As mens na kiekies kyk is daar altyd ‘n gevoel van ‘n vraag sonder ‘n antwoord in mens se hart.
Maar hierdie kiekie en dag sal ek nou nie vergeet nie. Daar was ‘n lelike weer oppad en die Oom wil sop he, maar ek het ‘n bredie op die stoof.
“Hessie, maak tog maar daar ‘n pot sop. Die weer steek woes op” het die Oom gekerm.
“My Man, daar is ‘n bredie op die stoof. Dit is ook net so goed in reënweer. Ek kan nie nou gaan staan e sop ook maak nie. ” En so het dit aangegaan totdat ek toe nou maar ‘n sop gemaak het.
Maar die ding wat die oom nie weet nie, is dat ek daardie bredie gevat het en net baie water en aftreksel gemaak het en ‘n sop uit hom gemaak het. Heel tevrede het ek gestaan en kyk hoe my bredie sop word en ek trots is. (jy kan mos op die kiekie my trotsgeit sien).
“Hessie!” skree die oom vanaf die stoep se kant af. “Lyk my die weer trek verby ons. Hy trek daar by die Dippenaars se plaas verby.” En ek voel ‘n ding in my binnenste.
“Jy kan maar die sop laat staan. Ons sal bredie eet vanaand”. En hier staan ek voor ‘n koolstoof met ‘n sop wat eers ‘n bredie was en nou weer ‘n bredie moet word.
“Hessie, ek het sommer vir Arend-hullle ook gevra om oor te kom vir die bredie. Jy maak mos maar ‘n stewige bredie”….en die Oom ‘bredie’ net voor en ‘bredie’ net agter.
Vinnig moes ek weer ‘n paar aartappels skil, nog ‘n paar wortels bysit en die sous afspek.
“Hessie, kyk net dat daar nie te veel vetterigheid op die bredie dryf nie. Die Arend man is baie gesteld op vetterigheid.” gaan die Oom aan.
“Liewe Vader, help net asseblief. As U vandag ‘n wonderwerk moet laat gebeur moet dit baie vinnig gebeur”
Daar, onthou ek my Antie Octavia se geheim……”Gooi ‘n bak vol ys bo-op die bredie, en dan so vinnig as moontlik moet jy dit afskep, dan kom al daardie vet saam met die ys” sing haar woorde soos ‘n Psalm en gebed gemeng deur my geheue….
“Dankie Here.” bid ek.
Toe ek deur die sifdeur stap wat , die vlieë uithou, om die skille in die groentetuin te gooi, dink ek….”Ja, Hessie, soms, as dit goed gaan is ons ‘n stewige bredie, maar soms as dit sleg gaan word ons sop net om later, as dit weer beter gaan, ‘n bredie te word.
Daar is altyd iemand wat ons help om weer ‘n bredie te word die dag as ons sop is….”
Sjoe, dis nou ‘n lekker storie.
LikeLike
Baie dankie
LikeLike