Van nature is ek nie iemand wat hou van wag nie. Praat nie eens van om in ‘n lang ry by die bank te staan of, nog erger, in ‘n ry vir kos te staan.
Wat my onder kry is die gewag oor ‘n telefoon as daar ‘n eentoninge deuntjie speel. Oor en oor. Dieselfde ding. Kon hulle nie maar ‘n stukkie boeremusiek ook daar ingesit het nie?
Maar daar is ‘n ander soort wag wat lankal al verdwyn het. ‘n Soort wag wat nie eens meer bestaan nie. ‘n Lekker soort wag. Dis daardie wag van fotos neem.
Eers word die klappie agter die kamera mooi oopgemaak sodat dit gereed is vir die film in sy lê te kry, want daardie film mag nie lig sien nie. Dan word die film vinnig uit ‘n vierkantige boksie gehaal en sorgvuldig in sy lêplekkie neergelê. Amper soos wat ‘n mens ‘n baba in sy bedjie sal sit.
‘n Stukkie vir die bruin film moet dan versigtig uitgetrek word sodat dit aan die ronde wielietjie kan vashaak om later opgewen te word. Die film moet ritmies beweeg en anderkant toe opgerol word as die foto eers geneem word.
Wanneer alles nou mooi in plek is, word die kassie se deksel mooi toegemaak en dan draai jy die wielietjie wat hier bo in die regterkantste hoek sit, met jou duim totdat jy seker is daardie film het mooi gevat en gaan nie iewers uithaak of deurmekaar raak nie.
Nou is die kamera gereed vir foto’s neem.
Die geneem van die foto moet dan sorgvuldig beplan word. Eers moet die son dopgehou word sodat die lig op die mense, gewoontlik familie, vriende of kleinkinders, val. Die son moet agter die fotograaf wees. Dis die wet van foto neem.
Daarna moet almal doodstil staan, glimlag en vir die kamera kyk.
Die foto word geneem.
Met jou duim wen jy hom so bietjie op totdat hy ‘klik’ maak. Nog ‘n foto van dieselfde groep mense moet geneem word, net vir ingeval die eerste een nie uitkom nie. Of dalk dof is. Of dalk het iemand nie vir die kamera gekyk nie.
Daar word nou deur die nou gaatjie gemik, een oog toe, vingers weg van die lens af en dan klik die kamera ‘n die foto is geneem. Hopenlik nou perfek. Die mense klap hande en lag saam.
Sommige sê dat hulle ook so foto wil hê. Die kinders hardloop om verder te gaan speel, want die gefotonemery is nie vir hulle nie.
Nog ‘n paar fotos moet geneem word, ten minste nog 23 of 22 om die film vol te kry. Dit gebeur oor ‘n tydperk van omtrent 8 tot 10 dae. Ouma word in die kombuis afgeneem terwyl sy koesuster vleg, die baba word in die bad afgeneem met klomp skuim op haar kop, Oupa word afgeneem terwyl hy op die stoel slaap.
Uiteindellik is 24 fotos geneem.
Die kameral word dan na ‘n fotowinkel geneem. Die man wat daar werk haal dan die film sorgvuldig uit, want weereens, die film mag nie lig sien nie anders verdwyn al die fotos.
Ons los maar die werk vir die man by die fotowinkel. Hy weet ten minste wat hy doen.
Die film word uitgehaal, ‘n koevert met jou naam, van en telefoon nommer word neergeskryf en jy kry ‘n afskeur stukkie van die koevert met ‘n nommer op.
Die film word dan in die koevert gesit, gereed vir die donker kamer.
“Jy kan more so 10 uur die foto’s kom haal” sê die man.
“O, so vinnig al?” vra ek
“Ja, ons is nie te besig nie” sê die man.
Die volgende dag is ek daar, pure opgewondeheid. Ek gee die strokie met die nommer op, hy blaai deur ‘n rak met klomp koeverte en haal myne uit.
Die koevert is lekker dik van al die fotos.
Ek betaal en kan nie wag om daardie koevert oop te maak nie.
Ek gaan sit sommer in die kar en begin deur die foto’s te blaai. Ek lag vir sommige fotos en frons geirriteerd vir ander wat nie te mooi uitgekom het nie.
Dan vat ek die bruin negatiewes, hou dit teen die lig en bekyk hulle met skrefies oë.
Elke bruin negatief het ‘n nommer. Ek skryf van die nommers mooi netjies op ‘n stukkie papier neer, met ‘n naam langsaan. Een vir Tannie Elsa, die een vir Oom Faan en sy gesig (sommer twee van hierdie dan gee ons vir sy dogter ook een). Vier van die groep foto sodat almal een kan kry.
Wanneer al die nommertjies mooi neergeskryf is met die aantal fotos in hakkies wat gedruk moet word, stap ek terug na die foto winkel en alles begin van voor af.
Koevert, naam, van, telefoon nommer, negatief se nommer en dan kan ek dit more oggend kom haal.
Nou ja toe. Daardie soort wag is vir altyd verby. Vandag kyk mense deur ‘n skerm, druk die digitale knoppie sommer vir niks, want as dit nie mooi lyk nie, dan druk ons hom weer. Die lelike foto kan uitgevee of, soos die bekend staan (gedelete) word.
Nog ‘n paar knoppies word gedruk, iewers hoor jy ‘n ‘piep-piep’ geluik en ‘n paar mense het daardie foto. Sommer so vinnig. Sommer so sonder romanties wees. Sonder opgewondenheid. Sommer net soos ‘n groet in die verbygaan.
Ek verlang na outydse fotonemery. Dis soos hulle sê: “moenie hastig wees met stadige dinge nie”
Leave a Reply