OUMA SE SPIEELTAFEL

Dit is ’n wêreld van vreugde wat hier voor my oopgaan.

As ‘n mens nog ‘n klein-kind is bestaan jou wêreld net uit vreugde, mooi goed en lekker kry.

Ander dinge wat in grootmens wêreld is, is net onnodige stertjies wat bygelas word. Woorde soos awesome, prentjiemooi en fantasties is vir grootmense.  Vir kinders is daar net een woord en daardie woord is MOOI. Dis al.
Hierdie wêreld se naam is, My Ouma se spieëltafel.

Hierdie wêreld staan in haar kamer, by die voetekant van haar bed. Die spieël staan met sy rug na die venster toe, sodat die natuurlik lig op ouma kan val as sy haar make-up opsit.

Ek gaan staan voor die spieël-tafel met sy laaie, tafeldoekies en potjies.

Ek staan op my linkervoet se tone sodat ek my regterboud mooi op die stoeltjie kan sit.

Dan druk ek met my regterhand op die stoeltjie om die ander boud mooi netjies op te kry. Sien, Ouma is mos ’n grootmens en sy gaan sit op die stoel, ek moet klim, maar in my kind-kop gaan sit ek ook mooi op die stoel, nes ouma

My klein handjies strek uit na ’n ornamentjie. Lyk soos ’n melkbetertjie, net so groot soos ’n grootmens se duim, met ’n goue handvatsel, rooi, groen en goue krulle daarop. Mooi blink.
Ek vat daaraan en dis asof die lewe self in my longe kom blaas. Ek voel uitasem.

Ek streel aan ’n deurskynende bakkie, met die mooiste krulle en draaie. Dis beeldskoon. Daar staan selfs ’n ander bakkie met blomme opgeteken wat krul en krul van oor tot oor, van onder tot bo. Dis hier wat ek voel die lewe homself blaas nog ’n ekstra gevoel in my hartjie in, ’n gevoel wat ek seker is geen ander kind in my klas het nie.

Daar staan dan ’n langwerpige bakkie, in die vorm van ’n lang blaar. Daarin is blink oorbelle, dit skitter skoon as die oggendson daarop val. Ek vat een en knip dit aan my oor vas. Gelukkig, dink ek, kon ouma nie oorbelle dra wat gaatjies soek nie, net die knip on’s.

Die oorbel voel swaar aan my oor, maar ek gee nie om nie, dis beeldskoon.
Net langs die oorbelle is ’n borsspeld. Daar is een van ’n roos wat uitgepak is met rooi diamantjies en ’n stingeltjie van goud. Dan ’n Cameo, een wat nie juis blink nie. Ek besluit om die roos aan my tshirt vas te knyp…..dis asemrowend.

Ek trek versigtig die boonste, middelste laai oop.

Hier voor my lê ’n ander wêreld. ’n Wêreld van vroue gesigte wat ek seker is, net oorsee bly. Dis poeier, lipstick, eyeshadow, kwassies en mooi goed wat tog so lekker ruik.

Ek vat die rooiste lipstick en kleur my lippies in. Skeef, maar vir my is dit mooi.

Trek lyne met ’n swart potlood oor my oë en kleur my ooglede potblou in. Ek het al selfs gesien ouma byt met haar lippe op ’n tissue as sy klaar lipstick aangesit het. Ek doen dit ook. Dit voel so reg en mooi. Dis asof die lewe homself vlerke aan my skouers vasblaas en ek vlieg die hemel in, net soos daai bont skoenlappers op die blomme in die bedding voor die slaapkamer.

Vir lank kyk ek vir myself in die spieël. Ek voel ek kan ’n liedjie sing, maar iets is nog nie klaar nie.
Ek haal ’n botteljie uit een laai  en spuit dit op my hare.

My ouma vat altyd hierdie hairspry, spuit dit op haar hare en druk dit dan saggies plat. As sy spuit, hou sy ’n boek of ’n ding voor haar oë. Seker sodat dit nie moet brand nie. Ek weet nie juis nie, maar ek doen dit ook maar.

Ek is mooi. Baie mooi

Ek kyk weer vir lank in die spieël en besluit, maar iets kort.
Voor my op die tafel staan ’n fyn botteltjie met vloeistof in en ’n spuit-dingetjie aan die agterkant met ’n lang pype. O, dis parfuum. “Sent’ soos ek dit genoem het. Ek spuit daarvan aan en dis asof die lewe homself van my ’n bruid maak. Dit ruik soos soet blomme.

Vir lank kyk ek vir myself in die spieël. Ek word al mooier vir myself.

Toe ek voetstappe hoor, besef ek dis ouma wat kamer toe gestap kom. Ek was te laat om my gesig skoon te vee en van die stoeltjie af te spring om met my treintjie en lorries te speel, want sien, seuntjies speel met treintjies en karretjies, nie grimering nie.

Ouma sien vir my op haar stoeltjie sit, met groot verskrikte oë, maar toe glimlag sy daardie Ouma glimlag.

“Ouma? vra ek met ’n klein stemmetjie”

“Ja my kind?”

“Mag ek asseblief kyk wat in daardie mooi potjies is met die goue rante en diamandtjies aan?”

“Natuurlik mag jy kind, maar kom ek wys jou” antwoord ouma en kom sit styf langs my.

“Kyk, in hierdie potjie is ’n ring met die mooiste diamant in. Hier, in hierdie mooi potjie is ’n hangertjie met fyn blaartjies en blink rosies.”

Dis mooi, fluister ek

Kom ek sit dit vir jou aan, sê ouma.

En soos Ouma vir my daardie hangertjie om my nek hang en die ring aan my duimpie druk sê sy:

“My kind onthou, elke mens is ’n mooi,  blink potjie met baie diamante en kleur.

Ons almal is ewe mooi, maar jy moet seker maak dat jy van binne ook mooi is, net soos die hangertjie in hierdie potjie met die goue blaartjies, net soos die potjie waarin die ring is. Ons moet oral mooi wees”

Ek sal dit nooit vergeet nie.

Ek knyp my ogies styf toe.

Toe ek my oë oopmaak, is dit 40 jaar later, en ek onthou dit nog altyd.

 

Ek sit die laaste bietjie lipstiffie aan my lippe, poeier my gesig sodat die verhoogligte nie my moet laat blink nie, sit Ouma se blink ring aan my vinger en stap op die verhoog.

Toe klap duisende mense hande.

 

Advertisements

2 thoughts on “OUMA SE SPIEELTAFEL

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: