NEEF KRY ‘N PLAN (ACT 9)

Die Oom se dood het die hele dorp, asook die boeredistrik in groot hartseer gehad.

Timothy was die meeste van die dag hartseer en het soos ’n skaduwee gesluip, maar moet ek bysê, sy het soos ’n ‘mannekyn skadu gesluip”.

Ons almal weet dat sy vreeslik kon aansit en dinge aandik, maar ek het haar hartseer gevoel. Sy het haar pa geweldig gemis. Sy bulderende stem, selfs die plathand so nou en dan en die waarhede wat hy kwytgeraak het, het Timothy gemis.

Niemand het meer saans Huisgodsdiens gehou nie. Hulle het selfs opgehou om die seën te vra voor etes. Die Bybel lê nog al die tyd op die sideboard, soos Oom Charles hom laas daaar neergesit het. Die laaste wat hy gelees het was Psalm 23. So asof hy geweet het dat sy tyd aangebreek het. Hy het die Bybel toe op Psalm 23 oopgelos.

 

“Dis alles tekens wat hy vir ons gegee het dat hy gaan sterf” het Timothy gehuil

“Hoekom het ons dit nie gesien en iets gedoen nie” het sy droewig gehuil.

“Die weë van die Here is duister” is al wat ek kon sê. \

Ek weet nie waar ek die woorde vandaan gekry het nie. Ek dink ek het dit dalk eendag op die draadloos gehoor. Of dalk is dit iets wat oom Charels nog gesê het.
Wag, ek onthou, hy het dit eendag gebid tydens ’n huisgodsdiens toe ek, my ma en pa by Tannie Hessie en Oom Charles gaan eet het. Hy het altyd so hoogdrawend gebid as familie kom eet het.

Tussen die skoolwerk deur en die eindeksamen wat voorlê het ek my bes gedoen om vir Timothy te troos en by te staan. Ons het selfs die Penvriend briewe uitgehaal en onder die peerboom gesit en lees. Maar die seer het in Timothy se oë bly sit.

Ons het nog so gesit en lees aan ’n penvriend se brief daar van Dealesville af. Die ene Toon Combrink wat selfs die brief met Old Spice besprinkel het. Geen mens sal ooit weet hoekom hy dit gedoen het nie, maar ek het aan daardie brief gesnuif asof dit ’n roos uit die tuin was.

“Gee bietjie daardie brief van Toon aan wat soos Old Spice ruik” het ek vir Timothy gesê. Sy het ’n halwe poging van ’n glimlag gegee en die brief aangegee. Ek het geruik…..

“Hy ruik nie meer na Old Spice nie. Hy ruik nou maar net na Naftaleen Motbolle” het ek gesê. Ons het gelag. Maar ’n halfpad lag.

Terwyl ons nog so deur HAAR penvriend briewe lees, want sien, ek het nooit ’n brief gekry nie, skiet ’n gedagte my binne. Hoekome het ek nooit hieraan gedink nie?

Ek was nog altyd goed om planne uit te dink. Ek sê mos altyd, elke probleem het ’n oplossing.

“Timothy, ek moet gou badkamer toe gaan. Wag hier” het ek gesê.

Ek het die Losieshuis binne gestap, ek wou hardloop, maar dan sou Timothy iets agter kom en my plan sou nie werk nie. Net toe ek by die voordeur wou instap, loer ek oor my skouer en sien dat sy met die pak briewe op haar skoot sit en met stywe oë straataf kyk. Ek wou vir haar skreeu: “KNIP JOU OË, HULLE GAAN DROOG TREK EN NOG TRANE MAAK” maar ek het nie.

Ek het eers by die kombuis gaan inloer of Tannie Hessie nie dalk daar is nie, toe in die boonste sitkamer en toe die groot sitkamer. Ek het by die kombuis venster uitgekyk wat op die agtertuin uitkyk en gesien dat sy in die hoenderhok besig was, en ek kon sweer dat sy nog met die henne staan en kekkel. Dis my kans.

 

 

Ek het die lang gang afgestap, verby ’n paar geraamde fotos van Oom Charles teen die gangmuur. Ek het gestop, daarna gekyk, aan een gevryf en verder afgestap, tot by die onderste kamer.

Meneer O Connor se kamer.

Ek het saggies aan die deur geklop. Drie kloppe. Net soos hy daadie dag gedoen het toe hy vir die eerste keer hier kom aanklop het.

Tok Tok Tok

Come in

Ek draai die deurknop stadig en stoot hom oop. Eers op ’n skrefie, stop, dan nog ’n bietjie. Die deur kraak vandag meer as gewoonlik. Dalk harder ook.

Ah, come in. How are you? het O Connor gesê toe hy my sien.
Thank you. I am well thank you, het ek engels probeer praat.

Hy het by die lessenaar gesit wat op die tuin uitkyk. Dit was vreeslik mooi vir my. Daardie pikswart hare wat blink en die spierwit paadjie wat deur sy kop loop. Sy hande rus, netjies gevou, op die tafeltjie. Mooi hande. Groot hande.
Hy het opgestaan en na my toe gestap. Hy is ’n goeie kop langer as ek. Hy het sy hand na my uitgesteek om te groet. Toe ek sy stewige greep voel, was dit soos om na ’n engel uit die hemel te kyk. Hy was werklik mooi.

Ek moes my gedagtes vinnig bymekaar kry. Hoe durf ek nou so na hierdie man kyk. Dis malligheid, het klomp gedagtes soos klomp fireworks deur my kop geskiet.

Ag wat, het ek gedink, dis net dat ek ook so stylvol wil word as ek ouer word, of liewer, sy ouderdom bereik. Ek wil ook sulke pakke klere dra en sulke engels praat. dis maar al.

Wat, en ek daardie dag vir O Connor in sy kamer gesê het, gaan ek beslis nie herhaal vir die hele wêreld om te weet nie, maar dit het gewerk. My engels was swak, ek het selfs gevoel of ek ’n woordeboek in die hande moes kry en maar uit die woordeboek moes praat. Maar daar was nie tyd nie. ek moes my sê sê, vrae vra en doen wat ek moes doen.

Thank you very much, het ek gesê toe ek uitstap.

You are welcome and good luck to the family with you big loss and pease let me know if you need anything else, het O Connor gesê.

Ek het net geglimlag en my kop geknik.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: