OOM BOEK JOONS

OOM BOEK JOONS

 

Die Joons-Familie in die dorp is maar, soos my Ouma van ma se kant af sal sê, bietjie aan die eenvoudige kant.
Met eenvoudig bedoel sy nie in ’n sin van “hekelwerk is eenvoudig om te doen of om ’n groentetuin te maak is die eenvoudigste ding op aarde nie” nee, sy bedoel eenvoudig amper soos ’n agterlik of onderdorps.
Maar Gideon Joons het ’n neef, Boek Joons, wat die klein boekwinkeltjie in Kort straat het. Die oom het die boekwinkel nou al vandat ek verstand gekry het en dis nou al seker 46 jaar lank.
Die boekwinkel het nie ’n naam gehad nie. Dis dood eenvoudig net Boek Joons se winkel. Dis al. Niks fieterjasies en dinge met stertjie bygelas nie.

Tot vandag toe nog koop ek boeke by Oom Boek Joons. Hy ken sy winkel, hy ken sy boekrakke, boeke en skrywers uit sy kop uit. Sonder om nog op ’n masjien of elektroniese gedoente rond te tik nie. Daar bestaan ook nie woorde soos, “jammer ons sisteem is af nie” of “Jammer, die krag is nou af of daar is nie netwerk nie”.
Nee, in Boek Joons se winkel koop jy boeke, die ou manier.

Oom Boek Joons se winkel het ’n spesiale reuk. As ek dit in eenvoudige taal kan stel, dis die reuk van ou boeke, potlode gemeng met die reuk van ’n kromsteelpyp.
Oom Boek Joons se kromsteelpyp het heeldag so luierig in die hoek van sy mond gehang en wanneer hy regtig aan die stook is, het die steel na die middelkant van die mond te beweeg en dan blaas hy regte tabakrook die winkel vol. Daar is dae wat ek sommer ’n boek gekoop het, net omdat die boek na Springbok tabak of iets geruik het.
Oom Boek Joons se boekrakke was vol van liefdes strories, opmaak stories, afrikaanse gedigte, kinderstories, ‘Grootmensboeke” soos hy dit genoem het en dan was daar nog Adoons-hulle, Bollie en inkleurboeke.

Op ’n dag vra ek vir Oom Boek Joons hoe het hy dit reggekry om al die boeke se name so te onthou en nogal die skrywer ook. Hoe weet hy waar is die boeke in die rakke? Hoe weet hy wat in die boek aangaan, so asof hy elke boek in daai rakke al 4 keer deurgelees het.
OP my vraag antwoord hy maar net, “Kind, omdat boeke nog boeke in my hande is”
Ek het nie mooi verstaan nie.
Op my volgende vraag hoekom sy boeke almal so lekker ruik, antwoord hy:
“Oorlat boeke ’n mens se reuk aanvat”.

Oom Boek Joons sê vir my dat daar in die linkerkantste hoek, heel onder, baie mooi boeke is. ek moet daardeur kyk.
Ek stap deur die rakke tot angter in die hoek, gaan sit op ’n baie ou houtkissie en blaai deur die boeke. Ek verkyk my aan die woorde. Ek vryf oor die voorblad, bekyk die agterblad tot die nek van die boek. Ek hoor hoe Oom Boek Joons ’n vierietjie trek om sy pyp brand te maak. Ek sien die rookbolle bo die rakke soos reënwolke hang en tussen die klomp boeke in die hoek kry ek ’n skryfblok. In die houtkissie waarop ek sit is ’n paar potlode, skerpmaker en ekstra tabak. Ek maak die dekseltjie van die kissie oop en haal ’n potlood uit. Dit ruik nie hout, lood, boek en tabak.
Ek gaan sit plat op die vloer en gebruik die houtkissie as ’n tafeltjie en begin skryf. Nadat ek ’n paar blaai vol geskryf het, maak ek die houtkissie se deksel oop, sit die potlood terug, trek ’n paar boeke uit die rak en steek die skryfblok agter al die ander boeke weg.

“Kom jy reg?” vra Oom Boek Joons.
“Ja, dankie Oom”
“Gaan jy iets koop?”
“Nie vandag nie, Oom”
“Nou maar goed, kom more weer.”

Ek groet en stap by die winkel uit.

Net om die draai is daar ’n koffie winkel. Ek besluit om daar in te gaan en koffie te bestel. Die tabak en boekreuk sit aan my klere vas. Ek kan dit ruik. Reuk het mos maar ’n manier om aan ’n mens vas te kleef.
Die kelner wys vir my ’n sitplek aan en bring my koffie in ’n mooi koppie. Met koue melk.

Toe ek om my kyk, sien ek mense wat met elektroniese goeters in hulle hande sit. Sommige mense praat nie met mekaar nie, maar ruk en pluk en vroetel met die elektroniese ding. Sommige mense sit en suig aan ’n ding wat soos ’n sigaret lyk, maar hy werk met ’n battery. Ek verkyk my aan die bolle rook wat hy blaas. Maar dit ruik dan nie na Oom Boek Joons se pyp nie.
Die elektroniese goetertjies ruik ook nie soos Oom Joons se boeke nie.
Ek roep die kelner nader en vra of ek gou kan uithardloop. Ek sal nou terug wees. Hy sê toe heel beleefd Ja.
Ek sit die piering op my koppie sodat die koffie darm nog warm is teen die tyd wat ek terugkom.
Ek draf by Oom Boek Joons se winkel in.
“Kan ek asseblief ’n boek leen, Oom?” vra ek
“Jy kan. Watse boek?”
“Die een wat die meeste na Oom ruik”
“Dis hierdie een wat ek nou lees, bring hom maar later terug”
Ek vat die boek en hardloop terug koffiewinkel toe.
Daar in die koffiewinkel maak ek die book oop, druk dit teen my neus vas, trek die reuk in tot diep in my longe, proe aan die koffie en vergeet van almal om my.

Die volgende dag gebeur alles weer dieselfde.
Nadat ek ’n paar bladsye in die skryfblok geskryf het, leen ek weer die boek by Oom Boek Joons, koffie winkel, ruik, proe die koffie en gaan huistoe.
So het dit aangehou vir maande en op ’n dag sê Oom Boek Joons.
“Jou gedigte is mooi. Jou gedigte ruik na tabak en potlood. Jou gedigte ruik na my winkel. Jou gedigte ruik na boek. Jou gedigte is mooi”

Nooit het ek geweet dat Oom Boek Joons weet dat ek gedigte skryf nie en nooit het ek geweet dat hy dit lees nie.

“Kind, vat maar hierdie boek wat jy altyd by my leen. Dis joune. Bêre hom mooi”

 

Ek het daardie boek op die houttafeltjie langs my bed gesit en hom laat ooplê sodat ek die boek kan ruik.
Daardie aand toe ek die lig afsit en ek lê in die donker en ruik Oom Boek Joons se boek, wonder ek of die mense wat so besig is met ander goetertjies ook nog boeke ruik? Dalk nie.

Maar snags as die dorp stil word en almal gaan slaap, steek Oom Boek Joons ’n kers aan, dan sy pyp en gaan sit in sy boekwinkel, in die agterste linkerhoek en lees my gedigte.

Op ’n dag toe ek weer by Oom Boek Joons wou gaan kuier, is die winkel toe. Die Indier wat langs hom die materiaal winkel het, vertel vir my Oom Boek is laasnag dood. Sommer hier in sy winkel, agter in die linterkantste hoek.

Ek skrik.
“Mag ek ingaan?” vra ek
“Ja, ons kan by die agterdeur ingaan. Ek het nog ’n sleutel daarvan wat hy vir my gegee het vir ‘incase”

Ons stap in en ek ruik vir Oom Boek. Ek ruik sy pyp. Ek ruik sy boeke. Ek ruik hom. Agter in die linkerkantste hoek waar hulle hom dood gekry het, lê my skryfblok vol gedigte met ’n nota wat hy geskryf het. Die nota lees dat as hy die dag nie meer daar is nie, dat ek die Boekwinkel moet vat.

Ek rook regte tabak.
Ek rook regte pyp.
Ek skryf met regte potlood, net soos oom Boek Joons.
En soms, net soms, sien ek vir Oom Boek Joons tussen die rakke en wys my sy ou krom vinger na ’n boek wat ek moet lees, dan staan ek op, haal die boek van die rak af en lees. So leef Oom Boek Joons in my voort.

Advertisements

2 thoughts on “OOM BOEK JOONS

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: