SES (VI)

Die bome lag vir my. Die gras lag vir my. Die straat lag vir my. Die berge lag, die wilgerboom en die roomys kombi lag en die bang lag saam.

Hardloop, hy gaan jou vang, sê ‘n stem toe ons laatmiddag straat-af stap.

 

Die middag stappery was vir my lekker, behalwe dat daar ‘n monster saam met ons gestap het.  Of eerder, die monster het saam met my gestap. As ek stadig loop, is hy agter my, as ek hardloop is hy agter my, as ek omdraai en weghardloop is hy voor my, seker om my te keer.

Die bang sit in my.

Dis ‘n baie lelike ding as die bang eers in jou sit.  Hy klim nooit weer uit nie.  Al jaag jy hom weg, klou hy.  Hy klou aan jou maag, jou hart, jou are, jou niere en jou gal.  Hy bly.

‘N PAAR JAAR LATER

Bang het ‘n suster wat saam met hom bly.  Haar naam is monster.  Hulle stap so hand aan hand.  Die een kan nie sonder die ander. Ek dink daar is iets in die Bybel van Jonatan en Dawid.  Ek dink dis hulle twee. Ek ken nie die bybel so goed nie.

Dalk moet ek die Bybel leer ken.  Hulle sê dat die Bybel tog die monsters kan wegjaag.  Die Bybel en mosters loop nie saam soos Dawid en Jonatan nie. Hoekom klink Jonatan amper soos ‘satan’?  Ek jaag daai dink eers weg.

Ek het toe uitgevind dat die monster wat my gejaag het nie ‘n monster was nie, maar net my skaduwee.  Dis maar al…of is dit?

“Ek het die lelikste skaduwee wat enige mens kan he” het ek eendag vir iemand gesê. Ek kan nie onthou vir wie dit was nie.

“Almal se skadus lyk dieselfde” het Iemand gesê.

Ons het langs mekaar gaan staan en na ons skaduwees gekyk.

Ons skadus het soos lang lywe voor ons op die gras gelê.

Sien jy? Het hy gevra.

“Ek sien”

Maar tog het daar iets anders saam met die monster in my kom bly.  Ek weet nie wat dit is nie, maar monster het ‘n paar vriende gebring om saam te bly.

Toe ek klein was, was dit seker maklik vir die monster om in my te bly, reeds omdat ek nie baie mooi verstaan het nie, maar nou verstaan ek. Dis hoekom hy iemand gebring het om hom geselskap te hou.

Ek is moeg dat die monster saam met my moet gaan slaap, maar daar is niks wat ek daaraan kan doen nie. Dit is so.

Omdat daar ‘n paar monsters, gedrogte en wangedrogte in my is, wou niemand met my maats wees nie, daarom het ek alleen groot geword.

Ek het lankal al die akkerboom my vriend gemaak en selfs die manna boom wat ek wou uitkap het my vriend geword.  Bome het nie monsters nie en hulle gee ook nie om dat daar monsters in my bly nie.

Ek het die spieël wat in my kamer gestaan het met ‘n lap toegegooi.

Ek het die spieël in die badkamer met ‘n handdoek toegemaak.

“Vir wat doen jy dit?” het Ma gevra.

“Ek hou nie van die spieël nie”

“Dis jou verbeelding. Jy doen dit nie weer nie. Hoor jy vir my?”

“Ja Ma”

Ek het mos daardie dag toe ek in die klaskamer moes agter bly geleer om maar net stil te bly of om net JA te sê. Dis beter so.

“Jy gaan een van ons word. Jy gaan ook ‘n monster word” het die wangedrog gesê.

Gaan weg.

Hulle het nooit weggegaan nie.  Ek het geleer om die lig af te sit as ek gaan bad.  Net die effense lig wat van die straat se kant af kom het deur die venster geval sodat ek net ‘n bietjie kan sien.  Soms het ek my onderbroek aangehou as ek moes bad. Soms het ek die onderbroek uitgetrek, maar bo op my privaat gesit.  Die monster het gesê dis beter om dit so te doen.  Hy het nie ‘n rede gegee nie.  Dis net beter.

Die dink in my het al groter geword.  Die bang ook.

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Start a Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: