OUMA
“Kom Boeta, die winterson maak ons warm”
“Kom, Boeta, kom sit hier naby my, sit da’ “
Ouma sal altyd die warm in my hart dra,
die Sonneblom se geel met Ouma se hand streel.
“Die winter is koud hierdie jaar, sit daar”
“Die winterson stap sleepvoet in my kamer”
Ouma sal altyd die warm in my hart dra
Die sonneblom se geel met Ouma se hand streel.
“Die skooldae is lank in die winter-koue, ek weet”
“Maar die geel son maak ’n goue streep in my kamer”
Ouma is my goue winter son
Ouma is my geel Sonneblom
‘Boeta, kom, ek maak vir jou ’n slap toebroodjie”
“Met regte botter en goue stroop, ekstra vir liefde”
Ouma is my goue blom
Ouma is my winterson
Daar sal ’n tyd kom wanneer die Sonneblom
val en maer vooroor buig, en aan ’n
krom stingel met sy gesig na die aarde hang.
Die tyd is naby vir my Sonneblom om te gaan,
Jare van die Winterson ook sal vergaan
Maar, Boeta, vir jou gooi ek ’n swart pit
uit my krom hand, tot in die sand,
wanneer ek doodgaan, sal daar ’n nuwe Sonneblom opkom
En jy, Boeta, sal altyd my nuwe Sonneblom wees
en saans sal jy van my droom,
van die warm winterson in my kamer
van die slap toebroodjies
en van my glimlag wat jy in jou hart sal dra,
vir altyd
“Ouma, my Sonneblom”
*vir Andre
O, ek tjank nou oor my sonneblom ouma. Jy is woord geseënd, Breinsuiker. Jy maak mens se siel ryker.
LikeLike
Dankie.
LikeLike
Dit is inderdaad ‘n special gedig. Baie dankie dat jy dit gedeel het.
LikeLike