Ek het weer voor die spieël gaan staan en niks gesien nie. Ek het die stoeltjie suutjies nader getrek om beter te kan sien. Ek het op die stoeltjie gestaan en in die spieël gekyk. En daar sien ek die monster. Dis omtrent 1 uur in die oggend, almal slaap, die huis is stil en die maan is vol. Hy skyn deur my kamervenster en knipoog in die spieël vir my.
Ek knipoog terug.
Ek fluister vir die maan.
“Is jy die monster?”
“Nee” sê die maan.
“Sommer net so NEE. So sonder om iets by die NEE te las?” het ek gevra.
“Ja” sê die maan.
“Ja, jy is die monster? Of Ja….Nee….sonder om iets by te las?” vra ek.
“Ja, sonder om iets by te las”
Die klomp JA EN NEE het my deurmekaar gemaak. Ek het van die bankie afgeklim, na die gordyn gestap en dit dig toegetrek sodat die maan nie weer vir my moet knipoog nie.
Weer het ek op die bankie gaan staan…die keer is ek dowwer en ek lyk so bietjie meer na die monster wat my jaag as ons straat af stap.
Ek trek my oë op klein skrefies om beter te kan sien. Hulle sê dat di twerk.
Ek sien myself in die spieël, maar by my staan ‘n bleek monster. Ek skrik.
Ek word bang vir die monster, spieël en die ergste van alles was dat ek vir myself bang word.
Ek klim van die bankie af, gaan sit hom terug waar hy hoort en gaan klim in die bed.
Die monster het saam met my in die bed geklim. Die Bleek het saam met my onder die lakens gerus. En dis die begin van die gedrog in my wat 45 jaar later nogsteeds saam met my stap.
Maar in elk geval, ek gaan nie nou 45 jaar vorentoe spring nie. Ek wil vir julle vertel hoe ek saam met die monster en Bleek geslaap het.
Monster het agter my rug gaan inkruip en Bleek het in die waai van my bene gaan lê. Ek het gewonder hoe ek dit gaan regkry om hierdie twee gedrogte uit my bed te kry.
Ek het opgestaan, die gordyn weer oopgetrek en vir die maan gevra:
“Sal jy asseblief hierdie gedrogte uit my bed kom haal en anderkant die berg gaan neersit?”
“Nee”
“Sommer net so NEE. Sonder iets wat nog moet by kom?” fluister ek
“Ja”
Weer het die klomp JA en NEE my so deurmekaar. Ek maak die deur suutjies oop en stap op my tone die gang af. Ek moet weet of hierdie monster en Bleek my gaan volg. Hulle het nie. Hulle het in die bed gebly.
“Luigatte” het ek gefluister.
Min het ek geweet dat hierdie LUIGATTE later in my lewe SLAPGATTE gaan word.
Leave a Reply