NEEF SE TROUE

NEEF SE TROUE

 

Die beste plek in Tweeling om ’n storie te kry, is op Tannie Hessie se groot rooi stoep.

As ek die Tannie nie so goed geken het nie, sou ek sweer sy maak die stories op, maar al haar stories is waar. Hulle sê dis dinge wat werklik in die dorp gebeur het.

Haar suster bly net so oor die pad van haar.
Tannie Hessie het op ’n stadium haar huis omskep in ’n losieshuis. Haar dogter Timothy wat in matriek was, het baie met die losieshuis gehelp. Timothy se neef, dis nou Tannie Hessie se suster se seun, het ook soms kom help as dit te besig was. Hy was goed met kosmaak, tafel dek en die kamers versier. Sy naam was Bazil, maar almal het hom maar Neef genoem.

Timothy en Neef was baie na aan mekaar, veral toe die losieshuis goed op dreef was, moes die tweetjies inspring om met die loseerders te help.

Na matriek toe ontmoet Timothy ’n man, wat ’n loseerder was, Mister O’Connor, van Ierland af, hulle raak verlief en Timothy gaan saam met hom oorsee. Neef het agter gebly en vir Tannie Hessie met die losieshuis bly help. Maar na Oom Charles, Tannie Hessie se man, se dood, Timothy wat weg is en Tannie Hessie te oud om nog te werk, loop die hele losieshuis besigheid dood.

Neef weet nie wat om te doen nie. Hy kry toe werk by die koöperasie as verkoopsman.

Neef het maar so alleen gebly. Sy ma het aanhou karring en gesê dis nou tyd vir vrou vat.

Daardie jaar kry die skool ’n nuwe juffrou. Sy het Engels gegee, was baie skaam en ’n Katoliek.

Daar was geen Katolieke kerk op die dorp nie en dan het sy soms Frankfort toe gery waar daar wel ’n Katolieke kerk asook ’n klooster was.

Neef en Thelma raak toe vriende en die hele dorp se oë is op die tweetjies, want nou gaan Neef uiteindelik vrou vat en trou. Die feit dat sy Katoliek was, het die familie so bietjie gehinner, maar almal is tog net te dankbaar dat Neef ’n nooitjie het.

Tannie Hessie vertel toe verder vir my, dat Neef daardie herfs in 1987 die jawoord vra.

“Tannie, dit kan mos nie wees nie” sê ek toe.

“Kind, dis die waarheid, maar hoor toe wat gebeur. Dis aller-verskriklik” sê Tannie Hessie.

“Vertel alles Tannie” Sê ek.

En sy vertel verder.

Jong, Thelma stem toe in om te trou en daar begin die storie. Elke week moes Thelma alleen Frankfort toe, Klooster toe, vir die voorbereiding as bruid.

Dan moet Neef die volgende dag weer klooster toe as voorbereiding van die bruidegom. Dit behels goed soos hoe om ’n goeie man te wees, hoe om ’n vrou te behandel en haar op die hande te dra en dan hoe om, sal ons nou maar sê, die kamerdinge te doen.

“Tannie bedoel dat Neef opleiding moet kry hoe om tussen die lakens die ding te kan doen?” vra ek

“My kind, moenie die storie vooruit hardloop nie. Die beste deel kom nog.” sê die Tannie.

Sy vertel toe verder.

So gaan dit vir weke aan. Een dag Thelma, die volgende dag Neef. Frankfort toe en terug.
So kom die tweetjies tot trou in die Katolieke kerk in Frankfort. Neef se familie was nie baie gelukkig met die katolieke storie waar die mans lang rokke dra en met kerse en wierook rondsluip nie, maar die troos is dat daar nou ’n vroutjie is en kleinkinders gaan binnekort volg.

Dit was ’n mooi troue. Thelma se ouers het gesorg dat Thelma, volgens tradisie, mooi gelyk het vir haar bruidegom.

Nie lank nie, en ’n dogtertjie word gebore.

Net op haar hakke is nog ’n dogtertjie en alles gaan goed.

“Neef se ma het die kleinkinders vreeslik bederf” vertel Tannie Hessie.

“Maar waar is Thelma dan nou, want Neef bly mos daar in die Kalahari saam met George” vra ek.

“My kind, Neef het op daardie stoel waarop jy nou sit, vir my die storie kom vertel” en Tannie Hessie lag uit haar maag.

“Wat is dit Tannie?” vra ek pure nuuskierig.

“Die dag toe Thelma pad vat met kinders en al kom sit Neef hier by my en vertel my alles. Jong, hy vertel my dat elke keer toe hy Frankfort toe moes ry vir die voorbereiding van die huwelik, was dit ’n gedoente van ’n ander aard.”

Tannie Hessie lag so dat sy nie verder kan vertel nie.

Ek moet ook lag…want hier kom ’n ding.

“My Kind, Neef sê vir my dat hy dan klooster toe gaan en dan met ’n lang, breë gang afstap, tot by ’n kantoor. Daar wag ’n Non hom in. Hy teken dan ’n register. Die sê dan hy kan maar deurstap na ’n ander vertrek wat op die mooiste tuin uitkyk. Daar moet hy dan by ’n lessenaar sit en wag vir sy les en voorbereiding. Die eerste dag, vertel Neef, kom die Non in en begin vir hom leer van respek vir ’n vrou en al daai goete, maar hier by die 5 de week se les, begin die bed goeters. Neef vertel my dat hy sy eie oë en ore nie kon glo nie, want hier voor hom sit ’n Non in ’n volle mondering en verduidelik vir hom met die hulp van ’n piesang hoe om te werk te gaan met sy vrou op die Huweliksnag.”

Ek bars uit van die lag. Tannie Hessie lag saam.

“So vertel Neef vir my dat hy ’n geskenk na die kursus gekry het. ’n Koorspen” sê Tannie Hessie.
“”n Koorspen? Vir wat?” vra ek

“My kind, om die vrou se ‘koors’ te meet om seker te maak dat sy vatbaar is, jy weet?” en sy tuit haar lippies en maak haar bene net so sentimeter oop sodat ek die idee moet kry”

“Tannie lieg!” gil ek.

“Dis die heilige heilige waarheid kind. Hy het vir my daardie koorspen kom wys.”

Ek en Tannie Hessie lag so dat dit voel die lag haak in my maag vas.

“Maar Tannie, ek verstaan nou een ding nie. Hoe kan ’n non ’n man van seks wil leer”.

“My Kind, dit is die Nonne se geheim. Net hulle sal weet”

 

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: