeuende skarniere. Hier is jou koffie. Ek watch vir jou Daantjie.

Dit is maar die bek van die hekkie, hy waarsku my ten minste wanneer iemand inkom.” het Ouma gesê.

 

Toe hulle klaar koffie gedrink het, vat Oupa die plaatjie met die huisnommer daarop, nommer 63 wat mooi uitgebrand is met die Sweismasjien en hulle gaan maak dit in die middel van die hekkie vas.

 

Dis mooi.

 

Ouma het die gewoonte gehad om met haar voorarms so op die hekkie te rus, met die kroon so hitte tit naby aan haar borste. Dit het heelwat mense twee keer laat kyk, veral die Griek by die Kafee met sy dwalende oë.

 

Sy het soms sommer net daar gestaan, sonder geselskap en na die wêreld gekyk.  Dis daardie een dag wat sy nog so staan en kyk het na die Maluti berg aan die een kant van die dorp en dan Imperani berg aan die ander kant, wat die groot dink in haar kom sit het.

 

Soos jy by die dorp inry, is Soutkop daar, een groot rots wat die hoogte in skiet. Dis daardie einste Soutkop wat ’n teken of baken is, dat jy nou in die dorp is.  ‘Arrive’ het.

 

En net daar, met haar elmboë op die hekkie en die kroon tussen haar borste, besluit sy dat hier ’n klip reg voor haar huis moet staan. ’n Teken dat jy ‘arrive’ het.

 

Dit was begin Desember en sy het dadelik na Oupa toe geloop en hom gevra om ‘n klip te gaan haal wat buite die dorp is.  Sy het nou al vir ’n hele rukkie daardie spesifieke klip in die oog.

 

“Nou vir wat?” wou Oupa weet.

 

“Vir die nommer.” het Ouma gesê.

 

Dit was daardie een Maandag, my dag af, want sien, hairdressers werk mos nie Maandae nie, toe ek hier verby gestap het na die Jood se winkel toe, toe Ouma my nader roep om die klip-storie vir my te vertel.

 

 

Daardie een Dinsdag-middag in die bloedige son, vertel Ouma,  het Oupa die geel veertien-honderd bakkie gevat en dorp uitgery om die klip op te tel.

 

“Onthou nou,” het Ouma gesê, “as jy by die dorp uitry, by die eerste afdraai lokasie toe, sal jy ’n groot boom sien, waaronder die sement tafeltjies en bankies staan, waar mense kan padkos eet. Net so regs agter die boom staan daardie klip,” het Ouma beduie.

 

Ek wou my nog erg vir die lokasie woord, maar los dit toe maar net so.

 

Oupa bring die veertien honderd langs die tafels tot stop, sit nog ’n rukkie met sy hande op die stuurwiel en bekyk die wêreld.

 

Die son brand, sodat die Kraaie op die telefoondrade gaap. Dis goed warm in die Vrystaat.

 

Oupa klim rustig uit die veertien honderd, maar toe hy daardie klip sien is dit asof die rustigheid in hom deur die gapende Kraai ingesluk word.

 

Hy stop sy pyp…. dis duim, vuurhoutjie en blaas, dan gaan staan hy met sy regtervoet op die 14 honderd se wiel, om die klip mooi te bekyk.

 

 

Dis asof alles om hom stil word.

 

 

Oupa blaas ’n laaste bol rook die lug in, haal sy voet van die wiel af en stap stadig-moedswillig na die klip toe.

 

Sy oë woes soos die van ’n wilde dier wat gejag word, toe hy by die klip buk.

 

Vir eers het hy gedink hy is by verkeerde klip, maar hoe meer hy na die klip kyk en meer ouma se stem in sy kop hoor, besef hy dat dit HIERDIE klip is.

 

Dis ’n enorme sandklip wat seker nog ’n goeie duim of twee in die sand is.

 

Dit beteken daar sal gegrou moet word.

 

Die stuk van die klip wat bo die grond uitsteek is rond, met ’n puntjie wat so regs-bo uitstaan.

 

Hy kyk na die klip, dan na die veertien-honderd se wiel, weer na die klip en meet hom so met die oog af, besef dan, net die deel wat uitsteek, so groot soos die wiel is.

 

Die stukkie van die klip wat so regs bo uitsteek laat hom dink aan die buurvrou se kat, wat altyd so spits-ore na sy duiwe sit en loer en die ergernis woel sommer nou nog erger in hom. Dis so spits-oor Kat klip, het Oupa by Ouma se storie ingetjirp

 

“Nee wat, Koot, hierdie klip gaan ek nie optel nie,” praat hy in die klip se rigting en skop na die klip.

 

Hy klim terug in die veertien honderd en ry terug.  Sonder die klip.

 

Hy het seker die clutch van die veertien honderd te vinnig gelos, want so met die wegtrek skiet daar nog stof op die klip.

 

Terwyl hy terugry huis toe, dink hy aan ’n verskoning oor hoekom die klip nie gelaai is nie.

 

Ouma gaan glad nie gelukkig wees nie.

 

 

Ouma vertel vir my dat sy klaar die grassies weggesny het en nogal ’n holte gemaak het waar die klip mooi moet gaan inlê.

 

Sy het tot die tuinslang gaan haal en die grond so bietjie nat gemaak, glo dat die klip sy lê moet lê as hy neergesit word.

 

Ouma vertel verder dat sy so ongeduldig was, omdat Oupa so lank wegbly, dat sy sommer die tien tree na die hoek van die straat gestap het om te sien of hy nie doer onder in die pad al aankom nie.

 

Haai tog, ek kan myself net indink, dis soos om te weet jy gaan ’n krismis boks kry, maar krismis is nog so ver.

 

Ouma sien toe so honderd tree of wat af in die straat, dat Oupa oppad is met die bakkie en so begin Ouma al waai om vir Oupa te beduie waar hy moet in reverse, om so na as moontlik aan die klip se gat te kan kom.

 

Sy beduie met groot arm bewegings na Oupa in die bakkie, om mooi te stop en dan stadig in te reverse, dan weer vorentoe, dan agertertoe, dan links dan regs.

 

Ouma storm toe na die bakkie se gatkant toe en leun ver oor om die seiltjie aan die een punt beet te kry om onder in te loer waar die klip is.

 

Toe Ouma daardie seil wegtrek, is daar nie ’n teken van ’n klip nie.  Sy ruk die seil weer oop, net om seker te maak dat sy nie verkeerd kyk nie.  Sy druk haar hande in haar sye en gluur na Oupa, sommer deur die agterste venstertjie, waar hy sit en hande vryf in die bakkie.

 

Ouma vertel toe vir my dat Oupa so bang was, dat hy die bakkie se deur maar stadig oopgemaak het. Eers sy regterbeen by die deur uit gesit, dan die linkerbeen. Hy vat met sy regterhand op die dak van die bakkie en trek homself uit. Hy maak die deur toe en haal sy pyp uit. Stop, duim, druk en vuurhoutjie, dan blaas.

 

“Nee wat Vrou, ek het nie daai klip gelaai nie.  Die ding is darem heeltemal te swaar. Hoe moet ek man alleen die ding laai?  En hy lyk boonop soos die buurvrou se kat wat na my duiwe loer.”

 

Ouma sê vir my sy het nie woorde gehad nie.  Sy het vir die tweede keer weer aan die seiltjie geruk, net om seker te maak dat sy daardie groot klip, wat so groot soos die 14 honderd se wiel is, nie miskyk nie.

 

“Daantjie, ek het dan so mooi gevra dat jy die klip moet laai.  Wat kan dan so moeilik wees? Was daar nie iemand langs die pad wat jou kon help nie?”

 

Ouma storm toe blykbaar die huis binnne en los vir arme Oupa net daar op die sypaadjie.  Shame tog, die Oupa darm.

 

In die slaapkamer het Ouma voor haar dressing tafel gaan sit, haar hare agtertoe gekam, parfuum aangespuit, van daai wat soos pronkertjies ruik,  en lipstiffie aangesit. Sy het haar handsakkie gegryp en onder haar arm ingedruk.

 

 

Terug by Oupa op die sypaadjie, wink sy hom bakkie se kant toe – sy klim sommer by die bestuurder se kant in.

 

Dis ’n mooi dag buite, net soos die Vrystaat op sy beste kan lyk, maar o wee tog, binne in die veertien honderd bakkie is daar ’n stilte wat so in mens so bene gaan sit.

 

Toe hulle by die sement tafeltjie en stoeltjies kom wat langs die pad staan, ry Ouma mooi netjies agteruit sodat die 14 honderd so gatkant teen die klip staan.

 

Sy kyk in die truspieëltjie en sê Oupa moet uitklim om te kyk hoe ver sy nog kan gaan.

 

Oupa klim uit die bakkie uit en beduie waar Ouma moet stop. Toe die bakkie tot stilstand kom, is Ouma by die deur uit.

 

Ouma vertel en beduie vir my hoe sy tot langs daai enorme klip stap en die ding aankyk.

 

“Kom Daanjie, vat jy daai kant en ek vat die kant. Vandag tel ons hierdie klip SAAM op.”

 

Ouma  buk toe vooroor en wikkel aan die een kant van die klip.  Dan aan die kant waar die ‘kat-se-oor’ is, die klip sit vas.

Sy vertel hoe sy agter die klip gaan staan, teen hom skop (en sy beduie ook sommer vir my) maar die klip beweeg nie ’n duim nie.  Hy sit om te sit.

 

 

 

Toe buk Ouma en grou halfhartig ’n slootjie om te kyk hoe diep die klip in die grond begrawe lê.

 

“Hy’s diep Vrou,” sê Oupa.

 

“Hy mag diep wees, maar hy het nie ‘n Ma of ‘n Pa nie.” sê Ouma.

 

Kom ons moet trek.

 

Oupa staan voor die klip en trek. Ouma stoot van agter af.

 

Niks,

 

“Wag Daanjie, ek het ’n plan.  Agter die seat is ‘n nylon tou. Ons kan die tou aan die klip vasmaak en die ander punt aan die veertien honderd en dan trek die bakkie hom uit.”

 

Ouma vertel toe hoe Oupa die tou uit die bakkie gaan haal en met die ding so oor die arm aangestap kom.

 

Hy bind eers die een punt aan die klip vas, met so groot boepens knoop en dan die ander punt aan die bakkie, vertel Ouma.

 

Toe hy klaar is sê Ouma: “Nou toe Daantjie, ek gaan nou stadig wegtrek en jy moet kyk dat die klip nie te vinnig uit die grond uitlig nie. Ek wil nie hê hy moet in stukke by die huis aankom nie.”

 

Ouma stap na die veertien honderd, start hom weer op en ‘rev’ hom so bietjie.

 

Oupa beduie weer met die regterhand dat sy maar kan vorentoe ry, vertel Ouma, en ek kan voel hoe die lag in my opbou.

 

“Hoe lyk hy Danie?” skreeu Ouma by die venster uit.  Haar regterelmboog hang teen die buitekant van die deur en sy loer oor haar regterskouer met haar kop wat ook teen die tyd by die venster uithang.

 

“Stadig nou.”

 

“Gee klein bietjie vet.”

 

“Wouw, stadig nou eers, die tou span nou baie styf.”

 

Ouma vertel dat Oupa soos ’n kat op ’n warm plaat staan en rondtrippel.

 

“Wat sê jy Danie?”

 

“Ek sê stadig nou eers!”

 

Nou goed, trap maar die vet. Nog bietjie, nog bietjie, ditsim, vertel Ouma hoe Oupa sy bes doen om hierdie klip tog net uit die grond gelig te kry.

 

En daar, langs die piekniektafeltjies, naby die lokasie, rol die klip uit sy gat.

 

 

“Nou vir die laai,” het Ouma gesê.

 

 

“Kom, Daantjie, haal daardie seiltjie van die bak af.  Ons gaan hierdie klip op die seiltjie rol, dan gaan ons hom so met seil en al lig tot op die bak. Dit sal makliker wees as wat ons die klip self moet optel.”

 

 

Oupa wou nog iets sê, maar Ouma het die seiltjie gevat en dit so reg voor die klip op die grond oopgerol.

 

 

 

 

 

“Nou toe, nou moet ons aan die punte van die seiltjie vat, dan lig ons hom so mooi op tot by die bak.” Ouma gee die orders net soos sy kan as sy eers op dreef is.

 

 

Haai oe tog my mens, ek kan nou al in my gedagtes sien hoe Ouma langs daardie seiltjie gaan staan en haar hakke so effens in die grond inskop, soos ’n Os wat wil storm.  En hoe sy so wydsbeen staan asof haar voete in moeder aarde haarself geplant is. Dan het sy nog ’n rok aan, so haar bene kon ook net sò ver oop.

Ek kan al sien hoe sy vooroor buk en die punte van die seiltjie vasvat en dan met daardie stem van haar sê: “Nou toe Danie, op die telling van drie lig ons hierdie klip saam op.”

Siestog, Oupa het seker geen kans gehad om nog iets terug te sê nie.

 

 

“Een,…het jy hom Danie?”

 

“Twee….” ” Ja ek het hom ou Vrou, maar…”

 

“Drie….” en Ouma vertel sy het daardie ‘drie’ net ekstra hard gesê vir ’n bietjie woema, en daar lig hulle die klip op tot op die bakkie.

 

Ek wonder net hoe die arme bakkie se springs dit gehou het, want Ouma sê dis net genade van bo, wat daardie bakkie se voorwiele plat op die aarde gehou het.

 

 

 

Die aflaai was glo makliker.

 

Ouma het die veertien honderd ‘gereverse’ dat die gatkant van die bakkie mooi bokant die plek is waar die klip moet lê.

 

Sy trek aan die regterkant en Oupa aan die linkerkant en daar val die klip, gat oor kop, netjies op sy plek, net hier waar hy nou lê.

 

Ouma sê toe vir Oupa dat hy die blikke wit verf in die garage moet gaan haal, sodat hulle die nommer op die stukkie van die klip verf wat soos ’n kat-oortjie lyk.

 

 

Toe Oupa terugkom is Ouma reeds gehurk voor die klip, vertel Ouma vir my met ’n diep tevrede glimlag.

 

Hy maak die blikkie verf oop, hurk langs haar en daar verf hulle saam die huisnommer op die klip. Nommer 63.

 

 

Ja wragtag, dit was so mooi.

 

 

 

 

 

Ouma vertel toe vir my my hoe sy en Oupa daar so langs die klip gesit het en die nommer  saam opgeverf het. Soos wat mens seker nou maar die boek sal teken as jy getroud raak, dink ek by my selwers.

 

 

 

Ek vra toe vir Ouma hoekom nou juis daardie klip?

 

Sy sê toe: “Jong, sien jy daardie berg? Dis dieselfde klip as hierdie klip en die Kerk is ook van dieselfde klip gebou. Ek en Oupa is in daardie kerk getroud. Dis hoekom. Dis ’n simbool.”

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: