Ek is nie juis iemand wat daarvan hou om in ’n kroeg te sit nie. Die regop houtstoeltjies maak my rug seer en is nie te aangenaam op my sitvlak nie. Dan kan die mense wat so bietjie besope raak my grommerig maak.
Maar hierdie kroeg is anders. Dis immers Desember en somervakansie by die see. Dis gelukkig ’n oop kroeg en mens kan die see sien.
Voor my is klomp ronde tafeltjies waar gesinne, verliefde paartjies en ou getroudes sit en eet. Sommige drink net iets. Dis sommer ’n joligheid net om dit te aanskou.
Ek het nie geselskap nie en verkies dit ook sommer so. Soms moet ’n mens maar net sit en kyk. Dit doen die dink in jou kop goed.
Skuins voor my sit ’n familie van omtrent so 6 of 8 mense, skat ek. Dalk agt saam met die twee blondekop seuntjies. Ek skat die twee seuntjies dalk so tussen 2 en 3 jaar oud. Dalk drie en ’n half. Hulle is woelig.
Ek dink die man wat met sy rug na my toe sit moet ’n Oupa wees en die een langs hom die ander Oupa. Die Ouma sit links van die een met sy rug na my toe. Die ma (of altans ek dink so) sit aan die regterkant van die tafel en aan die ander kant sit haar man (ek neem maar so aan).
Ek sit naby genoeg om die geselskap te hoor en te volg. Dis ’n swak gewoonte van my om mense se geselskap af te luister.
Die kinders se hare is spierwit. Die ma se hare pikswart. Die pa het ’n pet op sy kop. Ek skat as ek so aan die kant se hare kyk hy muisvaal hare moet he. Dalk was hy blond toe hy jonk was. Waar sal die twee woelige seuntjies dan anders die wit hare gekry het? Nie van die ma nie.
Die een witkopseuntjie is woelig. Dan op die stoel, dat op Oupa se skoot, dan onder deur die stoel tot op pa se skoot. Die ander seuntjie hardloop in die paadjie af see se kant toe. Die ma spring op, hardloop agterna, vang hom, gooi hom oor haar skouers soos ’n sak aartappels en kom terug tafel toe. Die kind skreeu van plesier.
Die ander seuntjie hou homself besig met ’n melkskommel. Hy druk sy handjies in die groot glas om ’n stukkie roomys beet te kry en vat met die vuil handjies aan sy pa se wang. Die pa lag, vee dit af en vat nog ’n slukkie van sy bier.
Die Ouma lek aan haar wysvinger en druk dit in die potjie suiker dan in een van die twee seuntjies se mond. Die kind skreeu van lekker kry. Dis immers Desember vakansie en Kersfees is om die draai.
Hulle bespreek onder mekaar wat moet daar vir aandete gemaak word. Ouma kan die slaai maak, Oupa kan die wors braai en die pa van die woelige kinders sal die tjoppies braai. Die ander Ouma kan pap maak. sy lyk vir my na die pap-maak-tipe.
Ek vergeet skoon van die stoeltjie wat hard is onder my boude. Ek voel nie my rug wat seer word nie. Al wat saakmaak is hierdie familie voor my en die joligheid daarvan. Mens sien dit min.
Ek staar hulle skaamteloos aan. Die ouma sien dat ek kyk en glimlag. Ek probeer terug glimlag. Die een witkopseuntjie, ek skat die ouer een, wou toilet toe gaan. Sy pa gooi hom oor die skouer en dra hom badkamer toe. Dit lyk so asof die kinders die ‘aartappelsak-draery’ geniet, en nogal gewoond is daaraan.
Na ’n rukkie kom hulle terug. Die pa kyk na my en glimlag. Hy sê iets van “kinders maak mens se lewe vol” of so iets. Ek kon nie mooi hoor nie, maar glimlag bedees.
Terwyl die joligheid aangaan, draai ek vorentoe om nog ’n glas wyn te bestel by die kroegman. My oog vang ’n gesig in die kroeg se spieël wat agter al die hangende drankbottels is. Ek herken die gesig vaagweg. Dalk ken ek daai gesig. Lyk ietwat bekend. Ek skat ons het al ontmoet.
Ek kyk stip na die gesig en meteens voel ek iemand trek aan die kant van my hemp. Toe ek afkyk sien ek dis een van die witkop seuntjies. Die ma sê iets soos “moenie die mense pla nie”. Ek kyk om en glimlag. Die seuntjie kyk vir my, glimlag, klap se handjies en huppel weg.
Ek kyk weer vir die gesig wat ek in die refleksie van die spieël sien. Ek ken daai gesig.
Die kroegman gee my wyn en sê vir my “hierdie een is op die huis”. Hy glimlag mooi. Ek glimlag terug. Die refleksie glimlag ook.
Toe ek omkyk om verder na die jolige gesig te kyk, is hulle weg. Sommer net so. Vinnig. Verdwyn asof hulle nie daar was nie.
Iewers in my hoor ek ’n stem praat.
Ek herken daai stem. Dis die groen monster wat in my woon. Hy sê: “Ja, jy is lekker jaloers op daai jolige gesin, want jy het dit nooit gehad nie”.
Ek kyk weer vir die refleksie in die spieël en meteens besef ek dis ek vir my myself kyk. Ek herken myself byna nie.
Dis toe wat ek vir myself vra:
“Wat het dan van my geword?”
Die kroegman vat aan my hand, glimlag en sê: “Alles sal orraait wees, jy sal sien”.
Mag alles oraait wees. Xx
LikeLike