DIE LAASTE BRIEF (ACT 12)

’n Week het verby gegaan, ons het ons matriek uitslae gekry en geslaag. Die gastehuis het stadig maar seker leeg geword, omdat Timothy belangstelling verloor het en Tannie Hessie net besig was met die hoenders.

Toe Timothy met haar paar koffers by die deur uitstap, na O Connor se motor toe het sy na Tannie Hessie gekyk en gesê:

Ma, ek is regtig jammer, ma weet. Maar dis nou my kans op ’n ander lewe, het sy gesê.

Dis reg my kind, maar dis nie ’n ‘ander’ lewe nie, dis ’n nuwe lewe. Hou vas aan jou hart en vlieg hoog, het Tannie Hessie gesê.

Ek het aanvanklik gedink dat Tannie Hessie glad nie sou instem toe Timothy die dag vir haar vertel dat sy saam met o Connor weggaan nie.

Dalk het Tannie Hessie nog al die tyd geweet dat Timothy saam met die man sou weggaan, ons sal nooit weet nie.

Timothy het na my gedraai, in my oë gekyk en gesê:

“Koebaai neef. Othou ek sal altyd lief bly vir jou. Kyk mooi na my Ma. Ek het vir jou ’n skoenboks vol goedjies gelos, want ek weet. Ek het nog altyd geweet. En dalk, dalk eendag kry jy nog ’n penvriend of dalk nog ’n brief van ’n skaapboer af” sy het my styf vasgedruk.

En daar, net voor Kersfees van 1972, vertrek Timothy en O Connor, om nooit weer terug te kom nie. Ek het dit geweet. Tannie Hessie ook.

Toe hulle om die draai verdwyn en Timothy waai haar laaste waai by die venster uit, het ek na Timothy se ou kamer toe gegaan om te kyk wat in die skoenboks is.

 

Toe ek die boks oop maak, het sy haar mooiste skryfblok daarin gelos, ’n mooi potloodstel, paar koeverte en daardie lang, mooi linte wat sy altyd in haar hare geddra het waaroor ek so mal was.
Ek het die linte opgetel, daaraan geruik en een so om my kop vasgemaak. Ek het in die spieel gekyk en geglimlag.
Sy het geweet, sy het wragtag al die tyd geweet.

 

Dis nou baie jare later. Tannie Hessie is baie oud en nogsteeds besig met die hoenders en Timothy het so twee of drie keer vir my ’n brief gestuur waarin sy geskryf het:

NEEF TEL ’N BRIEF OP EN LEES

November 1977

My geliefde Neef.

Die dag toe ek en O Connor by tweeling uitgery het, het ek geweet ek doen die regte ding.
Toe ons drie dae later op die vliegtuig sit Ierland toe, het ek geweet my nuwe lewe gaan begin.
Dit was my heel eerste ‘wit’ kersfeess gewees. Kersfees hier lyk soos die prentjies op die kerskaartjies. Dis so mooi.

Ek is gelukkig. Ek bly in die mooiste Ierland en ons is getroud. Die mooiste troue gewees. Ek wens jy kon dit sien. Ek wens ook my ma kon hier wees.

O Connor is ongelooflik goed vir my. Ek het alles wat my hart kan begeer. Ons bly op ’n plaas buite die dorp met klomp perde en die mooiste poue wat in die tuin loop.

O Connor wil met ’n gesin begin, maar ek het gesê ons moet eers wag daarmee. Ons is nog jonk en daar is nog soveel dinge om te doen. Ek wil nog gaan reis en plekke sien.

Ek verlang regtig na julle. Ek is bekommerd oor my ma, maar ek weet dat jy na haar sal kyk. Dalk is sy tog verlig dat ek weg is en ’n nuwe lewe begin het. Sy kon tog sien dat ek nie vir altyd in Tweeling sou bly nie.

Neef, hoe gaan dit met jou? Het jy al iemand spesiaal in jou lewe? Ek dink baie terug aan ons kuiers onder die peerboom en al die penvriend briewe.

Nou dat ek dink, jy het nooit ’n brief gekry nie. Maar vandag is jou gelukkige dag en jy kry ’n brief van my af, en dit nogal van ’n baie ver land af.

Dit is vreeslik koud hier en ons dra groot dik jasse. Ek het toe nooit by die sjarmeskool of die mannekyn storie uitgekom nie, maar soos O Connor vir my gesê het, “Timmy, you are my manniquine”

 

 

Ek praat al baie goed engels. Ek sukkel nog so bietjie met die “tenses” maar O Connor gee glad nie om nie.

Onthou jy dat ons bespiegel het oor watse werk hy doen. Hy het baie ryk geerf by sy ouers, dus werk hy nie. Hy hou homself besig met die perde en sy tuin. Ek geniet dit vreeslik om die huis mooi te maak, boerekos vir hom te maak en om in die veld te gaan stap saam met die 3 honde.

Ek sal moet afsluit en eers groet.

Liefde Groete
Timmothy

 

Timmothy het in die begin gereeld geskryf, maar later van tyd het die briewe al minder geword.

Tannie Hessie het net so voor elke kersfees gevra of daar nie ’n brief of kaartjie van Timmothy af is nie. Dan het ek maar nee gesê. Soms het Timothy net ’n poskaart gestuur met ’n paar sinne daarop.

Ek kon sien dat Tannie Hessie vir Timmohy mis, maar nooit iets gesê nie.

Kind, het Tannie Hessie een laatmiddag, so met skemer, gesê toe ek en sy op die stoep sit.

Sit tog daardie plaat op wat jy en Timmy so geluister het. Daardie wals een.

Ek het die plaat gaan opsit en sy het lank en aandagtig daarna geluister.

Toe die plaat klaar is en dit maak net sulke sleep geluide oor die luidspreker het sy gesê dat ons maar kan gaan aansit vir aandete. Net die twee van ons.

Ek het nie meer baie by my ouers se huis gewoon nie. Mens kan amper sê dat ek by Tannie Hessie ingetrek het, en my ouers het dit so verstaan want Tannie Hessie is oud en sy kan nie alleen in so groot huis woon nie.

Ons het gaan aansit. Sy op die kop van die tafel, waar O Connor altyd gesit het. Ek langs haar.

Ons het in stilte geeet.

Toe ons klaar geet het, het sy sonder ’n woord opgestaan, die gang af geloop. Ek kon hoor sy maak haar kamer deur stadig oop en toe hoor ek hoe sy die hang kas se deur oopmaak. Sy het diep gekreun, soos mens maak as jy op jou tone staan om iets wat hoog is af te haal.
Sy het die deur weer toegedruk en weer skuif-skuif in die gang afgestap tot in die eetkamer.
In haar hand het sy ’n ou koffieblik.

Sy hou die blik na my toe en sê:
“ Hier kind, vat dit. Vat die geld. Dis die losieshuis se geld. Timothy wou dit nie gehad het nie. Gaan koop vir jou iets. “

Ek het soos ’n soutpilaar gesit. Ek kon tog nie die geld vat nie, maar ek het. Die kyk in haar oë het gesê : “Vat dit en moenie tee praat nie”.

Sy het weer by my aan tafel kom sit, ’n glas melk geskink en dit gedrink. Toe sy die glas so voor haar neersit en haar mond sommer so met die agterkant van haar hand afvee sê sy:

Kind, jy weet, soms het ’n mens net iets in jou lewe nodig. ’n Penvriend, ’n brief oor die pos, ’n mooi plaat wat speel of selfs net ’n mooi gedekte tafel. Sommige mense het ander mense nodig en ander is weer heeltemal gelukkig alleen. Maar jy moet net sorg dat jy nooit eensaam word nie.

En, my Kind, ek weet…jy kan hom maar nooi vir ete. Onthou om die kers dood te blaas as jy kamer toe gaan….

Sy het skuif-skuif in die lang gang afgeloop. Ek het nie woorde gehad nie. Dalk kan ek more aand ’n ekstra plek aan tafel dek. Mens weet nooit nie.

 

Advertisements

One thought on “DIE LAASTE BRIEF (ACT 12)

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: