Meteens onthou ek die agtste koevert en sy seël.
Paradoks.
DAGBOEKINSRYWING:
Wat is ‘n paradoks? Net dit.
Ek het dit vir my skool juffrou gevra?
“Waar het jy daardie woord gehoor?” het sy gevra
“In die kerk. Die Dominee het Sondag daarvan gepraat”
“Dit is as jy iets vertel wat dalk effens snaaks of onmoontlik is maar dat dit tog moontlik kan wees”
“Dankie Juffrou”
Toe klim Paradoks by die koevert uit en skop nes in my brein.
Ek wou nog vir die juffrou vra wat is die verskil tussen ‘n leun en ‘n geheim, maar ek het nie. Daardie vraag gaan my geheim bly en ek sal dit tog iewers uitvind. Iemand sal my kan sê.
“Hoekom is jy so snaaks?” het een van die seuns in die klas vir my gevra.
Ek het hom nie geantwoord nie. Aspris nie.
“Jy moet jouself regruk soos ons word, deel van ons” het hy gesê.
Ek het aspris nie gepraat nie.
“Jy moet maats kry, dis nie normaal om so alleen rond te dwaal nie. Die mense gaan dink dat jy mal is”
Ek is nogsteeds aspris.
“Ag, whatever” het die seun gesê en gelag.
Ek het omgedraai en in sy oë gekyk toe vra ek hom reguit:
“Is ek vir jou mooi?”
“Fokkit is jy fokken mal, faggot”
Toe weet ek.
DAGBOEKINSKRYWING
Wat is ‘n faggot? Hy het gevra of ek mal is, dit is ‘n manier om te sê ek is lelik. Ek het ‘n plan. Ek kan nie wag dat die skoolklok moet lui vir huistoe-gaan-tyd nie.
Na skool het ek vinnig na die kafee toe gehardloop. Ek het altyd gesorg dat, of hardloop, of baie vinnig stap, want dis oefening en dit help ‘n mens om gewig te verloor. Ek is nie so baie gepla oor die ‘oefen’ deel nie, maar die “gewig verloor’ deel is belangrik.
Ek het by die kafee ingestap.
“n Groot pak slap tjips asseblief, en ‘n halwe wit brood”
“Jy raak te groot vir jou skoene. Wat is die geheime woord……..? ASSE……?” het die vrou agter die toonbank gepraat.
My mond het gesê “ASSEBLIEF” my hart het gesê, “Ek is nie jou fokken kind nie nog minder jou maatjie. Gee dit tjips, doen jou werk en hou jou bek” maar ek het dit nie gesê nie.
“Ek gaan gou betaal”
“Kind jy het ‘n gesonde eetlus. Jy koop elke middag hierdie brood en tjips. Eet jy dit alleen?”
“Nee, Tannie, my maats eet saam” liege k
“Het jy dan maats”
“Ja, Tannie, ons is drie wat eet” het ek gesê.
Dis nie ‘n lieg nie. Dis ek, Die monster en Die leun wat saameet.
Terug by die tjips toonbank.
“Sal Tannie sommer die sout so in ‘n koppie gooi. Almal wil nie sout op hulle tjips het nie. Mag ek seblief ‘n ekstra betertjie met lou water kry, asseblief?”
“Wat doen jy met die lou water?” het die vrou gevra
“Ek spoel my hande daarmee af. Ek hou nie daarvan dat my hande na tjips ruik nie” het ek gesê.
“Eet dan met ‘n vurk” het sy gesê.
“O nee, Tannie, dis so lekker om brood en tjips met die hand te eet”.
“Nes jy dan wil”
Soos ek by die kafee uitstap, groet ek oor my skouer. “Koebaai” dis al.
Ek is haastig.
Ons huis is so twee strate van die kafee af. Ek sal by die volgende straat onder die groot peperboom sit en eet. Dan die lou soutwater drink. Dan by die tyd wat ek by die huis kom, sal ek kan opgooi by die lukwart boom.
Die kos mag nie langer as 5 min in my maag bly nie, anders verander dit in vet.
Ek eet vinnig.
EERSTE HAP:
“Fokken faggot” NIKS WERD
TWEEDE HAP
“Jy moet soos ons word” (Dit beteken ek is lelik)
DERDE HAP
Jy moet regkom, kyk hoe lyk jy (Dit beteken ek is abnormal)
VIERDIE HAP, VYFDE HAP, SESDE HAP…….ENS
“Jy is niks. Jy is niks. Jy is ‘n zero. Jy is nogsteeds niks”
LAASTE HAP.
Uiteindellik. Ek beteken iets. Die leegheid in my is gevul. Die selfwalging is weg.
Dank God dis weg….dalk is dit ‘n Paradoks….ek weet nog nie….ek sal die lou-soutwater sluk.
Maar meteens voel ek vet, dik, lelik….hierdie kos moet nou uit.
Ek het gekots voordat ek by die huis kon kom.
Ek het voor die huis gekots van die seun wat gesê het dat ek myself moet regruk.
Ek het in die kappertjie bedding gekots.
Ek het na die kots gekyk. Ek wou elke stukkie tjip wat ek geeët het daarin tel.
Ek kots weer, die keer in die malva bedding.
Ek kyk weer na die kots, tel die broodkrummels.
Ek kots langs hulle posbus.
Ek het die kots in die beddings toegeskop met sand, maar nie die een by die posbus nie. Dis vir daai etter van ‘n ou wat gesê het…
“Fokkit is jy fokken mal, faggot”
Ek druk my vinger in my keel en hou hom daar vir ‘n rukkie.
Kots weer langs die posbus.
Dis vir die ‘faggot’ deel.
Ek staan regop, kyk na hulle voordeur en loop weg.
Daardie aand het ek lekker geslaap, want ek het ‘n rede om more oggend wakker te word. Om weer tjips te koop, te ooreet en by daai ou se posbus gaan kots. Ek sal dit elke dag doen.
Die monster het my getroos.
Die wangedrog het my vasgehou.
Ek is nou veilig, ek is nou iets, ek is nou iemand.
Leave a Reply