DIE BRIEF

DIE BRIEF.

 

Wanneer laas het jy ‘n brief gekry?  Of kom dat ek die vraag anders vra.  Wanneer laas het jy vir iemand ‘n brief geskryf?

Ek praat nou nie van ‘n saaklike brief nie.  Sommer net ‘n gewone “hallo hoe gaan dit – hier gaan dit goed” brief.

‘n Brief wat vra hoe dit met die familie en die gesonheid gaan.  Dan in dieselfde brief dat dit hierdie kant ook maar goed gaan.  Dis droog, lank laas gereën, maar ons is dankbaar dat almal nog gesond is.  Dat die kat nou kleintjies gekry het (wil jy nie dalk ‘n klein katjie he nie?).

Dan verder vra jy uit oor die reën daai kant van die wêreld.  Hoe gaan dit met Tannie sus en so en hoe is die Oom se bloeddruk nou, drink hy nog elke oggend sy doepa?  Hoe gaan dit met die kinders en kleinkinders?  Die en Daai een verwag mos nou die derde enetjie en ons kan nie wag om te sien of dit ‘n seuntjie of dogtertjie is nie.  As dit ‘n seuntjie is gaan sy naam so wees en as dit ‘n dogtertjie is gaan haar naam sus wees.  Ons hoop tog maar hulle gee familie name, jy weet mos hoe is die jong mense van vandag.  Gee vreemde name vir die kinders.

 

Dan sit jy die potlood eers neer, maak ‘n koppie koffie, steek ‘n sigaret aan of stop jou pyp, kyk by die venster uit.  Tel die skerpmaker op en maak die potlood weer mooi skerp.

 

Jy vertel van die bome se blare wat nou geel word, winter is oppad.  Dit gaan ‘n koue winter wees omdat dit nie reën nie en die winde wat so waai.  Die Tannie brei darm nog ‘n bont kombersie vir die koue voete.  Ek hoop net nie die Tannie kry weer winterstone nie. Dis ‘n aardigheid.

 

Jy vat dan die liniaal wat langs jou lê en trek ‘n streep onder die “aardigheid” om dit te beklemtoon.

Ja, jy trek ‘n streep met die liniaal, want die brief moet perfek wees.  Dis nie net sommer ‘n gewone brief hierdie nie.  Dis ‘n brief vir ‘n familie lid en vir familie skryf jy propper briewe.

Het jy gehoor, skryf jy verder, van die nuwe magistraat op die dorp.  Die man kom van die stad af en sukkel glo vreeslik om aan te pas in die klein dorpie omdat hy so jonk is.  Maar die standerd 4 juffrou, of is dit nou die standerd 3 juffrou, vry glo na hom. Ons sal maar sien.

 

Jy vat ‘n paar suige aan jou pyp, sit hom neer, maak weer die potlood skerp en dink wat om verder te skryf.  Die brief kan mos nie so kort wil wees nie.  Daar moet (en jy trek weer die lyntjie met ‘n liniaal) nog nuus wees.

Voor ek vergeet, sê asseblief Klein Jan en Blink Bertus moet tog maar van hulle laat hoor. Die Tannie bekommer haar tog so oor hulle.  Sy sê nou net vir my dat ek na hulle moet verneem.  Sy vra ook sommer dat San, Mien en Trudie tog maar daardie geelkoek se resep moet aanstuur met die volgende brief asook ‘n paar fotos van die kinders en kleinkinders in die volgende brief.

 

Jy haal jou bril af, vryf jou oë, suig nog aan jou pyp, vat ‘n slukkie koffie en dink nog.

 

Die volgende parragraaf begin met die hoenders.

Die henne lê fluks, hier en daar is een wat nou lui raak, maar oor die algemeen is ons dankbaar en kan nie kla nie. As julle weer kom kuier, herinner my tog, dat ek vir julle ‘n paar dosyn eiers saam gee.  Hier is darm so paar henne wat gaan broei, maar jy weet, die kraaie is maar lasting en vang die kuikens.  So gepraat van die hoenders, laat my dink aan so week of wat terug toe Boetie, sy vrou en kinders vir ons kom kuier het.

Man, daardie Kleintjie van Boet raak mos te oulik  Hy het ‘n stukkende fiets se wiel in die hande gekry en die band afgehaal, net dat die speke en geraamte oorbly.  Hy trek toe die ding met ogies draad oor.  Hy vat toe ‘n stokkie met ‘n tou aan en daar gaan stel hy die wip onder die appelkoos boom waar die vinke so mors.  Hy kruip toe agter die buite toilet se muurtjie weg.  Gedink hy gaan ‘n paar vinke vang, maar die kind vergeet toe skoon om mieliepitte onder die wip te gooi. Ek en die tannie het so lekker gelag.  Ek roep hom toe nader en sê dat hy mieliepitte moet gooi om die vinke te lok.

Eers gooi hy die pitte net so groot, toe sê die Tannie, nee man, geen vink sal daai groot pit gesluk kry nie. Hy moet die goed fyn maak.  Sy gooi toe die pitte in ‘n plastiek sakkie en wys vir die kind hoe om die pitte fyn te kap sodat hulle nie die wêreld vol spat nie.

 

Jy hou vir eers op skryf, trek weer aan die pyp, vat ‘n slukkie koffie en maak die potlood weer skerp.  Jy roep jou vrou nader en vra of sy nog iets wil sê.

Nee wat, jy kan maar afsluit, sal die vrou dan sê.

 

Jy skryf verder.

Nou ja toe, dis nou eers al nuus vir nou.  Skryf gou terug, ons wat vir jou brief en onthou tog ‘n paar fotos van die kinders.

Die Here seën vir julle.

 

Liefde en Groete

Pietman en Daleen.

 

En net toe jy die brief mooi begin vou vir die koevertjie, skreeu die tannie dat daar iets haar bygeval het, en dit moet in die brief.  Dan skryf jy maar verder onder die “Liefde en Groete” wat die tannie wil sê.

Nou begin die groot ding van brief skryf.  Jy vou die brief mooi op.  Die onderste punte raak die boonste punte. Hoekies op hoekies, kante teen mekaar. Weer oorvou, dan die  platdruk van die voue. Netjies.

Skuif hom dan versigtig by die koevert in. Hy pas perfek.

Dan die toeplak, Naam en Adres opskryf en agterop jou adres as die brief dalk moet terugkom.

Dan grou jy in jou lessenaar se laai, kry ‘n velletjie seëls, skeeur een af al op die stuppel-gaatjies.  Plak hom dan regs bo in die hoekie.

 

Kan jy nog onthou hoe die gom aan ‘n seël proe?

Kan jy nog onthou hoe die gom aan die agterkant van ‘n koevert proe as jy hom lek om te plak.

 

Seker nie….want niemand skryf meer briewe nie.  As jy wil, lek net ‘n seël om ‘n brief te proe en sit die gedoente in jou hand neer waarop jy deesdae briewe skryf.

Advertisements

One thought on “DIE BRIEF

Add yours

  1. My man se oom was diep in die 90 toe hy so ‘n paar jaar gelede gesterf het. Ek en hy het nog per brief gekommunikeer tot kort voor sy dood.
    Hy het met die hand geskryf en dit dan laat e-pos vir my en ek het dit op rekenaar getik en ge-e-pos. Regte outydse geselsbriewe.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: