VIER (IV)

Die volgende oggend moes ek skool toe gaan. Ons het naby aan die skool gebly en ek kon sommer stap.  Pa het vir my toebroodjies vir die kosblik gemaak.  Met sandwich spread op. Die lekkerste toebroodjies.  Dit was somer en die son het vroeg-vroeg al sy gesig oor die berge kom gooi.

Ek het die dertig meter tot bo by die stopstraat gestap, dan links gedraai en 50 meter tot by die skool.  Ek het onder ‘n akkerboom deur gestap, verby die Manna Boom, wat ek geglo het kos vir die Bybel se mense gegee het. Dis waar die Manna storie in die Bybel vandaan kom. Dis van hierdie boom af.

Hoe kan die Bybel se dinge hier gebeur het en dan is hier nog monsters ook.  Ek kon dit nie verstaan nie.

Ek het langs die Manna Boom gaan staan, ‘n wit klossie opgetel, dit geeët en dit was die lekkerste soet wat ek nog geproe het.

Weer het ek gevra: Hoe kan die Bybel se mense onder hierdie boom kom eet het en dan is hier nog monsters ook?

Ek het nie ‘n antwoord gekry nie. Dit was finish en klaar.

Dalk as ek die boom klim sal ek die monsters en vir Bleek op die horison sien.  Wat as hulle saam met my klas toe kom?  Juffrou sal nie daarvan hou nie.

Ek het my tas neergesit en gesorg dat my toebroodjies onder al die boeke weggesteek is, sodat, vir ingeval, die monster en Bleek dit nie kan steel nie.  Toe stap ek nader aan die boom, vat aan sy growwe bas en gee my eerste tree die boom in.  Ek trek myself eers met my arms op, trap op ‘n dwars tak. Die tak is stewig.

Ek trek myself weer op en voel dat die tak waaraan ek trek effens swak is.  Ek vat aan ‘n ander tak. Dis beter. Ek trek myself op, trap dan op ‘n ander tak en so trap en trek ek myself tot hoog in die boom.

Daar sit ek soos ‘n kat wat iewers opgeklim het en nie weer kon af nie. Dis te hoog om af te kyk. Die hoog maak my bang.  Ek klou aan ‘n dwars tak vas, pluk ‘n klossie wit en eet dit.  Toe gaan sit ek op ‘n ander dwars tak en kyk terug. Die son vang my nou lekker op my rug en vir een of ander rede is dit mos lekker om in hierdie boom te bly sit. Dalk kan ek vir lank hier sit, al is ek bang.  Dis beter om vir die HOOG bang te wees as om vir die monster en Bleek bang te wees.

My bene hang slap en ek swaai hulle heen en weer.  Maar ek kyk nie af nie. Afkyk is bang-kyk.  Kyk ver.

Maar tog waag ek dit om af te kyk. Dalk sal ek net een keer bang wees en dan sal die bang later weg wees.  Maar toe ek van die ver kyk af wegkyk na die afkyk toe, sien ek die monster.  Hemelsgroot. Groter as wat ek hom nog ooit gesien het.  Hy sit saam met my in die boom.

Hoe het hy tot hier geklim sonder dat ek hom sien.  Nou is die hoogte bang nie meer daar nie maar die monster bang is hier.  Om my aandag van die bang te probeer wegvat, probeer ek uitwerk hoe oud ek is.  Ek werk uit dat ek agt jaar oud is.

Die bang is nie weg nie, die monster ook nie

Ek lig myself stadig van die dwarstak af, trek dan aan ‘n ander dwars tak om aan die ander kant van die groot bas te sit.  Ek het nog altyd dwars getrek, dink ek.

Die monster beweeg saam met my. Al om die boombas.  Ek klou aan ‘n ander tak vas en die monster gryp aan dieselfde tak.

Die tak gaan breek, dink ek.

Ek kyk weer die ver kyk wat die bang wegjaag.  Die monster is meteens weg.

Ek kyk weer die bang kyk, en hier is die monster.  My kop is deurmekaar. Ek is agt jaar oud, werk ek dit weer uit om die bang weg te dink.

Ek sal vir die juffrou in die klas vra hoekom daar ‘n monster agte rmy aanloop. Sy sal weet. Sy sal alles weet.

Sê nou die monster vat my toebroodjies met die Sandwich spread op?

Meteens word die bang weggejaag deur kwaad.

Ek het gehoor in die Sondagskool dat hulle van die boom van goed en kwaad gepraat het.  Is dit dalk hierdie boom?  Goed vir die manna, kwaad vir die monster.  Net die Here sal dit weet.

“Here, watter boom is hierdie?” bid ek

Stilte, net die blare wat om my sing.

Ek besluit om die bang weg te jaag, die kwaad anderkant die berg te gaan neergooi en so dapper as wat ek kan uit die boom moet klim.  Ek kry dit nie heeltemal reg nie.

Toe ek die laaste trap op ‘n tak wil vat, breek die tak en ek val.  My arm breek. En ek huil.

Dis die boom van Kwaad, het ek besluit.

Dis die bleddie boom van kwaad, en ek gaan hom nog kom uitkap.

Die monster het my uit die boom gestamp, die kwaad het my arm gebreek en nou is ek stukkend.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: