Bang het ‘n manier om so in jou te kom bly dat jy nie eens meer weet dat hy daar bly nie. Dis net so nou en dan wanneer hy uitkom, wat jy bewus word.
Die bang en die monster het die meeste van die tyd kragte gemeet. Al wanneer daardie stemme stil geword het, was as ek slaap. Soete slaap.
Nie omdat slaap soet is nie, nee. Ander redes.
Ek weet dat die mense oor my geslapery skinner. Ek traak nie. Dis al wanneer die stemme stil word.
Soms as ek my groot flennie hemp aantrek en oorgroot denim, raak hulle ook stil. Dis moet moeite wat ek hulle stil kry, maar darm so bietjie.
Monster en Bang het ‘n manier gehad om deur ander mense se monde in my ore en hart te kom klim. Ek weet nie hoe hulle dit regkry nie, maar hulle doen dit, en hulle doen dit so goed.
Net die ander dag stap ek by ‘n winkel in.
My kop, mond en hart sê vir my om ‘n vars brood te koop met baie kaas en peanut botter. Ek wil dan ‘n dik sny brood vat en hom insmelt met die peanut botter en ‘n stuk kaas daarop sit. Dan sommer nog ‘n sny brood bo op sit, net vir ingeval.
Ek wil dan ‘n milkshake koop, double thick vir die agterna lekker kry. Mens rol daai milkshake mos eers so van die een kies na die ander, bult jou wange so uit, dan speel jy hom met jou tong, dan eers sluk jy. Dis mos so lekker. Al sê mense dat dit swak maniere, is, traak ek nog minder.
Dis snaaks hoe sekere dinge my traak en met ander dinge traak ek nie eens nie.
“Daai kind trek darm maar vreeslik trens-agtig aan” hoor ek ‘n vrou sê.
Ek traak nie
“Kan hy nie net klere aantrek wat pas nie. Kyk hoe hang dit soos lappe aan hom” sê die ander vrou.
“Dis seker maar die tiener tyd wat so maak. Hulle raak so” sê die een vrou weer.
“Nee, man, my seuns is ook tieners en kyk hoe lyk hulle teen hierdie enetjie.”
“Jy moet seker maak dat hierdie enetjie nie maats maak met jou seuns nie. Slegte invloed”
“Ek hoor so ja. Die kind is mos so half kunstig en sulke mense is reeds nie lekker nie”
“Man, ek sê net die ander dag vir my seuns dat ek so trots is op hulle voorkoms. Altyd deur ‘n ring trek”
“Ja, jou seuns is regtig netjies”
“My seun en dogter hou ook van mooi aantrek. Het jy haar mooi rokkie gesien met die aanneming by die kerk?”
“Sy het pragtig gelyk”
“Maar hierdie enetjie het sommer so ou pak aangehad wat lyk of dit tweedehands is”
En net daar, met die woorde TWEEDEHANDS kom gryp die monster my vas. Die res van die twee vroue se gesprek het my nie getraak nie. Ek weet van hulle kinders wat so mooi gelyk het by die aanneming van die kerk, en ek worry min.
Die een vrou se seun was regtig mooi. Ek weet dat ek aangeneem is, maar ek weet nie so lekker wie my aangeneem het nie, want my aandag was by die vrou se seun.
“Hy kan my maar aanneem” het ek gedink.
Maar TWEEDEHANDS het my verwurg.
Die lus vir brood en peanut butter is DANG GOD weg en ek loop by die winkel uit.
“Hoe kan ‘n mens tweedehands wees?” het ek myself gevra.
“’n Mens is tweedehands as jy vet is, soos jy” sê die monster.
“Ja, net om aan daai brood en peanut botter te dink het jou klaar vet gemaak?” sê bang
Ek het huistoe gestap om myself te weeg. Ek sal vandag op die skaal klim.
“Jy is te Bang” het bang gesê.
Ek is wragtag te bang, jy is reg. Ek gaan ‘n ander plan maak.
Leave a Reply